
Vingerafdrukprent: CatsWithGlasses op Pixabay
Johann Rossouw skryf gereelde rubrieke vir LitNet.
1. Jeffrey Sachs van Columbia-Universiteit is een van die wêreld se voorste ontwikkelingsekonome. Sachs is in wese ’n liberaal en voorstander van die sogenaamde reëlgebaseerde wêreldorde. Sachs het die laaste paar jaar groot openbare prominensie verwerf danksy sy volgehoue kritiek op die Amerikaansgeleide Weste se aandeel in die oorlog in Oekraïne. Hy is eweneens ’n uitgesproke kritikus van die huidige Amerikaanse president, Donald Trump. Tydens ’n openbare lesing wat hy op 18 November 2025 by die Universiteit van die Vrystaat oor die ekonomiese ontwikkeling van Afrika gelewer het, het Sachs klem gelê op hoe die VSA tot sowat 2010 nie die nodige aandag geskenk het aan China as opkomende grootmoondheid nie. Nou, het hy aangevoer, het die VSA te laat wakkergeskrik – die Amerikaanse wêreldorde wat ná die einde van die Koue Oorlog triomfantelik deur die VSA in die vooruitsig gestel is, het geblyk ’n dagdroom te wees en vir eers is ’n betreklik onsekere multipolêre wêreld ons voorland.
2. Ondanks Sachs se felle kritiek op Trump, is dit interessant om te let op die feit dat sy siening van die Amerikaanse verwaarlosing van die opkomende China min of meer woordeliks herhaal word in die jongste Amerikaanse Nasionale Veiligheidstrategie. Dié dokument is gedateer November 2025 en uitgereik vroeg in Desember 2025. So word dit op bladsy 19 van die dokument verwoord – natuurlik met die voorspelbare klem op Trump se rol, wat Sachs uiteraard nie deel nie:
President Trump single-handedly reversed more than three decades of mistaken American assumptions about China: namely, that by opening our markets to China, encouraging American business to invest in China, and outsourcing our manufacturing to China, we would facilitate China’s entry into the so-called “rules-based international order”. This did not happen. China got rich and powerful, and used its wealth and power to its considerable advantage. American elites – over four successive administrations of both political parties – were either willing enablers of China’s strategy or in denial.
3. Nog ’n Amerikaanse openbare intellektueel wat óók die afgelope jare eweneens danksy sy kritiek op die Amerikaansgeleide rol in die oorlog in Oekraïne groot openbare prominensie verwerf het, is John Mearsheimer van die Chicago-Universiteit. Anders as Sachs wat sy naam as ontwikkelingsekonoom gemaak het, het Mearsheimer syne gemaak as politieke wetenskaplike – spesifiek met sy teorie van offensiewe realisme soos hy dit uiteensit in sy magnum opus, The tragedy of great power politics (2001; hersiene uitgawe 2014). Mearsheimer omskryf ’n grootmoondheid as ’n staat wat militêr sterk genoeg is om ’n volskaalse konvensionele oorlog teen die magtigste staat ter wêreld op ’n gegewe tyd te voer, waarvoor sodanige moondheid oor ’n sterk genoeg ekonomie moet beskik. Op die keper beskou, kwalifiseer slegs drie state vandag as grootmoondhede, naamlik die Verenigde State van Amerika (VSA), China en Rusland. Mearsheimer voer aan dat grootmoondhede se optrede teenoor mekaar en teenoor ander kleiner state deur drie sake gekenmerk word, naamlik vrees vir mekaar, waaruit die strewe na selfvoorsienendheid, asook die strewe na die maksimalisering van hul mag volg. Hierdie drie kenmerke spruit voort uit die volgende vyf basiese aannames wat Mearsheimer maak:
– eerstens is die staatsgebaseerde internasionale politieke stelsel wesenlik anargisties, wat nie wil sê dit is chaoties nie, maar wel dat daar geen sentrale gesagsliggaam is nie, byvoorbeeld ’n wêreldregering;
– tweedens beskik grootmoondhede per definisie oor die militêre vermoë om mekaar ernstige skade te berokken of selfs te vernietig;
– derdens kan grootmoondhede nooit seker wees van mekaar se bedoelinge nie, wat basies verseker dat hulle mekaar as potensieel vyandig sien;
– vierdens is oorlewing die wesenlike oogmerk van ’n grootmoondheid, wat vereis dat hulle hul grondgebied en hul interne politieke stelsels moet beskerm;
– vyfdens is grootmoondhede rasionele politieke akteurs wat ’n langtermyn blik op sake handhaaf, wat natuurlik nie wil sê dat hulle hul konteks altyd korrek beoordeel nie.
