"Because of the various racial policies of successive South African governments, the colour of one’s skin determined one’s status in society. Since colour was the sole criterion at times, ‘Coloureds’ too started evaluating themselves in terms of pigmentation." – Vernon February (1981), Mind your colour.
Gedurende die negentigs het ek ’n kort artikel geskryf: “’n Kwessie van kleur”, wat in die destydse Eersterustse koerant Eastern Commune gepubliseer is.
Nou, byna ’n 14 jaar later, kom die kwessie weer na vore.
“Kleur kom nooit alleen nie,” skryf Antjie Krog. Ja, stem ek saam. Dit hang af van wie die klassifiseerder is, wie geklassifiseer word en hoe daar geklassifiseer word.
In die biblioteek-en-inligtingswese gebruik ons klassifikasiestelsels (Dewey of American Library of Congress) om biblioteekmateriaal te klassifiseer – kortom, om soort by soort uit te bring. Dit is egter ook nie altyd so maklik nie, want boektitels kan ook misleidend wees. So sal Dewey byvoorbeeld aandui dat die vak sielkunde onder 150 geklassifiseer moet word, maar sosiale sielkunde onder 300 en sielkunde en die reg onder 340 – en so meer. Dit wil sê, wat eintlik saamhoort, word geskei van die hoofonderwerp (sielkunde) deur subonderwerpe soos sosiale wetenskap (binne sielkunde) en regte.
Dit bring my by menslike of rasseklassifikasie.
- Wie is die klassifiseerder? Die persoon het ’n eie herkoms, geslag, kulturele/politieke/sosiale/ekonomiese agtergrond as verwysingsraamwerk en dit beïnvloed die invalshoek en subjektiewe klassifisering van mense.
- Wie word geklassifiseer? Mense en nogmaals mense … ook met ’n eie herkoms, geslag, ensovoorts, soos hier bo aangedui.
- Hoe word daar geklassifiseer? Of eerder moet die vraag eers gevra word: Hoe was daar in die verlede geklassifiseer en deur wie?
Die antwoorde op die vrae (reg of verkeerd) lê in die rasseklassifikasiestelsels van regerings, kerke, binnelandse-sake-kantore en so meer, dit wil sê, die sedebewakers wat hulself die reg toegeëien het om mense soos diere, vlinders en biblioteekmateriaal te klassifiseer – sonder om te dink dat hulle met denkende en voelende wesens te doen het. Dit het die ideoloë gepas en basta die geklassifiseerdes se gevoelens.
In die vorige artikel, “’n Kwessie van kleur”, het ek die volgende oor die kleurlinge / bruin mense, of wat hulle ook al deur die Britte en Nasionale Party-regering genoem was, geskryf: “Vir jare versamel ek artikels oor ‘Kleurlinge’, ‘Kleurlingpolitiek’, ‘Kleurlingskrywers’, ‘Kleurlingdramaspelers’, en ‘Kleurlingteater’, ‘Afrikaners’, ‘Wittes’, ‘Indiërs’, ‘Swartes’ en ‘Chinese’ en dit het niks met rassisme, seksisme of ander ismes te doen nie.”
Kleurlinge en so meer
My versameling blyk toe baie interessant te word oor die jare. Daaruit kon ek aflei dat dit baie moeilik is om ’n geklassifiseerde "Kleurling" te omskryf. Dit is makliker om te sê wat "hulle" nié is nie as wat "hulle" ís. Kyk maar na die volgende name wat aan hulle gegee is: Bruin Afrikaners, Bruinmense, Sogenaamde Kleurlinge, Cape Coloured, Other Coloured, Kaapse Kleurling, Kleurlinge, Cape Malays, Basters, Griekwas, Khoi-san, Hotnotte, Free Blacks, Bushies, Mullatoes, Intellectuals to the left, Blacks (veral in navolging van "Swart bewussyn" gedurende die sewentigerjare).
Darem ’n verwarrende klomp beskrywings en titels nè! Selfs Gautengers wat nog nooit in die Kaap was nie, is as "Kaapse Kleurlinge"geregistreer, met die klem op Kááp (Pearce 1998).
Afrikaners en so meer
Afrikaners was ook geklassifiseer as Wit, Larney (Lanie), Boere, Europeërs, en so meer, al was baie van hulle nog nooit in Europa nie.
Indiërs en so meer
Indiërs is geklassifiseer as Asiateen die negatiewe terme Koelie (Coolie/Worker). “Makoelas” is ook baie gebruik. Dit lyk asof “Suid-Afrikaanse Indiërs” vandag die aanvaarde term is.
Swartes en so meer
In die geval van swartes is daar, soos met “Kleurlinge”, gesukkel om ’n gepaste naam te kry. Die volgende terme is mildelik gebruik: African (maar nie Afrikaan nie), Naturel, Bantoe, Kaffir, Pluraal, Darkies en tans Swartes.
Chinese en so meer
Chinese was ook genoem Asiate, Chinks, Chinas, en in die nuwe Suid-Afrika word daar beweer hulle is en was altyd Kleurlinge, nie “Honorary Whites” soos in die verlede beweer is nie.
Verdere naslaan
Vir verdere oplees van klassifikasie van rasse sien ook:
- Adhikari, Mohamed 2005
– February, Vernon A 1981 en 1991
– Du Pre, Roy H 1994 en 1997
– Erasmus, Zimitri 2003
– Lloyd, Jason 2002
– Mattera, Don 1988
– Muller, CFJ et al 1985
– Willemse, Hein 2007
– Wilson, Anthony 2003.
