Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Afrikaner(on)geloof en ons geloofsbesering

  • 5
  1. Anneliese se belydenis

Soos lesers van die aanlyn publikasie, Binne+Land, mag weet, publiseer die redakteur, Anneliese Burgess, elke Sondagoggend ’n rubriek. Anneliese skryf dikwels oor haar intieme ruimtes, soos haar huis of haar tuin, maar op Sondag 19 Oktober 2025 het sy die leser na die intiemste menslike ruimte geneem, naamlik haar geloofspad.

Die aanleiding van haar rubriek was die woede waarmee ’n voormalige intekenaar van Binne+Land haar intekening gestaak het. Waarom? Anneliese som dit so op:

Die rede vir haar tirade is die “byna kompulsiewe nodigheid” van ons skrywers (ek spesifiek) om hulle “ongeloof te bely” en die “kwalik verbloemde oordeel/bietjie neersien op diegene wat nog aan die Bybelse ‘feëverhale’ glo”.

Anneliese gaan voort om te skryf dat sy die voormalige intekenaar se “ekstreem emosionele reaksie wel ietwat verbysterend gevind en sedertdien baie daaroor gedink [het], want as ek so terugkyk op my skrywes oor die laaste paar jaar is dit deurweef met my soeke na sin”. Hierna gaan sy oor tot ’n intiem persoonlike belydenis oor wat, dink ek, met sensitiwiteit beskryf kan word as iets waaraan baie Afrikaners van ons geslag swaar dra, naamlik ’n geloofsbesering:

Ek het op die platteland grootgeword en die kerk was die kulturele lewensaar van ons boeregemeenskap. Ek is kinderkrans toe, was ’n kringleier in die CSV en ons was by elke kerkbasaar, maar ons familie was nie in die NG Kerk nie. Ek het [...] in ’n konserwatiewe Christelike groepering grootgeword. Ons mag nie verwys het na “kerk” nie, want dit was wêrelds – ons het gepraat van “ecclesias” en God was “Yahweh”. Die kerk was streng oor ’n letterlike Bybel-interpretasie, en alles het gedraai om die eindtye wanneer Jesus na die aarde sou terugkeer. “Om te wag vir Die Einde” was die banieropskrif van my kinderjare. My ma se kerk was dié van ’n ystere wéét.

Ek het nog nooit hieroor gepraat nie, omdat my lewe so fundamenteel daardeur gekleur is en ek so lank en swaar aan die God van Vrees gedra het. Dit het niks te doen met “neersien op dié wat in die Bybel glo nie”. En dit het ook niks te doen met ’n verwerping van God nie.

Vervolgens som sy op hoe sy tog haar pad na God (terug)gevind het:

En miskien was dit juis as gevolg van my verlede, maar waarskynlik ook wat gebeur as jy as weeskind in die wêreld staan en jou eie sterflikheid soos ’n vlag begin wapper, dat ek my weergawe van God gevind het. In my kerk van klippe en veld, in die katedrale van kloof en strand. In die kerktorings van bome en berge. In die liturgie van voëlgesang en die gedruis van sonbesies. Die wierook van nat grond ná reën. My kerkklokke is ’n visarend se roep, tussen die rondings van miershope en kranse. My altaarkerse is die flikkerende blitse van ’n donderbui. Of populierbome in die herfs. En my gebed is in stilte.

In die aanhalings van Anneliese lees ek:

– weemoed oor die psigiese besering wat sy as kind opgedoen het weens (soms goedbedoelde?) manipulasie in die naam van geloof, maar wat eintlik dit was wat Johannes de Villiers “leerstellige instemming” noem, oftewel onvoorwaardelike onderwerping aan ’n aantal kille proposisies, of jy nou heimlik daarmee saamstem of nie;

– hartseer oor haar voortspruitende vrees vir ’n strafgierige God, wat heeltemal haaks staan op seker die bekendste omskrywing van God in die Nuwe Testament, naamlik “God is liefde” (1 Johannes 4:8);

– genesing, of minstens ’n mate van genesing van haar geloofsbesering, omdat sy oplaas, eerstens, danksy ’n groeiende bewustheid van haar sterflikheid en weeskindskap (ná die oorlye van haar ouers?) haar innerlike verlange na God oplaas kon erken en, tweedens, via die natuur en stilte God oplaas kon vind;

– dat dit opvallend is dat haar goddelike ervaring van natuur en stilte geraam word deur verwysings na die ouer liturgiese Christendom, met woorde soos katedrale, liturgie, wierook en altaarkerse, oftewel die soort elemente wat kenmerkend is van die Ortodokse, Katolieke of Anglikaanse kerke.

  1. Wie van ons ...

Wie van ons Afrikaners wat vandag ouer as 50 is, kan nie identifiseer met Anneliese se beskrywing van haar skrikwekkende jeugervaring van dit wat as die Christendom aan ons voorgehou is nie?

........
Wie van ons Afrikaners wat vandag ouer as 50 is, kan nie identifiseer met Anneliese se beskrywing van haar skrikwekkende jeugervaring van dit wat as die Christendom aan ons voorgehou is nie?
........

