Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Michel Serres – filosoof van ons tyd en ons toekoms

  • 1

Uitgewer van boek: Éditions Plon

  • Johann Rossouw skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Sekerlik een van die bekendste beelde uit die Westerse filosofie is Georg Hegel (1770–1831) se beskrywing van die filosofie as die uil van Minerva, die Romeinse godin van die wysheid: “Die uil van Minerva sprei sy vlerke eers wanneer die skemer neerdaal.” Wat Hegel hiermee bedoel, is dat die filosofie ’n era of gebeurtenis eers kan verstaan wanneer dit verby is – om te verstaan kom slegs deur nabetragting. Soos ons hier onder sal sien, het Michel Serres (1930–2019) ’n heel ander siening van die filosofie ten opsigte van ’n era of gebeurtenis gehuldig, maar Hegel se siening dra gewis groot gewig.

So kan ons byvoorbeeld vandag geleidelik ’n nugterder inskatting begin maak van die goue era waardeur die Franse filosofie tussen min of meer 1960 en 2000 is. Dit gaan hier om die sogenaamde post-strukturalistiese Franse denkers wat enorme invloed wêreldwyd uitgeoefen het: Gilles Deleuze (1925–1995), Jacques Derrida (1930–2004), Michel Foucault (1926–1984), Jean-François Lyotard (1924–1998) – asook René Girard (1923–2015) en Michel Serres (1930–2019). Girard en Serres se name word spesifiek apart van die eersgenoemde vier denkers geplaas, omdat hulle bydrae myns insiens nog nie naasteby na waarde geskat is nie, en waarskynlik veel duursamer gaan wees vir redes waaroor meer hier onder geskryf sal word.

Deleuze, Derrida, Foucault en Lyotard was uiteraard elkeen ’n intellektuele reus in eie reg, maar wat minstens Derrida, Foucault en Lyotard gemeen het, is dat hulle stellig al drie bygedra het tot ’n denkskool waarvolgens die Westerse (filosofiese) tradisie tot ’n soort einde sou geloop het, in ’n mate onder verdenking geplaas is en min of meer in ’n doodloopstraat beland het.

Derrida, Foucault, Lyotard: einde van ’n era

Vir Derrida is die Westerse filosofie van begin tot einde saamgestel uit binêre opposisies waarvan die een telkens die ander oorheers – man oorheers vrou, siel oorheers liggaam, die geskrewe woord oorheers die gesproke woord, en so meer. Al wat min of meer vir dié tradisie oorbly, is om dit sogenaamd te dekonstrueer in die hoop dat die wisselwerking tussen die pare skeppender sal wees en verskil eerder as identiteit gevier kan word.

Vir Foucault is die verhaal van die Weste – veral die moderniteit die afgelope vyf eeue – telkens een van uitsluiting, waarin instellings ’n onderdrukkende rol speel en maatskaplike monitering en beheer die hoogste doel is; of dit nou gaan om die gestig, die hospitaal, die tronk of die skool.

Vir Lyotard is die Westerse tradisie op sy beurt een van sogenaamde groot verhale wat telkens die veelvoud van die werklikheid tot een enkele groot gedagte verskraal – of dit nou die Marxisme se verhaal van die geskiedenis as die stryd tussen die proletariaat en die bourgeoisie is, die kapitalisme se verhaal van ’n ekonomie wat altyd bly groei en net nog meer voorspoed vir nog meer mense bring, of die nasionalisme se verhaal van ’n volk wat deur die geskiedenis ’n stabiele identiteit handhaaf en altyd onderweg is na ’n beter toekoms. Aldus Lyotard het ons egter nou die sogenaamde postmoderne toestand bereik, oftewel die einde van die groot verhale, omdat hierdie verhale bloot nie meer geloofwaardig is nie, en omdat ’n nuwe era van inligting ons met ’n veelvoud van kleiner verhale konfronteer.

........
Dat hierdie filosofiese sienings ’n mate van waarheid bevat, is nie te betwyfel nie, maar dit is uiteraard nie die volle verhaal nie. Die ses denkers wat hierbo genoem is, was almal min of meer tydgenote en het dikwels ook in vyand- of vriendskap met mekaar verkeer.
........

