
Boekomslae: Wanneer die krieke stil word deur Petro Kotzé-Odendaal (Naledi, 2025) en Ontbloot deur Marthé McLoud (Turksvy Publikasies, 2025)
- Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
.......
Boeke wat vroulike trauma aanspreek, toon hoë verkoopsyfers, gedryf deur lesers se vraag na “outentieke” stories, wat steeds in aanvraag bly. Baie lesers en kritici sien hierdie fiksie as ’n noodsaaklike regstelling vir die vroulike stem, wat deur die eeue heen doodgeswyg is.
.......
1
Inleiding
Al hoe meer vroue skryf in Afrikaans oor hulle mishandeling deur mans, of hulle ervarings van molestasie as kind. Hierdie verhale is hartverskeurend en skokkend, maar noodsaaklik. ’n Mens dink byvoorbeeld aan Adele Vorster se roman Tien voor een (2022), of Ilse Verster se ’n Vrou staan op (2024). Wanneer die krieke stil word, die onlangs verskene roman van Petro Kotzé-Odendaal, is tematies ’n toevoeging tot dié korpus boeke.
Suid-Afrika word wêreldwyd beskou as een van die lande met die hoogste vlakke van geslagsgeweld en kindermishandeling, ’n krisis wat deur president Cyril Ramaphosa as die land se “tweede pandemie” beskryf is tydens verskeie toesprake (of “familievergaderings”: 17 Junie 2020, 25 November 2020, 11 April 2025).
Volgens ’n studie deur die UBS Optimus Foundation is bevind dat 35,4% van Suid-Afrikaanse adolessente ’n vorm van seksuele mishandeling ervaar, wat beteken dat minstens een uit elke drie kinders in hul leeftyd met hierdie trauma te doen kry. Kinders tussen 14 en 17 jaar is besonder kwesbaar, met ’n hoë risiko vir herhaalde mishandeling, wat kan lei tot langtermyneffekte soos posttraumatiese stresversteuring, angs en depressie.
Die Human Sciences Research Council se eerste nasionale studie oor geslagsgeweld, vrygestel in November 2024, toon dat 36% van vroue ouer as 18 jaar in hul leeftyd fisieke of seksuele geweld ervaar het, met 24% wat geweld deur ’n bekende manspersoon ná aan hulle gerapporteer het. Die vrouemoordkoers in Suid-Afrika is 24,6 per 100 000 mense, ses keer die wêreldgemiddeld.
Staats- en burgerregte-organisasies laat slagoffers in die steek weens ontoereikende implementering van wetgewing, onderbefondsing, ’n gebrek aan vertroue in die regstelsel, en beperkte voorkomingsprogramme.
Om hierdie pandemie aan te spreek vereis ’n multifokale benadering wat bestaande kultuurnorme, soos patriargale onderdrukking, uitdaag, befondsing vir NGO’s verhoog, polisie-opleiding verbeter, en vroeë ingryping bevorder.
Die 16 dae van aktivisme teen geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika is deel van ’n jaarlikse internasionale bewusmakingsveldtog wat tussen 25 November en 10 Desember plaasvind. Hierdie veldtog fokus op die bekamping van geweld teen vroue en kinders en word in Suid-Afrika ondersteun deur die regering, burgerlike organisasies en gemeenskappe. Dit sluit bewusmakingsprojekte, optogte en voorligting in om geslagsgeweld, asook kinder- en vrouemoord aan te spreek.
Nou: Waarom is daar ’n toename in die fiksie van vroue wat op die een of ander wyse mishandel is?
Die antwoord is dat vroue histories meer geneig was om te skryf oor hulle ervarings van mishandeling – hetsy huishoudelike geweld, kindermolestering, of ander vorme van trauma – in vergelyking met mans. Dit beteken nie dat mans nié mishandeling ervaar, of daaroor skryf nie, maar vroue se stemme is sonder twyfel meer hoorbaar in hierdie narratiewe, veral in outobiografiese en memoires-skryfwerk. Mark Behr se roman Die reuk van appels (1993) ontgin dié sensitiewe onderwerp vanuit die oogpunt van ’n jong seun.
Die opkoms van feministiese bewegings, veral sedert die 1970’s, het vroue aangemoedig om hulle verhale van mishandeling te deel om patriargale strukture uit te daag. Laasgemelde skrywers het dikwels hul skryfwerk ingespan as ’n manier om agentskap te herwin en trauma te verwerk, veral in kulture waar daar ’n stigma daaraan kleef om oor mishandeling te praat.