In my geval onthou ek hoe beangs ek dikwels vanaf ongeveer die ouderdom van 10 of 11 gewonder het of ek wel binne die wil van God leef of nie; my knaende onsekerheid oor hoe om dié vraag op te los en wat met my gaan gebeur as ek nié binne daardie wil leef nie; enorme skuldgevoelens oor die begeertes (vir bloot ’n soen) wat kalwerliefde in my aangewakker het; hoe ek in ’n vlaag van besieling (of waansin) ná my charismatiese bekering op ’n CSV-kamp in standerd nege etlike plate van metal- of alternative-groepe middeldeur gebreek het.

In my eerstejaar as teologiestudent aan Tukkies – 1989 – het my bevryding uit dié bekrompenheid begin met die besoek van die Voëlvrytoer aan Tuks einde Februarie van daardie jaar, asook my ontdekking aan die einde van daardie jaar van Nietzsche en sy vernietigende kritiek op die Christendom – of, meer spesifiek, op die piëtistiese, wettiese weergawe daarvan wat hy deur sy liefhebbende Lutherse ouma en ma ingegee is.

Teen Augustus 1990 was ek trouens gedompel in ’n volskaalse eksistensiële krisis – van die “geloof” wat my as kind en tiener georiënteer het, was daar niks oor nie, en ook niks om dit mee te vervang nie. ’n Mate van verligting het gekom toe Johan Degenaar in ’n lesing oor Nietzsche in ’n klein teatertjie in die Staatsteaterkompleks my aan ’n ánder Nietzsche as die vernietigingsbeluste “filosoof met die hamer” voorgestel het, saamgevat in die volgende lieflike aanhaling uit “So het Zarathoestra gespreek” (wat ek vandag nog nie hardop kan aanhaal sonder om bewoë te word nie): “En tog moet ’n mens chaos in jouself hê ten einde geboorte te skenk aan ’n dansende ster.” Ek was in innerlike chaos gedompel, maar minstens was daar nou hoop ...

My ervaring as eers Zen-monnik en later, sedert Mei 2019, Ortodokse priester het my geleer dat moderne mense gevorm deur die Westerse tradisie in hul volwasse lewe eers ernstig oor geloof begin dink wanneer daar ’n skeur in hulle werklikheid kom – gewoonlik weens een of ander groot verlies en/of sterflikheidsbesef (soos ook bevestig deur die aanhaling van Anneliese hierbo). Voor daardie skeur in jou werklikheid nie plaasvind nie, glo ons almal heimlik aan die groot fiksie van Immanuel Kant, naamlik dat ons deur ons rede selfstandigheid kan verwerf en, wanneer daardie selfstandigheid eers verwerf is, dit óns is wat ons keuses maak en ons lot bepaal. Afrikaners bo 50 jaar oud het feitlik sonder uitsondering as kinders blootstelling aan hierdie fiksie gekry, omdat deel van dit was wat in die naam van geloof aan ons oorgedra is – die idee was dat jy eers “werklik gered” is as jy as individu selfstandig genoeg was om die keuse vir bekering en geloof te maak. In uiterste gevalle is hierdie idee geradikaliseer deur aan te voer dat slegs ’n “grootdoop” aanvaarbaar is, aangesien slegs iemand wat oud genoeg is, in staat is om die nodige selfstandigheid as voorwaarde vir die keuse tot bekering en geloof te maak. (Dit was al reeds ’n radikale afwyking van die klassieke Christelike tradisie se siening dat Godsgenade vir ons beskikbaar is en bly, ongeag ons individuele keuse, maar dis ’n ander gesprek.) Dis eintlik maar net die Westerse moderniteit van die afgelope twee eeue of meer – wat ’n absoluut vormende effek op die Afrikanerkultuur uitgeoefen het en steeds uitoefen – wat afgewyk het van die sober tradisionele siening van die mens as ten diepste ’n brose, diepe afhanklike wese.

’n Klassieke voorbeeld van hierdie afhanklikheidsbesef uit die tradisionele wêreld is dié van Meester Dōgen (1200–1253), die grondlegger van die Sōtō Zen-skool waarin ek voorheen gepraktiseer het. Hy was waarskynlik ’n buite-egtelike kind en sy pa was nie deel van sy lewe nie. Sy ma sterf toe hy sewe was, en volgens die legende het Dōgen intens bewus geword van die verganklikheid van dinge toe hy op sy ma se begrafnis staan en staar het na die rook van ’n wierookstokkie – die skeur in die werklikheid waarna hierbo verwys is.

Die mens kan ten ene male nie funksioneer sonder om in iets hoër as sigself te glo nie – of dit nou God, die eie groep, die wetenskap, een of ander ideaal, of wat ook al is. Aldus die Platonies-Christelike tradisie, waarvan die Ortodokse en Katolieke kerke in die Christendom nog steeds die belangrikste draers is, word hierdie verlange na iets hoër as sigself verstaan as die aangebore menslike verlange na God. ’n Skeur verskyn in die mensdom se kollektiewe werklikheid wanneer die oorspronklike gemeenskap tussen mens en God met die tragiese gebeure in die Tuin van Eden verlore gaan – en sedertdien verlang die mens na die herstel van daardie gemeenskap, soos ’n salm wat teen die stroom op na die oorsprong van die rivier swem. (Die debat oor die “geskiedkundige” feitelikheid van die Genesis-verhaal mis die punt, naamlik dat hierdie verhaal gaan oor die diep menslike ervaring van iéts wat ontbreek in ons werklikheid, iéts wat verlore gegaan het en wat ons wil herstel.)

