Tien voor een
Adele Vorster
Protea Boekhuis, 2022
ISBN: 9781485313328
Adele Vorster se romandebuut, Tien voor een, is ’n gelaagde teks waarin temas soos vetstudie ondersoek word. In hierdie opsig is die werk vergelykbaar met Anoeschka von Meck se Die heelal op my tong (2020). Vorster neem voorts die groot leemte rondom eetversteurings in Afrikaanse fiksie in haar werk onder die loep. Karakters met eetversteurings figureer onder meer in Barrie Hough se jeugfiksie Vlerkdans (2014), asook die drama Die pad byster (2014) deur Nicola Hanekom. Binne die digkuns dink ’n mens aan Aniel Botha se bundel Pirouette (2012), waarin anoreksie onder die soeklig val. In Eben Venter se Horrelpoot (2006) is daar ’n vetsugtige karakter. Dit is egter geïsoleerde gevalle en die oes is maar skraal as dit kom by vetsugtige protagoniste en vetfiksie in Afrikaans. Tien voor een is dus ’n belangrike toevoeging tot hierdie studieveld wat eintlik nog braak lê in die Afrikaanse letterkunde.
Waaroor sal my boek gaan? Wel, kos maak ’n belangrike deel van hierdie boek uit, miskien die belangrikste deel. Ek wil gedigte en liefdesliedere oor kos skryf. Daar is veels te min prosa en poësie oor die wonder van kos. Kos is fokken orgasmies, man, maar almal skryf net love stories en murder mysteries en klaagliedere oor hoe moeilik hulle lewe is. Waar is die love letters wat aan kos gerig is?
Ek kan jou baie oor kos vertel. Wat is daar oor kos wat ek NIE kan sê nie?
Kos is my lover. Die beste lover wat ek tot dusver gehad het. (18–19)
Die eerste betekenis van “tien voor een” dui op die tyd van die dag wat ’n kosverslaafde, of ’n persoon wat ‘n dieet volg, uitsien na kos. Die tweede betekenis van hierdie tyd dui op die herbesoek aan ekstreme jeugtrauma (spoiler alert: die leser moet dié intrige maar self lees).
..........
Die eerste betekenis van “tien voor een” dui op die tyd van die dag wat ’n kosverslaafde, of ’n persoon wat ‘n dieet volg, uitsien na kos. Die tweede betekenis van hierdie tyd dui op die herbesoek aan ekstreme jeugtrauma (spoiler alert: die leser moet dié intrige maar self lees).
...........
Die verhaal begin met die protagonis, Odela Luna, wat een Vrydagaand wag dat Johnny van Mr D Food haar muffins aflewer. Sy volg die bode se scooter op haar toep en laasgenoemde dien as katalisator in die ontvouing van die verhaal as raamvertelling. Die omslagontwerp toon ’n horlosie met muffins en ander soetgebak, asook voorskrifmedikasie en knipbord met ’n mediese ikoon waarin die woord “roman” voorkom.
Vorster skep verskeie subtekste wat terugreik na pynlike gebeure in die verlede. Die leser word onmiddellik ingetrek deur die alledaagse, loslit geselstrant. Enkele temas wat uitspeel in hierdie roman is die belewenis van kosverslawing, vetsug, psigoterapie, ’n verloopte liefdesverhouding, asook beskrywings uit taxibestuurders se lewens. Hiér is ’n vernuftige nuwe skrywer aan die woord – die meelewing met die drywers, wat finansieel ’n stryd om oorlewing voer, laat val egter die soeklig op die geweldige eensaamheid van die hoofkarakter, Odela. Deur te skryf oor die sukkelbestaan van hierdie mense, herinner die roman aan ’n uitspraak van Etienne van Heerden in sy roman Asbesmiddag waarin hy beweer dat goeie letterkunde handel oor weerlose mense. Inderdaad – en die krag van Tien voor een lê in die brutaal eerlike beriggewing oor al die karakters wat weerloos voor die leser staan.
