Die beginsel van stof - besonder verwikkeld en ryk

  • 0

Die beginsel van stof
Breyten Breytenbach
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798152211
Prys: R144.50

Klik hier en koop Beginsel van stof nou van Kalahari.net!

“Hier is ek nou terug/ uit die seisoen van verstrooiing” vertel die digter in sy jongste bundel, met “’n doos vol woorde gepak gedun uit verse/ oor die jare”. Hierdie verse is soos ’n “vel van onthou”. Die bundeltitel word verduidelik in die prosagedig “(toe ek hom sien)”, as sinoniem met die skeppingsproses: “die beginsel van stof wat skepping is”. Die Bybelse frase uit Genesis 3: “stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” weerklink in die woordklank van hierdie bundel mee, en so ook die begrafnisritueel waar hande vol grond op die gestorwene se kis gegooi word met die woorde “stof tot stof”. Die bundel bevat in memoriam-verse vir die digter se broer, Basjan Breytenbach, en sy gestorwe vriend Frederik Van Zyl Slabbert. Die bundel word aan hulle albei opgedra. Ook die dooies loop hier onder die lewendes, soos die digter se lank reeds gestorwe moeder, “Ounooi”, wat in sy New Yorkse woonstel aan hom verskyn. Bejaardheid en verganklikheid is sterk in die fokus by hierdie digter, wat nou in sy sewentigs is.

“Skemerbundels” noem Kerneels Breytenbach in ’n onlangse onderhoud (opgeneem op YouTube) die laaste groot bundels van digters soos Van Wyk Louw (Tristia, 1972), Opperman (Komas uit ’n bamboesstok, 1979) en nou ook Breytenbach se Die beginsel van stof (2011). “Laat-verse” of laatwerk is die digter se benaming vir hierdie soort versameling verse, parallel met die laatwerk van Picasso, of ander skilders – ’n fase van werk geproduseer teen die einde van hul lewe, wanneer hul reeds statuur het, gevestig is as groot kunstenaars. In die geval van digters verwag ’n mens hier ook iets soos laaste uitsprake, die definitiewe woord gespreek oor die menslike toestand, ’n perspektief op dinge soos hul is; en waarskynlik ’n sekere tristesse oor die onafwendbare afloop en verbygaan van alles. Hierop is Louw se Tristia (letterlik “van droewe dinge”) ongetwyfeld nog die kwintessensiële hoogtepunt in sowel stralend eenvoudige verse, maar ook uitdagende komplekse gedigte. Opperman se Komas is eerder ’n laaste intense lofsang op die vreugdes van die herontdekte lewe na die dreigende dood. Breytenbach se Die beginsel van stof kombineer droewigheid (opgedra aan Van Zyl Slabbert en Breyten se gestorwe broer Basjan, wat in die gesprek met hom in “Septembersee”, veertig jaar vroeër gepubliseer, nog moes “onthou vir twee”) en ’n besing van die plesiere van die lewe (onder andere in verjaardagverse, soos gebruiklik vir homself in “draf in NY, 16 September 2007”, en twee vir sy vriend Ampie Coetzee: “die voor-gedig” en “paginamagina”).

’n Voorbeeld van die liriese lofsange op die vreugdes van die lewe kry die leser in die pragtig eenvoudige “die guns”:

O Here, wanneer jy weer hierlangs verbykom –
dink aan oom Martin, aan Daantjie, aan my ma ...
Maak hulle wakker sodat hulle net één keer  
Mag sien hoe wonderbaarlik is hierdie wêreld,
nog één keer opgewonde soos perde op stal
die vars oggendlug van oneindigheid mag ruik

Oukei, ek weet, ek weet ons het alles opgefok –
maar o Here, skud die stof uit hulle beendere
sodat hulle nog net één keer mag hoor hoe jubel
die nagtegaal in die kloof, mag sien – nee voel
hoe bloos ons aarde soos ’n ryperwordende appelkoos
wat wangdraai ooste toe as die nag haar onttrek

Moenie snoep wees nie, o Here – gee, géé
vir oom Martin, vir Daantjie, vir my ma en al die geslagte
dooies één oogknip se onthou in hierdie benoude
ewigheid van verdwyning, opdat ons almal
onder die kors vergetelheid vir ’n stonde in die tombe
weer die bons van lewe vir jou onthalwe mag deel.

