
Boekomslag: Bakeliet deur Anri Botha (Turksvy Publikasies, 2025)
- Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Titel: Bakeliet
Digter: Anri Botha
Uitgewer: Turksvy Publikasies, 2025
ISBN: 9781037086960
1
Ek het lanklaas ’n digbundel so geniet soos Anri Botha se tweede digbundel, Bakeliet. (Sy het in 2018 gedebuteer as digter by Naledi met Wolfram.) Haar gedigte het my dadelik herinner aan dié van Jeanne Goosen, en veral Goosen se beskouing dat skryf verwant is aan toorkuns (Het jy geweet ek kan toor?, 2020). Vir die fynproewer van poësie is daar heelwat “ernstige” digbundels in Afrikaans; ook bundels met ’n swaar intellektuele lading, wat baie lesers moedeloos laat. Ánder digters weer is goeie vakmanne en -vroue. In dié poësielandskap is Bakeliet ’n vars bries – Botha se vername gawe as digter lê in haar aweregse blik op dinge, soortgelyk aan Goosen s’n. Maar haar verse is ook intellektueel, wat eerder as nonchalante metafiksionele kommentaar tot die bundel dien.
........
Die gedigte is spottend, selfironiserend en satiries – maar moenie ’n fout maak nie: Al vertoon dit op die oppervlak eenvoudig, is die verse inderwaarheid gelade brokkies sosiale kritiek op verhoudings, of sardoniese bespiegelinge oor die menslike toestand.
.......
Die voorblad toon ’n seskantige-ring-struktuur wat ’n mens in chemie aantref. Die vark wat tussen die sterre deur vlieg, aktiveer die idioom “when pigs fly”: om dít wat onmoontlik, onwaarskynlik of absurd is, te verbeeld. Botha gebruik dan ook die titelwoord bakeliet, wat na ’n soort plastiek verwys, as uitgebreide metafoor om die kunsmatigheid, en selfs sinloosheid, van die wêreld om haar te verken. As chemikus en wynmaker belig sy deur ’n unieke lens die sintetiese aard van die moderne lewe om die oppervlakkige fasades van die samelewing, asook persoonlike verhoudings, te beskryf.
Die gedigte is spottend, selfironiserend en satiries – maar moenie ’n fout maak nie: Al vertoon dit op die oppervlak eenvoudig, is die verse inderwaarheid gelade brokkies sosiale kritiek op verhoudings, of sardoniese bespiegelinge oor die menslike toestand.
Op die agterflap verneem die leser meer van die digter: “Katte is haar huisgenote, haar terapeutiese komberse met snorre en waarskynlik die geheime redakteurs van haar werk. Met ’n glas wyn in die een hand en ’n pen in die ander leef sy met oorgawe vir wyn, woorde en warm verhoudings. Moet haar net nie vir water vra nie.”
.......
Botha se verse beweeg met gemak tussen die makrokosmos van globale krisisse en die mikrokosmos van haar eie middelklas voorstedelike bestaan.
.......
Botha se verse beweeg met gemak tussen die makrokosmos van globale krisisse en die mikrokosmos van haar eie middelklas voorstedelike bestaan. In die eerste gedeelte, “Antroposeen”, takel sy ekologiese uitdagings, en alhoewel sy deur die loop van die bundel van die teoretiese beginsels/begrippe in die wetenskappe gebruik maak, verswaar sy nooit die verse met kliniese gegewens nie. In stede hiervan skryf sy verse wat steun op die magiese, en wat herinner aan die alchemie van ouds.
Die sosiopolitieke kommentaar word gebalanseer deur ’n intieme, soms hartverskeurende kyk op haar eie lewe. In die vierde gedeelte, “Kapsule” (“In grys se duisend kleure”, 40–3) lewer die spreker berig oor haar bipolêre versteuring. Die vertrekpunt in die vers is die aardbewing in Tulbagh, 29 September 1969, wat insny in die persoonlike pyn en gebruik van medikasie van ’n persoon met ’n gemoedsteurnis. Die eersgemelde aardbewing word dan die vertrekpunt, of metafoor, vir ewewig in die algemeen. Hierdie vers resoneer ook met “Onse Psigiater”, wat ’n wrang parodie op die “Onse Vader”(39) bied.