Sedert 2017 het die #MeToo-beweging verdere momentum gegee aan vroue wat oor mishandeling skryf, wat gelei het tot ’n toename in memoires, essays en fiksie wat hierdie temas belig. ’n Roman soos Chanel Miller se Know my name (2019) weerspieël die tendens, met ’n fokus op seksuele aanranding en huishoudelike geweld. Hierdie kulturele verskuiwing het dit meer aanvaarbaar – en bemarkbaar – gemaak vir vroue om oor hierdie pynlike ervarings te skryf, alhoewel sommige kritici beweer dat vroulike skrywers die risiko loop om by die “traumanarratiewe” vas te haak, en komplekse karakters bloot tot hulle lyding gereduseer word. Ánder kritiek op hierdie tematiese lektuur is dat die fiksie die risiko loop om ander temas te oorskadu, of dat dit druk op vroulike skrywers uitoefen om hul persoonlike pyn vir bemarkbaarheid te ontgin. Hierdie argument is egter ’n tweesnydende swaard: Uitgewers en lesers raak toenemend verknog aan stories wat hedendaagse kwessies weerspieël, insluitend geslagsgeweld. Boeke wat vroulike trauma aanspreek, toon hoë verkoopsyfers, gedryf deur lesers se vraag na “outentieke” stories, wat steeds in aanvraag bly. Baie lesers en kritici sien hierdie fiksie as ’n noodsaaklike regstelling vir die vroulike stem, wat deur die eeue heen doodgeswyg is.
2
Titel: Wanneer die krieke stil word
Skrywer: Petro Kotzé-Odendaal
Uitgewer: Naledi, 2025
ISBN: 9781067234652
Home is where the hurt is. Hierdie donker en selfs verdraaide toespeling op die bekende gesegde het deur my gedagtes geflits terwyl ek Kotzé-Odendaal se memoires, Wanneer die krieke stil word, gelees het. Ek moet allereers noem dat ek selde so ’n hartseer roman gelees het wat inherent oor soveel hoop beskik. Op ’n manier het hierdie memoires my herinner aan Leonard Cohen se woorde: “There is a crack in everything / That’s how the light gets in.” Dit is ’n werk met ’n Christelike karakter.
Petro Kotzé-Odendaal is ’n radio-omroeper en ’n bekende pastoor in Noordwes. Sy preek en skryf, gebore uit die harde leerskool van die lewe, nie om te oordeel nie, maar om te motiveer. Omdat sy self uit ’n gebroke en arm huis kom, verstaan sy die pyn, woede en skande van verslawing van werklose ouers – daarom leef sy haar passie uit onder die vaandel van die NWO Voetlig Bedieninge, wat sy ná die afsterwe van haar eerste man in 2010 gestig het.
Die roman handel in die breë oor die verlammende siklus van slagofferskap en intergenerasie-trauma. “Dronk Apie se dogter” is hoe die verteller as jong kind verneder en gestereotipeer is deur die gemeenskap. Die verhaal begin wanneer die vierjarige Petro vertel van haar alkoholis-pa, wat ’n verwer was; van die disfunksionele, brandarm gesin waaruit sy kom, en haar eerste herinneringe aan haar pa wat haar ma aangerand en haar in ’n bad probeer verdrink het. Tussen haar gevoel van haat teenoor en jammerte vir haar vader leer sy die pyn van ambivalente liefde ken. Ongelukkig ook ’n emosie wat sou lei tot ’n herhalende siklus van emosionele en fisieke mishandeling in haar persoonlike verhoudings met mans, soos haar kêrel, Jakes, en haar man, Adriaan.
.......
Tussen haar gevoel van haat teenoor en jammerte vir haar vader leer sy die pyn van ambivalente liefde ken.
.......
Haar enigste ontvlugting is boeke, die Volle Evangeliekerk in Orkney, en die rits skoonheidstitels wat sy as hoërskoolleerling verower. Vir ’n kort rukkie smaak sy die luukse van ’n modelskool en vaar sy akademies baie goed, alhoewel sy sukkel om maats te maak. Haar vader se drankprobleem vererger, en daarmee saam die krieke wat stil word wanneer die hel saans tydens huishoudelike geweld losbars. Haar moeder, erg getraumatiseer, skei eers ná jare van haar psigopaatman.
