Selfportret met stellings

  • 1

...
Eendag sal jy in jou vyftigs wees en uiteindelik glo mans huil nie, eenvoudig omdat huil nie help nie en dis hartverskeurend.
...

’n Mens kan jou hand aan stellings waag.

  • Naamsmouse is mense wat hul bronne erken.
  • ’n Vryhandtekening maak jou inderdaad vry.
  • Dit is in die dans dat die essensie van die tydelikheid lê.
  • Visuele hallusinasies is veel raarder as wat rolprente jou wysmaak.
  • Oudkrygers is geneig om woedend te wees soos gewese minnaars.

Subkulture (en skrywers vorm een) is elkeen ’n homp vleis wat gesteun word deur ’n ruggraat wat voor hulle tyd gegroei het. Daardie ruggraat is onontbeerlik. Maak nie saak hoe erg die subkulture daarteen wil rebelleer nie, hulle kan nie daarsonder bestaan nie. Klein subkulture, weer, is kultusse wat vertroulikheid op prys stel. Sommige het net een lid. Daardie lid is ’n verskrikte en verwarde wese wat jy moontlik uit fassinasie mag oornooi en dit berou wanneer hy van die tafel opspring om eerder buite te gaan sit. En daardie lid se boodskap aan die wêreld is: “Insig is die eensaamste delusie.”

Ek het eenmaal sonhonde gesien. Dit was op ’n koue dag bo die hoërskool, na die weste waar die son agter ’n melkerige laag gesit het. Hulle was ruweg ruitvormig en die een was helderder as die ander een. Ek was alleen en wou later nie eintlik daaroor praat nie, deels om die ervaring vir myself te hou, en toe ek wel praat, het iemand my gevra of ek seker is dat ek dit gesien het. Dis nou die sonhonde en die alleenheid.

My wêreld word kleiner. Ek is verslaaf aan YouTube en word die een na die ander video oor filosowe, skrywers, kunstenaars en filmmakers gebied. Ek vertel myself ek is in ’n opvoedingsproses, maar met watter doelwit? Is dit regtig sinvol om baie te weet van Simone Weil, of Beney Eviore, of enige van die vele ander figure wie se lewens nie regtig gelukkig was nie? Sou dit nie beter wees om my aan die eise en beloftes van die Evangelie te onderwerp nie? Inderdaad sit ek in ’n kerk en hoor die storie van Hiskia aan, die koning wat volgens die preker die een man was wat God van plan kon laat verander het toe sy koninkryk ná gebed en smeking gespaar is. Dit was ’n gasprediker wat gepraat het. Na die tyd is hy glo deur die ouer en permanente prediker voor stok gekry. Die plan word nooit verander nie, is hy ingelig. Ek verkies die gasprediker se oortuiging.

Soveel gedagtes. Voorvalle. Stellings. Dinge wat gebeur ten spyte van afsluiting en inperking. ’n Mens ontkom nie. Ek was 41 toe ek en my vrou in die huwelik bevestig is. Een aand nie lank daarna nie kom sy laat by die woonstel en lyk vreemd. “Wat is fout?” vra ek. Sy vertel dat sy by ’n ou vriendin was wat vertel het hoe sy en verskeie ander vriendinne voor ons troue bymekaargekom het om my geliefde van trou te laat afsien. Ek was nie “reg” nie. Daar was “fout” met my. Die voorval het my ontstel. My vrou was self nie gelukkig nie, al het sy gesê die mense het darem nie werklik na haar gekom met ’n voorstel om die pad te vat nie. Sy het ook gesê ek moet onthou dis almal ongetroude vroue wat waarskynlik nooit naby mans kom nie. Daardie wantroue lê diep. Vandag is ek amper 17 jaar getroud, maar is seker nog steeds nie “reg” nie. Dis uit daardie en ander, verwante, situasies dat my karakter Tronelle se isolasie kom. Dit lyk of dit besonder moeilik is om na ’n groep terug te keer wanneer jy daaruit is, of dit nou ’n subkultuur of ’n selgroep of ’n gesin is.