Dat hierdie filosofiese sienings ’n mate van waarheid bevat, is nie te betwyfel nie, maar dit is uiteraard nie die volle verhaal nie. Die ses denkers wat hierbo genoem is, was almal min of meer tydgenote en het dikwels ook in vyand- of vriendskap met mekaar verkeer. Veral Derrida, Foucault en Lyotard se denke was rofweg tussen 1985 en 2000 besonder invloedryk in die Afrikaanse wêreld; spesifiek in die letterkunde, die filosofie en die teologie. Een van die redes hiervoor is ongetwyfeld die feit dat dit die era was waarin die apartheidsbedeling ten einde geloop het en agtergelaat is. As ons verneem het die Westerse tradisie is na bewering geneig om altyd binêre opposisies te kultiveer, kon ons dit herlei na die wit oorheersing van swart. As ons verneem het instellings is daarop uit om uit te sluit en te beheer, kon ons dit herlei na ons ervaring van kerk en skool onder apartheid. As ons vertel is die groot verhaal is op ’n einde, kon ons dit toepas op die einde van apartheid.

Dog, daardie era en daardie soort denke is vandag grootliks iets van die verlede, soos wat ook die era van Westerse wêreldoorheersing nou ten einde loop. Ons sal sekerlik altyd ’n Derrida, Foucault en Lyotard as gidse tot die einde van die Weste soos ons dit geken het hê, maar hoe hulle denke verder ontgin kan word, is moeilik om te sê.

Girard en Serres: begin van ’n era

Daarenteen wil dit voorkom asof die sterre van die twee boesemvriende, Girard en Serres, al hoe hoër bly klim. Albei hierdie denkers was briljante literêre stiliste en briljante literatore; albei het die hoogste premie daarop geplaas om streng wetenskaplik te werk te gaan; albei het onbeskaamd universeel probeer dink; albei het onbeskaamd ’n groot verhaal vertel; en albei was Katolieke mistici vir wie geloof en rede, mite en wetenskap nie wedersyds uitsluitend is nie, maar wedersyds aanvullend. Girard se groot verhaal is dié van die religie as die groot dryfkrag van menslike kulturele ewolusie; Serres s’n is dié van die wetenskap en die tegniek wat ons vandag na ’n nuwe wêreld en ’n nuwe mens neem – maar waarvoor ons die oudste verhale van die mitologie en die letterkunde benodig om dit verstaan. As sodanig het Serres in sy lewe en denke ’n weergalose bydrae gelewer om die sinnelose klowe tussen, onderskeidelik, die humaniora en die wetenskap, asook tussen godsdiens en wetenskap te oorbrug. In die res van hierdie opstel word stilgestaan by die lewe en werk van Serres aan die hand van die Franse intellektuele geskiedkundige, François Dosse, se biografie van Serres wat in September 2024 by die uitgewer Plon verskyn het, naamlik Michel Serres: La joie de savoir (“Michel Serres: die vreugde daarvan om te weet”).

In die goue era van die Franse post-strukturaliste het die weg na intellektuele grootsheid onvermydelik geloop deur Parys – al die denkers wat hierbo genoem is, het óf studeer aan die Sorbonne, óf aan die École Normale Supérieure. Serres was by laasgenoemde ’n tydgenoot en aanvanklike vriend van Derrida en albei van hulle was op unieke wyse buitestaander en inkommers – Derrida ’n sekulêre Jood afkomstig uit ’n Frans-Algerynse koloniale familie; Serres uit ’n werkersklasgesin van die suidwestelike stad, Agen, aan die oewer van die Garonne-rivier.

Serres: vorming en persoonlikheid

........
Serres was ’n spreker van die Gaskonse dialek en lewenslank selfbewus oor sy suidelike Franse aksent. Sy pa, Jean, was die eienaar van ’n baggerboot waarmee hy en sy twee seuns sand en gruis uit die Garonne gehaal het, wat dan gelaai is op vragmotors van sy kliënte, naamlik firmas in die bou- en padboubedryf, wat die sand en gruis gebruik het om beton of teer mee te maak. Reeds vanaf ouderdom ses het die jong Serres saam met sy pa begin werk en dit was ontsettend harde, fisieke arbeid.
........