“Tydskrifverhaal” (33–5) moet die leser fyn lees: “Hanna” verander in “Anna”, wat op sy beurt “Ana” word – die slengwoord vir anoreksie soos dit op sosiale media gebuik word. Let daarop dat die vrou se naam letterlik “kwyn”, en só haar eetversteuring simuleer soos sy bly gewig verloor.
Die gedigte is geskryf as praatpoësie (of parlando). Ook die heersende populêre kultuur kom onder die soeklig, soos in “Barbenheimer” (12). Laasgenoemde is ’n versmelting van Barbie en Oppenheimer en verwys na die kulturele verskynsel op 21 Julie 2023 toe dié twee films op dieselfde dag vrygestel is. Die term het gelei tot die ontstaan van meme, sosiale-media-grappe en die kontras tussen die twee films: Barbie is ’n ligte, kleurvolle komedie oor ’n pop, terwyl Oppenheimer ’n donker, historiese drama oor die atoombom is. Hierdie vers betrek implisiet Jean Baudrillard se beskouing van hiperrealiteit.
Botha beskryf die monotone ritmes van alledaagse roetines en liefdesteleurstellings, wat by tye ’n gevoel van versmorende leegheid skep. Sy kyk terug op die grendeltyd in “Hair of the dog” (73–4), ’n vers waarin die getjommel oor hadidas inderwaarheid ’n stewige skeut metafiksionele kommentaar oplewer. Die grendeltyd het maar met ons almal se sielkundige sagteware gesmokkel. Dié gedig handel inderwaarheid oor die (self)vervreemding wat die spreker tydens Covid ervaar het, ’n gegewe wat ook op universele vlak relevant is:
Hair of the dog
Is dit regtig nodig vir die hadidas om so te raas?
Fok weet.
Ek yl nog aan gisteraand se gedagtes
oor mensehandel
of wat dit ook al was.
Die fokken hadidas beskyt my kar
met day zero om die draai.
Ek wonder of die ekstra gewig van al die hadidakak
my kar swaarder laat loop op petrol?
Ek is sommer van voor af befok
vir daai mense wat die vlermuise geëet het –
as dit nie vir hulle was nie, het ek nog ’n werk gehad
en dan hoef ek nie nou te gewonder het
oor die implikasies van hadidakak op my petrolverbruik nie.
Ek moet vir die honde gaan pille koop,
hulle het die eiers geëet.
Die doppe kon ek nog vat –
Grand-pa’s en Clonazepam help baie,
maar die swaeldampe van hulle geskytery het my geknak.
Dis hoekom ek gedrink het.
Die katte sal nooit so iets aanvang nie
en ek weet die kans is skraal
maar hulle kan dalk nog die hadidas vang.
Bakeliet, as die eerste sintetiese plastiek, ontwikkel in die bundel as leitmotief vir menslike pogings om die chaos van die lewe te orden én te vervals, maar dit dui ook op die inherente broosheid van die lewe en sy uitdagings.
........
Botha lewer, met ’n chemikus se oog vir besonderhede, met Bakeliet ’n verfrissende bydrae tot hedendaagse Afrikaanse poësie. Dit is ’n bundel wat die leser uitdaag om die kunsmatigheid van ons bestaan te bevraagteken terwyl dit terselfdertyd troos bied in ons gedeelde menslikheid en ons tekortkominge.
.......
Botha lewer, met ’n chemikus se oog vir besonderhede, met Bakeliet ’n verfrissende bydrae tot hedendaagse Afrikaanse poësie. Dit is ’n bundel wat die leser uitdaag om die kunsmatigheid van ons bestaan te bevraagteken terwyl dit terselfdertyd troos bied in ons gedeelde menslikheid en ons tekortkominge. En durf ’n mens praat van ’n lekkerleesdigbundel? Met Botha se magiese verse is die antwoord inderdaad ’n dawerende “ja”. In die laaste gedig, “Poetse”, ontluister die digter al wat gewigtige ars poëtika is en skryf téén die grein in ’n ars poëtikale vers waarin sy erken dat sy, die digter-spreker, met dié bundel bloot poetse op die leser gebak het. Gepraat van die digter-as-triekster …
Hierdie héérlike bundel het my dadelik genoop om ’n onderhoud met Anri Botha te voer.
