![]() Foto: Naomi Bruwer
|
Sêgoed van Dan Sleigh: “Ons kan die Hollanders daarvoor [boekstawing van gebeure] dankbaar wees. Dis oor hulle byhou van rekords – al was dit net om te sien wie is verantwoordelik vir verliese en wie daarvoor sal boet – dat daar so baie inligting vir die navorser is. Wat sou ons van die vroeë Kaapse geskiedenis geweet het as die Hollanders dit nie so volledig opgeteken het nie?” (Kaapse Bibliotekaris, Mei/Junie2004) “In die loop van jou werk as navorser kom jy agter jy het nie met leë inskrywings te doen nie. Jy loop mense raak in die blaaie van joernale. Mense, kom jy agter, wat – net soos ons vandag – in moeilike omstandighede aan die lewe probeer vasklou het: soldate, matrose, beeswagters, klerke ... mense arm aan alles, ook aan emosie, behalwe miskien basiese vrees en woede. Hulle was individualiste. Een het sy briewe en kontrakte met ’n ankertjie onderteken – want hy kon nie skryf nie. Maar waarom ’n anker? Dit is hoekom ek die roman (Eilande) geskryf het. So hou jy dié mense in die lewe. Mense sterf eers werklik as hulle nie meer onthou word nie.” “Daar is baie matrose wat stories het om te vertel, en ek is maar net nog ’n matroos met ’n storie. Ek het die roman geskryf, omdat ek gedink het mense sou dit interessant wind. Ek hoor hulle deesdae sê: ‘Ek het genoeg gehad van geskiedenis!’ Ek weet hoe geskiedenis op skool doodgemaak word. Ons kyk ons vas teen ons vooroordele en onkunde, en ons weet nie watter skatte in argiewe opgesluit lê nie.” (Die Burger, 27 Maart 2002) “Maar Afrikaans was nooit ’n seetaal nie. Die Britse besetting het die taal as ‘t ware afgesny van die see. Maar ek weet niks van taal nie. Tegnies kan ek nie oor taal praat nie, maar ek reken my karakters moes baie naby aan moderne Afrikaans gepraat het. Soms het ek hulle egter sekere woorde laat gebruik, dan maak my redakteur vier vraagtekens by een sin. Stel jou dit voor ... Vier!” (Die Burger, 27 Maart 2002) Dan het nes Carelina in Matilda sy radio verban: “Dit gee my ’n pyn, werklik, dit maak my seer. Nee, ek voel dit nie in my vel soos Carelina nie, ek voel dit in my kop. Jy voel jy wil die mense ’n klap gee, maar die beste wat ek kan doen, is om die draadloos af te sit. Ek het vroeër dikwels radio geluister oor die musiek, maar nou skreeu hulle skielik ’n advertensie tussendeur die musiek. As hulle die hele advertensie in Engels wil sit, sal ek glad nie omgee nie, of in Duits, maar nou doen hulle dit in Afrikaans, met ’n Engelse finale sin. Wat probeer hulle daardeur aan ons sê?” (Die Burger, 4 Junie 2011) Oor die tema van Wals met Matilda: “Wat maak ’n mens ’n mens? Is die liggaam die groot ding? Of is daar ’n gees? En dit is die groot, groot tema van die boek ... Onthou die skildery van die geraamte wat dans met die mens. Die dans tussen die dood en die lewe. Dit is wat met Japie van der Merwe gebeur het. Dit is wat met Koos gebeur het. Die probleem is net ons moet daardie lewe deurgaan, van ons jeug tot ons ouderdom, en heeltyd dans die dood met ons, wals die dood met ons.” (Volksblad, 20 Julie 2011) “Ek word dikwels gevra om ’n boek te resenseer, en as ek nie daarvan hou nie, sê ek nee, ek gaan dit nie doen nie. Ek sal nie ’n negatiewe woord skryf oor al die moeite wat iemand anders gedoen het net om hom te probeer afskiet nie. Hoekom?” (Die Burger, 4 Junie 2011) Oor sy vrees dat boeke nie meer gelees nie, nie meer gepubliseer gaan word nie: “Ja, ek sal seker nie meer hier rond wees om dit te beleef nie, maar dit kan nie baie langer as 20 of 30 jaar duur nie. In sekere geboue kry jy noutevrees, engtevrees. Dit is wat ek hier kry. Dit trek toe rondom my. Dit maak my benoud. Ek weet watter plesier ek van my kinderdae af uit boeke gehad het. Ure omgelees, en later het dit ’n beroep geword. Maar ek sien die agteruitgang.” (Die Burger, 4 Junie 2011) “Daar is geen geskiedenis nie, anders as die ontleding en vertolking van dokumente, ’n soektog na oorlewendes in die eindelose ruimte.” (Slotsin van Eilande – LitNet) Dan Sleigh onderskei tussen fiksie en geskiedenis soos volg: “In ’n