Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Die wêreld op sy kop gekeer – Gilles Kepel oor 7 Oktober 2023 en die voortslepende konflik in die Midde-Ooste

  • 1

Voorblad via Amazon

Gilles Kepel (1955—) het hom oor die afgelope halfeeu gevestig as een van die wêreld se voorste kenners van die Midde-Ooste en tot dusver in sy loopbaan is meer as 45 doktorale proefskrifte onder sy leiding voltooi. Afgesien van sy moedertaal, Frans, is hy ook Arabies en Engels magtig.

In April 2025 publiseer hy ’n hersiene, bygewerkte weergawe van sy boek, Le Bouleversement du Monde: Du 7 octobre au retour de Donald Trump (“Die wêreld op sy kop gekeer: Vanaf 7 Oktober tot met die terugkeer van Donald Trump”, Parys: Plon). Soos die titel aandui, beskou Kepel die aanval van Hamas op Israel op 7 Oktober 2023 as ’n gebeurtenis wat die wêreld soos ons dit geken het, op sy kop gekeer het. (Bouleversement is een van daardie moeilik vertaalbare Franse woorde wat dikwels ook vertaal word as ontwrigting, maar omdat Kepel aanvoer dat die wêreld soos ons dit geken het, radikaal ná 7 Oktober 2023 verander word, word hier gehou by die vertaling van op sy kop gekeer.)

Die bedoeling van hierdie opstel is bloot om die belangrikste insigte van Kepel se boek weer te gee vir die Afrikaanse leser, aangesien die boek nog nie in Engels vertaal is nie.

Kepel begin deur die oogmerk van sy boek te verduidelik, naamlik “om die tragedie [van 7 Oktober] met sy veelvoudige oorspronge te plaas binne die geskiedkundige konteks van ’n halfeeu, ten einde so goed moontlik tot grepe te kom met die rolspelers en uitkomste, en hulle binne die mees ingeligte gesigspunt moontlik voor te hou aan ’n debat vol teenstrydighede” (37).

Dit is welbekend dat die VSA tydens die eerste ampstermyn van president Donald Trump (2016–2020) gepoog het om vrede tussen Israel en verskeie Arabiese state te bewerkstellig deur die sogenaamde Abraham-verdrae. Op 15 September 2020 word die eerste twee van hierdie verdrae onderteken tussen, onderskeidelik, Israel en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), en tussen Israel en Bahrein. Hiermee het die VAE en Bahrein die eerste Arabiese state sedert Jordanië in 1994 geword om die staat Israel formeel te erken. Kort hierna het Marokko en Soedan ook ingestem om betrekkinge met Israel te normaliseer, maar tot op hede moet die verdrag met Soedan nog onderteken word.

Trump se tweede ampstermyn het in Januarie vanjaar begin. In Julie vanjaar is aangekondig dat die tweede Trump-administrasie hoop om die verdrae uit te brei na Sirië, Libanon en Saoedi-Arabië, terwyl Kazakstan pas in November vanjaar ook ingestem het tot so ’n verdrag.

Kepel het egter sy voorbehoude oor die Abraham-verdrae, omdat dit volgens hom in gebreke gebly het om die Palestyne in te sluit. Om hom te parafraseer: Die aanvalle van 7 Oktober 2023 was ’n soort weerwraak vir onder meer hierdie uitsluiting. Nuwe denke oor die situasie is nodig, waarvan ’n soewereine Palestynse staat deel sal moet wees (40).

Dit is al deur verskeie kommentators uitgewys dat Israel sedert 2006 – en veral onder aansporing van sy huidige Israelse premier en veteraanpolitikus, Benjamin Netanjahoe – gehoop het om Gasa met behulp van Hamas te beheer. Kepel deel hierdie siening en wys daarop dat Israel anderpad gekyk het, terwyl Katar miljoene Amerikaanse dollar in Gasa ingepomp het; tot soveel as 40 miljoen per maand sedert 2018 (45).