Waar Jakes, haar eerste liefde, ook in die bediening staan en Petro sielkundig afknou, is dit Adriaan, ’n sexy losloper en mynwerker, wat haar eerste eggenoot sou word. Adriaan verdien ’n goeie inkomste, en ’n seun, Driaan, is uit die huwelik gebore. Maar Adriaan sélf is getraumatiseer as gevolg van ’n motorongeluk waarin sy medepassasiers gewelddadig oorlede is. Hy begin te drink en gebruik dwelms (onder meer rocks) – en die siklus van geweld waaraan Petro as dogtertjie blootgestel was, word voortgesit. Een aand gaan koop Jakes ’n dwelmmiddel, thai white, en sterf onverwags in haar arms in ’n vreemde gastehuis – hy was skaars 29 jaar oud.
Petro, nou enkelma uitgelewer aan die noodlot en sonder finansiële sekuriteit, stig die geestelike koerant Voetlig en adverteerders stroom wonderbaarlik in – die begin van haar eie loopbaan, gebore uit die diepste nood.
Dwarsdeur die roman sien Petro egter die hand van die Here – sy het immers as jong kind reeds tot bekering gekom. En al raak die geloofspad al steiler, slaag sy telkens daarin om die ondenkbare te oorwin – ook depressie, borskanker en ’n angsversteuring.
.......
Die meeste mense het verwonding van die een of ander aard, en dié roman dien as testament vir die veerkragtigheid van die menslike gees.
.......
Wanneer die krieke stil word is knap en vaardig geskryf, en mens het waardering vir Kotzé-Odendaal se gebruik van fokalisering. In die terugflitse na haar jeugjare fokaliseer die dogtertjie en die volwasse verteller om die beurt en vorm só ’n dubbellensfokalisering wat aan die roman ’n outentieke kwaliteit verleen. Uiteindelik is die roman ’n getuienis oor hoe God haar telkens gedra, of gered het uit noodlottige situasies. Die gebruik van metafiksionele kommentaar in die gedaante van fragmente uit songs, dagboeke, gedigte (soos “Lady heroin”, bl 115) en Bybeltekste, vleg naatloos deur die vertelling en karteer ook die tydsgees van die dag, soos die liedjies wat aangehaal word. Kotzé-Odendaal neem die leser in haar vertroue: Die herhaaldelike gebruik van die aanspreekvorm “liewe leser” openbaar die verteller se egtheid in ’n roman wat uiteindelik uitspeel as ’n vorm van moraliteitsteater. Wanneer die krieke stil word, eerlik, rou, toeganklik en met genadelose deernis geskryf, is ’n werk wat met ’n wye lesersgehoor sal resoneer. Die meeste mense het verwonding van die een of ander aard, en dié roman dien as testament vir die veerkragtigheid van die menslike gees.
3
Titel: Ontbloot
Digter: Marthé McLoud
Uitgewer: Turksvy Publikasies, 2025
ISBN: 9781037074394
Marthé McLoud is in 1964 op Stellenbosch gebore en het daar grootgeword. Sy behaal in 1989 haar MA-graad in maatskaplike werk en het 25 jaar lank as maatskaplike werker in Pretoria en Somerset-Wes gewerk. Sedert 2018 is sy afgetree en woon in die Strand. Van 2017 tot 2025 verskyn van haar gedigte in verskeie versamelbundels: Nuwe Stemme 6, die grendeltydbloemlesing, Maskers en mure, die mediese poësieversamelbundel flikker-gram, asook die bloemlesing Merang, een van die Afrikaans-100-projekte. Die literêre landskap het met verwagting uitgesien na McLoud se digdebuut, wat dan ook onlangs by Turksvy Publikasies verskyn het, getitel Ontbloot.
Op die agterflap verneem die leser dat Ontbloot ’n memoires-digbundel is wat handel oor persoonlike, familie- en gesinsverwante ervarings wat ook relevant is op universele vlak. Die bundel ontvou soos ’n kroniek, met ’n outobiografiese opgaaf van herinneringe en memento’s wat strek van die digter-spreker se geboorte tot in die hede. Die bundel in sy geheel het tematies ’n narratiewe onderbou. Die titel suggereer ’n blootleggings- of stropingsproses van die self.
.......
Memoires-poësie as ’n subgenre van poësie is belangrik, omdat dit universele ruimtes skep waar lesers se eie lewenservarings – trauma, vreugde, of identiteit – met dié van die digter-spreker resoneer.
.......