geskiedeniswerk is voetnotas en agterin ’n bronnelys. Romans waarin dit voorkom, is pretensieus. Letterkunde is ’n skoon kuns. In geskiedenis is twee kunste: in die navorsing en die ander is die skryf van die teks. Die amptelike definisie van die geskiedenis is die ontleding en vertolking van dokumente, daar kom jy dus nog nie by die skryfwerk uit nie.” (Die Burger, 13 Maart 2014) Sleigh is passievol oor taal en die reikwydte wat dit bied, of dit Afrikaans, Engels of watter taal dan ook is, solank dit nie lei tot “taalbesoedeling” nie. “’n Violis sou nie wou hê iemand moet aan sy strykstok of viool iets verander nie – hoekom kan dieselfde respek nie vir taal geld nie?” (Die Burger, 13 Maart 2014) “Geskiedenis-sillabusse word ontwerp om die waarheid van mense te weerhou, almal in onkunde te begrawe en aan politici genoeg ruimte te gee om mag en ’n plek op die soustrein na te jaag.” (Suid-Afrikaanse Vereniging vir Geskiedenisonderrig se jaarlikse konferensie 2012, Die Burger, 5 Oktober 2012) Geskiedenis is tweeledig van aard, verduidelik Sleigh aan Deborah Steinmair: “Dis ’n kuns en ’n wetenskap. Die wetenskap lê in die insameling, ontleding en vertolking van feite. Die kuns lê in die weergee, in die skryf. Hier is geen geleentheid vir verbeelding nie, vir kennis wel, vir begrip van omstandighede.” (Die Burger, 6 Julie 2012) By die oorhandiging van die UJ-prys in 2012 aan hom: “Afrikaans is reeds siek en ek vrees vir sy toekoms. Ek twyfel nie oor die Universiteit van Johannesburg (UJ) nie, maar oor die voortbestaan van Afrikaans, ook as vakgebied aan tersiêre instellings soos die UJ. Sal hier oor 15 jaar, net 15 jaar, nog UJ-pryse oorhandig word?” (Volksblad, 16 Oktober 2012) By bogenoemde funksie het Dan Sleigh ook verwys na die moeilike tye waarin die Afrikaanse uitgewersbedryf hom bevind. “Die mark word al hoe kleiner, ons lesers vlug die land uit, digitale media is teen ons, brein-verrottende televisie is makliker op die oor.” (Volksblad, 16 Oktober 2012) “Taal is benewens ’n handelsartikel ook ’n gerief. En soos met ’n gerief, as jy dit nie meer nodig het nie, gooi jy dit weg. Afrikaanse radio is besmet. Sommige aanbieders, adverteerders, predikers, skrywers, sangers en Springbokke maak gebruik van skaamtelose taalbesoedeling, en hanteer en mishandel Afrikaans met minagting.” (Volksblad, 16 Oktober 2012) Nadat hy 1795 geskryf het, het Dan Sleigh gesê dat dit sy laaste roman sou wees. Phyllis Green wou weet wat vir hom voorlê: “Consummatum est. Ek is jammer daaroor, want ek het dit geniet. My kwynende sig is een van verskeie redes. Ek sien net dat ek nie by alles gaan uitkom wat ek graag wou doen nie. Ek was maar ’n besoeker aan die wêreld van letterkunde en gaan nou terug na geskiedenis. Ek het meer afsondering en stilte nodig en moet veel meer aandag aan erfenisbewaring gee; hoe meer die nasionale, provinsiale en stedelike bewaringsowerhede hul plig verwaarloos, hoe meer word sulke diens noodsaaklik. Ons moet nou bewaring demokratiseer.” (Sarie, 30 Augustus 2016) Aan Murray la Vita oor die verengelsing in Suid-Afrika: “Wat gaan word van al die skrywers? Ék gaan ophou. Wat gaan word van Tafelberg Uitgewers en die jong skrywers wat aan die opkom is? Ek is klaar, maar wat van die ander? Wat word van húlle manuskripte as hierdie huidige verengelsing voortgesit word in die naam van ... wat noem hulle dit? Vooruitgang?” (Die Burger, 18 Augustus 2016) “Dis onmoontlik om geskiedenis te doseer of selfs ’n geskiedenislesing te gee sonder aardrykskunde! Jy moet altyd kaarte byderhand hê om die geografiese konteks te kan verduidelik.” (Matilda Burden, Die Burger, 2 Augustus 2023) |
Gebore en getoë
Daniel Sleigh word op 3 November 1938 op Geelbeksfontein aan die Langebaanstrandmeer aan die Weskus gebore. Die seevaart lê diep in sy voorgeslagte. Sy pa, Francis, was die vierde geslag van kaptein Francis Sleigh van HMS Russel wat in 1806 aan die Slag van Blouberg aan die Kaap deelgeneem het. Sy ma, Susanna, is die vierde geslag van skipper Klaas Acker van die VOC se skepe Duifie, Diamant en Zoutman.
