
Hierdie lesing (sien die video) is op Vrydag 25 Julie 2025 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad.
Die volledige teks verskyn hier onder.
Grundlingh is die skrywer van Slabbert: Man on a mission (Jonathan Ball) en Frederik Van Zyl Slabbert: Soekende profeet (UJ Press).

’n Bondige biografiese oorsig
Frederik van Zyl Slabbert en sy tweelingsuster, Marcia, is in 1940 in Pretoria gebore en van ’n vroeë ouderdom af deur familie grootgemaak nadat hul ouers geskei is. Slabbert se vader het tydens die Tweede Wêreldoorlog by die Unieverdedigingsmag aangesluit en hul moeder kon nie na wense na hulle omsien nie. Hulle het hul skoolloopbaan op die destydse Pietersburg (tans Polokwane) voltooi, waar hulle onderskeidelik hoofseun en hoofmeisie was.
Slabbert is ná skool eers na die Universiteit van die Witwatersrand en toe na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy begin het om in die teologie te studeer. Ná ’n ruk het hy egter sy teologiese studie gestaak en na sosiologie oorgeslaan. Slabbert het in sosiologie uitmuntend gevaar en toenemend ook ’n sterk politieke bewussyn getoon. Van sy studentejare af het hy probeer om die logika van apartheid te verstaan. Hy het vinnig akademiese opgang gemaak en in sy vroeë dertigerjare was hy reeds professor en departementshoof aan die Universiteit van die Witwatersrand.
In 1973 het hy op ’n ietwat onverwagse wyse en op die ingewing van die oomblik in die politiek beland. Die volgende jaar is hy as die Progressiewe Party se Volksraadslid vir Rondebosch tot die Parlement verkies. Skaars vyf jaar later was hy leier van die Progressiewe Federale Party, die amptelike parlementêre opposisie. In 1986 bedank hy op ’n omstrede wyse uit die Parlement en voer aan dat die Parlement, soos dit op daardie tyd gekonstitueer is, nie by magte was, of die nodige wil gehad het, om volledig van apartheid ontslae te raak nie. Hy stig die Instituut vir Demokratiese Alternatiewe vir Suid-Afrika (IDASA) en reël die eerste groot nieamptelike ontmoeting met die destyds verbode African National Congress in Dakar, Senegal, in 1987. Tydens die seismiese oorgang in Suid-Afrika ná president FW de Klerk se epogmakende toespraak op 2 Februarie 1990 wat vrye politiek moontlik gemaak het, het Slabbert ’n minder beduidende rol gespeel as wat talle vir hom voorspel het.
Wie en wat is ’n Afrikaner?
Een van die kwessies waarmee Slabbert geworstel het, was die identiteit van Afrikaner wees, of om as Afrikaner gesien te word. Wie en wat ’n Afrikaner is, is natuurlik ’n tergende vraag en sê dikwels baie van die etniese diskoerse in eie geledere. Grondliggend hieraan is die problematiek van ’n toereikende definisie. Watter maatstawwe kan gebruik word om Slabbert se “Afrikanerskap” te definieer? Die befaamde Afrikaanse skrywer Breyten Breytenbach het in ’n tekenende beskrywing gesê dat wanneer ’n definisie vereis word, almal “soos ’n Lister-enjin stotter wat na asem snak”.1
Prof WB Vosloo van Stellenbosch se Departement Politieke Wetenskap was egter in 1973 die een persoon wat dapper genoeg was om ’n paar trefseker gemeenskaplike eienskappe van Afrikanerskap aan die hand te doen. Hierdie eienskappe was sterk godsdienstige sentimente, ’n toewyding aan taal, ’n gemeenskaplike historiese bewussyn, ’n affiniteit vir rassesuiwerheid, dikwels ’n landelike agtergrond of landelike konneksies met ’n geneigdheid tot “gemeinschaftliche” (gemeenskaps-) maatskaplike verhoudings, ’n neiging om op ’n homogene wyse op te tree en aktiewe ondersteuners van Afrikanerorganisasies te wees, en ’n wil om te oorleef.2 Dit is duidelik dat, indien ’n mens Slabbert aan so ’n toets moes onderwerp, hy by die meeste kategorieë sou inpas: Hy was gelowig toe hy aanvanklik in Stellenbosch aangekom het, alhoewel dit later getaan het; hy was lief vir Afrikaans as taal; hy het geweet hoe Afrikaners hul geskiedenis sien; hy was uit ’n landelike omgewing afkomstig: Pietersburg; en het bevrediging geput uit omgang met ander op gemeenskapsvlak. Hy het ook die belangrikheid van die Afrikaner se wil om te oorleef begryp, hoewel hy onversetlik teen die idee gekant was dat dit tot elke prys moet geskied. Die uitsonderings wat hom duidelik onderskei het, was die aandrang op rassesuiwerheid en die feit dat hy nie ’n groot ondersteuner van Afrikanerorganisasies was nie.