  1. Die dubbelsinnigheid van die (Afrikaanse) Christendom

As daar een eietydse filosoof is wat ’n oog gehad het vir hoe dinge eeue gelede al in die Christendom sowel reg as verkeerd geloop het, is dit Ivan Illich (1926–2002). In ’n reeks onderhoude oor sy werk met die Kanadese radiojoernalis en ook later sy biograaf, David Cayley, haal Illich ’n oeroue wysheid aan: “Die korrumpering van die beste, is die slegste.” Volgens Illich is dit wat met die Christendom gebeur nadat dit die staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk word. Voor die bekering van die eerste Christelike Romeinse keiser, Konstantyn die Grote, in 312, was die Christendom werklik ’n gemeenskapsgodsdiens sonder beduidende mag, waarvan die oortuigingskrag in die voorbeeld van haar aanhangers gelê het. Die kerkgeskiedkundige, Alan Kreider, voer byvoorbeeld aan dat die wyse waarop Christene hulleself tydens ’n uitbraak van die pes in die derde eeu ten spyte van groot gesondheidsrisiko’s ontferm het oor siekes – of hulle nou Christene was of nie – een van die groot stukragte in die groei van die pre-Konstantynse Christendom was.

Vanaf Konstantyn kry die Christendom toegang tot voorheen ondenkbare bronne – maar dit kom teen die prys van die immer teenwoordige versoeking om eerder die kant van die magtiges as die weerloses en verdruktes te kies. Dwarsdeur die geskiedenis van die Christendom sedertdien is daar dus ’n dubbelsinnigheid – het ons te doen met ’n Christendom wat aan dié versoeking toegee, of nie? Dwarsdeur die geskiedenis van die Christendom sedertdien is voorbeelde na albei kante toe – van kerkleiers en leke wat hulle aan die kant van mag of aan die kant van die weerloses geskaar het (en dikwels ook iewers tussen-in was).

Die Afrikaanse Christendom is geen uitsondering hierop nie. Om maar een voorbeeld te noem: Terwyl die Nederduits-Gereformeerde Kerk (NGK) na my beste wete die enigste in die geskiedenis is wat vanuit ’n globale korporasie gestig is, naamlik die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), het dit eweneens vanaf sy vroegste jare wesenlike geestelike en maatskaplike werk onder sy lidmate (en later wyer) gedoen.

’n Mens sou lank kon uitwei – en debatteer – oor die geskiedenis van die grootliks Protestantse Afrikaanse Christendom, maar waarop die fokus hier geplaas word, is op wat daarmee gebeur ná 1948, veral dan die NGK. In soverre die kerk veronderstel is om eerstens haar lidmate en nie die staat te dien nie, beleef die NGK myns insiens ’n soort goue eeu tussen 1850 en 1950. Dit is in hierdie 100 jaar dat die NGK oorgaan tot die bou van Afrikaanse kerkskole, waarsonder die uitbou en modernisering van Afrikaans moeilik sou gebeur het. Dit is in hierdie 100 jaar dat die NGK reusewerk met maatskaplike sorg begin doen. Dit is in hierdie 100 jaar dat die NGK oorgaan tot die vertaling van die Bybel in Afrikaans. En net om maar weer te bevestig dat daar ook ’n ander kant in selfs hierdie “goue eeu” was, moet die noodlottige besluit oor die “swakheid van sommiges” uitgewys word – toe op die sinode van 1857 ingestem is dat wit lidmate wat verkies om nie die Nagmaal saam met bruin lidmate te gebruik nie, toegelaat moet word om dit so te doen ...

Ná 1948 gebeur met die NGK wat trouens met die hele georganiseerde Afrikanerwêreld gebeur het, naamlik dat die NGK sy gewig toenemend eerder by die staat as by sy lidmate ingooi, omdat geglo is dat ook die lidmate se belange die beste beskerm kan word deur met die staat te belyn (die verhaal van post-koloniale Afrika). Dis vandag met agternawysheid maklik om dít te veroordeel, maar destyds het belyning met die staat vir Afrikaners na die logiese keuse gelyk – dog, soos ek al meermale geskryf het, het die Afrikaners daarmee mettertyd die spieëlbeeld van die koloniale staat geword, pleks van om die koloniale staat tot iets waarlik demokraties te omvorm. Ja, Afrikaners sowel as die NGK se belange is op grootskaal bevorder en uitgebou, maar vandag weet ons almal teen watter enorme (morele) prys dit gekom het – en hoe die skaduwee daarvan vandag nog oor ons hang.

As ’n mens teruggaan in die geloofsbelewenis en aanbiddingspraktyke van Afrikaners in die honderde jare tussen 1652 en 1948, is daar getuienis dat dit soms meer misties en liturgies ryker as mettertyd ná 1948 was. Een voorbeeld: Net soos in die Ortodokse Kerk, is die Heilige Kommunie/ Nagmaal in hierdie jare gevier deur een kelk te deel – dit is eintlik eers vanaf die Groot Griep in 1918 dat die gebruik ontstaan het dat elke lidmaat die wyn uit ’n eie kelkie sou drink.