Serres was ’n spreker van die Gaskonse dialek en lewenslank selfbewus oor sy suidelike Franse aksent. Sy pa, Jean, was die eienaar van ’n baggerboot waarmee hy en sy twee seuns sand en gruis uit die Garonne gehaal het, wat dan gelaai is op vragmotors van sy kliënte, naamlik firmas in die bou- en padboubedryf, wat die sand en gruis gebruik het om beton of teer mee te maak. Reeds vanaf ouderdom ses het die jong Serres saam met sy pa begin werk en dit was ontsettend harde, fisieke arbeid. Serres, wat lewenslank ’n hewige aversie aan die politiek had, skryf iewers tussen November 1993 en Maart 1994 soos volg in sy dagboek:

Ek is polities twee maal verkul. Toe ek in Parys opgedaag het met my hande vol eelte van werk met graaf en vurk, het seuns uit die hoë burgerlike stand neergesien op my wat niks van die werkersklas geweet het nie, omdat ek nie, soos hulle, aangehaal het uit Marx se “Kapitaal” of [die kommunistiese koerant] L’Humanité nie. Later in my volwasse lewe was dit een van my swakplekke dat ek hierdie selfde seuns van ryk hoë burgerlikes op hulle woord geneem het toe hulle die mag oorgeneem het om ’n volk en ’n linkervleuel wat hulle nie geken het nie, te verraai. (568)

Hierdie kombinasie van geankerdheid in die alledaagse lewe op voetsoolvlak en sy buitestanderskap sou in ’n sekere sin die vernaamste bron van al Serres se werk word, want sy praktiese ervaring en die liggaam was absoluut wesenlik tot sy denke. Dit sou hom ook lewenslank op gespanne voet met die universiteit as instelling plaas, soos trouens ook met die Franse intellektuele hoofstroom, wat tot ’n pynlike teenstrydigheid in sy persoonlikheid gelei het – terwyl hy lewenslank fel krities hierteenoor gestaan het, was hy tegelyk ook besonder ingestel op erkenning uit hierdie oorde. Terwyl dit dus vir hom enorme persoonlike teleurstellings was dat hy buiten vir een jaar aan die Vincennes-Universiteit tot met 1969 nooit weer ná die verwerwing van sy doktorsgraad (in 1968 oor Leibniz) voltyds in ’n filosofiedepartement aangestel is nie (maar eerder wetenskapshistorikus in die geskiedenisdepartement van die Sorbonne), en eweneens ook nie benoem is as professor aan Frankryk se vermaarde Collège de France nie, was dit vir hom uiters betekenisvol toe hy in 1990 tot stoel 18 van die 40 “onsterflikes” van die Franse Akademie verkies is – dieselfde stoel wat eens beklee is deur een van die grootste Franse denkers ooit, naamlik Alexis de Tocqueville.

In tipies Franse styl is Dosse as biograaf diskreet genoeg om nie op morsige persoonlike detail van sy onderwerp in te gaan nie, maar hy behandel wel ’n kwessie uit Serres se kinderjare wat ongetwyfeld bygedra het tot sy persoonlike onsekerheid, sug na erkenning en geneigdheid tot angs en depressie, naamlik dat terwyl hy en sy pa uiters geheg aan mekaar was, sy ma in hoë mate afstandelik en selfs liefdeloos teenoor haar kinders was. Ofskoon Serres alombekend vir sy hartlikheid, vrygewigheid en liefdevolheid was, was hy tegelyk liggeraak en geneig tot emosie – as voorbeeld van laasgenoemde vertel sy dogter, Hèléne, aan Dosse dat toe Serres se pa in 1963 oorlede is en hul gesin die rit van sewe uur per motor na die begrafnis aangepak het, Serres al die pad gehuil het.

Daar is nog ’n aspek van Serres se kinderjare wat ook vir die Afrikaanse leser vermeldingswaardig is, naamlik sy lewenslange intense liefde vir rugby. Serres het op skool as losvoorspeler gespeel en sy stad se klub, Agen, het in sy geboortejaar die eerste maal die Franse nasionale klubkompetisie gewen. Serres was lewenslank ’n ondersteuner van die klub, het vir lank in die direksie daarvan gedien en eweneens nooit ’n wedstryd van die Hane misgeloop nie. In ’n artikel, getiteld “Die kultus van die ovaalbal”, skryf hy op 4 Maart 1979 in die dagblad, Le Monde, oor rugby en sy klub: “Dis my totem, dis ek en my lidmaatskap, ek en my groep tesame, ons godsdiens, ons geskiedenis en ons gode” (52).