’n Mens word deur ongemak en soms blatante pyn gedryf om te skep. Miskien praat ek uit beperkte ervaring, maar die felste seerkry is sosiale dinge. Daardie vreemde gewaarwording dat mense jou met ’n onderlangse glimlag “humour”, die vermoede dat jy in ’n kompetisie gewikkel is waarvoor jy nie opgewasse is nie. Ek koes wanneer ek kan, en gaan sit om ’n storie te skryf of Toto te luister. Hoe anders maak ’n mens met die ongemak? In Alkoholiste Anoniem sê hulle daar is ’n “social cost” daaraan verbonde om op te hou drink. Jy is al daardie drinkmaats kwyt. Maar nugter sit jy met die kale saaiheid van alles. Ek is nie verbaas mense vergryp hulle nie. Dis hoe ons mekaar verduurbaar maak en die verveling verdryf.

Daar word gepraat van “emotion recollected in tranquility” – Coleridge se beskrywing. Bosman het glo gesê dat ’n mens ’n gebeurtenis 10 jaar moet kans gee voordat jy daaroor skryf. Dit kan ek nie aanvaar nie. Die pyn wat na 10 jaar nog met jou is, glo ek nie kan in “tranquility” herroep word nie. Dit bly wond. Dis hoe ek dit ervaar. My geheue laat niks anders toe as wonde nie. My vrou het gevra, toe ek voorvalle uit my jeug herroep: “Is daar niks wat jy onthou wat nie ongelukkig is nie?” Skeppendheid gaan oor orde afdwing op die chaos wat jy onthou. Of jou hand in die chaos druk om te kyk wat jy kan uithaal. En daarmee saam kom sekerlik af en toe ’n blufspel. In ou Huisgenoot-artikels het Filippynse geloofsgenesers kwansuis hulle hande deur die buikvel van die gekwelde pasiënt gedruk en met bloederige hoenderbinnegoed te voorskyn gekom. Genesing is ’n triomftog, man.

Dis 10 jaar sedert die Poolshoogte-beraad. Ek lees nou eers weer aan my poging daar. Ek staan nog by alles wat ek daar gesê het, maar dis merkbaar dat ek deesdae “beter” voel oor die army. Ek berou dit selfs dat ek nie ’n loopbaan daarvan gemaak het nie. Kon miskien vir Paratus of Uniform geskryf het, of die koffiekroegklerk geword het. Maar ons in die transportpark was oortuig ons slaan die kitaar in die eenheid. Die kreet was: “Parabats airborne, drywers mobile!” Vroeër die jaar vertel ek vir iemand oor ’n voorval uit daardie era, en hy sê toe vir my: “Jy moet ophou om jouself af te kam as nutteloos. Jy het ’n redelike army-tyd gehad.” Ja, baie dinge het wel gebeur, met my ook, maar ’n mens wil nie jou eie ervaring vergelyk met dit wat mans, manne, in werklik lewensgevaarlike situasies ervaar het nie. Ek bly versigtig dat ek myself nie uitgee as ’n groot soldaat nie. Mobile was ek en mobile sal ek doodgaan. Langs die pad sal ek seker ’n paar staaltjies kan vertel.

...
Skryf is selfsug met allerhande bymotiewe. Jy is ’n ouerwordende ding. Met tentakels wat jy uit blote vasberadenheid gekweek het omdat jy oortuig was jy is iets wat jy nie is nie.
...

Etiek en kuns. Daar is iets joernalisties wat in die kunste werk. Ek word telkens daarvan bewus wanneer ek merk dat ’n verhaallyn deur nuusgebeure ingegee is. En daar is ’n soort sensuur – nie iets om te kritiseer nie, maar die soort wat van lewensbelang is. Dis nie dat ek iets wil versag nie. Inteendeel. Ek bedoel dat ek ’n stuk skryfwerk “eerlik” wil maak. Dan moet ek selfondersoek doen en sinne heroorweeg. Is dit wat ek wou sê? Is dit wat ek moet sê? Moet ek dit liewer glad nie sê nie? En waarom nie? Gewoonlik meen ek dan laat die ding gesê word, om dieselfde rede waarom simptome openbaar gemaak word: Daar is die vooruitsig van behandeling.

Die vraag is soms of ’n siekte ’n kunstenaar aan bande lê. Natuurlik. Jy word ingeperk, maar dit kan op vele ander maniere ook gebeur. Soms deur so ’n siekte, andersins deur ambisie, of huweliksbande, of die eise van ’n sekulêre loopbaan. En ’n mens sien nie altyd die beperking raak nie. Jy eien dit nie vir wat dit is nie. Dit lyk vir jou na ’n heenkome, daardie werk in die kantoor (hulle het ’n teemasjien), daardie nuwe vriend (so ’n hartlike, innemende mens), daardie bedwelmende middel (is daar geen einde aan hierdie saligheid nie?). Die beperking lyk na verlossing.

