Hamas: terroriste of vryheidsvegters?

  • 4

Agtergrond: Wonings in Gasa in puin gelê (Foto: Mohammed Ibrahim op Unsplash, 2022). Voorgrond: Standbeeld van Nelson Mandela in Ramallah, die Palestynse hoofstad (Foto: Fjmustak, CC BY-SA 4.0, via Wikimedia Commons)

Hamas is ’n terroriste-organisasie wat die Israeli-regering probeer destabiliseer en wyd terreur saai.

Dis in elk geval wat die Westerse media verkondig.

Die HAT definieer terroris so: 1. voorstander van, deelnemer aan ’n skrikbewind, dade van geweld 2. Persoon wat sonder dat daar ’n konvensionele oorlog aan die gang is, onverwags toeslaan, meesal op niksvermoedende lede van die burgerlike bevolking

Die Oxford-woordeboek definieer terrorist as volg: a person who uses unlawful violence and intimidation, especially against civilians, in the pursuit of political aims.

Die Oxford-definisie, wat politieke doelwitte aan die dade van geweld koppel, is na my mening meer akkuraat.

Maar hier raak dit kompleks, want is dit nie juis iets waaraan beide Hamas en die Israeli-regering hulle op die oomblik skuldig maak nie? Die Israeli’s se aanvalle op skole en hospitale is tog net so onwettig soos Hamas se aanvalle op burgerlikes.

Wat uit die oog verloor word in die retoriek van oorlog, is dat Hamas ook ’n politieke party is, met ’n militêre vleuel. Hulle politieke doel tans? Op kort termyn om die Israeli-regering uit Gaza te kry en om op lang termyn uitbreiding van Israeliese besetting van Palestynse grond te beëindig.

Verhale van Palestyne wat uit hul huise gegooi word sodat Joodse setlaars kan intrek, is volop. So ook verhale van Palestyne wat nie in sekere strate mag beweeg nie, wat passe nodig het om uit Gaza te beweeg en dies meer. Verander net name, en dis presies wat in Suid-Afrika gebeur het tydens apartheid. G’n wonder dus dat die toepassing van hulle politieke beleid die Israeli-regering die etiket van “apartheidregering” laat kry het nie.

Die parallelle tussen Suid-Afrika tydens apartheid en Israel op die oomblik strek wyer. Grond is beperk, en Israel het onderneem om aan enige Jood van enige plek in die wêreld verblyfreg te gee in die Israeli-staat. Nou ja, wat is dan nou eenvoudiger as om mense wat in huise is, op groot skaal uit te sit wanneer Jode verblyf benodig?

........
Gaza in 2023 is min of meer in dieselfde posisie as Distrik Ses in die laat 1960’s en gedurende die 1970’s. En Hamas? Hamas kan in terme van hul politieke doelwitte vergelyk word met die ANC.
........

Gaza in 2023 is min of meer in dieselfde posisie as Distrik Ses in die laat 1960’s en gedurende die 1970’s. En Hamas? Hamas kan in terme van hul politieke doelwitte vergelyk word met die ANC. Soos die ANC het Hamas hulle ook eers vreedsaam verset, maar toe later na ’n gewapende stryd oorgegaan. Soos die ANC is Hamas deur die regering as ’n terroriste-organisasie verklaar.

Dieselfde mense wat deesdae Nelson Mandela as ’n ikoon beskou, verkies om te vergeet dat hy 27 jaar in die tronk deurgebring het nadat hy aan sabotasie skuldig bevind was. Ook hy het die gewapende stryd goedgekeur as die enigste logiese keuse wat oorbly in hul arsenaal van verset teen die apartheidsregering. Mense vergeet dat PW Botha in 1985 aangebied het om Mandela vry te laat indien hy maar net die gewapende stryd sou laat vaar. Hy het geweier.

Daar is ’n spotprent van ’n persoon wat kort na demokrasie sê dinge sou anders wees as Mandela maar net vroeër daar was. Hulle vergeet hy wás vroeër daar, besig om klippe te kap op Robbeneiland.

Geen wonder dus dat die ANC-regering simpatiek staan teenoor Hamas nie. Hulle verstaan dat een persoon se terroris ’n ander persoon se vryheidsvegter is. Hulle verstaan dat geskiedenis uiteindelik die groot gelykmaker is.

........
Dieselfde Mandela wat as terroris veroordeel was, wie se naam nie eens genoem mog word in Suid-Afrika nie, het die Nobelprys vir vrede ontvang.
........

Vandag is dieselfde ANC wat as terroriste-organisasie verban was, die legitieme demokraties verkose regering van die land. Dieselfde Mandela wat as terroris veroordeel was, wie se naam nie eens genoem mog word in Suid-Afrika nie, het die Nobelprys vir vrede ontvang. Mandela-dag word jaarliks gevier as ’n dag van diens aan die gemeenskap. Die Elders, die organisasie wat Mandela begin het, word dwarsoor die wêreld gerespekteer as leiers wat ten gunste van vrede en geregtigheid werk. Wie sou dit ooit in 1985, in die hitte van die stryd om bevryding in Suid-Afrika, kon gedroom het?

Hoe weet ons daar is nie iewers in ’n Israeli-tronksel ’n Palestynse Mandela wat versoening kan bring nie? Hoe weet ons dat, na al die bloedvergieting en oorlog en gewapende stryd, daar nie tog ’n dag gaan kom wanneer Hamas as legitieme leiers erken sal word nie?

Terroris of vryheidsvegter: Is dit nie eintlik maar net semantiek gegrond op die gebruiker se politieke oortuigings nie?

Lees ook:

Wanneer die onderdruktes die onderdrukker word

Is daar hoop vir ’n vreedsame oplossing in die Israel-Hamas-konflik?

Reguit met Robinson: Palestina, Hamas en Israel in 2023

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Notas oor die tragedie van Israel en die Palestyne

 

  • 4

Kommentaar

  • 'Hoe weet ons daar is nie iewers in ’n Israeli-tronksel ’n Palestynse Mandela wat versoening kan bring nie?'. Presies

  • George Redelinghuys

    Dankie vir 'n uitstekende artikel wat seker deur die meerderheid van "goeie" wit Bybelliewende en Yahweh-aanbiddende Afrikaners geïgnoreer sal word weens hulle geesdriftige en onsterflike liefde vir die uitverkore volk, en hulle stamgod, Yahweh.

    'n Mens moet eintlik vra, wat kom eerste: die kuiken of die eier? As Hammas geëttikeer word deur die Westerse media as 'n terroristeorganisasie, wat is die Israeliese regering dan per slot van sake? Gronddiewe en praktisyns van volksmoord? Terroriste met die steun van die Weste, en veral die VSA?

    Vir eens kan ek trots voel oor die huidige SA se regering. Hulle beplan inderdaad die sluiting van die Israeliese ambassade in Pretoria. Halleluja! Hiermee wys hulle dat hulle hart sit op die regte plek, nl. aan die kant van die vertraptes.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top