Dis ongetwyfeld veral uit sy liefde vir rugby dat hy van kindsbeen af ’n liefde vir fiksheid en die buitelug ontwikkel het. Hy het sy lewe lank nagenoeg twee uur per dag gestap en hy was eweneens ’n geesdriftige bergklimmer wat tot diep in sy sewentigs berg geklim het, per geleentheid tot so hoog as 5 000 meter in die Himalajas. In sy werk en denke sou hierdie verbintenis tot die liggaamlike ’n groot rol speel, soos in sy wonderlike boek oor die liggaam en denke wat in 2002 verskyn het, Variations sur le corps (in 2012 in Engels vertaal as Variations on the body).

Serres het in die ouderdom van 18 smoorverlief geraak op sy toekomstige vrou, Suzanne, met wie hy in 1952 trou, en saam met wie hy vier kinders sou hê. Suzanne se familie was nog meer Katoliek as dié van Serres en terwyl hy in sy volwasse lewe vir lank op ’n afstand van die kerk was, was sy lewenslank tot met haar dood, vyf maande ná hom in 2019, ’n getroue kerkganger en intens betrokke by gemeenskaps- en liefdadigheidswerk. (Tydens ’n persoonlike ontmoeting met Serres aan huis in 2003 in Vincennes het hy my die mooi staaltjie vertel van sy vrou wat ná ’n ete met die eertydse Franse president, François Mitterrand, in die presidensiële paleis vir haar man gesê het: “God is nie teenwoordig in daardie plek nie.”)

Breuke met ander filosowe

Serres se verbintenis tot die liggaamlike en die konkrete leefwêreld het ’n rol gespeel in een van die vele persoonlike breuke wat hy in sy lewe met medefilosowe beleef het, in dié geval met Derrida. Derrida het sy naam gemaak met sy Franse vertaling van en lang inleiding tot die Duitse filosoof van die fenomenologie, Edmund Husserl (1859–1938), se boek oor die oorsprong van die meetkunde (L’Origine de la géometrie, 1962; in 1978 in Engels vertaal as Edmund Husserl’s origin of geometry: an introduction by Jacques Derrida).

Serres, wat aanvanklik in die wiskunde studeer en briljant daarin presteer het, het heftig met Husserl en Derrida verskil in hul siening dat die meetkunde uit die idealiteit ontstaan. 30 jaar later publiseer Serres sy eie boek oor die ontstaan van die meetkunde, waarvan die titel blyke gee van sy voorliefde vir die veelvoud, naamlik Les Origines de la géometrie (in 2002 vertaal as Origins of geometry). Aldus Serres het die meetkunde sy ontstaan nie soseer in die idealiteit nie as in die realiteit en die liggaamlikheid, waarvan die verhaal van hoe die antieke Griekse filosoof, Thales, die meetkunde help uitvind het deur die verhouding tussen sy eie skaduwee en die skaduwee van die Piramide van Gisa in Egipte eerstehands waar te neem.

Die breuk wat reeds met die publikasie van Derrida se boek oor die meetkunde ontstaan het, was so erg dat Derrida geweier het om Serres te steun in sy aansoek om ’n filosofiepos aan die École Normale, terwyl Serres in 1968 in sy dagboek skryf dat hy nooit verder as die eerste 15 reëls van Derrida se tekste kom nie (274).

Ofskoon filosowe graag lippediens aan die oop gesprek en dialoog betoon, vertel nog noemenswaardige breuke wat Serres met medefilosowe beleef het, ’n ander verhaal. Serres se eerste akademiese pos was in die filosofiedepartement van die Clermont-Ferrand-Universiteit (1958–1968), waar die kennisfilosoof, Jules Vuillemin (1920–2001), asook Foucault kollegas en vriende van Serres was met wie hy een maal per week saamgeëet en intense filosofiese gesprekke gevoer het.

Met die publikasie van die boek wat daartoe gelei het dat Vuillemin as professor aan die Collège de France benoem is, naamlik La Philosophie de l’algèbre (1962; “Die filosofie van die algebra”), was Serres van mening dat Vuillemin vele van sy idees sonder erkenning in die boek gebruik het.

Serres het Foucault insgelyks daarvan verdink dat hy van sy idees gesteel het. Serres skryf in 1963 in sy notas: “Daar is nie so iets soos die mens nie. Die mens is dood. Daar is nie so iets soos die menslike natuur nie, dit weet almal.” Die beroemdste gedeelte in die boek waarmee Foucault in 1966 sy naam gemaak het (Les Mots et les Choses; in 1970 in Engels vertaal as The order of things) handel eweneens oor die gedagte dat die mens as filosofiese konsep dood is.