Verskuiwings in die Israelse politiek en Hamas

Die Israelse politiek is sedert die stigting van die staat Israel in 1948 aanvanklik oorheers deur die Israelse Arbeidersparty. Dog, met die uitbreek van die Sesdaagse Oorlog op die Joodse feesdag van Jom Kippoer in 1973, is die Arbeidersparty daarna daarvan beskuldig dat hulle aan die slaap gevang is deur die aanval. Volgens Kepel was dit die begin van die relativering van die Israelse Arbeidersparty se houvas op die staat se politiek. Daarenteen, terwyl soortgelyke beskuldigings ten opsigte van die aanvalle van 7 Oktober 2023 ingebring is teen Netanjahoe se Likoed-party, merk Kepel op dat ’n soortgelyke verswakking van die houvas van Likoed op die huidige Israelse politiek nog nie plaasgevind het nie (49).

Pas hierbo is verwys na veral Netanjahoe se strategie om Hamas te gebruik om Gasa onder beheer te hou, wat uiteindelik aaklig skeefgeloop het. Kepel skryf hieroor:

[Die strategie] het daaruit bestaan om Hamas te versterk ten einde die Palestynse owerheid te verswak, en Hamas deur Katar te laat finansier ten einde vir Israel veiligheid op sy suidelike grens te koop. Mnr Netanjahoe het getrap in die strik wat hy wou stel deur afgesien van [Hamas se eertydse politieke hoof, Jahia] Sinwar, die belyning van Hamas se optrede self met die omvattende strategie van die “Spil van weerstand” [teen Israel] beheer vanuit Teheran, te onderskat. Dié “spil” is die speerpunt van die Soenni-spies, wat sedert 7 Oktober 2023 in die sy van Israel gesink is. (50)

Kepel wys voorts op ’n ironiese kinkel in dié kabel:

Gedurende 2020 lei spanning tussen Katar en die leierskap van Gasa tot ’n vermindering van die Katarrese subsidie. Volgens ’n voormalige Israelse minister, Avigdor Lieberman, stuur mnr Netanjahoe persoonlik en dringend die hoof van die [Israelse intelligensiediens] Mossad, Jossi Cohen en generaal Herzi Halevi [destydse bevelvoerder van die Suidelike Front en later hoof van die generale staf ten tye van 7 Oktober 2023] om “te pleit” by Katar om nie die betalings te staak nie.

Die emiraat het dus met die persoonlike betrokkenheid van mnr Netanjahoe ’n ewe teenstrydige as kritieke rol gespeel in die handhawing van die brose balans van die “beheerde oorlog” tussen Israel en Hamas – terwyl die Palestynse vraagstuk deur die Abraham-verdrae van die geopolitieke sakelys uitgevee is. Die aktivering van [die operasie van 7 Oktober 2023] lê die tragiese perke van dié taktiek bloot, maar Doha bly ’n tussenganger sonder gelyke tussen die strydende partye vir so lank as wat die botsing sal duur, en tot daar ’n uitweg uit die krisis gevind word. (97)

In sekerlik sy bekendste uitspraak het die 19de-eeuse grondlegger van die filosofiese skool bekend as die positiwisme, Auguste Comte (1798–1857), eens verklaar: “La démographie c’est le destin.” Oftewel: Demografie is lotsbepalend. Soos dit ’n gesoute ontleder soos Kepel betaam, is hy ook deeglik hiervan bewus, met name met betrekking tot die rol wat demografie in die groeiende steun vir en radikalisering van godsdienstige partye dwarsoor die Midde-Ooste, asook Turkye speel. Hy skryf hieroor:

In al hierdie gevalle word die verskil tussen die vrugbaarheidskoers tussen die tradisionele en die moderne omgewing vertaal in die demografiese erodering van die middelklas en die gelyklopende opkoms van die kinders van groot gesinne wat deel vorm van die landelike uittog na die stedelike buitewyke, wat dan hul konserwatiewe etos soontoe bring en maklik deur rigoristiese [religieuse] aktiviste inkatrol word. (54)

Geopolitiese gevolge

Voorts wys Kepel op ’n aantal geopolitiese gevolge van 7 Oktober 2023 en die Israeli-reaksie. Eerstens wen Iran ten koste van die state van die Arabiese Skiereiland groot aansien in die Moslem-wêreld danksy die Hamas-aanvalle, aangesien Hamas ’n gevolmagtigde (proxy) van Iran in sy dekadelange stryd teen Israel is (125).

