"Gemengdheid": aanvaarbaar of verwerplik? ’n Soeke na ’n versweë bruin identiteit

  • 3

Danie van Wyk (foto: verskaf)

“Bruin mense is een van die mees gemengde groepe in die wêreld en dit maak ons uniek. Ons is saamgestel uit 195 verskillende bloedlyne en kulture wat ons moet omhels en vier. Ons is kreoolmense,” sê Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk.

Daar word internasionaal vermeld dat Suid-Afrika se bruin mense een van die mees gemengde groepe in die wêreld is. Hul oorsprong kan teruggevoer word na die aankoms van Europese setlaars aan die Kaap vanaf die 1500’s en 1600’s. Hierdie  groep het meer divers geword met die aankoms van slawe vanuit veral Suidoos-Asië en Afrika, soos ingevoer deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Vermenging het plaasgevind tussen die Khoi- en San-stamme aan die Kaap met Europeërs. Bruin mense het dus ’n gemengdheid wat baie vanuit eie geledere aanvaar of ontken. Allan Boesak het in sy toespraak getiteld “Chaos in my bloed” tydens ’n DAK Netwerk-galageleentheid ook verwys na die gemengdheid van bruin mense wat voortgespruit het uit 195 samekomste van bloedlyne en kulture wat ons ’n uitsonderlike groep mense maak. Ons moet hierdie gemengdheid vier en omarm, en dis iets om oor te juig.

............
Allan Boesak het in sy toespraak getiteld “Chaos in my bloed” tydens ’n DAK Netwerk-galageleentheid ook verwys na die gemengdheid van bruin mense wat voortgespruit het uit 195 samekomste van bloedlyne en kulture wat ons ’n uitsonderlike groep mense maak. Ons moet hierdie gemengdheid vier en omarm, en dis iets om oor te juig.
..............

Dit maak van bruin mense die oorspronklike sprekers van Afrikaans en hul bydrae tot die ontstaan van die taal kan nie ontsê of ontken word nie. Dit maak van Afrikaans sonder enige twyfel ’n inheemse taal.  (Lees gerus die toespraak op DAK Netwerk se webwerf.)

Wat egter al hoe meer na vore kom, is die aanvaarding van hul Khoi-oorsprong terwyl ander groepe ’n meer inklusiewe term aanvaar, naamlik Camissa, wat verwys na die Camissarivier wat vanuit ’n fontein op Tafelberg ontspring en vloei. Hierdie fontein verskaf steeds water, maar word nie deur die Stad Kaapstad gebruik nie omdat dit nou  grootliks ondergronds vloei. Uiteindelik vloei dit in die see sonder enige benutting. In die verlede was dit die bron wat water verskaf het aan die Khoi-groepe aan die Kaap en ook later aan die Europese seevaarders – vandaar die verwysing na Camissa. Dis ’n leefwêreld wat rondom die rivier ontstaan het en waarmee mense hulle kan vereenselwig.

............
Uit hierdie konglomerasie het ’n taal ontstaan, want hulle moes mekaar kon verstaan en het terme gebruik wat nie deur die setlaar-eienaars verstaan en begryp kon word nie. Hierdie taal sou later bekend staan as Afrikaans wat sy oorsprong op die walle van hierdie rivier het.
..............

Uit hierdie konglomerasie het ’n taal ontstaan, want hulle moes mekaar kon verstaan en het terme gebruik wat nie deur die setlaar-eienaars verstaan en begryp kon word nie. Hierdie taal sou later bekend staan as Afrikaans wat sy oorsprong op die walle van hierdie rivier het. Interaksie tussen die slawe – of dit nou langs die rivier was op die wasklippe of op die landerye waar hulle opdragte moes vertolk, het grootliks bygedra tot die oorspronklike taal, Afrikaans. Afrikaans was daardie toevlug, daardie veilige ruimte, daardie oomblik van weerloosheid waarin oor ’n ander wêreld gedroom kon word – ’n taal geskep uit bekende woorde (uit hul eie tale) en onbekende woorde (uit ander tale).