Nog ’n voorbeeld: Karel Schoeman skryf Verkenning (1996) teen die agtergrond van uitvoerige navorsing oor sendingwerk in die Kaapkolonie waarmee hy terselfdertyd besig was. Een van die karakters waarin hierdie navorsing verwerk is in Verkenning is die proto-Afrikaner en boer van die Oosgrens, Langenbrink. Die naamlose jong Nederlander en verteller van Verkenning beskryf Langenbrink se mistiese geloofsbelewenis soos volg.

Die verdeling van die Rooi See is vir hom meer sinvol en onmiddellik as die blokkade van die Europese hawens, ’n tasbare muur op regter- en op linkerhand, en ons klein trek van waens en osse reis in die skadu van dieselfde almagtige hand wat die waters vir die Israeliete geklief het; elke verre blou berg in hierdie landskap, eensaam teen die horison, sou Sinai, Horeb of Nebo kan wees, en soos ons van tyd tot tyd ’n groepie versukkelde Bastaards in die verlatenheid teëkom met hul skaaptroppe en hul waens, sou engele en godsgesante ons ewe goed met hul bonatuurlike opdragte tegemoet kan reis, stralend van heerlikheid op hul pad deur die bossies en die verdorde gras. (Schoeman 1996:271)

’n Soort Boerenatuurmistiek sou Langenbrink se geloofsbelewenis genoem kon word – en ’n aanhaling wat nogal herinner aan die aanhaling hierbo van Anneliese se beskrywing van haar eie natuurmistiek.

Dog, soos reeds hierbo vermeld, was dit geleidelik ánders ná 1948. Die moderne staat orden, kategoriseer, standaardiseer en abstraheer; die koloniale staat des te meer. Terwyl die Protestantse tradisie reeds geneig is tot leerstellige instemming as dié definisie van geloof, soos veral beliggaam in wat bekendstaan as konfessionalisme, oftewel die neiging om geloofsbelydenisse te vermenigvuldig en van lidmate absolute instemming daarmee te verwag, kan gepostuleer word dat met die verstaatliking van die Afrikanerprotestantisme ná 1948 in ’n koloniale staat die neiging om geloof as leerstellige instemming te verstaan eenvoudig verhewig is deur die kombinasie met die staat se sug na ordening, kategorisering, standaardisering en abstrahering. (Natuurlik is ook dit nie die volle verhaal oor dinge ná 1948 nie – die eerste Afrikanerweerstand teen apartheid hét immers ook begin by teoloë en dominees in die 1950’s ...)

Dit is presies waarvan Anneliese getuig as sy verwys na die geloofsgemeenskap van haar jeug:

Ons mag nie verwys het na “kerk” nie, want dit was wêrelds – ons het gepraat van “ecclesias” en God was “Yahweh”. Die kerk was streng oor ’n letterlike Bybel-interpretasie, en alles het gedraai om die eindtye wanneer Jesus na die aarde sou terugkeer. “Om te wag vir Die Einde” was die banieropskrif van my kinderjare. My ma se kerk was dié van ’n ystere wéét.

So kan sekerlik elke Afrikaner bo 50 vandag getuig van sy of haar eie variasie hierop in die kerke van ons jeug. Van mistiek, verwondering, verlange, die poëtiese – die affektiewe – was daar geen sprake nie: Die letter verdryf altyd die gees ...

Dit is dan ook die verhaal van sekerlik die meeste van ons dat sodra ons blootstelling ’n bietjie meer geword het – gewoonlik ná skool – die vertwyfeling oor die geloof van ons jeug begin het. Sommiges sou dit heeltemal verloor, selfs aggressief verwerp. In my geval onthou ek byvoorbeeld hoe ek en my beste universiteitsvriendin een oggend in my tweede jaar iewers op die Tukkie-kampus sit en gesels het oor my worsteling met my jeuggeloof, wat teen daardie tyd álle geloofwaardigheid vir my verloor het, en waarteen ek trouens met groeiende wrewel en woede gereageer het – soveel so dat ek daardie oggend Paulus se sendbriewe met één gebaar uit my Bybel geskeur het.

Andere het vir die gebrek aan affek in ons jeuggeloof probeer vergoed deur heeltemal na affek oor te hel; dit wil sê, by een of ander charismatiese gemeenskap aangesluit – as die geloof van ons jeug die rede ten koste van die hart beklemtoon het, is dit natuurlik net mooi andersom met die charismatiese gemeenskappe. Feit is, die Protestantse kerke van ons jeug het self finaal die manjifieke ou Christelike sintese tussen rede, geloof en affek verloor. So het elkeen van ons maar aangekarring met een of ander brokkie van die volle prentjie.

Dit is ook nie asof die kerke van ons jeug nie ook sedert die einde van die apartheidsbedeling en die skeiding met die koloniale staatstruktuur hand in eie boesem gesteek het nie; inteendeel.

  1. Die pad huis toe

Een van die sterkste impulse in die mens – indien nie die sterkste nie – is die impuls om te aanbid. As die mens dan aldus die klassieke Christendom soos die salm op soek na die oorsprong van die rivier op soek is na die God met wie die mens gemeenskap verloor het en dit weer wil herstel, dan gaan daardie impuls tot aanbidding op een of ander manier in ons lewens vorm aanneem – of dit nou, soos reeds hierbo gemeld, die aanbidding van God, die wetenskap, die eie groep of een of ander hoër ideaal is; of watter ander vorme dit nou ook al mag aanneem. Ons wíl ons ten ene male aan iets hoërs en meer as onsself oorgee.