Oor China in die Midde-Ooste, waaroor dikwels nie veel gesê word nie, merk Kepel op:

Beijing het nooit die inval van 7 Oktober veroordeel nie, en eweneens nie [Hamas] as “terroristies” beskryf nie. Die ewolusie van China se posisionering is, buiten aanduidend van sy vyandigheid jeens Israel, gedurende die afgelope dekade ’n teken van ’n verharding van sy antagonistiese houding jeens die Weste – en wel onder die gemeenskaplike sambreel van BRICS+. (126–7)

Ook in die geval van Rusland was daar ’n afkoeling van Israel se betrekkinge met Rusland, asook Russiese toenadering tot Iran wat met die oorlog in Oekraïne saamhang:

Die wending in die Oekraïense oorlog vanaf 2023, ondanks Israel se omsigtigheid daarmee om sy “Ysterkoepel”-anti-missieltegnologie met Kiëf te deel, het ná probleme met die beskikbaarheid van toerusting en ammunisie gepaardgegaan met die skielike afhanklikheid van die Russiese leër van ’n Irannese wapentuig wat baie bruikbaar is vir die teikening van die burgerlike bevolking en die aftakeling van die moreel van die vyand. Die Russies-Irannese toenadering is versterk deur Iran se aansluiting by BRICS+ op 1 Januarie 2024, en het gepaardgegaan met ’n gelyklopende agteruitgang van Rusland se verhouding met Israel. (127)

Soos reeds hierbo vermeld, hoop die VSA om ook tussen Saoedi-Arabië en Israel ’n Abraham-verdrag aan te voor. Trouens, gegewe die vername rol wat Saoedi-Arabië tradisioneel as ondersteuner van die Palestyne speel, en gegewe die goeie betrekkinge tussen die VSA en Saoedi-Arabië sedert die 1930’s, is die prys van so ’n Abraham-verdrag van groot waarde vir die VSA onder Trump. Tot dusver staan die Saoedi’s egter nog op die stigting van ’n soewereine Palestynse staat as voorwaarde vir sodanige verdrag (131–2). Wat meer is, is die unieke geopolitiese posisie van die Saoedi-koninkryk:

Die koninkryk [...] beklee ’n unieke geopolitiese posisie, omdat dit oor ’n unieke hulpbron beskik, naamlik sy koolwaterstofreserwes en sy stewige vermoë as enigste “elastiese produsent” ter wêreld. Dit stel hom in staat om met produksie en pryse te speel – en as gelyke te onderhandel met sy vennote wat daarop mik om hul hegemonie oor die “Globale Suide” uit te oefen, naamlik die Chinese, Russiese en Indiese reuse. Dié drie is afhanklik van die vloei en die prys van olie wat Riaad beheer – terwyl dit terselfdertyd voordeel trek uit Westerse wapenvoorsiening en Amerikaans-Europese ondersteuning vir sy binnelandse stabiliteit; ongeag die eb en vloei van die spesiale verhouding tussen Washington en Riaad en die “persoonlike chemie” tussen die twee staatshoofde. (139)

Kepel wys op ’n verdere ironiese dimensie aan die verhouding tussen die VSA en Saoedi-Arabië:

Dis nie die minste van die teenstrydighede nie dat Osama bin Laden se eertydse vaderland nou onder leiding van [die kroonprins] Mohammed bin Salman heelwat van die sleutels tot die lot van die VSA en sy bondgenote hou. (139)