Memoires-poësie as ’n subgenre van poësie is belangrik, omdat dit universele ruimtes skep waar lesers se eie lewenservarings – trauma, vreugde, of identiteit – met dié van die digter-spreker resoneer. Memoires-poësie bied insgelyks ’n historiese, maatskaplike en kulturele rekord van gebeure waarin persoonlike besinnings dien as ’n brug tussen die individu se belewenisse en dié van ’n groter kollektief.
Dit stel ook gemarginaliseerde stemme in staat om hul narratiewe te argiveer wat andersyds doodgeswyg sou gewees het.
Memoires-poësie tree in gesprek met die vloeibaarheid van geheue, maar erken ook die onbetroubaarheid of fragmentariese aard daarvan. Digters mog hul kinderjare, trauma, kultuurerfenis, of persoonlike groei herbesoek, en gebruik die digproses om hierdie ervarings te verwerk of te herformuleer. Hierdie subgenre bewaar die verloop van samelewingskontekste soos oorlog, onderdrukking of maatskaplike verandering. In McLoud se poësie maak sy gebruik van suggestie en onderbeklemtoning. Haar gedigte wat oor die ’80’s handel, bevat byvoorbeeld onmiskenbaar die fineer van maatskaplike en politieke onrus. Memoires-poësie doen ’n beroep op empatie aan die kant van die leser – en begrip vir die menslike kondisie, waarin ons almal deelgenote is. Oorsese digters wat memoires-poësie beoefen het, is onder meer Sylvia Plath, Robert Lowell en kontemporêre stemme soos Ocean Vuong. Daar word voorrang gegee aan die persoonlike stem en geleefde ervaring, wat dikwels met ’n katarsis gepaard gaan. Van die verse in Ontboot het ’n somber of onheilspellende ondertoon en eindig meermale op ’n mespunt; dit herinner plek-plek aan die werk van Alfred Schaffer met die skielike, of abrupte, “ontbloting” van ’n persoon of situasie. ’n Goeie voorbeeld is “Biologieklas” (37):
Kinderstemme tjirp-tjirp
soos die fles van die skoolbank opgetel en
bekyk word.
Die kind se oë span styf.
Sy ruk, laat val die bottel
met die aangee-slag.
Die klas lag.
Die klaskamer begin om haar
dobber en dryf
soos die opgekrulde slang wegrol
van haar onderlyf.
Die reptiel se tong flits
in-uit. Sjuut
dit is ons geheim net
ons geheim net ons
Die digter-spreker se jeugherinneringe is kennelik die waarneming van ’n hipersensitiewe kind. Die onthutsende gedigte verleen ’n boeiende kwaliteit aan die bundel in sy geheel.
.......
Waar Kotzé-Odendaal se roman die verskillende vorme van geweld eksplisiet takel en beskryf, handel McLoud se gedigte oor die geweld van stilte: oor dit wat verswyg (moet) word; oor misverstande en donker geheime, en oor mense wat by mekaar verby leef.
.......
Waar Kotzé-Odendaal se roman die verskillende vorme van geweld eksplisiet takel en beskryf, handel McLoud se gedigte oor die geweld van stilte: oor dit wat verswyg (moet) word; oor misverstande en donker geheime, en oor mense wat by mekaar verby leef. Daar is familiegeheime en persoonlike trauma, maar dit word nie uitgespel nie; die verse is soos enigmas in die kleine wat die leser deur middel van suggestie of meerduidigheid ontrafel. Op bl 47 beskryf die digter-spreker hoe haar pa haar dagboek in die agterplaas verbrand. Die laaste reël, “Die Vader weet alleen”, met sy meerduidige konnotasies, dien ook as toespeling op Lacan se Simboliese Orde, met sy patriargale assosiasies.
Die bundel beskik oor geen formele rubrisering nie, en die gedigte vloei naatloos ineen. McLoud is die meester van fynkyk – haar gedigte is dan ook besonder subtiel.
Beide Kotzé-Odendaal en McLoud is/was betrokke by gemeenskapsuitdagings; Kotzé-Odendaal met haar bediening en NWO, en McLoud as maatskaplike werker. Beide vroue verstaan die trauma van geslagsgeweld, asook geweld teenoor kinders. En beide skryf daaroor. Kotzé-Odendaal was self ’n mishandelde kind en vrou, terwyl McLoud, ’n besonder sensitiewe en empatiese waarnemer, “geroepe” was om ’n maatskaplike werker te word (64):
Beroepskeuse (1979)
Vyftien jaar oud en ons
jeuggroep besoek
Pietie Victor se shelter
vir haweloses in die Kaap.