Reeds hierbo is verwys na iets tragies omtrent die jeuggeloof waarmee Afrikaners ouer as 50 opgegroei het, naamlik dat dit destyds al soveel verloor en vergeet het van wat die hoogtepunte en sinteses van die klassieke Christendom is. Iets hiervan word vermoedelik ook intuïtief deur ons aangevoel en uitgedruk deur die aanklank wat ons vind by aspekte van die klassieke Christendom, sonder dat ons noodwendig daarby aansluit. Hoekom gaan stap duisende van ons andersins die camino? Hoekom word ons andersins so aangegryp deur ou kerke en katedrale? Hoekom steek ons andersins vir iemand ’n kersie op?

Wat die vraag laat ontstaan: Waarom dan nie maar jou volledig oopstel vir die klassieke Christendom nie, pleks van om stééds op jou eie terme met hierdie en daardie fragmentjies van die hele katedraal oor die weg te probeer kom?

Die Heilige Thomas Aquinas (1225–1274) se korpus beslaan meer as agt miljoen woorde. Daar kan min twyfel wees dat hy een van die grootste denkers in die geskiedenis is. Aquinas het reeds in sy tienerjare teen die sin van sy gesin die huis verlaat om ’n monnik te word. Dat hy ’n model van die Christelike geloof op haar heel beste is, val nie te betwyfel nie – ’n briljante voorbeeld van hoe geloof, rede en affek volledig geïntegreer word ten einde ’n volwaardige persoon te wees, soos wat die klassieke Christendom die begrip van die persoon dan ook omskryf. (Aquinas se bynaam was die Os – nie slegs omdat hy liggaamlik so sterk was nie, maar ook omdat hy ’n lewensgenieter was wat almal onder die tafel in kon drink.)

’n Mens sou verwag dat Thomas in sy reusekorpus met betrekking tot die lewe van die gelowige heelwat oor die begrip religie sou skryf – en tog verwys hy kwalik na die begrip. Waaroor hy (ook as monnik) dit wel dikwels met betrekking tot die lewe van die gelowige het, is die begrip habitus. Die Thomistiese kenner, Fergus Kerr, skryf in sy Thomas Aquinas: a very short introduction (Oxford University Press, 2009) soos volg oor die begrip:

The English word “habit” means a good deal less than Thomas’s word “habitus”, or, lying behind it, Aristotle’s “hexis”. As Thomas notes (Summa Theologiae 1/2.49.1), the words, in Greek as well as Latin, are rooted in some kind of “having”: isolated acts of generosity or whatever, are one thing; what Thomas and Aristotle have in mind are stable dispositions which a person acquires over the years, enabling him or her to readily act in this or that way. (Kerr 2009:71)

Hierdie aanhaling verwys inderwaarheid na iets wat by Sokrates, Plato en Aristoteles beslag kry, naamlik dat persoonlike integrasie iets is wat gebeur deur die volgehoue beoefening van praktyke wat oplaas lei tot ’n stabiele karakter, ’n gekultiveerde geaardheid wat maak dat dit as’t ware tweede natuur word om die regte ding te doen. Die soort dissipline wat hier na verwys word, is wêrelde verwyderd van die soort dissipline waarvan Afrikaners bo 50 almal meewarig kan getuig – om die regte ding uit vrees te doen, pleks van uit oortuiging. Nee, die opvattings oor dissipline en karakter wat by die ou Griekse filosowe beslag kry, het dit daaroor dat ons die regte ding doen omdat ons na die goeie verlang – dit is juis uit verlange na dit wat ons van nature nastreef, na dit wat ons nie wil ontbeer nie, wat ons oefen en oefen tot dit ons geaardheid word om die regte ding te doen.

Afrikaners bo 50 verstaan hierdie benadering tot dissipline minstens in een opsig baie goed, naamlik dat baie indien nie die meeste van ons nie geesdriftige fiksheidsentoesiaste geword het. Ons oefen in die gimnasium, ons ry fiets, ons swem, ons stap, ons doen pilates en joga, en wat nog. Hoekom? Omdat ons ingesien het – en al aan’t oefen ook eerstehands begin beleef het – dat om die goeie in hierdie opsig te smaak, oftewel gesondheid en al die ander voordele wat met fiksheid kom, uiteindelik baie aangenaam is. Ons is bereid om daardie dissipline aan te leer, want om sonder daardie vorm van die goeie te gaan, is nie vir ons aangenaam nie.

Toe ek die eerste maal formeel by ’n Zen-sangha (gemeenskap) aangesluit het, dit wil sê September 2001, kort voor my 31ste verjaardag, was een van die eerste dinge wat aan my geleer is dat wanneer ’n mens met zazen (sittende meditasie) begin, dit aanvanklik baie moeilik is; wanneer jy dit uiteindelik onder die knie gekry het, is dit egter baie moeilik om dit nié te doen nie. Oftewel, ’n geestelike ekwivalent van wat soveel van ons Afrikaners bo 50 op fisieke gebied beoefen en onder die knie gekry het.