Verdere studie en werk
Dan matrikuleer aan die Hoërskool Vredenburg en sluit daarna by die Suid-Afrikaanse Vloot aan. As lid van die Vloot onderneem hy reise na die ooskus van Afrika (Mombasa) en suid van die Prince Edward-eilande. Daarna gaan werk hy by die destydse Barclays Bank as agentskapteller en as kroegman by die Saldanha Hotel.
Vanaf 1960 tot 1962 studeer hy aan die Opleidingskollege Paarl om hom te bekwaam as onderwyser in Liggaamsopvoeding. Hy gee onderwys aan Mariental Hoërskool in die destydse Suidwes-Afrika, Marist Brothers’ College in Rondebosch en die Laerskool Pinelands-Noord. In 1985 begin Dan om die Onderwysmuseum in die historiese Aliwal Skool in Wynberg in te rig. Dit was in 1996 die enigste Onderwysmuseum in die land nadat die museums in die Vrystaat en Gauteng gesluit het. In 1988 word hy aangestel as hoof van die Sentrum vir Bewaringsopvoeding, waar spesiale kursusse in die bewaring van die natuurlike, mensgemaakte en sosiale omgewing jaarliks aan leerlinge en onderwysers aangebied is. Deur Dan se inisiatief is die Walters-toekenning en die Volkskasprys vir Bewaringsprojekte van skole in die lewe geroep; hy is in 1995 aangestel as Koördineerder van Bewaringsopvoeding in die Wes-Kaapse Onderwysdepartement. In 1996 tree hy af.
In 1969 behaal Dan sy BA-graad met Geskiedenis en Engels as hoofvakke aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy trou met Dewetia Hendriksz, kunslektrise aan die Mowbray Opleidingskollege in Kaapstad. Hulle het ’n dogter, Jean. Dewetia is in 2006 oorlede.
Dan behaal sy MA-graad cum laude en in 1987 sy doktorsgraad in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy doktorsgraad se titel is Die buiteposte in die ekonomie van die Kaapse verversingstasie, 1652–1795 met proff DJ Kotzé en DJ van Zyl as promotors.
Hy was redakteur en vertaler vir die Van Riebeeckvereniging se reeks in 2003 en is ook redakteur van die reeks vir die Kasteel Militêre Museum oor die Kaapse Militêre Geskiedenis. Hy is ’n vryskutnavorser en konsultant vir verskeie instansies, soos die Departement van Kultuur, Kuns en Tegnologie van die Wes-Kaapse Regering, SAHRA, Kasteel Militêre Museum, Munisipaliteit van Blaauwberg, en Gawie Fagan Restourasie Argitekte, om maar net ’n paar te noem.
Dan is lid van die VOC Stigting (sedert 1995), die Suid-Afrikaanse Vereniging van Argivarisse, die Suid-Afrikaanse Kultuurhistoriese Vereniging, die Suid-Afrikaanse Militêre Historiese Vereniging, Vriende van die Kasteel Militêre Museum, lewenslange lid van die Stigting Simon van der Stel, Vriende van Mostert se Meul, en Raad vir Nasionale Monumente, en hy dien ook in die Pleknaamkomitee van die Kaapse Stadsraad.
In 1974 publiseer Tafelberg Uitgewers ’n bundel poësie van Dan getiteld Duif oor water, waarvoor hy die C Louis Leipoldt-prys vir poësie van die Departement van Nasionale Opvoeding ontvang. Die keurverslag van hierdie bundel is in 1970 deur die bekende letterkundige Rob Antonissen geskryf: “My aanbeveling is onvoorwaardelik: dat hierdie bundel gedigte in sy geheel uitgegee moet word. Die lees hiervan het vir my een van die heuglikste verrassings van die afgelope jare besorg.”
Na die verskyning van die bundel spits Dan hom toe op die skryf van boeke met ’n geskiedkundige agtergrond vir jongmense. In 1993 word Die buiteposte: VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur 1652–1795 gepubliseer. Dit is die resultaat van dertig jaar se navorsing in Suid-Afrika en in Nederland, waar die VOC sy ontstaan gehad het en vestig Dan as een van die voorste kenners van die vroeë Kaapse geskiedenis. Barend Toerien sê in 1995 van Die buiteposte: “die interessantste, fassinerendste boek wat ek die afgelope vyf jaar in Afrikaans teengekom het, is ’n geskiedenisboek”. (Kaapse Bibliotekaris, Mei/Junie 2014) In 2004 word Die buiteposte heruitgegee deur Protea Boekhuis.