2

Bakeliet deur Anri Botha (Turksvy Publikasies, 2025)
Anri, baie geluk met jou tweede digbundel, Bakeliet, wat onlangs by Turksvy Publikasies verskyn het. Vertel ons allereers van die mens agter die bundel. Waar kom jy vandaan, wat is jou beroep, stokperdjies, belangstellings en dies meer?
Ek is gebore in Tulbagh, maar het grootgeraak tussen Springbok en Strand, waar ek dan ook gematrikuleer het aan Hoërskool Strand. My droom was om ’n mediese dokter te word, maar ek is op verskeie waglyste geplaas, en het toe besluit om BSc (Menslike Lewenswetenskappe) te studeer aan die Universiteit Stellenbosch. Dit is daar dat ek toe eers besef mens kan gaan leer vir iets soos wynkunde. Die tweede semester het ek van studierigting verander en nog nooit weer teruggekyk nie. Met wynkunde kan jy wetenskap gebruik om kreatief te wees, en dis my twee grootste liefdes in die lewe: wetenskap en kreatiwiteit. Wanneer ek eendag my PhD kry, sal ek in elk geval “dr” wees al is dit dan nou een in dronkenskap.
.......
Met wynkunde kan jy wetenskap gebruik om kreatief te wees, en dis my twee grootste liefdes in die lewe: wetenskap en kreatiwiteit. Wanneer ek eendag my PhD kry, sal ek in elk geval “dr” wees al is dit dan nou een in dronkenskap.
.......
Ek is tans die wynmaker en wingerdkundige by Lemberg Wynlandgoed in Tulbagh. My eerste pars vir hierdie kelder was in 2019. Lemberg lê my baie naby aan die hart. Dit is die eerste wynlandgoed in Suid-Afrika wat ’n vroue-eienaar-wynmaker gehad het en dit is ook die enigste wynlandgoed wat ’n 100%-Hárslevelü (’n Hongaarse kultivar) berei. Benewens my werk en die plaas is ek ook bitterlik lief vir Tulbagh en al sy wonderlike kunstenaars – die mense wat ek bevoorreg genoeg is om my vriende te noem. Ek het al op baie plekke gewoon, maar was nog nooit so gelukkig soos wat ek nou hier in Tulbagh is nie. Dit sal nog ’n aardbewing kos om my uit hierdie vallei uit weg te kry!
In my vrye tyd is ek aktief betrokke by Tulbagh se Lions-klub. Lions doen ongelooflike werk vir sig, honger, diabetes, kinderkanker, jeug, humanitêre bystand, rampverligting en die omgewing. Ek het ’n groot liefde om in hierdie klub te dien. Miskien is dit omdat my ma ’n matrone was vir ’n ouetehuis en ek in die ACVV grootgeraak het, en omdat mens heeltyd omring is deur soveel negatiwiteit in die wêreld dat dit ’n katartiese verligting is om ’n hamburger te maak en te weet daardie geld gaan vir iets goed in die wêreld aangewend word.
Dan het ek natuurlik ’n groot liefde vir skryf. My voorkeurgenres is kortverhale en gedigte. Ek het al drie kortverhale in die US Woordfees se bundels gepubliseer. Ek het twee gedigte gepubliseer in Merang, asook twee digbundels van my eie: Wolfram (Naledi, 2018) en Bakeliet (Turksvy, 2025).
Die titel van jou tweede bundel, Bakeliet, verwys na ’n soort plastiek, wat jy as uitgebreide metafoor in jou bundel gebruik om die kunsmatige bestaan van die lewe en wêreld om jou te verken. Jy het ook ’n meestersgraad in chemie. Hoe het jy op hierdie tema besluit, en watter rol speel verwysings na chemie in jou werk?
Daniel Hugo het my op iets. Wofram is die stof waarvan die gloeidraadjies in ligte gemaak word en is dus ’n goeie geleier. Bakeliet, wat plastiek is, is weer ’n isoleerder wat glad nie gelei nie. Ek het dit nie so beplan nie, maar vind dit steeds baie ironies.