........
Toe ek die eerste maal formeel by ’n Zen-sangha (gemeenskap) aangesluit het, dit wil sê September 2001, kort voor my 31ste verjaardag, was een van die eerste dinge wat aan my geleer is dat wanneer ’n mens met zazen (sittende meditasie) begin, dit aanvanklik baie moeilik is; wanneer jy dit uiteindelik onder die knie gekry het, is dit egter baie moeilik om dit nié te doen nie. Oftewel, ’n geestelike ekwivalent van wat soveel van ons Afrikaners bo 50 op fisieke gebied beoefen en onder die knie gekry het.
........

Dit was in die Zen wat ek destyds geleer het wat die waarde – eintlik die noodsaak – van ’n geoefende geestelike lewe binne ’n lewende tradisie is. Toe ek oplaas ontdek dat dit presies is wat die Ortodoksie ook leer, oftewel dat ek ’n habitus as Christen kon beoefen, was die verligting enorm: Ek het die pad huis toe gevind. Ek het ontdek dat dit wat aan my geslag Afrikaners as geloof oorgedra is, eintlik bloedarmoedige leerstellige instemming vermeng met vrees was, oftewel die teenoorgestelde van geloof.

Geloof, daarenteen, is volledige oorgawe omdat ek nie anders kan nie, omdat die verleiding van die goeie so soet en so onweerstaanbaar soos die borste van ’n godin of ’n uitmuntende gedig of meesleurende musiek is. Terwyl die geloof van ons jeug ons persoonlike integrasie nie net gestrem het nie, maar inderwaarheid onmoontlik gemaak het – en ons almal met ’n geloofsbesering gelaat het – het ek oplaas ontdek dat geloof as mistiese oorgawe aan die Misterie van die Liefde, Christus, die eintlike pad na persoonlike integrasie is.

Dit is nie leerstellige instemming nie, maar instemming met dit waarvan álle leerstellings ten beste gebrekkige pogings is om iets daarvan vas te vang. Dit is waarom die groot Ortodokse teoloog, die Heilige Gregorius die Teoloog (van Naziansus), geskryf het alle teologie is die gestotter van vissermanne. Presies dieselfde gestotter as dié van ’n man wie se woorde hom verlaat wanneer hy die eerste maal die liefde van sy lewe ontmoet en nie weet wat om oor of vir haar te sê nie. En dan is dit beter om soms net oor te gee en te swyg. Het die Heilige Thomas nie immers ná die laaste viering van die Heilige Mis, oorval deur die misterie daarvan, na sy skriba gedraai en oor sy korpus van agt miljoen woorde verklaar dat dit in vergelyking met dié misterie “alles strooi is” nie?

In daardie heilige stilte lê die diepste genesing van die geloofsbesering; in stilte, die rus. 

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Gesprek met Jo Prins en Francois Bekker oor Johann en Jo se geestelike reise

  • 5

Kommentaar

  • Lizelle Henegan

    “… die verleiding van die goeie so soet …” Presies die rede vir my terugdraai ook op my moeilike geloofspad, as 52-jarige.

  • Basies 'n oorsig God se oorsrong, sy ewidurende bestaan en sy regering en betrokkenheid by die mens en die uiteindelike bestemming van die duisende, miljoene afgestorwe mense se geeste.

  • Lynette du Plessis

    Sjoe Johann, jy druk al die rou knoppies in my gees met hierdie intense ryk ervaringe. Ek wil meer weet.

  • Ek het met afwagting alles opsy gesit om na die gesprek op 26 Februarie 2026, tussen die aanbieders van Op en Wakker op RSG, en Johann Rossouw en Anneliese Burgess, te luister oor “Waarom ongelowiges, gelowiges wil bekeer?” en hoekom ateïste so ywerig gelowiges probeer oortuig dat die Bybel net feëverhale is. Om die minste daarvan te sê, was dit ‘n eensydige, neerbuigende (patronising) verheerliking van hulle “geloofsbesering,” waar die twee gaste mekaar se beelde voortdurend gepoets het. Nadat ek het ‘n vriend vir sy opinie gevra het om na die potgooi te luister, het hy my na hierdie artikel verwys.

    Ek is teleurgesteld maar nie verbaas nie. Die artikel lees soos ‘n sameflansing van aanhalings uit die skrywer se ander artikels, om die leser op ‘n voëlvlug te neem; vanaf Adam en Eva, Plato en kie, oppad na Konstantyn, Thomas Aquinas se agt miljoen woorde, ‘n wyle by Friederich Nietzsche te vertoef en dan uitvoerig vanuit een tak (perspektief) die Afrkanergeloofsontwikkeling te bekyk. Ek lei dalk verkeerdelik af dat die skrywer Zen verlaat het om weer Christenskap te oorweeg.

    Die artikel beantwoord egter nie die voormalige intekenaar van Anneliese Burgess se blad Binne+Land se beswaar nie, naamlik, “die byna kompulsiewe nodigheid” van ons skrywers (ek spesifiek) om hulle “ongeloof te bely” en die “kwalik verbloemde oordeel/bietjie neersien op diegene wat nog aan die Bybelse ‘feëverhale’ glo”.
    Dit wil voorkom asof sekere Afrikaners bo 50 uit die NG Kerk geledere dit hulle dit as hulle sekulêre plig beskou om die “leuens van die kerk” te ontbloot. Kyk maar na oud-NG dominees se boeke met ‘n titel soos, “God: Is daar ‘n ander antwoord?” Dan is daar internasionale ateïste soos Richard Dawkins, Sam Harris, Christopher Hitchens, Daniel Dennet, en Stephen Fry wat hulle beywer om die belaglikheid van godsdiens aan die kaak te stel. Hierdie is ‘n kulturele stryd tussen die tradisionele, of fundamentalisme en die wetenskaplike materialisme, of ateïsme.