Vir Mearsheimer is dit teen dié agtergrond gesien, onvermydelik dat grootmoondhede met mekaar gaan meeding – militêr, asook ekonomies. ’n Wesenlike deel van die strategie wat grootmoondhede volg om hul grondgebied en politieke stelsels te beskerm, is om streekshegemonie na te streef, wat insluit om geen vyandige staat in sy streek te verduur nie – en sodanige vyandigheid mag insluit dat ’n staat in ’n grootmoondheid se streek met een of meer van die betrokke grootmoondheid se mededingers saamwerk. Volgens sowel Sachs as Mearsheimer is dit presies waarom Rusland Oekraïne op 24 Februarie 2022 ingeval het, nadat die Amerikaansgeleide Weste sedert die laat 1990’s ’n strategie gevolg het om Oekraïne onder Westerse invloed te bring en Rusland sodoende te destabiliseer.
Soos Mearsheimer uitwys, volg álle grootmoondhede ’n strategie gemik op streeksoorheersing – in die geval van die VSA is dié strategie die eerste maal in 1823 geformuleer as die sogenaamde Monroe-leer, waarvolgens die VSA die westelike halfrond as sy streek beskou en waar pogings om sy oorheersing te ondermyn nie geduld sal word nie. Dit is belangrik om daarop te let dat in die bovermelde jongste Amerikaanse Nasionale Veiligheidstrategie word die Monroe-leer nie net eksplisiet op bladsy 5 bevestig nie, maar word ’n sogenaamde “Trump Corollary” daartoe bygevoeg:
We want to ensure that the Western Hemisphere remains reasonably stable and well-governed enough to prevent and discourage mass migration to the United States; we want a Hemisphere whose governments cooperate with us against narco-terrorists, cartels, and other transnational criminal organizations; we want a Hemisphere that remains free of hostile foreign incursion or ownership of key assets, and that supports critical supply chains; and we want to ensure our continued access to key strategic locations. In other words, we will assert and enforce a “Trump Corollary” to the Monroe Doctrine.
4. Elizabeth Burgos (1941—) is ’n uitgeweke Venezolaanse antropoloog en geskiedkundige wat in Frankryk woon. Nadat sy aanvanklik ’n groot ondersteuner was van president Fidel Castro (1926–2016) van Kuba, asook van die sosialistiese president van Chili, Salvador Allende (1908–1973), het sy later ’n felle kritikus geword van Castro, asook van president Hugo Chávez (1954–2013) van Venezuela en dié se politieke erfgenaam en opvolger, Nicolás Maduro (1962—). In ’n onderhoud met Le Figaro op 5 Januarie 2026 maak sy onder meer die volgende punte.
Eerstens sluit sy aan by die jongste Amerikaanse Nasionale Veiligheidstrategie:
Die VSA het ’n operasie gevoer op ’n regsbasis – dwelmhandel wat Amerikaanse burgerlikes dood. Maar in werklikheid is hul oogmerk om ’n strategiese sone wat hulle vir meer as 20 jaar op ietwat naïewe wyse afgeskeep het, te herwin. Hulle het Latyns-Amerika afgeskeep en hulself vertel dat omdat dié lande nie kernwapens het nie, hulle nie Amerikaanse veiligheid kan bedreig nie. En oplaas het hierdie piesangrepublieke ’n baie groot gevaar vir Amerikaanse veiligheid geword.
Tweedens, onder Castro, Chávez en later Maduro het ’n mens te make met die verskynsel van mense wat in die naam van nasionale soewereiniteit en anti-imperialisme aan bewind kom, maar daarna hul lande stelselmatig ruïneer. Onder Maduro het Venezuela se oliebedryf so agteruitgegaan dat die infrastruktuur uitmekaarval; gereelde brande voorkom; die tegnici Kubane is, aangesien die Venezolaanse tegnici padgegee het; en dat maatskappye van regoor die wêreld sal moet inspring om dié bedryf reg te ruk. Die feit dat 8 miljoen van die totale Venezolaanse bevolking van 30 miljoen tans buite Venezuela woon, is vir Burgos verder aanduidend van hoe Maduro die land geruïneer het.