In 2021 was daar ’n reeks op kykNET met die titel Afgrond, en in een van die episodes sit twee van die karakters (een ’n sielkundige en een ’n pasiënt) in sessie. Die sielkundige sê vir die pasiënt dat as ons bereid is om die waarheid in die gesig te kyk en oor die afgrond te gaan, is daar ’n hele nuwe wêreld wat daar buite vir ons wag. Daardie tyd was ek self in intensiewe terapie gewees na ’n mislukte selfmoordpoging. Ek het besluit om alles wat van plastiek is in my lewe te ondersoek en te konfronteer. Alles van die antroposeen tot my eie seksualiteit.
.......
Ek het besluit om alles wat van plastiek is in my lewe te ondersoek en te konfronteer. Alles van die antroposeen tot my eie seksualiteit.
.......
Die feit dat ek chemie daarby kon betrek, was bloot ’n geluk uit my studierigting.
Insgelyks: Soos in my oorsig hier bo genoem, herinner jou gedigte sterk aan die van Jeanne Goosen. Jy betrek dan ook pertinent Jeanne se gedig “Let it be” in jou gedig “The handmaid’s tale” (16–7). Jeanne het van die aangrypendste en eerlikste geestelike poësie in Afrikaans geskryf. Vertel ons asseblief meer.
Ek hou nie daarvan om in stilte te ly nie. Veral nie as my voete seer is nie. En as mens pars, is jou voete permanent seer van heeldag ronddraf in veiligheidstewels. Ek het een aand op my stoep gesit hier in Tulbagh met ’n glas wyn en met my voete in ’n soutbad. Daar was beurtkrag ... en sonder my wifi kon ek by niemand kla oor my seer voete nie. Dit is toe dat ek besluit het om met Jesus te gesels. Dit was seker maar die wyn. In vino veritas. Ek vertel Hom toe alles wat my pla. Jeanne Goosen het my gewys hoe.
Heelwat van die verse handel oor ontgogeling (soos liefde), of bevraagteken die sin van die lewe. Wat is jou lewensfilosofie?
Dit is ’n aanhaling van Leonardo da Vinci: “To develop a complete mind, study the science of art; study the art of science; learn to see; realize that everything connects to everything else.”
Watter skrywers of digters se werk lees jy? Wie is jou gunstelinge? Wie, of wat inspireer jou om te dig?
........
My kop is ’n rondomtalie. Daar is altyd iets om oor te skryf, selfs al is dit ’n dandelion in jou vriend Ian se sitkamer wanneer jy oor middagete wegglip by die werk.
........
Ek is mal oor Ingrid Jonker, Bibi Slippers, Loftus Marais, Jeanne Goosen en natuurlik Daniel Hugo se skryfwerk. Ek sê gereeld vir my sielkundige, Marga Roets, dat ons nog nie eers tyd gehad het om oor die traumas uit my kinderjare te gesels nie, want daar is altyd iets wat nóú aan die gang is. My kop is ’n rondomtalie. Daar is altyd iets om oor te skryf, selfs al is dit ’n dandelion in jou vriend Ian se sitkamer wanneer jy oor middagete wegglip by die werk. Daarom dra ek altyd ’n notaboekie saam met my.
Ek verneem dit is aangenaam om met Turksvy Publikasies saam te werk – Marlene Malan en Daniel Hugo. Vertel ons gerus meer. Hoe het die publikasieproses en bekendstelling van Bakeliet verloop?
As Afrikaanse wynmaker wou ek bitterlik graag hierdie jaar spesifiek gepubliseer het omdat beide Afrikaans en pinotage 100 raak. Ek is deel van ’n groep digters in Riebeeck-Kasteel wat die laaste Sondag van elke maand ’n “poetry jam” doen waar almal ’n gedig of drie voorlees. Ek het daar vir Daniel en Marlene ontmoet. Dit was so eenvoudig soos die stuur van ’n e-pos en my manuskrip. Hulle is regtig ongelooflik professioneel en vinnig. Ek sal vir die res van my lewe net my hulle wil werk.
Die bekendstelling van Bakeliet was by Lemberg Wynlandgoed in Tulbagh. Daniel en Marlene het deurgekom en ons het heerlik gesels en rooiwyn geniet op ’n reënerige dag met ’n kelder propvol mense.
