
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Twyfelbos
François Loots
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-8520-2
Kan nog ’n historiese roman nuwe insigte bring en lesers boei in die lig van ’n beduidende korpus van gefiksionaliseerde geskiedenis oor die Kaapse koloniale verlede? Meesterskrywers soos Dan Sleigh, Karel Schoeman en Dalene Matthee het immers reeds dié tydperk in fiksievorm neergepen. Twyfelbos is wel so ’n boek wat lesers meesleur en gekenmerk word deur ’n eie stem.
Met die eerste oogopslag sal lesers waardering daarvoor hê dat paratekstuele gegewe vir hul as navigasie-instrument dien. Die kaart voor in die roman stel lesers gerus dat hul die vele reise, dikwels oor of teen bergreekse, sal kan volg en georiënteerd sal bly ten opsigte van die ligging van plase, “uitspanne” – ’n noodsaaklikheid in ’n tydperk waar perde en waens en osse die vervoermiddele was – die ligging van dorpe en afstand. Die kaart verteenwoordig “overberg” van die vroeë 19de eeu – ’n gebied so afgesonder dat daar nog nie amptelik ’n pleknaam aan toegeken is nie. ’n Verifieerbare joernaalinskrywing deur die Hollandse reisiger MD Teenstra wat aangehaal word voor in die boek, verskaf ’n momentele blik op die wel en weë van Sophia Truter en dra by tot die geloofwaardigheid van die historiese agtergrond van die roman. Teenstra se tipering van Sophia – “mansvelder, eene amazone of eene heldin” – verskaf ’n leidraad oor Sophia se wese wat ’n groot deel van haar lewe bepaal, maar lesers sal dit eers by nabetragting ten volle begryp. Aan die einde van die teks volg ’n uiteensetting van karakters – histories sowel as fiktief – dorpsgeskiedenis en wetgewing teweeggebring deur nuwe Engelse bewindhebbers, wat kontekstualiserende inligting verskaf en die leesproses vergemaklik.
In die openingstoneel word ’n moedelose, grimmige, emosioneel en fisies “ongedaan” gemaakte Sophia aangetref in haar karige plaashuisie “overberg”, ver van die Kaap, haar “vlugplaas” met die wind, en aardse stilte as geselskap (27). Sy skryf haar voetbesering toe aan haar eie agtelosigheid en gaan gebuk onder ’n diepe skuldgevoel omdat sy voel die dood van haar lieflingseun ’n wrede God se straf is vir ’n liefdesverhouding wat binne die samelewingsnorme van haar tyd (die 1800’s) as ongeoorloof geag is.
En ja, daar is eksplisiete liefdestonele, wat gekenmerk word deur teerheid, poëtiese taal en beeldspraak wat natuurskoonheid betrek.
Lesers kan hul verlustig in die taalgebruik waarmee die landskap, see en dierelewe beskryf word, en dit doen nie oordadig of herhalend aan nie, omdat dit naatloos vervleg word met reisgegewe. Fynbosprag word reeds op die voorplat in die vooruitsig gestel. Argaïese woorde en uitdrukkings dra by tot die vasvang van die tydsgees: ’n “gaandery” is ’n groot veeldoelige voorportaal en Mandel se mes is “nie bietjie stomp nie” (17).
Mandel, ’n denkbeeldige karakter, se taal en denke skep ’n eiesoortige nomenklatuur wat lesers puur genot sal verskaf. Sy religie betrek die San-kultuur – hy wend hom tot ƖKaggen, versimboliseer deur ’n bidsprinkaan met ses pote, maar doen hom voor as ’n “Gris” (Christen) in die naam van ’n god met “net drie ledemate” (18). Hy besef “[m]et Duisman se drieledige God kom jy ver” (21) en lesers kan hul verkneukel in die wyse waarop Mandel homself uit moeilike situasies praat deur sy kennis van Bybelse gegewe op te haal. Mandel worstel met ’n identiteitskrisis – hy noem homself “Tussenin” (53) en “Leemte” (55), word uitgekryt as “Baster” – dikwels aan die verkeerde kant van ’n geweerloop – en as hy terneergedruk of verstote voel (hy is goed bekend met die woord “skoert”), is hy “sak” na aanleiding van die Sakrivier-sendingstasie waarheen hy as kind gebring is nadat sy ma, soos vele San-mense tydens die Kaapse koloniale tydperk, doodgeskiet is. Sophia neem waar dat Mandel se “hare nie dié van ’n Nama, Bosjesman of Karosdraer” is nie, en sy “klaarblyklike teenstrydighede maak haar eerder nuuskierig” (65). Mandel se belewing van tyd en die uitspansel is betowerend.