Hierdie vers het veel weg van ’n eenvoudige maar intense gebed: “o Here – gee (…) een oogknip se onthou”, wat nogal drasties anders lyk as die priemende parodie op die “Onse Vader” in Lotus (1970): “Onse milde God van alles wat soet en mooi is”, en eindig met die verheerliking van die mens aan die slot daarvan: “Want aan ons behoort die menseryk, die krag/ en die heerlikheid (…) Aa mens! Aa mens! Aa mens!” Teenoor die drukkende en dreigende “benoude/ ewigheid van verdwying” wat die nou bejaarde, veertig jaar ouere digter as intense werklikheid ervaar in “die guns”, staan die uitdagende energie en selfstandigheid van die jong digter in “Onse milde God …” Dis opvallend hoe anders Breytenbach se instelling teenoor imminente dood en verganklikheid is as dié van die intens opstandige, woedende houding van Krog in die Tafelberg-reeks aan die slot van Verweerskrif. Breytenbach pleit (in “Die guns”) en wonder (in “oopskryf”, die slotgedig in die bundel) beurtelings:

hoe om jouself toe te maak
met woorde
as beskerming teen die woordlose
koue gekerm van die ewigheid

(Clifton: Februarie-Mei 2010)

Hierdie klein laaste vers tesame met die pleknaam Clifton roep Breytenbach se groot digterlike voorganger, Van Wyk Louw, op, wat ook met fokus op Clifton oor “die sterflikheid/ van elke ding wat aards is” besin het in Nuwe verse:

Clifton

Maar watter van die gode sal ek prys
dat hierdie winterglans en hierdie dag
sowat van wit en goud en deurskyn-grys
voor hierdie oog laat speel? en dat dié prag,
terwyl dit sterwe met die sterflikheid
van elke ding wat aards is, voor my hand
op hierdie wit papier van nuuts af wyd
en glansend word en dans en brand?
Ek weet dit nie; maar iéts moet goddelik wees:
die paadjies hier word elkeen soos ’n kim,
en ek word soos die eerste mense bang.
Selfs dan by hierdie poele woon die vrees?
En ek sal sku oor hierdie rotse klim
waar kaal seuns daglank die rooi krewe vang.
(1954: 24)

Soos wat Breytenbach se groot Parys-gedig, die debuutvers “bedreiging vir die siekes”, in Die ysterkoei moet sweet (1964) in gesprek tree met Rilke (en sy Parys-ervaring in die fiksionele dagboek, Die Aufzeichnungen der Malte Laurids Brigge, 19), so hier met Louw. Elders in Die beginsel van stof is daar soortgelyke literêre gesprekke met groot voorgangers, soos in “Arles” (2011:15-24), waarin sowel Van Wyk Louw se “Arlesiennes” as die Occitaanse digter Frederic Mistral (1830-1904) se gelyknamige gedig opgeroep word. Ook in “Piedmont”, teen die einde van die bundel, is dit die intertekstuele gesprek met ander digters (De Turin, Primo Levi, Lavarare Stanca, Alfieri, Pavese) wat opval. Ook De Turin (troebadoer uit die eerste helfte van die 13de eeu, uit Turin, waar die Turynse doodskleed van Christus vandaan kom) het ’n Occitaanse konneksie. En hiermee is ons by die sentrale tema van die bundel, die klein minderheidstaal van Afrikaans wat die medium van die kosmopolitiese, nomadiese digter se verse is, en wat hy as sterwend beskou. Die openingsgedig van die bundel, die ysingwekkende “’n voetnoot onder die nag van geskiedenis”, het ’n nagmerrie-agtige, intens afstandelike perspektief op die taal, die digter se eie afgelope lewe en die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Spesifiek oor die taal wonder die digter op apokaliptiese wyse oor die doel van alles:

was ek nou die profeet
weggestuur om te bespied of daar lewe
is in hierdie wêreld
of die sinnelose balling teruggekeer om te sê
ons taal was ’n voetnoot
onder die onleesbare bladsy geskiedenis?

Een van die sterkste motiewe in hierdie elegiese laaste (?) bundel is die taal, “ons taal”, Afrikaans, wat gedroom word, wat gestorwe is, ’n dooi taal is, wat “weegsyfer” en waarvoor ge-“struggle” is. Jan Rabie word aangehaal wat verklaar het: “sonder Afrikaans is ek niks” (2011:102). Uiteindelik is die taal “asyn aan die lippe”:

my gedigte, engel, is ’n almanak van klippe
die woordeboek van versteende begrippe
gedoop in asyn vir jou, voëlverskrikker, se lippe.
(2011:151)

Hierteenoor is daar die pragtige liefdesgedig vir die verdwynende, sterwende taal in “liefling, taal” (2011:18) met taal as ’n klippie wat gesuig was teen die dors, maar nou tussen die dye van die gestorwene begrawe word, terwyl “die laaste spoegie speeksel” gesluk word:

die dood is om nooit weer dors te word nie,
my liefling taal.

Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge) is ’n besonder verwikkelde en ryk bundel. Dit bestaan uit vyf afdelings met ’n wye verskeidenheid materiaal, verse van die helderste liriese eenvoud, soos “dis die oë wat te gulsig is/ wat nie wil ophou drink … (2011:100), tot hoogs verwikkelde, intertekstuele verse, soos “frère khère” (2011:168-9), waarin sowel Sappho as Neruda deel van die raamwerk van die vers vorm. Dit is ’n verwikkelde, sterk elegiese maar ook pragtige liriese bundel. Hiermee bring Breytenbach met sy ou meestershand die leser weer intiem nader aan die rykheid van die taal en sy unieke seggingswyse.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top