Taksering van Hamas

Vervolgens neem Kepel Hamas onder die loep. Ondanks die heldestatus wat Hamas en sy eertydse politieke hoof, Jahia Sinwar, in sommige radikale linkse kringe wêreldwyd en ook in Suid-Afrika geniet, is Kepel ietwat soberder in sy taksering van wat hy beskryf as Sinwar se tirannie in Gasa:

In The New Yorker van 3 Augustus 2024 verskyn ’n baie deeglik gedokumenteerde artikel van sy hoofredakteur, David Remnick. Die gebruik van marteling teen dissidente, meelopers van Israel, homoseksuele en egbrekers (waarvan die argiewe waarop die Israeli-weermag in Hamas se tonnelstelsel ná 7 Oktober afgekom het en wat op 3 April 2024 deur [die linkse Israelse dagblad] Haaretz gepubliseer is) gee blyke van sy opperste vasberadenheid teen die prys van ongebreidelde wreedheid; selfs teenoor sy nabye vriende, familie en medewerkers. So was dit die geval met een van die Hamas-bevelvoerders wat in onguns verval het, Mahmoed Isjtiwi, afkomstig uit ’n kragtige familie van Gasa en hoof van ’n Zeitoen-elitekommando van die Ezzedin al-Kassam Brigades, wat in 2016 deur ’n Sjaria-hof vir “sodomie” ter dood veroordeel en tereggestel is in ’n era toe Sinwar sy mededingers in sy opmars na absolute mag geterroriseer het. (144)

Kepel wys uit dat die state van die Arabiese Skiereiland óók nie vir hul groot mededinger, Iran, se gevolmagtigde Hamas ooghare het nie:

Gegewe die rol wat hulle moontlik mag speel in die heropbou van Gasa, is dit waarskynlik dat die Soenni-oliemonargieë van die Arabiese Skiereiland hul toekomstige betrokkenheid afhanklik sal stel van die uitskakeling van Hamas, die bondgenoot van hulle aartsvyand, die Islamitiese Republiek van Iran. In so ’n geval sal die Groot Verhaal, waarvolgens Hamas dié beliggaming van Palestynse nasionale heldhaftigheid is, moeilik gevestig word as die herinneringshoeksteen van ’n toekomstige Palestynse staat. (147)

Maar waar pas Egipte in die legkaart in? Dis immers die eerste Midde-Oosterse land waarmee Israel (in 1979) vrede gesluit het, en ongetwyfeld ’n belangrike rolspeler in die Midde-Ooste. Kepel het egter sy bedenkinge oor Egipte se vermoë om wesenlike invloed te bly uitoefen:

Die Nylvallei word vandag versmoor deur sy 113 miljoen inwoners en sy bronne word uitgeput onder die gewig van ’n onstuitbare bevolkingsaanwas. Die antieke Ryk van die Farao’s en eertydse Arabiese reus het verander in ’n oorgewig, artritiese en bysiende entiteit waarvan die moontlike ineenstorting en die gevolglike migrasiestroom waartoe dit sal lei ’n veiligheidsrisiko vir nie net die hele streek nie, maar ook die ganse Middellandse Kom inhou. Dit is iets wat die owerhede van Kaïro deurgaans gebruik as hefboom om subsidies van sowel die Arabiese oliemonargieë as die Europese Unie te melk. (165)

Dan is daar ook nog die kwessie wat Israel se internasionale aansien sedert 7 Oktober 2023 op die lange duur ’n geweldige knou toegedien het, naamlik hoe hy reageer op die aanvalle van 7 Oktober 2023. Kepel skryf:

Vir Netanjahoe, wat die Mossad in sy hoedanigheid as premier beheer, het die uitwissing van Hamas-leiers soos Foead Sjoekr en Ismael Hanijeh [...] neergekom op ’n binnelandse politieke sukses. Terwyl die slagting van die Palestyne van Gasa – as vergelding vir die georganiseerde Jodemoord van 7 Oktober 2023 – teen Augustus 2024 al by die 40 000 mense getrek het, neergekom het op ’n katastrofe vir die beeld van die Joodse staat en universele afkeur gevoed het – sonder dat dit daarmee blyke gegee het van begrip vir die verwonding van die Israelse bevolking deur hierdie ongekende bloedbad – was die uitwissing van die leiers van die “Spil van weerstand” en die vernedering van die Islamitiese Republiek van Iran die draer van ’n simboliese politiek in die guns van die ambisies van die Israelse premier – al was dit op die minste vir sy kwytskelding van verantwoordelikheid vir die veiligheidsmislukking waarsonder die drama van 7 Oktober 2023 nie moontlik sou wees nie. (184–5)

Gevolge vir die internasionale politiek

In die laaste gedeelte van sy boek behandel Kepel die gevolge van 7 Oktober 2023 vir die internasionale politiek, oftewel waarom hy aanvoer dié gebeure het die wêreld op sy kop gekeer. Hy begin deur uit te wys dat die vorige keer toe Israel onverhoeds betrap is deur ’n verrassingsaanval, 40 jaar vóór 7 Oktober 2023, het die daaropvolgende Sesdaagse Oorlog regstreeks gelei tot ’n Moslem-toestroming na Frankryk en Europa, wat uiteindelik in die hedendaagse era gelei het tot groot steun vir nasionalistiese partye aan die regterkant van sowel die Franse as die Wes-Europese politieke spektrum (198–9). So sien ons vandag die opkoms van Islamitiese fundamentalisme onder die kinders van die destydse Moslem-migrante na Europa, welke fundamentalisme deur oliedollars befonds word:

Vasgevang tussen die hamer van hul lande van herkoms, waar hulle nie na hul behoeftes kan omsien nie, en die aambeeld van hul gasheerlande, waar hulle ’n atmosfeer van diskriminasie aanvoel, sien die kinders van die huidige geslag wat met die wending van die millennium gebore is, in hul boesem ’n plaasvervangende Islamitiese identiteitsaanspraak aangroei – wat geleidelik gedeeltelik aan geknaag word deur die Salafisme, die Islamitiese Broederskap en die Jihadisme. Dit word begunstig deur die manna van oliedollars afkomstig uit state wat koolwaterstowwe uitvoer en hierdie herislamisering in ooreenstemming met hul eie ideologieë befonds – met name die Saoediese Wahhabisme – in die hoop om hulself te verskans teen enige binnelandse rewolusionêre opstande. (199–200)

Kepel waarsku ook teen die gevolge wat hierdie toedrag van sake inhou vir Europese lande met geradikaliseerde Moslem-jeugdiges, en wel met verwysing na Aboe Moessab al-Soeri se teorie van Islamitiese opstand in Frankryk:

Volgens Soeri sal die vermenigvuldiging van alledaagse aanvalle en geweldpleging deur Jihadiste teen “sagte” teikens soos onderwysers, joernaliste, omstanders, gebruikers van openbare vervoer, kinders en andere lei tot ’n gewelddadige teenreaksie van die nie-Moslem-bevolking. Hy voorspel dat dít op sy beurt sal lei tot optrede wat tegelykertyd as “Islamofobies” beskryf sal word, oftewel beplande aanvalle op die Joodse burgers waarvoor hy hartstogtelik hoop. Dít sal op sy beurt dit moontlik maak om die massa van sy Moslem-medegelowiges, wat nou sal walg aan Frankryk en sy instellings, te mobiliseer onder die vaandel van radikale Islamisme midde-in ’n gedeelde identiteitsgedrewe belegmentaliteit, waarna hulle genoegsaam gemotiveerd sal wees om tot die daad van opstand oor te gaan. Sodanige bewusmaking sal die eerste fase wees om territoriale enklawes in die “gerassifiseerde” arm woonbuurte te vorm, wat op sy beurt vir Soeri die voorspel sal wees tot die ontketening van ’n burgeroorlog wat sal uitloop op ’n triomfantelike Jihadistiese offensief, wat hy aanmoedig in sy “Oproep om wêreldwye Islamitiese weerstand” [in 2005 aanlyn gepubliseer]. (202)