Bruin mense maak vandag ongeveer 9% van die Suid-Afrikaanse bevolking uit. Dis hierdie groep wat apartheid aan hul basse gevoel het en wat vandag steeds aan erge diskriminasie onderwerp word – hierdie keer deur ander politieke oorheersers. Steeds moet daar aangedui word op amptelike vorms onder watter “ras” jy geklassifiseer moet word. Dis uiters diskriminerend en bring negatiewe gevoelens wat dateer uit die era van rasseklassifikasie onder die apartheidsregering. Die wet op rasseklassifikasie is in 1990 afgeskaf, maar oorblyfsels van die wet word tot vandag nog openlik toegepas, waar die sogenaamde bemagtigingswetgewing toegepas word volgens rasse-indeling en rassekwotas. Hier trek bruin mense weer eens aan die kortste end, in die Wes- en Noord-Kaap, waar ons die meerderheid bevolkingsgroep is.

Dit moet duidelik gemaak word dat die woord kleurling absoluut verwerplik en onaanvaarbaar is vir die oorgrote meerderheid bruin mense – hul verkies liefs bruin as dit moet. Dis ’n skelwoord wat niksseggend is. Jy kan verstaan wat ’n drenkeling, of ’n verstoteling, of ’n tweeling is, maar wat is ’n kleurling? Die beskrywing “black in general” is net so ’n groot vernedering, want deur hierdie term word jy van jou “Africanness” gestroop alhoewel jy soos vele ander op hierdie kontinent gebore is. “African in particular” akkommodeer net swart mense en is slegs op pigmentasie geskoei, byna soos ’n pigmentokrasie waar velkleur weer die oorwegende faktor is en sal wees.

Allan Boesak, as gasspreker, het genoem dat die woord kleurling gelyk is aan ’n onderling, ’n verdwaalding wat skaam is vir ons herkoms omdat ons nie weet waarvandaan ons kom nie, en ook nie weet waarheen ons op pad is nie – dat ons nie weet wat ons komvandaan is nie. Ons is kinders van Afrika – is hier gemaak en is nie ingevoer nie.

............
Ons is kinders van Afrika – is hier gemaak en is nie ingevoer nie.
.............

Dis byna asof bruin mense in armoede gebore en ontvang is, met alle respek teenoor die Bybel. Dis asof dit ’n oneindige sirkel is waaruit nooit ontsnap kan word nie. Die Erika Theron-kommissie van 1973–1976 het ontstaan omdat die Nasionale Party-regering ernstige probleme ervaar het ten opsigte van sy “Kleurlingbeleid”. Die kommissie het met aanbevelings vorendag gekom wat lynreg in stryd was met die apartheidsbeleid en wat nie vir die regering aanneemlik was nie. Onder die aanbevelings was die herroeping van die Wet op die Verbod  van gemengde huwelike (Wet nr 55 van 1949) en artikel 16 van die Ontugwet (Wet nr 23 van 1957), twee van die hoekstene van die apartheidsbeleid. Aanbeveling nr 178, waarin die kommissie regstreekse verteenwoordiging vir die “kleurlinge” op verskillende owerheidsvlakke en in besluitnemingsprosesse aanbeveel het, is deur die regering afgekeur. Sodoende is die Theron-verslag se potensiële invloed tot verandering in die kiem gesmoor. Dit was ’n bittere teleurstelling vir bruin mense en verligte wit mense.

Die Arbeidersparty van Suid-Afrika, wat die Driekamerparlement as ’n lid die Raad van Verteenwoordigers, aanvaar het, het hulle voortdurend beywer om aan die hand van die Theron-verslag, ’n beter sosiale, ekonomiese en staatkundige posisie vir die “kleurlinge” te beding.

Die Wet op Rasseklassifikasie was vir bruin mense ’n ander stuk wetgewing wat vernederend was. Artikel 5.4 (c) van die ou Bevolkingsregistrasiewet bevat drie kriteria ingevolge waarvan bepaal kon word of iemand ’n “kleurling” is of nie: die persoon moet lyk soos ’n kleurling, moet deur die gemeenskap aanvaar word as ’n kleurling, en sy of haar ouers moet kleurlinge wees. ’n Hele rasseklassifikasie – burokrasie met ’n hof was opgerig om hierdie wet toe te pas. In die parlement moes die minister van binnelandse sake jaarliks verslag doen hoeveel mense daardie afgelope jaar herklassifiseer is. Daar is dan aan die parlement voorgelees soveel mense het van kleurling na wit verander, soveel van wit na kleurling, soveel van Chinees na kleurling, van swart na kleurling, ens. Dit was voorwaar absurde wetgewing wat aangedui het hoe mense se lewens in ’n oogwink  kon verander.