Oor die herdruk van Buiteposte het Dan aan Martiens van Bart (Die Burger, 5 Maart 2005) vertel dat hy lank na ’n uitgewer gesoek het om dit te herdruk, maar dat die nie tipe boek is waarmee uitgewers wou waag nie. Toe kom Eilande met sy groot sukses en het Nicol Stassen besluit om te waag. Daar moes egter eers borge gevind word, soos ook met die eerste uitgawe by HAUM. Die Van Ewijk-Stigting en die LW Hiemstra Trust het tot die redding gekom soos ook met die eerste uitgawe.
’n Boek soos Die Buiteposte word nie deur ’n groot aantal navorsers wêreldwyd gebruik nie, maar dit is tog deur navorsers in Australië, Nederland, Rusland, Amerika en Noorweë aangeskaf. “Ek het briewe van navorsers van oor die hele wêreld ontvang. Afrikaans is vir hulle geen probleemtaal nie. Dit hang als af van daardie kop agter die bril,” aan Martiens van Bart.
Prof DJ Kotzé, Dan se promotor destyds, het gesê Die buiteposte gaan nog die “nuttigste boek” wees wat onder die vaandel van die departement van geskiedenis van die US ontstaan het, vertel Dan aan Van Bart.
Gedurende die Goue Eeu van die Nederlandse staat het die VOC die belangrikste en kenmerkendste aandeel daartoe gehad. Nederland was in daardie tyd die sterkste moondheid in die wêreld wat op een slag oorlog kon voer teen Engeland, Frankryk en die Bisdomme van Münster. Dan het hy ook sy handelsbelange in die Ooste uitgebrei. Maar as ’n land van belang was hy afhanklik van die VOC as vennoot, aangesien hulle die base van die skepe en indiensnemers van werkers en die instelling wat verantwoordelik was vir die betaling van die belastings.
Die VOC was van hulle kant weer afhanklik van sy Oosterse handel. Em hierdie handel was gegrond op suksesvolle skeepvaart wat weer op hulle beurt afhanklik was van die verversingstasie Kaap die Goeie Hoop wat van hulle 57 buiteposte afhanklik was. Die buiteposte se mense was dus dié wat gesaai, gemaai en geoes het.
En toe verskyn Eilande in 2002 nadat Dan twintig jaar vantevore al daaraan begin skryf het. Die titel was toe Stemme uit die see. Dit was die Brit Julian Barnes se A History of the World in 10½ Chapters (Picador/Jonathan Cape, 1989), wat daartoe gelei het dat Dan hierdie onvoltooide manuskrip weer uit die laai gaan haal het - die manuskrip wat Eilande sou word. “Ek het die oorspronklike manuskrip weggesit omdat ek nie geweet het hoe om dit klaar te maak nie. Die boek het ’n sentrale karakter gekort, iemand deur wie se oë alles saamgevat word,” vertel hy aan Francois Smith in Die Burger (27 Maart 2002).
Nadat hy Barnes se boek gelees het, het hy tot die besef gekom dat hy na dit alles nie ’n sentrale karakter nodig het nie. “Jy kan alles bloot rondom ’n tema organiseer!” Barnes se ironiese “popgeskiedenis” bestaan uit ’n reeks vinjette wat aaneenskakel via onwaarskynlike leitmotiewe. Dit word die beste beskryf met ’n aanhaling uit die boek self: “The history of the world? Just voices echoing in the dark; images that burn for a few centuries and then fade; stories, old stories that sometimes seem to overlap; strange links, impertinent connections.” (Rapport, 22 Junie 2002)
Die manuskrip is weer uitgehaal, afgestof en klaargemaak en aan Tafelberg Uitgewers voorgelê. En die res, soos hulle sê, is geskiedenis. Eilande word aangewys as die wenner in die gesogte Sanlam/Insig/Kwela-romanwedstryd in 2001. In 2003 verower dit die WA Hofmeyr-prys en die RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk en in 2004 die M-Net-Boekprys en die Helgaard Steyn-prys. Die Nederlandse vertaling van Eilande, Stemmen uit zee, haal in 2004 die 98ste plek op die topverkoperlys van Nederlandse boekhandelaars. Die Engelse vertaling word in 2005 deur Booklist, ’n Amerikaanse biblioteekpublikasie, en die Seattle Times aangewys as een van die top tien debuutromans en word in 2006 genomineer vir die International IMPAC Dublin Literary Award.
Eilande bestaan uit ’n proloog. “Stemme uit die see” en sewe afdelings. Die leser ervaar hierdie sewe afdelings uit die perspektief van ’n persoon wat op een of ander wyse gefigureer het in die jare net voor en net ná die VOC die verversingstasie aan die Kaap gestig het. Daar is Autshumao of Harry, Peter Havgard (ook Pieter van Meerhof), Bart Borms, ’n visserman, die poshouer Hans Michiel Callenbach, Deneyn die advokaat, Daniel Zaaijman, vatmaker van beroep en die klerk De Grevenbroek. Die proloog en die laaste afdeling word deur die klerk vertel. Hy is dan ook al ek-verteller in Eilande en is ook aan die skryf aan die eerste vyftig jaar van die geskiedenis van die Kaap. Daaruit kan ’n mens aflei dat dit eintlik hý is wat die stories van die ander karakters ook vertel.