Oor die algemeen kla ek nie oor my ontvangs nie. Selfs die kritiek wat ek vermoed, dat sommige my sien as ’n kansvatter wat sy sosiale en akademiese meerderes om die bos probeer lei, bied eerder nog materiaal as om my lam te lê. Daar is nie ’n goed aangepaste, gesofistikeerde, intimiderende agtergrondgees wat my gang rig nie, wel enkele duiwelsfigure wat ek buite rekening probeer laat. En dis waar hulle moet wees, duiwelsfigure – buite rekening.

Ek het vir lank gewens ek kon iewers ’n mentor raakloop – ’n dosent, ’n ouer skrywer, ’n tai chi-instrukteur, ’n oorlogveteraan, wie ook al. Dit het nie gebeur nie. Ek was gelukkig om wonderlike redakteurs te ken en van hulle te leer, wat ek hier stellings kan plaas.

  • Probeer om nooit ’n situasie te verlaat in ’n klimaat wat ’n herontmoeting onmoontlik maak nie.
  • As ’n duimreël, beantwoord e-posse.
  • Hel, glimlag.
  • En onthou: Op ’n manier kom ons almal deur die lewe.

Ek behoort nie aan ’n liggaam wat van my verwag om ’n gentleman te wees nie. Sover ek weet, bepaal geen rites my optrede nie. Tog kan ek agterkom iets dwing my tot min of meer aanvaarbare gedrag. Wanneer ek sê ek hoef nie aan ’n familiefilosofie lojaal te wees nie, voel ek dadelik skuldig en wil ek my by hulle skaar. Iemand het iewers geskryf dat dit gaan oor die lojaliteit aan die kos waarmee jy grootgeword het. Dit is wanneer ek so dink dat ek besef ek is glad nie vry nie. Jy kom nie weg van jou geskiedenis nie. Daarby is dit baie moeilik om beginselvas te wees. Tensy jy natuurlik deel van ’n hegte subkultuur is. Maar saam, of alleen – hoe ontsnap ’n mens in elk geval aan jou karkas? Jy sleep dit saam.

Daar is inderdaad druk, veral uit sosiale oorde. Onder druk is ek ordentlik. Onder druk neem ek kleiner happies, en kou ek stadiger en dikwels toemond. Ek probeer nee sê vir tweede porsies wanneer dit aangebied word. Ek glimlag vir mense wat meer bewus van hul herkoms is as ek, en wag beleefd saam met oortuigdes die jongste verwikkelinge ten opsigte van die einde van die wêreld in. Ek probeer om ruimte te laat vir verskillende menings, vir diversiteit. Dit lei tot teenstrydigheid in my eie gemoed. Ek dink ek is skynheilig – nou dit, dan dat. Onder druk is my oortuiginge soos ’n ballon wat jy onder die water probeer hou – dit spring hierdie kant toe en daardie kant toe en op die ou end is ek bloot spyt ek het nie allerhande ervarings opgedoen toe ek die geleentheid gehad het nie.

Ek is te oud en min of meer te eerlik om nou met behulp van skeppende nabetragting ’n wilde woeste jeug of ’n groot gewetenswroeging aan te bied, so dit sal nie gebeur nie, maar ek dink ek het nog die vryheid om oor so ’n moontlikheid te skryf, so ’n jeug te herroep of so ’n gewetenswroeging te beskryf. Ek kan ondersoek instel, ek kan iets algemeens uit die spesifieke myn. Eintlik, wil ek sê, kan ek oor enigiets skryf. Op ’n manier is elke kunswerk tog ’n gedagte-eksperiment. Eers gaan haal jy dit ver en dan wil jy dit agternasit. Jy wil iets tot ’n logiese uiteinde volg en dis merkwaardig hoe ’n mens soms verbaas staan voor die einde van ’n verhaal. Was dit wat in my was? Hierdie homp angs? En is dit nou uit? Sal ek dit weer kan doen? Besit ek genoeg pyn? Moet ek dankie sê vir hierdie krapperigheid, hierdie rusteloosheid, hierdie wantroue en paranoia? Dis die vrae.