Hoewel ’n mens ’n greep op Slabbert se Afrikanerskap kan kry deur ’n soort afmerkoefening, kan dit ook te meganies en beperkend wees. Slabbert het self op ’n meer beredeneerde wyse oor sy Afrikanerskap besin. Hy het homself nie beskou as ’n “devout, sombre-suited” Afrikaner nie. Ook nie as ’n “uptight, culture-vulture Afrikaner” of ’n “free-and-easy” alternatiewe Woodstock-een nie, maar as ’n verwarde en soms verlore Afrikaner – nogtans ’n Afrikaner. Volgens Slabbert het hy eerstehands beleef dat dit vir baie mense verwarrend was. Maar vir hom was selfs die verwarring ’n bevestiging van sy sosiale identiteit.3 Slabbert het nooit sy Afrikanerwortels ontken nie, soos sy goeie vriende en kennisse opgemerk het.4 Hy het hom byvoorbeeld met geesdrif en ywer daarin verlustig om tradisionele Afrikaanse volksliedjies te sing.5 Mense het hom ook beleef as “comfortable in his skin as an Afrikaner and in speaking Afrikaans”, dog skerp krities teenoor Afrikaners wat hulle arrogant geroem het op hul identiteit en hul kleur gebruik het om ander Afrikaanssprekendes uit te sluit of weg te stoot.6
Sy eerste vrou, Mana, het hom beskou as iemand uit ’n “stoere boere-agtergrond”.7 Alhoewel hy ’n landbouagtergrond gehad het, het sy gebroke huislike lewe beteken dat hy nie formeel opgeneem is in wat beskou is as ’n “normale” Afrikanerhuis nie. Vandat hy tien jaar oud was, tot in sy laat twintigs as student en dosent, was hy ’n koshuisganger. Daar was volgens hom geen sistematiese invloed op sy lewe wat daartoe gelei het dat hy hom met Afrikaner wees geïdentifiseer het nie. Tog, sê hy, het dit geen verskil aan sy wêreld gemaak nie. Van die oomblik dat hy kon dink, is hy sosiaal met Afrikaner wees geïdentifiseer.8
Hy het graag die Franse filosoof Jean-Paul Sartre in hierdie verband aangehaal: “Jy is ’n Jood omdat ek na jou kyk”, waarmee hy geïmpliseer het dat ander ’n mens definieer as behorende tot ’n sekere groep ongeag jou eie definisie van jouself. In Suid-Afrika, het hy gesê, help die manier waarop jy Engels praat, ’n sekere soort humorsin, kosvoorkeure, professionele loopbaanomgewing en woonbuurt alles om jou as ’n Afrikaner te identifiseer.9 Hy het dit egter problematies gevind om toe te gee aan gedagte van ’n enkele “Afrikaner” of om te praat oor “die geskiedenis van die Afrikaner”. Om ’n Afrikaner genoem te word, het hy geredeneer, is maar slegs die begin van ’n gesprek en nie die finale antwoord nie.10
Slabbert het ’n verfynde en veelvlakkige begrip gehad van die verskillende maniere waarop Afrikaneridentiteit uitgedruk kon word. Sy uitgangspunt het meestal nie weerklank gevind in die beskouinge van sy Engelssprekende Prog-kollegas nie. Toe hulle byvoorbeeld in die 1980’s vir Eugène Terre′Blanche en sy verregse Afrikaner Weerstandsbeweging kortweg en onomwonde van die tafel gevee het, het Slabbert ’n ander siening gehad. Hy was bereid om met Terre′Blanche in gesprek te tree, al het Terre′Blanche, soos hy gesê het, “nie dieselfde tafelmaniere as ek nie”.11 Terre′Blanche se