Terapeutiese situasies met sielkundiges word in die skryfstyl gesimuleer en Odela neem die leser in haar vertroue deur te bieg, te bely – en haar lewensverhaal te vertel. Sy is 40 jaar oud en die teks beweeg anachronisties die verlede in en weer terug na die hede. Die terapeutiese waarde van literêre fiksie word ondersoek – ’n onderwerp wat die skrywer met omsigtigheid hanteer. Sy spot met “haar aftreehuisie by die see” nadat sy dié roman (’n blitsverkoper) voltooi het. Inderwaarheid is Vorster alte bewus van die sardoniese metatekstuele kommentaar wat sy lewer oor skrywerskap in die algemeen. Die neerpen van trauma word ’n katarsis vir beide skrywer en leser. Of dalk is Ernest Hemingway se beskouing meer akkuraat as hy beweer: “There is nothing to writing. All you do is sit down at a typewriter and bleed.” Die skrywer is inmiddels terdeë daarvan bewus dat skryf harde werk is – die leser verneem dat dié roman inderwaarheid die voltooiing van ’n MA in Skeppende Skryfkuns is. Donker geheime word meedoënloos oopgevlek en Vorster eksploiteer taal as matrys vir haar verhaal. Dit is dan juis die distorsie van taal wat ’n spieël ophou na die verteller se verwonding en stukkende verlede. Hierdie gebroke sintaksis maak wel sin by wyse van assosiasie en verbeeld die konsep van sielkundige repressie per excellence:
31 Oktober 2002
Ek bewe ruk maag klein bietjie tafel stoel. Skoon oop blaai. Baie mooi. Maak hom vol. Dis myne. Haai hom vol. Dis myne. Haai. Droog woestyn water. Skryf ek mooi? Mure miere m .... m voëltjies moet teen die donker in. Nou moeg. Kyk hoe skryf ek deurmekaar. Wil en wil nie Afrikaans skryf. Daar’s baie en daar’s niks. Ek’s bang en mag niks doen nie. Net asemhaal. Dit stop nie vanself. Kan nie ophou skryf of moet slaap. Dit skree. Oorverdowend. Toemaar. Ek hoor. (102)
’n Interessante kenmerk van die roman is voorts die nabootsing van die vader se skisofrenie, byvoorbeeld die hoor van stemme, by wyse van verskillende “stemme” wat begin saampraat in die verhaal: verwysings na SMS’e, e-posse, dagboekinskrywings en ander stories. Hierdie subtekste aktiveer ’n paar simultane verhaallyne wat in die verlede uitspeel, en gee momentum aan die roman as geheel. In ’n parallelle verhaallyn, wat handel oor ’n liefdesverhouding en gepaardgaande verraad, amplifiseer Odela hoe kosbaar – en breekbaar – vertroue werklik is.
Aan die begin van die roman openbaar die verteller dat sy 150 kg weeg en sy bespiegel oor hoeveel sy gaan weeg nádat haar roman voltooi is. Selfironisering en -spot, maar ook donker humor, temper die pyn van die verhaalgebeure:
Mense spot en kyk neer op vet mense, maar mense wat rook en drink word nie sommer bespot nie. Inteendeel. Iemand wat sy drank kan vat, word met ’n sekere agting bejeën. So sal daar by ’n braai gespog word: Ou Koos kan enige iemand onder die tafel in drink. Watch hom maar vanaand! Maar niemand gaan sê: Odela kan enige iemand onder die tafel in eet nie. Watch maar vanaand hoe verorber sy daai aartappelslaai. Dis nou vir jou ’n girl wat haar kos kan vat! Nee, agterna word daar geskinder oor hoeveel aartappelslaai en braaibroodjies ek geëet het, terwyl dié wat met ’n babelaas wakker word, met innige simpatie hanteer word. Daar word pynpille aangedra, maar niemand dra vir my sooibrandpille aan nie. Hoe so? (9–10)
Tien voor een lewer ’n belangrike bydrae tot die begrip van patologieë soos PTSS, depressie, angsversteurings en grenslynpsigose. Vorster skryf met genadelose deernis oor taboe-onderwerpe en die waarde van ’n roman soos dié is vergelykbaar met Carol North se Welcome, Silence, ’n roman wat handel oor die belewenis van skisofrenie. Dit is nie ongewoon dat romans met ’n psigoanalitiese strekking voorgeskryf word aan studente wat Sielkunde studeer nie. Die terapeutiese waarde van dié werk aan die “gewone” lesersmark kan uiteraard nie genoeg beklemtoon word nie. Vorster het die vermoë om die aanbod van sielkundige stoornisse as deurleefde gevallestudies glashelder te verwoord.
...........
Met Tien voor een maak die skrywer haar merk as romansier. Die volgehoue spel met die leser – as gesofistikeerde literêre kommunikasieproses – beïndruk. Die leser begelei die skrywende Odela dwarsdeur haar figuurlike “dark night of the soul” uit die donker en weer terug na die lig. En dié katarsis reinig skrywer én leser.
............
Met Tien voor een maak die skrywer haar merk as romansier. Die volgehoue spel met die leser – as gesofistikeerde literêre kommunikasieproses – beïndruk. Die leser begelei die skrywende Odela dwarsdeur haar figuurlike “dark night of the soul” uit die donker en weer terug na die lig. En dié katarsis reinig skrywer én leser.
’n Staande applous aan Adele Vorster vir hierdie kragtoer – ’n tragiese, wonderskone en bittersoet memoir oor die gebroke verloop van ’n lewe én die triomf van die menslike gees.
Lees ook:
Kommentaar
Bravo, Adéle!