En dan is daar die fisieke wat ’n mens beperk. Die asem wat ek heeldag wissel, in en uit, in en uit, al vinniger namate ek ouer word. Die ewe vinnige hartslag: Ek gebruik my kloppe vroeg op. Hierdie ding, swaartekrag, wat soos die duim van ’n enorme kind is wat die insek teen die aarde hou. Die lugtigheid kom, teenstrydig, saam met die vrees vir die wye oop ruimtes wat jou van die sfeervlak kan oppik en laat wegdryf. My verstand wat my mag verlaat. My lyf loop reeds op kranklike skarniere. En ek stamp my. Oorweeg die hardheid van voorwerpe en onderwerpe wanneer jy daarteen bots en jy oorweeg die noodlot self. Stamp my op ander terreine. Konfrontasie met meer gesofistikeerde mense, meer gevatte sprekers, sterker mans, gemener vroue. Die sosiale son is ’n skroeiende affêre. En die talente wat jou lyf mag huisves, is dit waaronder jy vir daardie son probeer skuil soos ’n profeet onder ’n woestynplant. Vrese, opnuut. Miskien raak ek funksie kwyt in ’n ledemaat of orgaan. Die inperking van die vermoëns wat wel daar is. Die eindelose verslae oor wat bejaarde mense te beurt val en oor 15, 20 jaar vir my ook sal. Dis seker tragies, so ’n inperking, of ten minste wanneer dit met jou gebeur.

Maar daardie inperking is van natuurlike aard, soos kognitiewe beperking. Wat verstaan ek wat nie volslae sinloos is nie? Is daar insig? Werklik? Die woorde “natuurlike aard” beskryf die reikwydte van die angsgedrewe armswaai waarmee ek tsjotskes van die kaggelrak af stamp en die paar wat ek vang, in ’n werk durf gebruik. Die res is aan skerwe op die vloer en jy kan hulle nie red nie behalwe natuurlik as jy dit in die eerste plek oor vernietiging het, as vernietiging jou oogmerk is, jou ambisie, jou geheime droom. Dis weer daardie hardheid en die inspanning wat nodig is om daardeur te breek. Breek. Gewelddadig, ja, maar hoe anders? Beur in stilte. Grynslag eerder as om terug te kap. Kwel jou oor are bultend oor jou lyf; eendag gaan jy bars. Hoe persoonlik die vrees vir die dood, en tog lê almal wakker. Kners stelselmatig deur die emalje.

Soms stel ek my ’n onderhoud voor. Dan sê ek oor die literêre wêreld: “Nice mense, maar die inlywingseremonies is erg.” Ek wil ook sê: “Jong skrywer, gaan deur ’n universiteit. Nie ter wille van die leeswerk nie, wat jy in elk geval doen, maar die netwerk.” En kyk dan nou ook na inlywingseremonies. Hulle is algemeen, en per definisie traumaties. Waardeur gaan ons nie alles in ons grootwordjare nie? Dogtertjies moet aangespreek word, seuntjies geslaan. Jy sal harde speletjies speel of jy wil of nie. Jy sal army toe gaan. Jy sal werk. Jy sal die byt van die adder in die sweet van jou aangesig verdien.

...
’n Oomblik se knak bepaal ’n lewe. Of twee. Miskien is dit dan allerbelangrik dat ’n mens ingeperk word sodat jy jou eie seremonies kan onderneem, in die kerker van ’n manuskrip.
...

Eendag sal jy in jou vyftigs wees en uiteindelik glo mans huil nie, eenvoudig omdat huil nie help nie en dis hartverskeurend. Anita Brookner skryf oor “the unsought trials of manhood”. En geweld is natuurlik, dis tog waar. Dis vanselfsprekend. Diere vreet mekaar. Plante verstrengel mekaar. Insekte braak suur. Jy hoef net deur ’n kwaai hond toegegrom te word om te weet geweld is ’n basiese dierlike impuls. Jy respekteer dit onwillekeurig, teen jou sin, teen jou beterwete. Jy respekteer dit ten spyte van enige wette of hoër aansprake. Miskien, op ’n hoër vlak beskou, is geweld selfs ’n verlange, nie heeltemal onverwant aan die drang na askese nie. Ons weet tog dat om te onderdruk veel mooier is as om onderdruk te word. Maar hierdie moment. Soveel bisarre dinge gebeur binne oomblikke en het dan soveel verreikende gevolge. ’n Oomblik se knak bepaal ’n lewe. Of twee. Miskien is dit dan allerbelangrik dat ’n mens ingeperk word sodat jy jou eie seremonies kan onderneem, in die kerker van ’n manuskrip.