Foucault het Serres nietemin in 1968 genooi om as kollega in die filosofiedepartement aan die eksperimentele Vincennes-Universiteit aan die buitewyke van Parys by hom aan te sluit, maar in die verhitte politieke klimaat van die werkers- en studenteopstande van daardie jaar het die verhouding tussen die twee filosowe gou verbrokkel. Vincennes was ’n spilpunt van die opstande. Dosse skryf (en haal Serres aan in gesprek met Bruno Latour in 1990):

Soveel as wat Foucault daar soos ’n vis in die water was, alomteenwoordig in al die gevegte, deelnemer aan die algemene vergaderings, soveel het Serres hom teruggetrek in sy doseerwerk en kon hy nie die ideologiese klimaat uitstaan nie. Hieruit ontstaan ’n beslissende gaping tussen Foucault en Serres: “Ons het voeling met mekaar verloor, ná ’n onuitgesproke verskil oor politiek, nee, eerder oor die etiek van dosering, by Vincennes.” (146–7)

Met Serres se leermeester, die kennisfilosoof, Georges Canguilhem, ontstaan daar óók ’n breuk – desondanks die feit dat Canguilhem ná die dood van Serres se pa in 1963 ’n tyd lank sy vaderfiguur was. Die breuk is voltrek toe Serres in sy proefskrif afskeid geneem het van die sienings van ’n vroeëre groot Franse wetenskapsfilosoof, Gaston Bachelard. Bachelard se dogter, Suzanne, het saam met Canguilhem gedien op die jurie vir die verdediging van Serres se proefskrif. Haar reaksie was so woedend dat sy na bewering gesê het dat Serres nie in haar leeftyd sal dien in die filosofiedepartement van die Sorbonne nie.

Filosofiese werk: eerste (strukturalistiese) fase

........
Wat sy filosofiese werk betref, betree Serres sy eerste (strukturalistiese) fase met die publikasie van sy eerste boek, wat ook op sy proefskrif gebaseer is, naamlik Le Système de Leibniz et ses modèles mathématiques (1968; in 2003 in Engels vertaal as The system of Leibniz).
........

Wat sy filosofiese werk betref, betree Serres sy eerste (strukturalistiese) fase met die publikasie van sy eerste boek, wat ook op sy proefskrif gebaseer is, naamlik Le Système de Leibniz et ses modèles mathématiques (1968; in 2003 in Engels vertaal as The system of Leibniz). Hierdie fase duur voort met die publikasie van sy fenomenale reeks van vyf boeke, Hermes, vanaf 1969 tot 1980 (waarvan die volledige vyf volumes in Engelse vertaling sedert 2023 verskyn, dog nog nie volledig nie). Met die verwysing na Hermes, die antieke Griekse boodskappergod, asook die god van die wetenskap en die kommunikasie kondig Serres ook sy lewenslange verbintenis tot die mitologie aan, asook sy verbintenis tot die konsep waaroor hy die heel meeste geskryf het, naamlik die kommunikasie. Met hierdie reeks word hy ook die eerste Franse filosoof – indien nie die eerste filosoof as sodanig nie – wat die oorgang van ’n samelewing gebaseer op produksie na ’n samelewing gebaseer op kommunikasie aankondig. Ofskoon die Hermes-reeks taamlike hardebaardfilosofie is, kan die leser wat die werk van Serres wil leer ken, kwalik met iets beters begin as Serres se wonderlike en besonder literêre boek uit 1993, waarin die metafoor van Hermes afgewissel word met die metafoor van die engele, naamlik La Légende des Anges (in 1995 in Engels vertaal as Angels: a modern myth). Die boek is ’n fiktiewe dialoog wat in die loop van ’n dag afspeel tussen Pia, ’n lughawedokter, en Pantopia, ’n rondreisende lugredery-inspekteur, en waarin die rewolusie wat moderne vervoer- en kommunikasiemiddele teweeg gebring het, aan die orde gestel word.

