Gevarieerdheid en inklusiwiteit laat Merang vonkel: ’n lesersindruk

  • 1

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Merang
Samestellers: Neil Cochrane en Alwyn Roux
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978-1-067234-57-7

ek voel ’n gekriewel in my
vegiet voel ’n wakkeskrik in my
onthou my tong het oorie see
gekô, veniet!

Dié versreëls uit die openingsgedig, “Hou sout” (23), deur Veronique Jephtas weerspieël die feestelike aard en diversiteit van die keurbundel Merang wat pas verskyn het.

Die samestellers, Neil Cochrane en Alwyn Roux, het die verskyning daarvan laat saamval met die 100ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal. Die veelkleurige voorplat en titel – merang beteken “fees” in Kaapse Moslemafrikaans – stel ’n poësiefees gekenmerk deur vele tongvalle en style en verskeidenheid in die vooruitsig.

Lesers se belangstelling sal reeds geprikkel word as hul verneem dat geen van die gedigte voorheen gepubliseer is nie. Dus: nie nóg ’n bloemlesing wat lesers laat voel hulle het eintlik reeds groot gedeeltes daarvan in digbundels wat op hul rak staan nie.  Bekende digtersname val op: Louis Esterhuizen, Bibi Slippers, Joan Hambidge, Johann Lodewyk Marais, Tom Dreyer, Jo Prins, Charl-Pierre Naudé, Pirow Bekker, Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer en vele meer. Maar ook die talle nuwe name voorspel opwinding. Die bundel is gepas aan onlangs ontslape digters opgedra: Johann de Lange, Mellet Moll en Joha van Dyk. 

Lesers sal die 11 afdelings waarin gedigte gegroepeer is, elk met ’n toepaslike aanhaling aan die begin, nuttig vind, omdat dit losweg aanduidend is van tematiek van die gedigte wat volg.

Getrou aan my persoonlike passie vir die natuur en natuurbewaring, het ek my verlustig in afdeling IV, wat beskou kan word as “ekopoësie”, dog ek is ook ontstem  deur gedigte wat natuurvernietiging en lyding van diere uitbeeld, byvoorbeeld “’n oorskot water” (119) deur Cobus Kruger en “Odobenus rosmarus” (133–4) deur Marié Nöthling.

Afdeling I is afgespits op die taal. Die reikwydte van Afrikaans word gesuggereer deur Alwyn Roux se “Taal” (25):

Jy roep my in jou stiltes
as jy oor wêrelde besin
wat werklik is, verbeelding
en alles tussenin.

Ek het myself vermaak deur Churchil Naudé (digter én rapper) se gedig “sê” (36) hardop in kletsrymstyl te probeer voorlees.

Selwyn Milborrow se “girl vannie flêtse” (59) is ’n Kaapsafrikaans-juweeltjie:

ek’t haar laas week gesien
oppie taxi rênk –
jirre sy’t my nie herkennie
vir ’n gôtse oomblik ek ôkkie vir haarie
tot ons mekaar disnis geloopit
innie memory van daai soen.

Die gedig “ixoxo” (39) (die woord beteken “padda” in Zoeloe) deur Erica Schoeman is “werklik paddapret”, en Kleinboer se “gerda se oorwinning” (249) lewer bewys daarvan dat die bundel gedigte bevat wat toeganklik is en deur ’n breë leserspubliek waardeer sal word.

’n Taalfees word deur die titel Merang in die vooruitsig gestel, maar tog, die lewe is nie ’n ewigdurende fees nie, en somber temas word ook betrek. “No need to argue” (194–7) deur Neil Cochrane, wat handel oor ’n jong seun se genadelose treitering deur skoolmaats tydens ’n veldskooluitstappie, en sy latere wroeging om tot aanvaarding van sy eie seksualiteit te kom te midde van samelewingsvooroordele, het my aan die hart gegryp. So ook die pyn veroorsaak deur ’n miskraam in “Om ’n mens te ma” deur Emma Bekker (174–6).

In poëtiese taal word lesers daaraan herinner dat die dood deel vorm van die lewe:

soos die tyd verloop
raak die dood reisgenoot
word geredeneer, beraadslaag
ooreenkomste bereik en verdrae gesluit

(Uit “geesgenote” deur Hendrik J Botha, bl 213)

’n Verband word getrek tussen dood en verval in Jaco Barnard-Naudé se “begrafnis tref die mooiste, mooiste maand” (214–8):

en ’n jong stinkhout in die agterplaas
waaronder my tante met demensie kersdag dut verlede jaar,
wat nou nie meer skadu gooi nie, die luise
vreet die rose in die voortuin op en die doriese voëlbad
met die kaal, jong vrou is lankal droog.

Merang bevat gedigte wat spreek van die fyn ratwerk van tegniese vernuf. Bibi Slippers se woordeksperiment “HAT (p 1068)” omskep ’n bladsy in ’n woordeboek tot welluidende poësie (29–30) en sluit af met die woorde:

die werk is om dié wortelknoltaal
tot maniokmeel te maal waarvan elkeen
sin na eie smaak kan maak.

In enkele gevalle kon ’n kort voetnota wat konteks verskaf, moontlik ’n gedig meer toeganklik vir lesers gemaak het: Verwys die “aktrise” in “Die verdwyning van die aktrise” (286) na ’n werklike of ‘n denkbeeldige persoon, of verg “die aktrise” eerder metaforiese interpretasie?

Vir lesers wat poësie lees vir die wyse waarop dit uitdrukking gee aan gemoedsontboeseming en atmosfeer, bied Merang vele verse wat lesers sal ontroer, met genoegdoening sal vervul en deur liriese musikaliteit en atmosfeer sal meesleur.

Die keuse van die 182 gedigte weerspieël gevarieerdheid en inklusiwiteit. Daarom moet lesers die bundel stadig deurwerk en ervaar soos ’n “Niekerbôl” (die titel van ’n gedig deur Louis Esterhuizen) (35).

Frases van gedigte in die bundel het stewig nesgeskop in my geestelike landskap, om iewers in die toekoms onverwags in my kop op te borrel, soos:

vannaand skop die maan bôl op jou stoep
ek hoor die sterre jou naampie roep
my reënboogbaba-meisiekjeent
hoor hoe sing die wind met haar bors vol kroep

(Uit “Vir Aria” deur Lynthia Julius, bl 24)

Lees ook:

Oemmie’s Merang

Feest der Afrikaanse poëzie: Yves T’Sjoen in gesprek met de samenstellers van Merang

Moulood-un-nabi @ Mashidul Quds

François Loots se Twyfelbos sleur mee: ’n lesersindruk

LitNet wag op jou lesersindruk!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top