bombastiese en rassistiese optrede, het Slabbert verduidelik, was die gevolg van ’n “latente minderwaardigheidsgevoel en gebrek aan selfvertroue”. Onder al die dreigtaal het ’n “natuurlike hartlikheid en ruimhartigheid” geskuil. Slabbert het vermoed dat Terre′Blanche in werklikheid, sonder om dit te besef, ’n Afrika-begrip van gasvryheid en vreedsame saambestaan in hom omgedra het. Daar was, volgens Slabbert, geen twyfel dat Terre′Blanche, as ’n wit mens, op ’n unieke en spesiale wyse Afrikaan was nie. Hy het dit wat Europa kultureel, filosofies en ekonomies gedurende die afgelope eeu beleef het, misgeloop. En dit was sigbaar. Die tragedie wat bly spook het, is dat hy ’n wit Afrikaan was wat geweier het om sy eie kontinent en mense te aanvaar.12 Slabbert mag hom dalk effens misgis het wat Terre′Blanche se ruimhartigheid en eendimensionele aannames oor Afrikakultuur betref, maar die feit bly staan dat hy ’n nuwe siening van Terre′Blanche en Afrikaneridentiteit gehad het wat min ander kommentators bereid was om te akkommodeer.
Besinning oor die aard van etnisiteit
Op akademiese vlak het Slabbert onderskei tussen wat primordiale sienings van etnisiteit genoem kan word en meer histories relativistiese uitgangspunte. Primordiale sienings impliseer dat etniese identiteit inherent is, feitlik geneties bepaal en oorgedra, terwyl ’n histories relativistiese standpunt redeneer dat dit verduidelik kan word aan die hand van die maatskaplike en politieke omstandighede wat in ’n spesifieke historiese tydsgewrig heers en groepsidentiteit versterk. In die lig hiervan het Slabbert etnisiteit as ’n veranderlike gesien waarin persoonlike ervarings kan varieer na gelang van objektiewe veranderlikes.13
Hy was skepties teenoor akademici wat in essensialistiese, metafisiese terme aan Afrikaners gedink het. Een voorbeeld wat hy aangehaal het, was dié van ’n historikus, die vaderlike prof Bun Booyens, vir wie ’n Afrikaner iemand was wat met sonsondergang die getinkel van melkkanne en die gekoer van duiwe gehoor het14 – dit in ’n tyd dat Afrikaners reeds grootliks verstedelik het, het Slabbert opgemerk. Hy het later verklaar dat hy die meeste van sy onderrig- en akademiese lewe daaraan bestee het om ’n ideologie te opponeer wat “die Afrikaner” behandel het as ’n soort ahistoriese organismiese geheel met ’n kollektiewe intellek en siel wat van onderdrukking en vervolging bevry moes word. Geskiedenis is bedink om geregtigheid en vergelding te regverdig. Lyding het ’n verskoning vir intellektuele en politieke tirannie geword. En tog het die meeste van “die Afrikaners” wat so uitgesproke hieroor was, gerieflike middelklaslewens geleef, nooit enige van die ontberings waaroor hulle so kwaad geword het, ervaar nie, en onkunde geveins oor die swaarkry wat hulle ander opgelê het.15 In sommige opsigte was dit ’n oorvereenvoudiging van ’n veel komplekser Afrikanergeskiedenis, maar as ’n kort opsomming van hoe dimensies van die Afrikanergeskiedenis aan ’n ideologie verbind is, dra dit wel gewig.