Filosofiese werk: tweede fase

Serres se werk betree vanaf rofweg 1980 ’n tweede fase wat tot ongeveer 1995 duur. In hierdie fase word sy kombinasie van die mitologie, die letterkunde en die wetenskap tot nuwe hoogtes gevoer. Dié fase word egter reeds aangekondig met sy publikasie in 1977 van La Naissance de la physique dans le texte de Lucrèce (in 2018 in Engels vertaal as The birth of physics). In hierdie boek voer Serres tot die konsternasie van vele ander wetenskapsfilosowe en -historici aan dat die teoretiese grondslae van die fisika sy beslag kry in die Romeinse filosoof en digter, Lucretius (c 99–55 vC), se beroemde gedig De rerum natura (“Oor die natuur van die dinge”). Serres verdedig dan ook daarin ’n nie-lineêre siening van die geskiedenis van die wetenskap, asook sy voorliefde vir warrelwinde, chaos en vertakking (bifurcation).

In hierdie tweede fase van sy werk vorm Serres ook ’n hegte vriendskap met een van die rykste erfgename in Frankryk, Annette Gruner Schlumberger, wat in die vroeë 1980’s ’n stuk grond van sowat 50 hektaar in die suide van Frankryk aanskaf en dit met die jare uitbrei onder die naam van die Fondation des Treilles – in wese ’n manjifieke eiendom waar Serres baie gereeld saam met wetenskaplikes en ander akademici byeengekom het vir seminare en om saam boeke te skryf. Hieruit ontstaan onder redaksie van Serres die ensiklopediese Éléments d’histoire des sciences (1989; in 1995 in Engels vertaal as A history of scientific thought), asook die latere Le Trésor. Dictionnaire des sciences (1997; “Die skat. Woordeboek van die wetenskappe”).

Filosofiese werk: derde fase

Die derde fase van Serres se werk strek vanaf ongeveer 1997 tot 2019. Dié fase word ingelei deur ’n stuk of vyf boeke geskryf vir die breë publiek waarin hy sy siening dat die mensdom danksy die eietydse wetenskap en tegniek ’n nuwe wêreld betree en iets soos ’n nuwe mens gebore word, ontwikkel. Hierdie boeke is onderskeidelik Nouvelles du monde (1997; “Nuus van die wêreld”); Hominiscence (2001; in 2019 in Engels vertaal as Hominescence), L’Incandescent (2003; in 2018 in Engels vertaal as The incandescent); Rameaux (2004; in 2020 in Engels vertaal as Branches); en Récits d’humanisme (2006; in 2025 vertaal as Humanistic narratives). Dis in hierdie boeke dat hy sy visie uiteensit dat die mens vir die eerste maal ’n era betree waarin ons kontak met die wêreld meer deur die nie-materiële (in die sin van media, kommunikasie en tegnologie) as deur die materiële self sal gebeur. Dit is dan ook waarna hy eksplisiet en in afgrensing van sy post-strukturalistiese tydgenote die Groot Verhaal noem.

Dis ook in hierdie fase van sy lewe dat Serres vir alle praktiese doeleindes Frankryk se voorste openbare filosoof word, en wel in die sin dat hy in hierdie laaste 20 jaar van sy lewe op die radio, die televisie, die internet en haas elke ander denkbare medium sy denke na die publiek bring. Wat veral hier uitstaan, is die 14 jaar lank wat hy ’n weeklikse radioprogram van ’n paar minute met ’n joernalis gevoer het. Dosse vertel die staaltjie van hoe Serres een keer per taxi saam met sy uitgewer gery het en oorval is deur emosie toe die bonkige Senegalese taxibestuurder hom aan sy stem herken en as “my filosofieprof” beskryf het.

’n Mens sou nog baie lank kon uitwei oor al die fasette van Michel Serres se lewe en werk, waaronder in die argitektuur en film, asook sy vriendskap met Hergé, die skepper van Kuifie, waaroor hy ook ’n pragtige boek geskryf het, Hergé, mon ami (2000; “Hergé, my vriend”). Of die feit dat hy in die laaste maande van sy lewe, terwyl hy ernstig siek was aan longkanker, sy chemoterapie gestaak het om seker te maak dat hy die nodige helderheid van gees behou om sy laaste boek te skryf, wat hy tegelyk ook as sy belangrikste boek beskou het en waarin hy in gesprek met die werk van Girard die samehang tussen die godsdiens en die wetenskap poëties bedink, naamlik Relire le relié (2019; in 2022 in Engels vertaal as Religion: rereading what is bound together), en wat hy aan die einde van die boek as sy lewenswerk tipeer deur dit soos volg te dateer: “Agen 1945–Vincennes 2019”. Of dat hy in een van sy tallose manjifieke semantiese oordenkings uitgewys het dat in sy oorspronklike betekenis die teenoorgestelde van die woord religie die woord verwaarlosing is.