...
Die inperking is ook die definisie. Die inperking trek die buitelyne van jou persoon. Dis jou identiteit.
...

Die inperking is ook die definisie. Die inperking trek die buitelyne van jou persoon. Dis jou identiteit. Toe ek in die sewentigs in die naskoolsentrum in Vereeniging was, het ons mekaar se buitelyne teen groot stukke karton getrek. Dit was ’n ongelooflike oefening. Ek onthou hoe opgewonde ek was om my eie afbeelding te sien. Ek was lewensgroot. Ek kon nie glo hoe groot ek is nie. Daar was dit voor my, bewys dat ek bestaan. Miskien trek ’n mens sulke buitelyne in ’n werk al bly jy die oë op die verkeerde plek sit, op die voorkop, die wange, onder die ore. Bewys dat jy bestaan.

Nou eendag wou iemand by my weet waarom ek nie iets goed en gewild skryf nie. Het dit nie in my nie, het ek geskerm. Ek het gesê: “Van gewildheid weet ek nie veel nie.” Ek het verder gesê, huiwerig, dat ek eerder iets literêr probeer. “Literêr? Jy bedoel kuns?” Ja. Die onderwerp is verander. Die persoon het vermoedelik nie veel waarde geheg aan wat ek sê nie. Ek stel my voor dit was die soort persoon wat op grond van die geskiedenis verklaar dat upstarts gewoonlik onder bly, en dis seker goed so.

Is kuns van waarde? Dis nie werklik subliem nie. Nie as jy kyk na waar dit vandaan kom nie, uit daardie kerker waar die wriemelrige goed in die donker water hou. Mense, die behoudende soort, sal jou vertel daar is ’n pad uit die duisternis, dat daar lig wink, net buite sig, maar jy moet eers daarna streef en hard werk voor jy die lig verdien. Jy moet die donker vergeet. Jy moet die kuns aflê. Maar dis soos om jou lyf agter te laat: Wat bly oor waarvan jy kan seker wees?

...
Jy moet die kuns aflê. Maar dis soos om jou lyf agter te laat: Wat bly oor waarvan jy kan seker wees?
...

’n Paar weke terug tydens ’n aanddiens raak ek oortuig die dominee, ’n kenner van die eindtye en hier om ’n uitnodiging tot bekering te rig, bly na my kyk en ek weet later nie hoe om te sit sodat ek nie aandag trek nie. Hy lyk vir my al kwaaier, daar in sy hoogte bo die doek met die woorde oor heiligheid. Uiteindelik sê hy ongeduldig: “Man, laat staan jou trots.” Ek het steeds geen benul of dit vir my bedoel was nie, maar wat waar is, is dat ek al ’n paar keer tot bekering gekom het, ek en my trots. Bekering is ’n reaksie op twee dinge: vrees vir die donker, en verlange na die lig. Billy Graham begin een van sy boeke met die stelling dat elke mens na twee dinge hunker: om vergewe te word, en om ’n goeie lewe te lei. Daardie hunkering is ’n besonder sinvolle reaksie op iets wat ’n mens seker alleenheid moet noem. Dis asof daardie twee komponente jou in die gemeenskap sal indra.

...
Storie is dikwels reaksie, baie dikwels op iets wat my ontstel het wat ek op die een of ander manier beskryf en bevoel eerder as om dit te onderdruk.
...

Storie is dikwels reaksie, baie dikwels op iets wat my ontstel het wat ek op die een of ander manier beskryf en bevoel eerder as om dit te onderdruk. Na ’n ruk van werk voel ek beter oor wat my oorspronklik gepla het. Ek kry ’n illusie van bemagtiging. Dis net dat ek bly wonder of ’n storie nie ’n baie goedkoop manier is van wegkom van jou verantwoordelikhede nie. Ek bedoel die lees van stories ook. Ek het al baie gelees om te ontvlug. Die afgelope jare werk dit nie meer so goed nie. Ek voel verplig om sekere boeke eerder as ander te lees. Die ontvlugting is nie meer daar nie.