Op watter ouderdom het jy bewus geraak van poësie – dat jy dit graag wou lees en skryf? Vertel ons gerus meer; ook van daardie eerste impetus wat jou digterskap aan die gang gesit het.
Ek was in graad 11 in Hoërskool Strand. My Afrikaans-onderwyseres, juffrou Lillibet Badenhorst, het my laat glo ek kan en dat ek moet. Nodeloos om te sê gesels ons tot vandag toe nog gereeld en is sy aan die ontvangkant van my gedigte nog voordat ek weer nugter is! 😊
Jou gedigte is baie genuanseerd, en jou kyk op die wêreld is deur ’n aweregse lens. Tog skuil daar heelwat figuurlike skaduwees in jou verse, wat bedrieglik lighartig geskryf is – jou gedigte herinner aan komplekse eenvoud, maar daar is dieper, en digter lae van betekenis. Vertel ons asseblief meer.
........
[Skryf is] vir my terapeuties. Dit is vir my ’n manier om alles waarmee ek worstel, op ’n nieselfdestruktiewe manier uit myself te skryf.
........
Ek dink hierdie antwoord is drieledig. Eerstens het ek geen opleiding in tale of die skryf van gedigte nie. Ek verstaan nie al die dinge van rym en ritme soos die meeste mense wat dit studeer het nie. Soms skryf ek ’n sonnet, maar dan is dit per blote toeval. Tweedens is ek bipolêr. Dit is vir my bitterlik moeilik om my gedagtes te orden in ’n struktuur. Derdens is skryf vir my terapeuties. Dit is vir my ’n manier om alles waarmee ek worstel, op ’n nieselfdestruktiewe manier uit myself te skryf.
Hoe “gebeur” ’n gedig vir Anri Botha? Sit jy lank en wroeg om die gedig af te rond, of gebeur die gedig onmiddellik en spontaan?
Meestal gebeur ’n gedig spontaan vir my – die gedagtes vloei net. Ander kere is dit ’n aanhaling wat ek raaklees of ’n liedjie waarna ek geluister het of sommer net die manier waarop iemand lag of huil.
Is daar toekomstige publikasies uit jou pen waarna lesers kan uitsien?
Beslis. Ek het nou al gedelf in fisika en chemie. Dink dis nou tyd vir ‘n bietjie plantpatologie … Ek het solank my cover foto op Facebook verander van fenole en formaldehied (Bakeliet) na chlorofil. Ons kyk wat gebeur.
Wat is jóú persoonlike gunstelinggedig in Bakeliet?
Dié een ...
Koer
ek het belowe
(aan niemand spesifiek nie)
dat ek nooit weer
soos ’n verliefde idioot
sal sit en smile na my foon nie
jy was nie ’n visioen nie
meer ’n notification
wat ek nooit afgeskakel het nie
’n fluister in die feed
’n glitch in die hart se ou firmware
ek het jou inbox oopgemaak
soos ’n ou wond
in ’n taal wat my autocorrect
nie meer herken nie
en my hart
daai moedelose toestel
met ’n opdatering uit 2024
het weer begin flikker
sonder waarskuwing
ek het gewonder of ek weer kan glo
dat ek werd is om gevind te word
ek het na die hemel begin kyk
en iewers ver bokant die verkeer
het ek hulle gesien:
varke
met “don’t look down”-tatoes op hul boude
soos ’n glitch in God se kode
en ek het geweet
hier is iets wat nie aan die aarde behoort nie
jy het my laat glo
in alles waarmee ek voorheen gespot het:
sterre wat val
en varke wat vlieg.
Baie dankie vir ’n prikkelende onderhoud, Anri!
Lees ook:
Gevarieerdheid en inklusiwiteit laat Merang vonkel: ’n lesersindruk
Heil die Leser! Oor verganklikheid en verlies: alles van waarde is weerloos


Kommentaar
Anri Botha se Bakeliet lê op my bedkassie.
Ek lees en lees en lees weer.
Wat 'n heerlike, prikkelende, vrees- en pretensielose bundel!
(En raak resensie.)
Heerlike onderhoud. Ek beleef Anri se werk as roerend. En sonder fraiings, nes sy ook is.