Geskiedsbeskouing
Slabbert was spesifiek onthuts oor wat hy beskou het as die blinde kolle van Afrikaners in hul siening van hul geskiedenis. Vir hom was dit verstommend dat Afrikaners, wat ’n lang geskiedenis van Britse onderdrukking gehad het, nie in staat was om te sien dat hul beleid teenoor swart mense op dieselfde neergekom het nie. In hierdie verband, het Slabbert geredeneer, het die Afrikaner die dominante posisie teenoor swart mense ingeneem, net soos die Engelse vroeër teenoor die Afrikaners. Dit was slegs as gevolg van die ideologiese regverdigings vir apartheid, wat Afrikaners ontvanklik gemaak het vir die gedagte dat apartheid eintlik in almal se beste belang was, dat Afrikaners nie besef het dat die begeerte na vryheid wat vroeër Afrikaneraktiviste en -politici aangevuur het, identies was aan die begeerte na vryheid van die swart mense in die 1980’s nie.16 Dit was ’n punt wat hy graag beklemtoon het. In een van sy onderhoude met die Afrikaanse pers nadat hy in 1974 tot die Parlement verkies is, het hy beklemtoon dat dit vir hom van die uiterste belang was om nie dieselfde foute as die Britte sewentig jaar vroeër te maak nie.17 Alhoewel Slabbert se vergelyking akkuraat en oënskynlik gepas was, kan dit ook beskou word as ietwat instrumentalisties ten einde ’n politieke slag te slaan. Daarbenewens ontbreek ’n erkenning daarvan dat die Anglo-Boereoorlog en die gevolge daarvan beslissend was in die implementering van ’n amptelike Britse segregasiebeleid, wat sedert 1902 vinnig veld sou wen.
As ’n Afrikaner onder die Progge
In die bespreking van Slabbert as ’n Afrikaner moet ook ingereken word dat, gegewe die politiek van die dag, sy identiteit gewig gedra het en dat dit ’n bate was wat die Progge goed te staan gekom het. In algemene Afrikanerkringe was daar ’n neiging om kritiek van die Progge te verwerp as komende van buite die kudde, maar meer ag is geslaan op iemand wat kon aanspraak maak op die status van ’n lid van die binnekring. Soos Hermann Giliomee, historikus en politieke kommentator, opgemerk het: “Uit eie ondervinding weet ek dat Afrikaanse Nasionaliste slegs na dié kritici luister wat opreg praat van ‘ons’ in dispuut met hulle.”18 Slabbert was in so ’n posisie en dit het hom ’n voordeel gegee in onderhandelings met Nasionale Party-politici en staatsamptenare.
Terselfdertyd het sy status as ’n Afrikaner die Afrikaner-establishment ’n uitdaging gebied. Voormalige Prog-leiers soos Jan Steytler het moontlik dieselfde potensiaal gehad, maar het nie daarin geslaag om so ’n sterk beeld te projekteer as wat Slabbert in staat was om te doen nie. As ’n politikus met ’n gewete, ’n opregte voorneme en skerp analitiese vaardighede het sy kritiek ’n establishment wat na fatsoenlikheid en morele geregtigheid gestreef het, soms beskaam. As ’n Afrikaner het hy ’n groter doring in die vlees geword as wat andersins die geval sou kon wees. Om dieselfde rede moes hy ook bytende insinuasies verduur dat sy politiek ’n vorm van politieke verraad was – ’n beskuldiging wat Afrikaners gereeld gebruik het teen diegene wat volgens hulle uit die gelid getree het.19 Ten spyte van sulke insinuasies kan ’n mens uit die blote feit dat sulke kwetsende opmerkings gemaak is, aflei dat Slabbert se standpunte meegebring het dat sommige Nasionale Party-lede tot introspeksie genoop is om te besin oor wat dan “verraad” sou wees. 20
Hoe dit ook al sy, Slabbert se identiteit as ’n Afrikaner het gehelp om die openbare beeld van die Progge te verander. In Afrikanergeledere is die party in die vroeë 1970’s dikwels neerhalend afgemaak as nouliks meer as ’n protesbeweging met weinig politieke invloed wat hoofsaaklik uit welgestelde Engelssprekendes bestaan het wat die party nodig gehad het om hul gewetens te sus. Daar is berig dat dit lyk asof Slabbert weggebreek het van dié tradisie, aangesien hy die “enigste stamgebonde Afrikaner aan die Prog-front” geword het.21 In die daaropvolgende jare het dit geblyk dat waarde uit Slabbert se Afrikanerskap geput kon word. Slabbert het die dikwels verskuilde gevare in so ’n situasie ingesien. So krities soos wat hy teenoor die Afrikanerdom was, so bewus was hy daarvan dat die Engelssprekende establishment hom slegs as ’n simbool beskou het. Hy het by tye gevoel dat sommige van die “ou Progge” regtig die Afrikaner verag het en dat deel van hul teenkanting teen apartheid verstrengel was met hul antipatie teenoor Afrikaners.22 In ’n onbewaakte oomblik het die bekende Helen Suzman byvoorbeeld ná Slabbert se omstrede bedanking uit die Parlement en as Leier van die Opposisie haar etniese afkere laat blyk toe sy teenoor ’n medeparlementslid opgemerk het: “What do you expect of a bloody Afrikaner?”23