Wat wel help, is die blykbaar alledaagse daad van praat met iemand. Die katartiese metode. Maar waar kom jy aan ’n uitmuntende luisteraar wat nie soveel rand per sessie vra en na ’n uur vriendelik dog ferm rondskuif sodat jy kan loop nie? Die mense wat vriende die nodigste het, is dikwels die mense wat ander eerder wil vermy. Niks wek weersin soos behoeftigheid nie: Wat wil hierdie ou van my hê? Genadiglik kan jy mos sê dat om ’n storie te vertel ’n manier van praat met iemand is. Ek deel dus watter aakligheid ook al met lesers wat soms, of hopelik meer gereeld as dit, self iets daaruit put, iets wat tot hulle spreek, in die gedagtes resoneer, iets van die algemene ervaring en geskiedenis eggo.

Saal ek iemand anders met my gekkigheid op? Natuurlik dwing ’n skrywer sy of haar ellendigheid op. Natuurlik eis jy dat dit, dat jy, oorweeg word. Solipsisme. Skryf is selfsug met allerhande bymotiewe. Jy is ’n ouerwordende ding. Met tentakels wat jy uit blote vasberadenheid gekweek het omdat jy oortuig was jy is iets wat jy nie is nie. Jy het gedink jy is ’n waterwese totdat jy dit in die see gewaag het. Nou kyk jy in desperaatheid rond vir ander drenkelinge om aan vas te hou. En jy gryp wanneer jy kan. Jy kleef aan.

’n Mens kan steeds jou hand aan stellings waag.

  • Om te leef, is om te berou.
  • Vriende meld hulself met groot tussenposes aan.
  • Mense sterf aan belaglike oorsake.
  • Wie gesê het die lewe is vol lag, het seker ’n grap gemaak.
  • Die pleeg van kuns is ’n misdaad.

Ek het twee jaar terug vroegoggend verby ’n verligte reeks vensters geloop. Die vensters was in die eetsaal van ’n hotel. Daar by ’n tafel, sy rug na die saal maar sy voorkant na my, het ’n bekende politikus gesit en staar na sy foon. ’n Pet was laag oor sy gesig, maar dit was hy, kon ek goed sien, wat daar voor ’n bord spek en eiers gesit het eerder as om ’n bestelde toebroodjie in die privaatheid van sy kamer te nuttig. Ek was skepties oor daardie pet oor sy gesig. Verlange na rus en stilte of te nie, hy kon homself nie help nie. Want vermom of te nie, hy wou gesien word, wou die ervaring hê van die sagte psigiese druk van sy medemens. Ek het ’n paar oomblikke gestaan, toe gewonder of ek dan in my vertoef hier self gesien wil word, en geloop voordat hy na my kon opkyk.

Lees en kyk ook:

Jaco Fouché: Oor die army, generasies en selfportrette

Heilna du Plooy: Die kuns van die onvoltooide: die verwerking van trauma in die poësie

Fanie Snyman: Die boek Habakuk as teodisee en teologiese trauma

Anné Hendrik Verhoef: Kunsmatigeintelligensie-Jesus-kletsbotte se uitdaging vir teologie: ’n verkennende studie

Bettina Wyngaard: Verpligte diensplig en soldate se trauma

Zelda Mans: Trauma en verlies in Kamphoer deur Francois Smith

Tom Dreyer: Die groot “Ek is”: heuning uit die karkas van ’n leeu

Johann Rossouw: Oor ons trane, nou – en die mistiese groot trek

HemelBesem: Ons moet mekaar kry by: Wat bedoel jy?

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 1

Kommentaar

  • Ek bevind my in die boonste echelon van die vyftigs en beleef die eindelose sirkelgang as vermoeiend. Soms, vas van voorneme om nie te reïnkarneer nie na gesprekke wat ek lank lomp deurtrap het, sit ek my mond en voet moedswillig weer daarin. Aristoteles het na bewering gesê: ‘Memory is the scribe of the soul.’ Aldus my foonbot omvat sy aanhaling betekenis veel ‘dieper’ as met die eerste oogopslag, bv.: geheue is nie net passief nie, maar 'n aktiewe proses wat ons identiteit en persepsie van realiteit vorm. (Die bot probeer partymaal te hard ‒ op soek na erkenning, raai ek. Charles Bukowski het hoeka gesê: ‘Don’t try’.)

    En so aan.

    Ek vind jou skrywe fassinerend en lei ten slotte af dat intelligente mense wat steeds die kerk besoek, verkeerd geëet het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top