Michel Serres was ook een van die baanbrekers van die eko-filosofie met sy 1990-boek, Le Contrat Naturel (in 1995 in Engels vertaal as The natural contract). In aansluiting by die invloedryke idee van Thomas Hobbes en Jean-Jacques Rousseau dat die samelewing beslis word op ’n maatskaplike verdrag (in die eietydse volksmond bekend as ’n sosiale kontrak), wat onder meer vertolk kan word as ’n grondwet, lewer Serres in hierdie boek ’n pleidooi vir ’n natuurverdrag, oftewel ’n ooreenkoms tussen die mens en die natuur waarvolgens die natuur tot regsubjek verklaar word. Aanvanklik is sy voorstel met groot skepsis begroet, maar uiteindelik, het hy aangevoer, het dit internasionaal beslag gekry met die Kioto-protokol van 1997, waar vir die eerste keer ooreengekom is op teikens vir die vermindering van sogenaamde kweekhuisgasse wat beskou word as bydraend tot aardverwarming.

Persoonlike herinnering

As die leser my dit sal vergun, sluit ek hierdie opstel af met ’n persoonlike herinnering aan Michel Serres. Niemand het meer gedoen om die eietydse Franse filosofie in Afrikaans bekend te stel nie as CS (Fanie) de Beer (1936—). De Beer het in die veelbewoë jaar van 1976, nadat hy homself aanvanklik met ’n kursus kassette Frans leer praat het, in Parys studeer onder die groot Franse filosoof van die hermeneutiek, Paul Ricœur. Algaande het De Beer daarna persoonlike bande gevestig met ’n hele aantal eietydse Franse filosowe, waaronder Derrida en Serres.

In September 2000 had ek die voorreg om as werknemer van die Franse Instituut van Suid-Afrika in samewerking met die Italiaanse Ambassade ’n kollokwium oor die nuwe millennium by Wits-Universiteit aan te bied. Ons drie buitelandse sprekers was die Italiaanse filosoof, Gianni Vattimo (1936–2023), en twee Franse filosowe en lewenslange vriende, naamlik Régis Debray (1940—) en Michel Serres.

.........
Dit is my en Fanie gegun om ’n lewenslange droom van Michel Serres te help vervul, naamlik om olifante te sien. Ons het hom die dag geneem na die Pilanesberg-natuurreservaat. Uiteindelik het ons by ’n dam aangekom waar ons olifante aan die speel in die water gevind het. Ons het uit die motor geklim en die toneel gadegeslaan. Michel Serres was stil terwyl hy stip en stralend na die spelende olifante kyk en die trane oor sy wange rol.
........

Dit is my en Fanie gegun om ’n lewenslange droom van Michel Serres te help vervul, naamlik om olifante te sien. Ons het hom die dag geneem na die Pilanesberg-natuurreservaat. Uiteindelik het ons by ’n dam aangekom waar ons olifante aan die speel in die water gevind het. Ons het uit die motor geklim en die toneel gadegeslaan. Michel Serres was stil terwyl hy stip en stralend na die spelende olifante kyk en die trane oor sy wange rol.

Ek was bevoorreg om van die groot filosowe van ons tyd te kon ontmoet, maar as denker sowel as mens het niemand ’n groter indruk as Michel Serres op my gelaat nie. Hierdie opstel dra ek aan hom en sy nagedagtenis op. Mag die voorbeeld van sy manjifieke lewe en denke nog lank vir ons, die mensdom, ’n baken bly in die nuwe era wat ons hopelik binnegaan, die tyd van ’n nuwe soort wedergeboorte: hominissensie.

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Om vir eens iemand te wees – oor onlangse studenteprotes in die hartland

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Trump, die Weste en "die res van die wêreld"

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: oor verdiepende samewerking in die Afrikaanse wêreld – gedagtes na aanleiding van Kaapse Forum se derde Hoeriekwaggo-beraad

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Die wêreld op sy kop gekeer – Gilles Kepel oor 7 Oktober 2023 en die voortslepende konflik in die Midde-Ooste

  • 1

Kommentaar

  • Baie dankie, Johann.
    Interessant vir my is dat Serres, ten spyte van sy stelling of dan voorstelling van 'n era waar ons meer deur die nie-materiële beïnvloed gaan word, en daarvan kan ons elke dag getuig, dan tog so uiters aangedaan was toe hy die waterbaljarende olifante aanskou het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top