    Ek is ook ‘n Afrikaner oor 50, en is in 1973 uit my fundamentalistiese fase geskud toe ek op RAU Bybelkunde, Grieks en Hebreeus gestudeer het. Die Bybel is as hermeneutiese teks bestudeer, waar die inspirasieleer en wie die outeurs van die onderskeie bybelboeke was, met kritiese oë behandel is. ‘n Voorbeeld van die studie is die verskil van die godsbeeld van die Pentateug en die van die verhaal van Jona. Eersgenoemde is ‘n provinsiale, plaaslike god wat jaloers is, terwyl Jona kwaad was omdat God nie meer net van die Jode is nie maar ook van die heidense Ninevé.

    Joseph Campbell, die kenner op mitologie, het my sienings verbreed met die stelling dat teologie die misverstaan van mitologie is. “That is why, to appreciate the language of religion, which is metaphorical, one must constantly distinguish the denotation, or concrete fact, from the connotation, or transcendent message.” (Thou Art That: Transforming Religious Metaphor. Pg. 19.) Wanneer gelowiges en ateïste die Bybel as konkrete feite lees (denotasie) dan soek mens na bewyse van ‘n vis wat Jona sou kon insluk. Wanneer die onmoontlikheid daarvan bewys word, word Jona as ‘n feëverhaal afgemaak. Die transendentale boodskap van Jona val egter nie lekker op fundamentaliste en ateïste se ore nie. Dit wys hoekom Campbell die taal van alle godsdienste metafories belangrik beskou. Terloops, ‘n mite is nie ‘n leuen nie, soos baie tydskrifte en oningeligtes dit gebruik. ‘n Mite is ‘n metafoor.

    “Geloofsbesering” is wanneer ‘n mens uit die vastigheid van ‘n pre-tragiese fase ‘n tragedie beleef, waar “vertroue op Jesus” nie meer genoeg is nie.

    “Daar is drie primêre vlakke van bewussyn deur wie se prisma ons ons lewens ervaar. Ons noem hierdie drie vlakke die pre-tragiese, tragiese en post-tragiese.
    Pre-tragies is die stadium voor tragedie. Die lewe is goed. Die lewe is heerlik. Die lewe maak sin. Dit is georden en redelik. Tydens die pre-tragiese toestand ervaar ons ook pyn en lyding, maar ons pyn en lyding is nie tragies nie. Ons kan vir onsself en ons intieme mense verduidelik wat gebeur het. Ons kan godsdienstige, sielkundige of wetenskaplike verduidelikings gebruik. Verduideliking red ons lyding daarvan om tragies te wees.

    Die tweede vlak van bewussyn is die tragiese. Die goedheid van die lewe word opgebreek deur lyding, maar ons voel nie meer in staat om dit te verduidelik nie. Die reëls breek af. Miskien is die lyding intenser as enige wat ons voorheen ervaar het. Alternatiewelik is ons vertroue in die godsdienste of lewensfilosofieë wat ons verduidelikings ondersteun het, dikwels onherroeplik geskud. Ons lewens voel leeg en betekenisloos, "'n verhaal vertel deur 'n idioot, vol geraas en woede, wat niks beteken nie." Ons word oorweldig deur die tragiese aard van die lewe self. Ons kan aanhou funksioneer, liefhê, en selfs baie effektiewe presteerders wees. Maar ons vreugdemeganisme is gebreek. Ons is afgesny van die natuurlike vreugde wat ons eens gevoel het van die essensiële goedheid en primêre lewendigheid van die lewe. Die meeste mense leef hul lewens op óf vlak een óf twee van bewussyn, wat ons hier die pre-tragiese en die tragiese noem. Sommige mense beweeg van vlak een na vlak twee as gevolg van verlore vertroue in die lewe, gewoonlik veroorsaak deur 'n persoonlike tragedie. Ander beweeg van pre-tragies na tragies omdat hulle getuies is van die feitlik ondraaglike lyding in die wêreld. Die wette en beginsels wat hulle gebruik het om die wêreld sin te maak, lyk nie meer sinvol nie. Sommige individue, nadat hulle na tragiese bewussyn oorgeskakel het, keer terug na pre-tragies. Dit is óf omdat hulle 'n nuwe, troostende verduideliking vir hul lyding vind (gebaseer op 'n oppervlakkige herinterpretasie van hul ou oortuigings), óf omdat hulle eenvoudig hul ervaring van tragedie vergeet en terugval in hul vorige pre-tragiese toestand.

    Maar daar is 'n derde vlak wat aan die voorpunt van bewussyn beskikbaar is. Ons noem hierdie vlak "post-tragies." Hier kan die persoon of kultuur weer deelneem aan die elementêre vreugde van lewe. Dit gebeur wanneer die individu (of kultuur) weer met die kern-Eros en lewendigheid van die werklikheid kan verbind.” (Vertaling van Gafni, Marc; Kincaid, Kristina. A Return to Eros: The Radical Experience of Being Fully Alive (p. xix - xx).