Derdens het die 20 jaar waartydens die VSA Latyns-Amerika afgeskeep het, ruimte geskep vir China en Rusland om hegte ekonomiese en militêre bande met Venezuela te smee, wat inderdaad ’n bedreiging vir die VSA in sy streek begin inhou het.
Vierdens sluit sy aan by die algemene siening dat Maduro die presidentsverkiesing van 2024 gesteel het en voer sy aan dat 90% van die Venezolaanse burgery Maduro se ontseteling deur die Trump-administrasie steun. Sy wys daarop dat Maduro kwalik ontsetel kon word sonder samewerking vanuit sy binnekring met die VSA – en hiervan verdink sy die voormalige vise-president en tans waarnemende president, Delcy Rodríguez, wat sy reken Maduro waarskynlik verraai het. Burgos koester nie veel hoop dat wat in feite nog steeds die Maduro-regime is, binnekort deur die VSA omvergewerp sal word nie, omdat die Venezolaanse veiligheidsmagte lojaal aan die regime is. Voorts is daar paramilitêre milisies in die land, sowel as in Colombië wat vyandig teenoor mekaar staan. Kortom, sou die Maduro-regime val, dan is grootskaalse onstabiliteit en selfs ’n burgeroorlog dalk Venezuela se voorland, wat op sy beurt nie die Amerikaanse strategiese oogmerk van ’n stabiele Venezuela wat met die VSA saamwerk, sal pas nie.
5. Wat word bedoel wanneer gesê word dat Venezuela toenemend ’n bedreiging vir die VSA inhou? Hoewel die Trump-administrasie Maduro beskryf as betrokke by georganiseerde misdaad – en veel gemaak word van Venezuela se oliereserwes – is daar egter minstens twee ander kwessies ter sprake. Die eerste hiervan is die feit dat Venezolaanse olie veral deur China ingevoer word – vir die VSA, wat China as sy vernaamste mededinger beskou, is dit van wesenlike belang dat Venezolaanse olie nie meer die Chinese ekonomie aan die gang help hou nie. Uit die huidige Amerikaanse oogpunt bedreig goedkoop Chinese produkte die Amerikaanse ekonomie, en as die Chinese ekonomie verklein word, pas dit die VSA. Soos die jongste Amerikaanse Nasionale Veiligheidstrategie dit stel:
We have made clear to our allies that America’s current account deficit is unsustainable. We must encourage Europe, Japan, Korea, Australia, Canada, Mexico, and other prominent nations in adopting trade policies that help rebalance China’s economy toward household consumption, because Southeast Asia, Latin America, and the Middle East cannot alone absorb China’s enormous excess capacity. (22)
Die tweede kwessie is die status van die Amerikaanse dollar as die wêreld se reserwegeldeenheid. Volgens die Amerikaanse Tesourie staan die VSA se skuld tans op 37,64 triljoen dollar – terwyl dit in 2005 nog gestaan het op 11,9 triljoen dollar. Die kommentator, Kasper Benjamin, haal onlangs statistiek aan van die Amerikaanse Kongres uit 2021, waarvolgens die feit dat die Amerikaanse dollar die wêreld se reserwegeldeenheid is, die land 100–250 miljard dollar per jaar aan leningskoste spaar. Benjamin wys daarop dat volgens die Internasionale Monetêre Fonds die Amerikaanse dollar se aandeel in die reserwes van reserwebanke wêreldwyd gedaal het vanaf 65,3% van wêreldreserwes in 2016 tot 59,3% teen die derde kwartaal van 2024 – dit is die vinnigste daling sedert statistiek hieroor vanaf 1995 gehou word, en in finansiële terme is dit vir die VSA aardskuddende syfers. ’n Kernrede vir dié toedrag van sake is volgens Benjamin die feit dat China wêreldwyd lenings in Amerikaanse dollar toestaan, maar terugbetaling in die Chinese geldeenheid, die renminbi, vereis. Die heerskappy van die Amerikaanse dollar word hierdeur bedreig, aangesien China en Chinese banke miljarde dollar aan Venezuela geleen het. Ander lande ryk aan olie wat probeer het om die dollar se status te ondermyn deur in ander geldeenhede as die dollar olie te verkoop, het onder die VSA deurgeloop – dit sluit in Irak, Libië en Iran. Soos Benjamin dit wil hê – as Venezuela buite die Amerikaanse invloedsfeer en streek homself kan handhaaf, bied dit aanmoediging vir ander Latyns-Amerikaanse lande soos Ecuador, Colombië en Bolivië om dieselfde te doen.