Aangesien Slabbert hom vroeg van georganiseerde Afrikanerdom gedistansieer het, het die gedagte om te probeer om op ’n etniese grondslag steun te mobiliseer, nooit by hom opgekom nie. Die Afrikanerlewe was vir hom meer as bloot politiek. Breyten Breytenbach het die konstitutiewe dele opgesom: Slabbert was en is ’n onbeskaamde Afrikaner met ’n diep liefde vir Afrikaanse poësie en ’n verknogtheid aan gasvryheid, humor en sportrituele.24
Oorgang
Tydens die postapartheidsoorgang het Slabbert se empatie met en begrip vir die Afrikanerdinamiek hom ’n gewilde spreker by verskeie Afrikaanse geleenthede gemaak. Die ideologiese verwarring en gebrek aan rigting by baie lede van die gehoor het ’n besliste indruk op hom gelaat. Die gemaklike en gevestigde wêreld waaraan hulle gewoond was, het in party opsigte inmekaargestort. Hy het die omgewing geken waaruit hulle kom, het hy gesê, want hy was aan presies dieselfde invloede blootgestel en het besef hoe swak hulle voorberei was om met die nuwe Suid-Afrika gekonfronteer te word.25
Hierdie soort begrip het hom dalk voorbestem om by die eeuwisseling en in die daaropvolgende jare standpunt in te neem in die taaldebatte oor Afrikaans as onderrigtaal by tersiêre instellings. Hierdie debatte het plaasgevind op al die kampusse wat histories Afrikaans was, maar was veral intens by Slabbert se alma mater, Stellenbosch. Stellenbosch is in 1918 uitdruklik gevestig as ’n oorwegend Afrikaanse universiteit, maar het altyd ’n geringe aantal wit Engelssprekende studente gehad. Hulle het veral onder die bewind van die Nasionale Party na Stellenbosch gekom, onder andere om hul Afrikaans te verbeter. Dit was omdat Afrikaans vroeër die dominante taal in die staatsdiens en van die ander sektore van die professionele lewe was, waar tweetaligheid hoog geag is.
Na gelang die wêreld ná apartheid egter nuwe veranderinge in taalgebruik laat posvat het, en Engels toenemend die lingua franca geword het, kon Afrikaans nie anders as om geaffekteer te word nie. Sedert 2000 het hierdie verandering ’n kragtiger uitwerking as voorheen op Stellenbosch gehad. Wit Engelssprekendes het in groter getalle as voorheen na die kampus gestroom, hierdie keer nie noodwendig om Afrikaans te leer nie, maar as gevolg van sistemiese institusionele aangeleenthede en verval by voormalige wit Engelssprekende universiteite.
Onder ’n beleid van oop toegang vir almal het ook al hoe meer swart studente met slegs Engels as akademiese taal ingeskryf. Die universiteit se taalbeleid is aangepas en het deur verskillende permutasies gegaan ten einde diens te lewer aan verskillende taalgroeperinge. Die risiko was dat Afrikaans heeltemal gemarginaliseer kon word en dat bruin Afrikaanssprekende studente ook benadeel kon word.26
Slabbert het geredeneer dat, gegewe die Suid-Afrikaanse taaldemografie, daar minstens plek moes wees vir een oorwegend Afrikaanse universiteit. Hy het ook gewaarsku teen die poging om in albei tale in dieselfde klas te onderrig, iets wat een van die opsies was. Vir hom was dit bloot “pedagogiese onsin”. Hy het geredeneer dat óf die een óf die ander groep waarskynlik daaronder sou ly. Sy standpunt het die toorn van die groepe wat ten gunste van die nuwe taalreëlings was, gewek en hy is, verkeerdelik, gesien as sou hy hom by die wit regse groepe geskaar het.27 Slabbert se posisie was meer gesofistikeerd, hoewel nie altyd ten volle ingelig oor die institusionele taaldinamiek nie. Hy het besef dat Afrikaans, as gevolg van apartheid, aansienlike politieke bagasie dra, maar dit was nie voldoende rede om die taal oorboord te gooi nie. Dit was volgens hom eerder ’n uitdaging om ’n taal met soveel bekoring en uitdrukkingsvermoë te herbedink en op tersiêre vlak te laat herleef in ’n tyd van onvastheid en oorgang.28 Om die hoërordestatus van die taal in te kort op ’n kampus met diep Afrikaanse wortels en in ’n hinterland so deurknee in Afrikaans, sou nie in daardie soeke van hulp wees nie, nog sou wit en bruin Afrikaanssprekendes uit so ’n ontwikkeling voordeel trek.