Louise Viljoen het die resensie in Die Burger (20 Mei 2002) geskryf: “Samehang en deurlopendheid tussen die verskillende afdelings word bewerkstellig deur die wyse waarop die verhale vervat op mekaar en mekaar byna onopsigtelik aanvul. Die beskrywing van die klerk De Grevenbroek, wat sy notatjies inligting aan ’n garedraad ryg, gee die leser ’n goeie beeld van die manier waarop Sleigh die draad behou in hierdie enorme epos, wat strek oor verskillende vastelande en die seë daartussen.
“De Grevenbroek vertel byvoorbeeld in die proloog hoe sy karakters met mekaar verbind word deur die feit dat hulle elkeen op die een of ander manier betrokke was by Pieternel van Meerhof (ook die onderwerp van Dalene Matthee se roman Pieternella van die Kaap).
“Hoewel dit so is dat haar verhaal in elkeen van die vertellings ter sprake kom, is dit eintlik haar ma, Krotoa-Eva, wat die pynlikste in die leser se geheue nadraai. Sleigh se roman bring ’n mens sterk onder die indruk van die tragiese lewe van hierdie Koina-vrou, wat deur haar kontak as meisie met Van Riebeeck se gesin vernederlands het, later met die Deense sjirurgyn Pieter van Meerhof getroud is en uiteindelik deur die Nederlanders sowel as haar eie mense verwerp is.
“Soos die titel voorspel, speel eilande ook ’n kardinale en samebindende rol in die roman. Enersyds is die lewe van die karakters verbind met letterlike eilande soos Robbeneiland, wat reeds in daardie jare die rol van gevangenis en strafeiland begin speel het, die eilande in Saldanhabaai en ook Mauritius. Andersyds is die eiland egter ook beeld van die manier waarop mense deur die noodlot gestroop kan word totdat hulle alleen staan.
“Eilande is ’n sterk tradisionele historiese roman waarin letterkunde en geskiedskrywing soos in vorige eeue baie na aan mekaar beweeg,” skryf Louise Viljoen.
Viljoen skryf daar min boeke is wat sy gelees het wat vir haar so ’n akkurate prentjie kon gee van die Kaap in die tyd van die Nederlandse besetting en “wat aan historiese gegewens so ’n ryk tekstuur kon gee. Met sy noukeurige navorsing en verbeeldingryke vertolking van historiese dokumente in hierdie roman, skep Sleigh vir die Suid-Afrikaanse leser ’n soort geborgenheid in die ‘eindelose ruimte’ van die geskiedenis deurdat jy jouself herken in die ‘bloedige geboorte’ van die kolonie wat hier beskryf word.”
Vir HP van Coller is Eilande nie net ’n stuk droë geskiedenis nie, “maar is dit ’n egte roman waar ’n reis onderneem word en beelde gevind word, ’n narratief waarin mense uit vergeelde blaaie opstaan, vleis en bloed kry en in al hul passies, welluste én ellendes voor ons kom staan; selde beter as in die tekening van die ellendige Hans Michiel en die flegmatiese David Zaaijman. Hierdie werk is sonder twyfel groots; trouens een van die beste historiese romans in Afrikaans.”
André P Brink het Eilande in Engels vertaal. Brink het die vertaling beskryf as “een van die verrykendste en aangenaamste ondervindings in my lewe” (Rapport, 9 Mei 2004). In ’n paneelbespreking oor dié vertaling het hy vertel dat hy hom “eenvoudig oorgegee het aan die innerlike, stuwende ritme van Sleigh se prosa. Oor die algemeen het dit gegaan soos met ’n liefdesverhouding. By die lees van die oorspronklike teks het die bliksemstraal van die liefde my getref en ek het my daardeur laat meesleur.” (Rapport, 9 Mei 2004)
Sleigh was net soos met die Nederlandse vertaling deur Riet de Jong-Goossens, nou gemoeid met Brink se vertaling. “Die grootste hulp en riem onder die hart was om te weet dat ek, soos ’n akrobaat in die sirkus, ’n veiligheidsnet het. Daardie veiligheidsnet was Dan Sleigh en hy help jou met liefde en begrip.” (Rapport, 9 Mei 2004)
Michael Paye wat Islands vir The Scotsman geresenseer het, het hom só daaroor uitgelaat: “Dan Sleigh het ’n hele geskiedenis laat dans en soos ’n towenaar het hy die tyd teruggedraai om die polsslag en bloed van lewens terug te bring wat andersins net spore in dokumente van ’n ou kolonie sou gewees het.” (Volksblad, 18 Augustus 2004)
Agt jaar na die publikasie van Eilande is Dan se volgende roman, Afstande, uitgegee. Dan Sleigh het aan Murray la Vita vertel dat die gebeure in Afstande afspeel op die leë blad tussen die Ou en Nuwe Testament en vertel die verhaal van Xenophon en ’n leër van tienduisend Griekse soldate wat in 401vC gehuur is om koning Xerxes van die Persiese Ryk te ontsetel.