Vir Israel en die Weste was daar ook verreikende gevolge sedert 7 Oktober 2023: Die militêre onoorwinlikheid van Israel word nie meer aanvaar nie, terwyl die morele leierskap van die Weste verder gedelegitimeer is (214). Israel is ook in ’n ander opsig in ’n al hoe moeiliker posisie, naamlik dié van onvolhoubare spanning tussen Netanjahoe se verregse vennote in sy koalisieregering, wat onderhandelinge met die Palestyne weier, en Israel se Westerse bondgenote en Saoedi-Arabië, wat dit vereis ter wille van ’n tweestaatoplossing (224).

Voorts lei Israel se reaksie op 7 Oktober uiteindelik tot aantygings van volksmoord, terwyl Hamas se optrede lei tot die uitwissing van die “Spil van weerstand” en die verswakking van Iran (228–30).

Ten slotte spel Kepel uit hoe die gebeure van 7 Oktober 2023 en daarna uitspeel vir die Weste en Israel:

Ondanks die strukturele verskille tussen die VSA en Europa is dit in die wêreldkonteks wat die Westerse politieke agenda omvergewerp word deur die ommekeer van die wêreld voortspruitend uit die moorddadige anti-Joodse inval van 7 Oktober 2023 – en sy veelvuldige gevolge. Afgesien van die massaslagting wat deur mnr Netanjahoe in Gasa veroorsaak is en gelei het tot venynige veroordelings en polemieke, het die latere ineenstorting van Hezbollah, die Assad-regime in Sirië, en die sistemiese swakplekke verbandhoudend met die ewolusie van die Iranse regime en sy uiteindelike toegang tot ’n kernwapen internasionale onstabiliteit verhewig. Dit is inderdaad so dat die senutergende versnelling van die verbrokkeling van die fondasies van die internasionale orde soos dit in 1945 ná die nederlaag van die Nazi’s beslag gekry het, nou vermeng word met die botsing tussen dit wat in klandestiene immigrasie en in nasionale identiteit op die spel is, met die gevolg dat die psigiese krisis van die samelewings weerskante van die Noord-Atlantiese Oseaan tot die uiterste gedryf word.

In Europa is die verskerping van “dekoloniale” eise, wat deur die onwaarskynlike koalisie van die “Globale Suide” uitgedra word, gefokus op die beskuldiging teen Israel van ’n volksmoord op die Palestyne van Gasa ten einde die Groot Brandoffer [Holocaust] as strukturerende beginsel van die Bose en die Misdaad teen die Mensdom, soos dit in die tweede helfte van die twintigste eeu beslag gekry het, te relativeer. Dít word nou vervang deur kolonialisme. Binne hierdie gesigspunt word die massamoord in Gasa gesien as die eietydse monsteragtigste uiterste van koloniale massamoorde, met die Joodse staat wat gesien word as die opperste koloniale entiteit van die wêreld. Dié morele anachronistiese herkodering van die geskiedenis maak kolonialisme en sy gepaardgaande doodslag dié terugwerkende ontologiese omskrywing van Europa en die Weste. Daarenteen onthef dit die [vroeëre] uitbreiding van Islam deur middel van jihad en slawerny van alle blaam, aangesien dié beskawing nou in lowende bevrydingsterme omskryf word. (297–8)

Lees ook:

A hugely important book: A reader’s impression of The bitterness of olives by Andrew Brown

Hamas: terroriste of vryheidsvegters?

Is daar hoop vir ’n vreedsame oplossing in die Israel-Hamas-konflik?

21 Voices: Why the Palestinian struggle is a global matter, a reader’s impression

  • 1

Kommentaar

  • Waldemar Gouws

    Baie dankie, prof Rossouw, vir die deel van hierdie inligting en insigte en standpunte. Waar anders sou ek te wete kon kom van die $40 miljoen per maand Kataarse subsidie vir Hamas, of die heersende onmin tussen Iran en die VAE?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top