Slot
In die algemeen het Slabbert se assosiasie met en gevoel van Afrikaans wees verskeie kenmerke gehad: reflektiewe, introspektiewe, genuanseerde, selektiewe en tog ongeïnhibeerde deelname aan die Afrikaanse kulturele lewe, maar ook afwysend van sekere elemente waarvolgens identiteit vertolk is. Hy het nooit gepoog om sy identiteit heeltemal te verwerp in ’n poging om ’n nuwe een te ontwerp om by veranderde omstandighede aan te pas nie. Omdat Slabbert, wat dít betref, nie ’n fetisj van Afrikaans wees gemaak het nie, was dit vir hom makliker om dit op sy eie voorwaardes, en amper as ’n bonus, te hanteer. Dit het hom ook in staat gestel om die dinamiek van die Afrikanersamelewing duideliker te verstaan as wat andersins die geval sou wees. Dit kan gedeeltelik teruggevoer word na die feit dat hy, van die begin van sy lewe af, nie die gebruiklike roete gevolg het wat vir “standaard”-Afrikaners uitgelê is nie.
Notas:
1 US-biblioteek, Slabbert-versameling, 430.E3.17.3, Breytenbach – Slabbert, 22 Maart 2007.
2 WB Vosloo, “The nature of the Afrikaner people and the challenges facing Afrikaner nationalism”, “Race and politics in South Africa: a series of lectures given at the 1973 UCT Summer School”, pp. 2–5.
3 FvZ Slabbert, Tough Choices, Kaapstad, 1999, p. 88.
4 H Adam en K Moodley, “Slabbert’s opening of the apartheid mind: Portrait of an unrecognised patriot” in A LeMaitre en M Savage (reds.), Van Zyl Slabbert – The passion for reason, Kaapstad, 2010, p. 58.
5 US-biblioteek, Slabbert-versameling, 430 E2 .22.7.1, “Barskyk”.
6 H Giliomee, Last Afrikaner leaders: A supreme test of power, Kaapstad, 2013, p. 214.
7 US-biblioteek, Dian Joubert-versameling, Ongesorteer, Mana Slabbert aan Dian Joubert, 24 Januarie 1974.
8 Slabbert, Tough Choices, p. 88.
9 US-biblioteek, Slabbert-versameling, 430.D4.22.2, “Afrikaner – Quo Vadis: Die Afrikaner: Nou en die Toekoms”, 1999.
10 FvZ Slabbert, Afrikaner Afrikaan, Kaapstad, 1999, p. 6.
11 City Press, 2 Augustus 1987, “Slabbert wants to meet Eugène”.
12 US-biblioteek, Slabbert-versameling, 430.E1.3 “Article for André Brink”, 1 Desember 1987.
13 US-biblioteek, Slabbert-versameling, 430.D4.22.2, Afrikaner – Quo Vadis: Die Afrikaner: Nou en die Toekoms”, 1999.
14 FvZ Slabbert, The other side of history: An anecdotal reflection on the political transition in South Africa, Kaapstad, 2006, p. 2.