Sophia daag samelewingsnorme van haar tyd uit: Sy bring vrou-alleen ’n boerdery op die been, dra broek, ry wydsbeen oor groot afstande perd, het ’n teësin daarin om as “noi” aangespreek te word (50) en weerspieël ’n feministiese siening as sy haar dogter aan die verstand probeer bring dat “die huwelik alleen nie geluk bring nie” (80).
Temas van verlies en verganklikheid kom sterk na vore. In Sophia se gedagtes wat “rondskarrel soos ’n meerkat” roep sy uit: “Ag Here, moet alles dan in verlies eindig?” (236). Kleinjan se dood is vir Sophia verpletterende nuus en haar gedagtes maal om die dood: “Die dood is orals” en sy dink aan ’n kind in ’n Kaapse tuin wat sterf na ’n “Kaapse kobra raps”, pokke en ’n vreemde maagkwaal uit die Ooste (42). Hierdie doodsoorsake, wat werklik die geannekseerde Kaap geteister het, verleen historiese geloofwaardigheid aan die roman.
Metaforiek en simboliek dra by tot die roman se ryk tekstuur: Sophia word geassosieer met ’n “bruinweduwee” (spinnekop) en haar gevoel van skuld en verlies laat haar voel “dat sy haar in haar eie spinnerak toegespin het” (43). Die stukkie aardwolfbeen wat Sophia in ’n boom ophang versinnebeeld Kleinjan se oorskot (“die dood ontwrig en is ’n gebeente in ’n boom”) (43) en Mandel dink aan Sophia as “Wolwevrou”. ’n Kobra in Jan se pad dui op onheil (220) en drie skilpaaie is metafories vir ’n drie-enige God en Christen-godsdiens wat Mandel teësinnig aanvaar as hy gedoop word by die Sakrivier-sendingstasie (16). Sophia se kortgeknipte hare versimboliseer verwerping van skuld en vertwyfeling en innerlike vrywording (246).
Die besef dat sy ’n moordverdagte kan wees, dompel Sophia in vertwyfeling: “Sy voel twyfel en onsekerheid in haar bors” (224) en haar emosies wissel van “mismoedigheid” na “radeloosheid” (225). “[S]y wil weer ’n perd opsaal, die veld met sy kommerboom en twyfelbos invaar […]” (230–1). Sophia beleef die Twyfelbos as metafories vir haar angs en hulpeloosheid, en vandaar die titel van die roman.
Burger (2015:84) voer aan dat gedetailleerde beskrywing in gefiksionaliseerde geskiedenis bydra tot ’n realiteitseffek. Omdat Twyfelbos nie streng by historiese feite en persone hou nie, is dit belangrik om die geskiedkundige agtergrond geloofwaardig aan te bied. Beskrywing van die niebederfbare kos en huisraad wat Sophia uitpak (41), verwerking van gans- en bontebokvleis (83) en Sophia se beraming van alles wat sy sal benodig om ’n skaapboerdery op die been te bring, is enkele voorbeelde van detailbeskrywing wat ’n beeld van ’n 19de-eeuse, plattelandse milieu oproep.
’n Alomteenwoordige verteller is aan die woord en hoofstukopskrifte – die name van karakters – is aanduidend vanuit watter karakter se fokaliseringsperspektief vertel word. Die wisselende fokalisering bring mee dat dieselfde verhaalgegewe uit verskillende oogpunte gesien word en sorg vir meer as een moontlikheid wanneer daar na ’n moordenaar gesoek word.