........
Feitlik enigiemand wat hierdie opstel lees, is waarskynlik gewoond aan die sogenaamde reëlgebaseerde wêreldorde. Baie van ons sal graag so ’n orde wil sien. Feit is egter dat so ’n orde afhang van die mate waartoe die grootmoondhede van die wêreld op ’n gegewe tyd mekaar se invloed balanseer al dan nie.
........
6. Feitlik enigiemand wat hierdie opstel lees, is waarskynlik gewoond aan die sogenaamde reëlgebaseerde wêreldorde. Baie van ons sal graag so ’n orde wil sien. Feit is egter dat so ’n orde afhang van die mate waartoe die grootmoondhede van die wêreld op ’n gegewe tyd mekaar se invloed balanseer al dan nie. Soos Koos Malan dit onlangs in ’n gesprek teenoor my gestel het, was die sogenaamde reëlgebaseerde orde sélf ’n stuk realpolitiek. Om Malan se stelling toe te lig, kan gesê word dat die sogenaamde reëlgebaseerde orde gefunksioneer het aangesien die sogenaamde Atlantiese Bondgenootskap tussen die VSA en Wes-Europa waarop dit berus het, die waarborg daarvoor gebied het. Aangesien Wes-Europa uit die huidige Amerikaanse oogpunt eenvoudig nie meer die militêre of kulturele vermoë het om hulself internasionaal te laat geld nie, is die Atlantiese Bondgenootskap onder groot druk – en bygevolg keer die huidige VSA die sogenaamde reëlgebaseerde orde die rug toe.
Mearsheimer, na wie hierbo verwys is, wys in The tragedy of great power politics daarop dat die era van die Koue Oorlog (1945–1990) betreklik vreedsaam en stabiel was, omdat die twee destydse grootmoondhede, naamlik die VSA en die Sowjetunie, mekaar se invloed kon balanseer. Mearsheimer voorspel ook dat die wêreld weens die opkoms van ander grootmoondhede vandag – soos China en Rusland – ’n onstuimige en bes moontlik nie-vreedsame tydvak binnegaan.
Om by Mearsheimer aan te sluit, kan gesê word dat eers indien die VSA, China en Rusland mekaar se invloed suksesvol kan balanseer, daar weer ooreengekom kan word op reëls en ’n orde wat nuwe stabiliteit kan bring. Uit die huidige Amerikaanse oogpunt is dit presies waarna die VSA streef, en is hul huidige ingryping in Venezuela ’n poging om nader aan sodanige balans met veral China te kom. Dit is om dieselfde rede met betrekking tot Rusland wat die Trump-administrasie hard probeer om ’n einde aan die oorlog in Oekraïne te bring.
Die idee dat Trump die optrede teen Maduro impulsief geloods het, of om die aandag van die Epstein-skandaal af te lei, kan in die lig van Mearsheimer se siening dat state vir die langtermyn beplan, eenvoudig nie ernstig opgeneem word nie. Selfs die liberale Britse dagblad, The Guardian, het byvoorbeeld berig dat die optrede teen Maduro ’n aanloop van minstens vyf maande had, wat betref die militêre en intelligensie-aspekte, terwyl Maduro reeds op 26 Maart 2020 in New York voor ’n Amerikaanse hof in ’n akte van beskuldiging geplaas is vir die aanklagte waarop hy tans teregstaan.
Kortom, die wêreld is tans in ’n onstuimige oorgang. Dit is veral meegebring deur die VSA se afskeping van China en Latyns-Amerika, asook die Amerikaansgeleide Weste se antagonisering van Rusland, tot met die herkiesing van Trump einde 2024. Die onstuimigheid word ironies genoeg vererger deur wat uit die huidige Amerikaanse perspektief ’n strategie is om die invloed van China en Rusland in die geopolitiek met dié van die VSA te balanseer. Dat dit ’n rasionale beleid is, val nie te betwyfel nie. Of dit die gewenste uitkomste sal hê en nie tot meer irrasionele optrede sal lei nie, sal die tyd leer.
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Trump, die Weste en "die res van die wêreld"
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Michel Serres – filosoof van ons tyd en ons toekoms
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Afrikaner(on)geloof en ons geloofsbesering