’n Ander aspek wat ook meer na vore kom, is hoe daar vandag (wetend of onwetend) teen bruin mense op grond van hul vanne gediskrimineer word. Baie bruin mense het dieselfde vanne as wit mense en dit lei tot verwarring. Van hulle geskiedenis strek terug tot die slawetyd toe die slawe hulle eienaars se vanne aangeneem het as hulle gevra is wat hulle van is. So word daar nou op plekke teen sommige bruin mense gediskrimineer op grond van hulle van sonder dat diegene wat dit doen, die moeite doen om seker te maak teen wie gediskrimineer word. Daar is baie voorbeelde van hierdie nuwe diskriminasie teenoor bruin mense.

..............
In dié gevalle word kinders, al is hulle nie wit nie, se name summier uit ’n sportspan gelaat of hulle item weggelaat bloot op grond van die van wat hulle het. Soms word die fout raakgesien, maar ander kere nie.
..............

In dié gevalle word kinders, al is hulle nie wit nie, se name summier uit ’n sportspan gelaat of hulle item weggelaat bloot op grond van die van wat hulle het. Soms word die fout raakgesien, maar ander kere nie.

Dis ’n skande dat afstammelinge van die slawe se kinders nou die slagoffers van hierdie tipe diskriminasie is en dat dit toegepas word deur mense wie se voorouers nooit eers slawe was nie. Vrygestelde slawe is geleidelik opgeneem in die groep wat later as “kleurlinge” bekend gestaan het en  amptelik deur die apartheidsregering gewettig was.

..........
Bruin mense kry nie die erkenning wat hulle verdien vir hul stryd om Suid-Afrika polities te bevry nie. Vandag beklee mense van hierdie groep verantwoordelike poste in die privaat en openbare sektor. Diskriminasie word egter nog erg ervaar wat ’n effek het op hul sosio-ekonomiese groei en ontwikkeling.
..............

Bruin mense kry nie die erkenning wat hulle verdien vir hul stryd om Suid-Afrika polities te bevry nie. Vandag beklee mense van hierdie groep verantwoordelike poste in die privaat en openbare sektor. Diskriminasie word egter nog erg ervaar wat ’n effek het op hul sosio-ekonomiese groei en ontwikkeling.

Polities is ons ongeorganiseerd en dit vererger ons probleme. Ons is die meerderheidsbevolkingsgroep in die Wes-Kaap, maar is nie in beheer van die provinsie nie. Ons hoop dat politieke uitkomste spoedig sal kom.

Lees ook:

https://oulitnet.co.za/seminaar/oopgesprek_dido.asp

Verskoon my taalgebruik: Naai, nie rêragie! Varrit of lossit!

Kallid? Of ie kallid!? But maak it saak?

Die eerste Kaaps-woordeboek: ’n onderhoud met Quentin Williams

Die Afrikaanse wingerd se kleurrykheid

Nog steeds ’n kwessie van ras en kleur

Hibriditeit, of die baster in ons2000

Khoekhoegowab se tyd is nou

Kleurkodes

’n Onderhoud met Danie van Wyk, nuwe voorsitter van die DAK Netwerk

Afrikaans: Waarheid en versoening onder een DAK

DAK Netwerk-persverklaring: Afrikaanse onderwys moet ook voordeel trek uit reuse-onderwysbegroting

Hoekom klou ons so aan coloured identity?

Afrikaans: die groter prentjie

#opdielug met Keanen Engel

Swatland deur Ashwin Arendse: ’n resensie

  • 3

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Ai tog, hoekom is daar soveel "gangster"-groepe wat baie goed georganiseerd is, of daar ook verdeeldheid?

  • KLEUR (opgedra aan Allan Boesak)

    Aan alle aardse kleure-skepsels
    Eens sal ons almal tog weer een wees
    bleek-verbleikte been-oorblyfsels
    Wit
    ons wat eenmaal almal veel-kleur was
    ses voet ses
    in donker moederaarde
    diep onder die sand
    of wit-gepoeierde hopies as
    uit helwarm oonde
    uitgebrand

    Tot dan laat ons ons verbly
    in ons behoudenis
    in ons veelsydigheid
    in ons veel-skakering ongelykenes
    wat deur die rykheid
    van Gods beeld
    tot eer aan Hom
    vir ons gegewe is

  • 'n Baie goeie weergawe van ons geskiedenis, Danie van Wyk. Dit is die tipe informasie wat in ons skole onderrig behoort te word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top