Die kadawerteorie oor ras
As skrywer en “eavesdropper” leen ek graag my ore uit en die kadawerteorie oor ras laat my altyd wonder. Sê die mediese studente dat wanneer hulle ’n dooie mens (kadawer) dissekteer, en nadat die vel heeltemal verwyder is, kan die ras van die dooie mens nie vasgestel word nie. Dit bewys dat ras maar “skin deep” is. Die mens word regtig getakseer op hul vel, nie op hul weefsels en ander onsigbare elemente nie. Later, na nog meer opsny, is die kadawer se geslag ook onbekend.
Eie klassifikasie
As persoon wat deelneem aan openbare debatte en radiopraatjies word ek gereeld gekonfronteer met die vraag oor hoe ek myself klassifiseer en wat ek op amptelike vorms invul onder “Ras”. Ek beantwoord die laaste vraag eerste: niks nie. As wêreldburger en verbonde aan universiteite al vir 25 jaar, dink ek dat ek die menslike ras verteenwoordig.
Nou weet ek dat daar van my vriende is wat hardop sê hulle is kleurling met ’n hoofletter “K”, of hulle is bruin mense, of Bushies, of Basters, of Khoisan, of Griekwa of swart, of wit, of Portugees, of Belg, of Nederlander. Daarmee het ek vrede, solank hulle vrede met my eie klassifikasie het. My herkoms lyk as volg:
G=Griekwa (ouma, pa se kant); van: Jaftha
I=Ier (oupa, pa se kant); van: Pearce
S=Sotho (oupa, ma se kant); van onbekend. My ma, haar broers en suster is Erasmus gedoop.
A=Afrikaner (ouma, ma se kant); van: Erasmus.
Is dit te veel gevra om GISA genoem te word as ek dan geklassifiseer móét word? Of is dit te moeilik vir geïndoktrineerde geklassifiseerdes om dit te verstaan?
Pearce-Webb-Mazibuko-familie
Om die GISA-brousel nog verder te vermeng, let op die volgende: my kinders is afstammeling van my en my voorouers (GISA), maar ook van hul ma se kant, waar daar ook ’n hele omelet is. Haar pa is ’n vermenging van ’n Skotse pa en ’n Swazi-ma – vandaar hul Skotse van, Webb; haar ma is ’n egte Swazi; haar van was Mazibuko en hul huistaal al die jare is Swati/Zoeloe en Afrikaans. Van my vrou se broers en susters is donker van kleur en die ander lig van kleur. Die NP-apartheidsregering met hul drakoniese wette het dié wat donker van kleur is, laat agterbly in Mpumalanga. Hulle het as swart grootgeword. Dié wat lig van kleur is, is verskuif na Eersterust in Pretoria en het as “kleurlinge” grootgeword. Ons kuier gereeld by die “swart” familie in Mpumalanga en daar word lekker Swati gepraat (wat die uwe natuurlik nie kan verstaan nie), dan word daar gepraat oor die onregverdigheid van apartheid wat eie broers en susters geskei het.
Dit bring my weer na ons kinders: Wat noem hulle hulself met die GISA-bloed van Pa se kant af en die Skotse-Swazi-bloed van Ma se kant af? Dit bly ’n ope vraag en ek sal dit aan die kinders oorlaat, indien dit moet, om hul eie klassifikasie waarmee hulle gemaklik is, uit te werk.
Is dit regverdig vir ’n eksklusief swart, bruin of wit beweging om ons te vra om by hulle aan te sluit en ons eie broers en susters aan Ierse en Skotse kant (lees wit), of Griekwa (lees bruin), of Swati en Sotho (lees swart) uit te sluit?
Pleidooi
Van my kant af vra ek dat daar afgesien word van eng kategorieë wat almal in boksies en paradigmas plaas omdat dit vir hulle makliker is om mense te klassifiseer – dink ook aan die arme kadawer wat rasloos, kleurloos en geslagloos na die laaste rusplek moet gaan.
Robert J Pearce
Aangehaalde werke
Adhikari, Mohamed. 2005. Not white enough, not black enough: racial identity in the South African coloured community. Cape Town: Double Storey.
Du Pre, Roy H. 1994. Separate but unequal: The “Coloured” people of South Africa – a political history. Parklands: Jonathan Ball.
—. 1997. One nation, many Afrikaners: the identity crisis of "Brown" Afrikaners in the New South Africa. Journal of Contemporary History, 22(1):81-97.
Erasmus, Zimitri.2003. Bruin, swart en Afrikaan: jy kan ál drie wees. Rapport, 8 Junie, bl 21.
February, Vernon A. 1981. Mind your colour. Londen: Keegan Paul.
—. 1991. The Afrikaners of South Africa . Londen: Keegan Paul.
Lloyd, Jason. 2002. Bruin mense moet betrokke raak, https://www.litnet.co.za.
Mattera, Don. 1988. Die Bushie is dood. In Marcia Levenson (red), The Vita Anthology of New South African Short Story Fiction. Johannesburg: Justified Press.
Muller, CFJ et al. 1985. Vyf honderd jaar Suid-Afrikaanse geskiedenis. Pretoria: Academica.
Pearce, Robert J. 1998. ’n Kwessie van kleur. Eastern Commune.
Willemse, Hein. 2007. ’n Kleurlingkenner se kleurling. Toespraak gelewer op 15 September by die Universiteit Stellenbosch.
Wilson, Anthony. 2003. Boere het gebudget, Darkies steel álles. Beeld, Maandag 31 Maart.