Die verhaal neem ’n wending met die moord op Dewald du Toit wie se onvoorspelbare, psigotiese gedragsuitvalle ’n motief vir moord verskaf en hom verbind met ’n paar karakters wat hom uit die weg sou wou ruim. Genrevermenging vind plaas: Die verhaal word ook ’n moordstorie en kornet Jan Tesselaar (vergelykbaar met ’n eietydse speurderkarakter) moet die boosdoener vastrek. ’n Sterk spanningslyn word gedryf, nie soseer oor die vraag wié die moordenaar is nie (die lesers beskik oor ’n sterk vermoede wie Dewald met sy lewe laat boet het, en die rede daarvoor), maar deur die vraag of reg en geregtigheid sal geskied en of ’n onskuldige persoon die blaam en straf sal moet dra.
Die wêreld, selfs in afgesonderde gebiede, verander: “[D]is Engelse tye, sir Lowry se bewind. Niemand […] hoef meer ’n permit oral saam te dra nie” (65), indiensnemingskontrakte word verpligtend en die regstelsel staan meer gematigde strawwe vir oortreders voor (“transport” eerder as doodstraf). Die gevolge van ’n veranderde politieke bewind wat kort-kort opduik, versterk die historiese zeitgeist en geloofwaardigheid van die roman.
Die biografiese Wieg (2022) word aangeprys omdat die geskiedenismaker uit die tydperk van die Kaap onder koloniale bewind ’n vrou is, en die gegewe saamhang met ’n vrou se lewens- en wêreldbeskouing (Rabe 2022). Van Fynbos kan dieselfde gesê word, maar Sophia is ’n vrou wat die taboe van seksuele versugting na ander vroue verbreek. Loots beeld die vroulike hoofkarakter se binnelewe en uiterlike lotgevalle uit met deernis en respek en lesers kan empatie met die karakter ontwikkel. Ook die gekwelde, dog kleurryke karakter Mandel kan meelewing by lesers ontlok.
Ten slotte kan teruggekeer word na die vraag wat gestel is aan die begin van hierdie lesersindruk: Waarom sal lesers nóg ’n geskiedkundige roman wil lees? Hierbo is verskeie punte geopper waarom die lees van Twyfelbos die moeite werd is. Burger (2015:87) voer aan dat die rol van vroue in weergawes oor die verlede dikwels gewoon verswyg is omdat dit nie plek gehad het in ’n spesifieke diskoers oor die verlede nie. Een van die winste van Twyfelbos is dat dit lesers kan laat nadink oor die verskuiwing van samelewingsnorme vanaf die 1800’s tot op hede, en die bevryding wat dit meegebring het vir almal, ongeag geslagtelike oriëntasie. Die verslapping van rigiede voorskriftelike opinies oor wat mág en wat nié, veroorloof almal vryheid van denke.
Bibliografie
Burger, W.D. 2015. Historiese korrektheid en historiese fiksie: ’n respons. Tydskrif vir letterkunde, 52(2):78–98.
Kruger, J. 2022. Wieg. Somerset-Wes: Literata Publikasies.
Rabe, L. 2022. ’n Bespreking van Wieg deur Joan Kruger. LitNet, 9 Desember. https://www.litnet.co.za/n-bespreking-van-wieg-deur-joan-kruger/#_edn16.
Taljard-Gilson, G. 2013. ’n Ondersoek na die waarde van historiese fiksie: drie geskiedkundige romans in oënskou geneem. LitNet Akademies, 10(1). https://www.litnet.co.za/n-ondersoek-na-die-waarde-van-historiese-fiksie-drie-geskiedkundige-romans-in-oenskou/.



Kommentaar
Kan nie wag om die boek te lees nie. Ek het al heelwat van François Loots se boeke gelees en dink hy is 'n onderskatte skrywer wat nou die erkenning moet begin kry wat hy al lankal verdien. Mense wat sy boeke nie ken nie, kan gerus biblioteek toe gaan.