Die veldtog was egter nie ’n sukses en die leiers van die rebelle word doodgemaak. Aan Xenophon word die taak opgelê om die leër uit Persië, naby Babilon, terg na die Swart See te lei. Hierdie epiese tog wat ongelooflike eise aan die soldate gestel het, is deur Xenophon in die Anabasis beskryf.
Oor die Anabasis sê Sleigh aan La Vita: “Meesterlik beskrywe! Hy het dit in die pragtigste styl beskryf. Bondige, duidelike taal. Daardie ou is só goed. En so slim.”
Hy vertel vir Murray la Vita van een gebeurtenis: “Die Griekse leër moet kos en geld soek om die winter te oorleef, en die Spartane soek hulle om hulle te vang. Toe sluit hulle maar aan by hierdie barbaarse koning Seutes se leër. Toe gee hy vir hulle hierdie verwelkomingsfees. Nou skryf Xenophon van wie almal daar is: daar’s sangers, en die musikante met die trompette is daar en daar is die kos en daar’s die drank en hulle bring geskénke en al daai goed; een ou bring ’n perd in vir die koning, en so aan. En dan op een stadium trek die koning daar ’n paar tafels bymekaar en hy klouter bo-op en dan soos ’n bokram dans hy heen en weer. En toe Xenophon die aand by die huis kom, toe skryf hy: ‘Daar was ook professionele narre gewees.’
“Deur wat hy nie sê nie, sê hy so baie. Dit laat ’n mens baie, baie dink oor hierdie ou en wat hy alles gesien en wat hy oor stilgebly het. Wat hy nie gesê het nie.”
Dan verduidelik aan Murray la Vita hoekom hy nie die Anabasis bloot in Afrikaans vertaal het nie. “Vertalings is sýwaarts, terwyl ek wil vorentoe na nuwe goeters toe gaan. Toe dink ek: doen ’n verwerking daarvan. Dink aan hoe jy dit kan verwerk dat mense sal belangstel.
“Afstande is bedoel as iets nuuts. Vreemd van inhoud, tyd en plek. Van buite beskou, is dit die verhaal van ’n reis, van dáár en terug, ’n avontuur. Waag tot in die hart van die bose, en oorleef ...
“Dit is ook ’n storie oor ‘ons’ soort: ménse. Verlei, veroordeel en verdoem omdat hulle mens is. Duisende soos ons: gewoon, ongewoon, in ellendige omstandighede en aaklige beproewinge, uitgelewer aan en strydend teen bekende en onbekende gode, regerings, die natuur en hul eie mislike menslike toestand.”
Daar is soveel dinge van Xenophon wat Dan beïndruk (aan La Vita). “Die een is sy vermoë om sy kop te gebruik om mense te oorreed. Soos toe die leër ... daar lê hulle verslae en almal wag net: môre gaan hulle gevang word en in boeie weggelei word. En hy sê: ’nee, kom manne, staan op, ons moet iets doen! Ons kán iets doen.’
“Dit is sy vermoë om mense te inspireer. Dit was vir my deurgaans ... Hulle het gesúkkel. Jy weet hoe hulle gesukkel het. Tot op die einde nog het hy probeer om hulle te inspireer en bymekaargehou: ‘Moenie dat enigiemand julle verdeel nie; blý bymekaar,’ verduidelik Dan aan Murray la Vita.
“Jy kry soldate – baie – wat ... selfs uit die moderne jare kry jy kêrels wat ... Ek dink aan ’n voorbeeld soos Montgomery in die Tweede Wêreldoorlog. Hý kon niemand inspireer nie. Een van die onaangenaamste mense – ’n selfsúgtige magsbehepte tipe, maar hy het nie die inspirasie gehad nie. Ek dink Kitchener in die Boereoorlog was ook so iemand.
“Dan kry jy weer ’n ander een wat mense kan – selfs wanneer hulle op hulle knieë is – weer vir hulle laat opstaan. De la Rey was so ’n man. Ek dink De la Rey was in die Boereoorlog die een man wat sonder skade aan sy reputasie daar uitgekom het. Ál die ander – aan albei kante – het iets verloor in daardie oorlog. Maar De la Rey het groter daar uitgekom as wat hy daar ingegaan het.