    Wanneer mens die Bybel vanuit die drie vlakke van bewussyn lees kan dit nog verder onder verdeel word. Die Higginbothams (Higginbotham, R. en Joyce Higginbotham. 2009. ChristoPaganism: An inclusive path. 143-47) het gevind dat die self (mens) deur ses verskillende verhoudings met mites ontwikkel. Hulle noem die verhouding soos volg:

    1. Mities Tasbare: Die self leer in hierdie verhouding van sy identiteit in die familie, die groep of nasie en ervaar alles deur die sintuie. Die mites verduidelik hoekom dinge gebeur en ook van die kragte agter die gebeure. Indien jy goed doen sal goeie dinge met jou gebeur, indien nie sal die slegte jou oorval. Die self ervaar alles konkreet en sorg net vir die eie ek en is egosentries.

    2. Mities Letterlik: Op hierdie vlak word die self bewus dat agter die heilige tasbare items ʼn storie is wat vertel dat die items heilig is. Die storie word beklemtoon. Die self bestudeer die storie en voel dat dit nooit die diepte van die mite kan deurbreek nie. Siende dat die godheid die mite aan die mens gegee het, die reëls van verhaal streng nagevolg moet word. Die self is nou deel van ʼn groter groep en sorg net vir diegene wat streng volgens die letter van die wet lewe. Hulle is etnosentries.

    3. Mities Rasioneel: Hier ontdek die self dat die letterlike interpretasie van die mite nie teen rasionele ondersoeke kan staande bly nie. Die self vind dat agter die mites ʼn doel lê wat die fokus van die vlak word. Die self besef dat sekere universele waarhede op almal betrekking het en nie net op die klein groepie nie.

    4. Mities Globaal: Wanneer die mens (self) die universaliteit van die mites besef, is die self in staat om meer perspektiewe te handhaaf en kan insien hoekom laer vlakke dinge glo en doen. Die persoon mag op hierdie vlak wêreldgodsdienste bestudeer en ontdek dat alle mites min of meer dieselfde storie vertel.

    5. Mities Argetipe: Op hierdie vlak word die storie minder belangrik en onderliggende patrone kry die klem. Die self (2009:146) “may identify spiritual realms where beings or elements of consciousness exist. It may form relationships with these spiritual realms or beings.” Die self beweeg buite die mitiese struktuur en betree die Wesens direk. Dit word vir die mens (self) moeilik om woordelikse uitdrukking aan die ervarings te gee. Verder, voel die mens nie net dat hulle deel van die kreatiewe proses is nie, maar ook dat hulle die kreatiewe proses word.

    6. Mities Avatar: Die finale verhouding met mites is wanneer die self nie langer in terme van argetipe konsepte dink nie (Higginbotham 2009:147): “Here the self realizes that myth is a vehicle whose purpose is not to describe something external to people (such as God, angels, ethical rules, and so on), but to stimulate internal transformation by directing people’s attention to some truth about themselves or reality” Mense op hierdie vlak wil mense help om hulle bewussyn transformeer om hulle ware natuur in die goddelike te realiseer.

    Elke mens begin by blokkie een en vorder tot waar hy of sy gemaklik is. Daar is natuurlik, volgens Spiral Dynamics ses voorwaardes om van die een vlak na die volgende te beweeg. Die gevaar is dat mens jou vlak verabsoluteer en neer kyk op ander, en ek dink dit is waarteen die voormalige intekenaar op Anneliese se webblad beswaar gemaak het. In Johann Rossouw se opvolg artikel oor die aggressiewe drang om te oortuig (23 February 2026), word die vlakke nie aangeroer nie maar maak eerder op stilte as die beste argument staat. Mense gaan nie verander as hulle nie gereed is nie. Dit is hier waar die ses voorwaardes van Spiral Dynamics inkom:
    Eerstens; die potensiaal vir verandering moet teenwoordig wees.

    Tweedens; indien daar enige onopgeloste probleme van die laer vlak teenwoordig is, kan groei na die volgende vlak nie plaasvind nie.
    Derdens; daar moet ʼn voelbare dissonansie op die huidige vlak of vMEME wees voordat verandering verwelkom kan word.
    Vierdens; daar moet genoegsame insig in die oorsake van die dissonansie en ʼn bewustheid van alternatiewe moontlike oplossings vir die ongelukkigheid teenwoordig wees.
    Vyfdens; die spesifieke versperrings vir verandering moet korrek geïdentifiseer wees en dan geëlimineer, verbygegaan, geneutraliseer of in iets nuuts herontwerp word.
    Sesdens; wanneer belangrike verandering plaasgevind het, volg ʼn tydperk van verwarring, lang leerprosesse en ongemaklike assimilasies terwyl konsolidasie plaasvind. Indien daar nie ʼn ondersteunende kultuur tydens die transformasie is nie, sal die vlak selde ontkiem, wat nog te sê van blom.

    Na alles gaan dit vir my om die volgende aanhaling:

    “You are the one Divine Consciousness made flesh. Your task is simply to become aware of this miracle, this fundamental fact of your being. Life has created a form by which it may know itself, and that form is you.” (Wallis, Christopher D. The Recognition Sutras: Illuminating a 1,000-Year-Old Spiritual Masterpiece (p. 11)

    Hoe om bewus te word van hierdie wonder, hierdie fundamentele feit van ons bestaan, is die taak van elke godsdiens om mense op die vervoerband te help, van geboorte tot die dood.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top