Amerikaanse optrede in Venezuela: 3 Januarie 2026

  • 1

Thomas L Friedman, ’n gesaghebbende meningsvormer in die VSA, begin sy artikel in die New York Times oor Venezuela op 3 Januarie 2026 met generaal Colin Powell se bekende “Pottery Barn rule” uit die era van president George W Bush in 2002 toe hy Bush teen ’n politieke inval in Irak gewaarsku het met die frase: “If you break it, you own it!” Met die grootskaalse militêre aksie in Venezuela en die daaropvolgende gevangeneming van president Nicolás Maduro en sy politikus-juris-eggenote Cilia Flores het die Trump-administrasie voorspellings en vooruitsigte vir gebeure heeltemal op hulle kop gedraai. Met dié optrede het die VSA ’n presedent in internasionale verhoudinge geskep wat ander moondhede ook kan gebruik om hulle optredes te regverdig. Die VSA het pas vir homself groter probleme in Venezuela geskep.

Sedert Trump in 2025 aan bewind gekom het, is dit duidelik dat ’n nuwe orde in wêreldgebeure aan die ontwikkel is. Twee tendense is besig om duidelik vorm aan te neem, naamlik dat niemand met die Amerikaners kan kompeteer as dit by die ontplooiing van militêre mag kom nie; en niemand kan by China kers vashou as dit by die skaal van vervaardiging kom nie. Internasionale regsreëls geld ook net indien jy dit kan afdwing, ten spyte van die VN Handves en ander globale ooreenkomste. Kortom gestel, in die Trump-era is mag gelyk aan reg. Trump het dit reeds gedemonstreer toe die VSA nie die G20-beraad in Suid-Afrika bygewoon het nie en daarna Suid-Afrika as lid van die G20 vir 2026 uitgeskop het. Internasionale reg bepaal dat indien jy ’n boef of booswig van ’n ander land in jou land wil verhoor, die aanvaarbare gebruik is om individue deur middel van uitruilooreenkomste voor howe te daag. Suid-Afrika is tans in so ’n proses gewikkel om die Gupta-broers uit die Arabiese Emirate te kry om in ons howe te verskyn oor staatskaping. Om egter militêre mag te gebruik om Maduro en sy vrou uit Venezuela na New York te bring, grens aan institusionele ontvoering, al noem die Amerikaners dit die gevangeneming van ’n voortvlugtende! Wat die saak nog meer kompleks maak, is dat Nicolás Maduro tot 4 Januarie 2026 die president van Venezuela was. Trump se grootste uitdaging was om die Amerikaanse kongres te oortuig dat die militêre operasie nie ’n militêre inval was nie, maar ’n beperkte projek wat binne die president se magte val. Dit het hy wel reggekry op 5 Januarie 2026 in die kongres, waar die Republikeine beide huise beheer.

Amerika het ’n baie lang geskiedenis van overte en koverte inmenging in Sentraal- en Suid-Amerika. Hier is ’n paar voorbeelde: 

  • In Chili in 1811, maar meer bekend in 1973 met die omverwerp van president Salvador Allende in ’n staatsgreep.
  • In Brasilië in 1964 is president João Goulart uit die kussings gelig in ’n staatsgreep.
  • In Bolivia in 1971 is ’n staatsgreep ondersteun teen president Juan José Torres.
  • In 1976 het die VSA steun gegee aan ’n staatsgreep in Argentinië om Jorge Videla aan bewind te bring. In dié periode is koverte aksies ook geloods in Chili, Uruguay, Paraguay, Bolivia en Brasilië.
  • Guyana en Suriname het ook koverte aksies beleef teen linksgesinde regerings.
  • Buiten die 2026-optrede in Venezuela was daar Amerikaanse inmenging in 2002 (teen Hugo Chavez) en deurlopend van 2019 tot 2026 teen die Maduro-regering totdat die Amerikaners die presidentspaar op 3 Januarie 2026 ontvoer het om op Amerikaanse grondgebied tereg te staan.

Amerikaanse inmenging het ontwikkel uit die Monroe-doktrine omdat die VSA Noord- en Suid-Amerika as sy invloedsfeer gesien het in 1823, en dit het baie lank die heersende strategiese siening in die VSA gebly totdat president Theodore Roosevelt dit in 1904 verander het na die Roosevelt-aanpassing. Die ander president Roosevelt (FDR) het die aanpassing van die Monroe-doktrine in 1933 egter gerepudieer en ’n beleid van goeie buurmanskap ingestel. Nou wil dit voorkom asof die Trump-administrasie teruggryp na ’n moderne weergawe van die Monroe-leer as buitelandse beleid – die “Donroe doctrine”. Simboliese veranderinge soos om die Golf van Meksiko se naam te verander na Golf van Amerika, om die Departement van Verdediging se naam te verander na die Oorlogsdepartement, en aktiewe inmenging in Venezuela, is voorbeelde van die Donroe-doktrine.