Daar gekom, sit die manne
van die Royal Hotel
soos verlore hondjies
tydens straatwerk opgetel.
’n Verweerde man staan op
en getuig. Uit sy mond vlieg
’n duif reguit op my af
en maak nes in my kop.
Sy woorde fladder voort
oor sy val-en-opstaanlewe
sy hand-om-die-blaas met die bottel,
sy rietjiesbewe en ook sy strewe.
Hy lees uit die Bybel
oor die Barmhartige Samaritaan
en vra: Wie sal Ek stuur?
Wie sal vir ons gaan?
Toe ek afkyk,
lê ’n donsveer
voor my voet.
In ’n onderhoud het McLoud genoem dat weerlose, uitgelewerde en getraumatiseerde kinders haar baie na aan die hart lê. Sy het in kinderbeskerming gespesialiseer en ’n handvol gedigte oor hierdie kinders geskryf.
“Op pad (1982)” (57) is meesterlik in sy onderbeklemtoning wanneer ’n weermagtroep, waarskynlik ’n kêrel, soos ’n besetene deur ’n bergpas bestuur. Wat nié gesê word nie, is die trauma wat jong mans tydens diensplig deurgemaak het; en hiermee saam, die politieke onrus en angs van die tagtigerjare. Eerder as om te vertel maak die digter gebruik van wys om ’n hele register temas saam te trek (57):
[....]
Sy weermagstewel rus swaar op die petrol
twee sweisvlam-oë broeiend op die pad
[...]
Die dodelike stilte
tussen ons spat in stukke, maar
my gesmeek is sy adrenalienreuk.
McLoud skryf voorts oor selfdood, dwelmmisbruik, maatskaplike ellende, werkloosheid, armoede, ’n verbrande bedelaar (74), ’n pedofiel (55), en ander tematiek soos jeugdige liefdesteleurstellings.
Sy parodieer “onskuldige” sprokies soos Raponsie, Rooikappie, Hansie en Grietjie, die drie varkies, Jan en die boontjierank en Bloubaard, en ontbloot die inherente wreedheid in dié sprokies. ’n “Onskuldige” sirkus word voorts voorgehou as die oorsaak vir Ester se litteken (maar sy word inderwaarheid deur haar pa mishandel; dié vers kan selfs op kindermoord dui). Hierdie gedig is ’n meestersklas in ironie (46):
Haar naam was Ester (1979)
Jy vra: “Wat was haar naam nou weer?
Die kind wat verongeluk het?”
Ek weet nie, maar ek onthou nog vir Ester,
die dowwe ster,
die een met die kroeserige kop,
die klerebank-kind
die een met die houtneus
(of so het almal gedink),
want ons was mos lanies,
dosente en ryk boere se kinders.
Daar is agter hande getjie-tjie
en gebaawahaa – die merk bo
haar oog glo haar pa. ’n Mesgooier
soos in die sirkus! Daardie jare
die hoogtepunt op ons dorp.
Jy ken mos daardie toertjie?
Ontbloot is ’n knap en noodsaaklike digbundel: ’n aanwins vir enige leser van poësie.
En oor die kwellende brandpunt rondom die mishandeling van kinders stel ek vir Marthé McLoud, die maatskaplike werker, aan die woord: “Om ’n ouer te wees is ’n ontsettende groot verantwoordelikheid, want ouers moet besef dat hulle kind(ers) spesifiek aan hulle toevertrou is. Dit is ’n ouer se primêre taak om elkeen van sy kinders onvoorwaardelik lief te hê en in elkeen se emosionele en fisiese behoeftes te voorsien. Ongelukkig is daar disfunksionele gesinne wat vir generasie na generasie dieselfde patrone herhaal, naamlik fisiese en emosionele verwaarlosing en mishandeling, asook molestering. Daarom is dit so belangrik dat ouers hierdie herhalende patrone binne hulle gesin van herkoms moet herken en verbreek. Dis ’n doelbewuste keuse wat ’n ouer moet maak om die nodige hulp te verkry sodat genesing kan plaasvind. Daarsonder is die trauma waaraan kinders blootgestel word oneindig en dra dit daagliks by tot ’n verbrokkelende samelewing.”
Lees ook:
Heil die Leser!: Die waarde van selfhelpboeke en motiveringslektuur
Verskrikking in die ergste graad: So lyk ’n vrou ... deur Ilse Verster


Kommentaar
Ek het regtig baie van die resensie gehou!