“So Xenophon kon mense bemóédig om hulle verby hulle huidige ellendes te laat kyk vorentoe en te laat aanbeweeg.
“Ons politici kan dit nie meer doen nie. Hulle weet nie hoe om mense te bemoedig nie. Dit is ’n kuns wat miskien verbygegaan het. Of hulle stel nie meer belang daarin nie?”
Die ander belangrike karakter in Afstande is Nagri, die eunug en Joodse profeet. Hy het uit Babilon gevlug en het by die Grieke aangesluit as gevolg van die feit dat vroeë Joodse profete voorspel dat ’n Griek hulle verlosser sou wees.
Oor Nagri laat Dan hom as volg teenoor La Vita uit: “Nagri self is die brug vorentoe én agtertoe, tussen die oue en die nuwe, wat ek gesoek het: die heel laaste Joodse profeet, éérste profeet van ’n nuwe tyd. Dit is vir hom wat ek uit Psalm 137 uitgetrek het. Nagri noem dit ‘Die Wasvrou se Lied’: ‘By die riviere van Babilon het ons gesit, en gehuil as ons Jerusalem onthou/ Toe vra dié wat ons gevange hou / Sing vir ons van julle land ...’
“Wat ’n wrede versoek. Hoe antwoord ons? ‘Julle ... Julle het gesê: Breek Jerusalem af, slaan sy mure tot die fondamente plat. Geseënd Hy wat julle babas se skedels teen die muur verbrysel.’
“Só eindig Psalm 137. Nie mooi nie, maar so menslik. Dít is die woede in Nagri se hart wanneer hy uit Babilon vlug ... Ek het Psalm 137 met Xenophon se hulp tot dié verhaal uitgebrei. Die psalm is hierdie storie se temalied.”
Murray la Vita vra Dan uit oor die ooreenkomste tussen sy vorige boek, Eilande, en Afstande. “Regerings wat mense rondmors en hulle stuur op moeilike, amper onmoontlike sendings. En dan nie eintlik belangstel in die ménse nie. Hulle stel net belang in hul eie oorwinning en wat hulle daaruit kan kry. Kyk byvoorbeeld hoe Simon van der Stel teenoor Mauritius gevoel het, nè,” is Dan se reaksie op die vraag.
“Mense moet hulleself red. Hoe daardie Zaaijman-familie hulleself kon red terwyl baie ander ouens ondergegaan het. In die geval van Afstande het Xenophon opgestaan soos Moses opgestaan het en sy mense uitgelei het.
“Dit is ’n stryd teen gode, bekend en onbekend; die natuur, en teen jou medemens. Dinge soos regerings, offisiere ... alles wat hulle teen jou kan gooi en wat ’n mens kán oorwin mits jy ’n goeie leier het. ’n Goeie, vasbeslote, bekwame iemand wat net wil oorleef ten alle koste.”
Sleigh sê in Eilande is die see die verhoog en in Afstande is dit die slagveld.
Tydens sy navorsing vir Afstande was dit vir Dan belangrik om die verlede ook fisies te beleef. Dus het hy en sy dogter Jean so na as moontlik teruggegaan op die roete wat Xenophon en sy leër gevolg het en daarop geloop, vertel hy aan La Vita.
“Sy het die foto’s geneem, sy het die rekenaar gewerk. Die héle pad. As Xenophon sê van hier na daar is 37 parasang moet ons nou parasang omsit in kilometer. Dan kom ons by die plek aan en kyk op die kaart hoeveel kilometers – presiés. Nou hoe het Xenophon dít geweet? Hy het nie ’n rekenaar gehad nie. Tog is al daardie afstande van hom presiés korrek.”
Dit was vir hom noodsaaklik om die pad wat hul getrek het en die landskap waardeur hul getrek het, self te sien en ook sintuiglik te ervaar. “Om net kaalvoet deur die Meanderrivier te loop soos hulle. Of op die plek te staan by Abidus waar ’n tweeling gekruisig gehang het aan die ankerpale van ’n brug, vier dae lank terwyl Xerxes se leër van ’n miljoen man tussen hulle deur trek, van Abidus in Asië na Sestus in Europa.”
Dan stel ook die geskiedkundige en skrywer dr Helena Scheffler, ’n vriendin van Sleigh, se insigte baie hoog op prys. “Ek bespreek altyd my tekste met haar. Sy het ’n groot kennis van kultuurgeskiedenis, maar dan het sy ook ’n wysheid oor die lewe. En dan het sy ’n kritiese ingesteldheid om vir jou te sê wanneer dit geloofbaar is of wanneer dit vals is. Sy het ook ’n vermoë om haarself binne die verbeelde tyd te plaas en van daar af uit te kyk. Dáár het jy nou iemand met wie jy hierdie goed kan bespreek en iemand wat die gode ken, wat die kléredrag ken. En sy het vir my baie leesstof gegee oor daardie tydperk.