Wat hou die optrede vir Venezuela in?

Die onsekerheid en ontwrigting van die Maduro-regering gaan verdiep, en ’n fase van onstabiliteit lê beslis voor. Die grens met Colombia is een so ’n brandpunt, met ongeveer 7 miljoen vlugtelinge uit Venezuela wat hulle tans in Colombia bevind. Niestaatlike akteurs soos dwelmkartelle en ander georganiseerde en regionale gewapende groepe gaan ook in spel kom. Volgens Trump is die VSA in beheer van Venezuela, maar die stelling moet met ’n knippie sout geneem word. Die geskiedenis leer dat indien ’n outoritêre leier eensklaps uit die politieke proses geneem word, die stand van totale beheer onmiddellik afgetakel word. Dit veroorsaak geweldige vloeibaarheid omdat die spreekwoordelike deksel op die stoompot verwyder is. Die totale inploffing van Joego-Slawië ná maarskalk Josef Tito se dood in 1980 is een so ’n voorbeeld. Daar is in Venezuela ’n waarnemende president, Delcy Rodriguez, ingesweer en sy verteenwoordig die ondersteuners van Maduro. Opposisiegroepe en die burgerlike samelewing gaan beslis hierdie vloeibaarheid uitbuit, en daarom die aanhaling van Colin Powell in 2002: “If you break it, you own it.”

Wat het die Trump-administrasie gemotiveer?

Wat was die motivering om Maduro op dié manier uit Venezuela te verwyder? Daar blyk korttermyn- en langtermynredes te bestaan. Baie van hierdie redes is gemik op die eerste Dinsdag in November 2026 wanneer die Amerikaanse middeltermynverkiesing gaan plaasvind. Die Spaanssprekende bevolking in die VSA sal ontwikkelinge in Venezuela, Colombia en Kuba verwelkom, en hulle politieke steun is betekenisvol in die Trump-geledere. Trump kan met reg ná hierdie optrede daarop wys dat die VSA alles in sy vermoë doen om dwelms en dwelmsmokkelary hok te slaan, al kom die meeste dwelms uit Asië. Olie word ook as faktor genoem, maar dit gaan nie op kort termyn realiseer nie, as gevolg van die verval in die olie-infrastruktuur in Venezuela, al beskik hulle oor die wêreld se grootste bewese oliebronne. Het die VSA ingegryp om ’n dwelmskurk in hegtenis te neem of om regeringsverandering te veroorsaak? Die kans dat daar uit dié vloeibare proses ’n demokratiese bestel gaan ontwikkel, is nie op kort termyn moontlik nie. Amerikaanse optrede is waarskynlik gemotiveer deur die politieke ambisie om sy politieke en ekonomiese mag in die streek duideliker te demonstreer, sigbaar vir verskillende lande, maar ook vir Rusland en China, wat ekonomiese belange in Venezuela het.

Moet ons bekommerd wees oor die gebeure in Venezuela?

Daar is beslis baie om oor bekommerd te wees, en die vernaamste is dat die VSA homself met dié optrede definieer as ’n streeksmag, terwyl Amerika eintlik ’n globale politieke en ekonomiese akteur is. Sy grootste handelsvennote is Europa en Asië, en in Suid-Amerika miskien Brasilië en Argentinië. Trump het in sy eerste termyn gedemonstreer dat hy nie by konvensies hou nie, en hy doen dit nou meer overt in sy tweede termyn. Denemarke sal proaktief sy verhouding met die VSA moet aanpas om ’n skikking oor die militêr-strategiese gebruik van Groenland te bewerkstellig, en Kanada se verhouding met die VSA sal ook onder druk kom. Meksiko se optrede word tans grootliks deur die VSA bepaal en lande soos Kuba en Colombia kan ook in die spervuur van die Donroe-doktrine kom. Die Trump-administrasie se buitelandse beleid, wat gemik is op die verwesenliking van die MAGA-beginsel, lui beslis ’n era in waarin globale magsverhoudinge graviteer na drie of selfs vier magsblokke eerder as die Globale Suide teenoor die geïndustrialiseerde Weste.

Lees ook:

Wat sê Bettina? Trump as Venezuela se bevryder?

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top