15 Internet: Academic Freedom Lecture, Universiteit van Kaapstad, 2003.
16 Die Suid-Afrikaan, Winter 1986, “Hermann Giliomee in gesprek met Van Zyl Slabbert”.
17 Rapport, 5 Mei 1974, “Van Zyl Slabbert, voel jy tuis daar?”
18 H Giliomee, “Golden boy, golden opportunity: A note on Van Zyl Slabbert”, in A LeMaitre en M Savage (reds.), Passion, p 90.
19 Sien byvoorbeeld Volksraad-debatte, 18 April 1975, Kolomme 4434 – 4435.
20 Privaat Cassar-versameling, opgeneemde onderhoud met Lawrie Schlemmer, 14 September 1984.
21 Rapport, 5 Mei 1974, “Van Zyl Slabbert, voel jy tuis daar?”
22 A Boraine, “An malgam that worked” in A LeMaitre en M Savage (reds.), Passion, p. 38.
23 M du Preez, Pale Native: Memories of a renegade reporter, Zebra Press, Kaapstad, 2004, p. 145.
24 B Breytenbach, “The slow quickness of life: Thinking about my friend, the Chief”, in A LeMaitre en M Savage (reds.), Passion, p. 14.
25 FvZ Slabbert, Afrikaner Afrikaan, p. 27. Sien ook Insig, September 1997, “Praat jou uit die verlede uit”. Vir ’n soortgelyke algemene perspektief, sien T Blaser, “‘I don’t know what I am’: The end of Afrikaner nationalism in post-apartheid South Africa”, Transformation, 80, 2012, pp. 1–21.
26 Hierdie opsomming is gebaseer op A Grundlingh, “Afrikanernasionalisme en taal: US 100”, Stellenbosch, 2018. Sien ook P Kapp, Maties en taal, Protea Boeke, Pretoria, 2013.
27 US-biblioteek, Slabbert-versameling, 430.E3.21.1 “Taaldebat”, Mei 2006.
28 Insig, September 1997, “Praat jou uit die verlede uit”; Slabbert-versameling, 430.E3.20.1, “Wie en wat is ‘Die Afrikaner’?” Junie 2006.
Lees en kyk ook:
Frederik Van Zyl Slabbert: ’n Volhoubare plek vir Afrikaans 2006
Breyten Breytenbach: Andersheid en andersmaak, oftewel die Afrikaner as Afrikaan (Berig gerig aan Frederick van Zyl Slabbert)
LitNet: Argiefmateriaal: Idasa / Van Zyl Slabbert
Paul Murray: Slabbert: Man on a mission. A biography by Albert Grundlingh: a review
Marianne Thamm: “Navigating your way in a world filled with untruths”: Frederik van Zyl Slabbert lecture 2019
Erns Grundling: Aardklop se vreeslose feesridder
Wouter: Die Tanner Lesings, Van Zyl Slabbert en demokrasie
Danie van Wyk: Afrikaner, Afrikaan, Afrikaans
Elsabé Brits: Mites oor die Afrikaner en Afrikaans
Heindrich Wyngaard: “Wie (se fout) is ek?” Mymeringe (nee, stukkies) oor identiteit
Riana Scheepers: Ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was
Mphuthumi Ntabeni: Kemi Badenoch: The Africa that was not born in her
Igno van Niekerk: Waarom ek boekfeeste bywoon
Tom Dreyer: Die Groot “Ek is”: heuning uit die karkas van ’n leeu
HemelBesem: Ons moet mekaar kry by: Wat bedoel jy?
Izak de Vries: Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde “Afrikaner Verklaring”
Jaco Fouché: Selfportret met stellings
Bettina Wyngaard: Herbesin: Ryker in diversiteit
Helize van Vuuren: Die beginsel van stof – besonder verwikkeld en ryk
Francis Galloway: My pad met Breyten – op die taalspoor
Lees die ander bydraes hier:
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor




Kommentaar
In aansluiting by die skrywer wil ek graag beklemtoon dat etniese identiteitsvorming ʼn komplekse proses is. Self-identiteit ontwikkel onder andere deur interaksie met ander individue, wat beteken dat ander mense ’n persoon se siening van sy/haar eie etnisiteit kan bevestig of bevraagteken. Wanneer iemand se etniese identiteit deur ander bevraagteken word, staan dit as identiteit-ontkenning bekend. Sou Van Zyl Slabbert moontlik aan só ʼn proses blootgestel gewees het?