“Dit is beter om so iets met ’n vrou te bespreek om balans te hê; dat jy nie ’n eensydige manlike beskouing het nie, want dit is nie menslik nie. Goethe het byvoorbeeld sy vriendin Charlotte von Stein gehad met wie hy gepraat het. Conrad het Marguerite Boradovska gehad. En dis dieselfde met Helena Scheffler. Sy is my ... amper soos ’n mentor ... in al daardie gebiede. En vir my iemand om my oorspronklike gedagtes mee te bespreek.”
Daardie oorspronklike gedagtes wat uiteindelik die ongelooflike verhale word waarmee Dan Sleigh so baie mense aanraak, soos ook nou weer met Afstande gebeur het.
“By die mallemeul verkoop die een ou kaartjies vir die groot wiel. Die ander ou verkoop kaartjies vir die perdjies. Maar die skrywer verkoop kaartjies vir die towertapyt waar die leser opgaan en hy neem hom na wónderlike plekke, wónderlike tye, wónderlike gebeure. As hulle terugkom en hulle kom sê vir jou: ‘Dít was nou lekker!’ dan weet jy: ja, dit het gewerk. Die towertapyt werk – die Persiese towertapyt!”
Die kritici was oor die algemeen beïndruk met Afstande. In Rapport Boeke skryf Francois Verster (Rapport, 30 September 2010) wanneer jy Afstande oopslaan ’n mens onmiddellik ’n ander stemtoon opmerk as in Eilande. Die inslag is meer liries en dit is nie ’n bekende milieu waarteen die storie afspeel. Dit is weg van die Kaapse hinterland na ’n wêreld tussen die Middellandse en Swart See.
Dit was, volgens Dan, wat hy wou gehad het omdat hy die “idioom van Homeros wou laat herleef en die styl van die profete laat eggo – stemme wat roep uit die woestyne en die valleie van die doodskaduwee. En die leser trek saam met hom, die Joodse profeet Nagri en die Atheense skrywer-soldaat Xenophon oor daardie skynbaar oneindige afstande.”
Die verhaal open met die Jood Nagri waar hy in ’n herberg sit en skryf. Nagri sien homself as die boodskapper van die Verlosser nog vóór Johannes die Doper. Hy is besig om die Anabis oor te skryf, maar hy skryf nie net oor nie, want omdat hy daar was, kan hy ook sy persoonlike indrukke daarvan weergee.
Verster gaan voort: “Daar lê egter verskriklike ontberings voor en uiteindelik ’n wrede ontnugtering – vir Nagri, en ook vir Xenophon. Die leser wonder telkemale: wat kan nóg verkeerd loop? Hoe ver kan enige mens se uithouvermoë getoets word – fisiek en geestelik? Wie van Xenophon of Nagri gaan eerste sy god faal?
“Afstande is vernuftig gekonstrueer,” skryf Verster. “Dit is nie bloot chronologies uitgestippel soos ’n rits bakens oor ’n kaart nie. Eers vertel Nagri, dan weer Xenophon, en tussendeur is die leser bewus van die derde verteller: Sleigh. Die Athener, tipiese liniêre denker, was ’n kroniekskrywer. En heel gepas het hy die feite neergestip: ‘kort, direk en onversier’.
“Nagri, weer, voeg nie net versiersels op die primêre manuskrip nie – soos sy rooi blomme by naamlyste van soldate wat sterf in konflikte. Hy bied méér as net name en uitslae van skermutselings. En dan kom Verteller Drie, Sleigh, en bied sy insigte, as gesoute historikus én romansier – hý dwing ewige lewenslesse na die oppervlak. En die onwikkelingslyn loop van kroniekskrywing, geskiedskrywing na historiese roman.”
In September 2010 by die bekendstelling van Afstande het Petra Müller gesê dat Dan Sleigh “soek altyd na gedeelde en verwaarloosde menslikhede”.
Ook het Dan Sleigh alreeds in Die buiteposte sosiale kommentaar gelewer toe hy geskryf het: “Kyk; soos die Wandelende Jood is menslike onnoselheid kanniedood, die albatros om julle nekke, julle Achilleshiel.”
Verster skryf verder: “’n Literator het onlangs beweer historici is onbetroubaar; net fiksieskrywers praat die waarheid. Dit laat mens wonder: en die historiese roman? By die bekendstelling noem Sleigh hy geniet dit om die dissipline van geskiedskrywing weg te skuif, vry om te interpreteer. Tog het hy, meesterhistorikus, sy bronne geraadpleeg – van Die Bybel tot die mites en legendes wat Sokrates bestempel het as pogings om die werklikheid te rasionaliseer.
“Met Afstande slaan Sleigh ’n brug tussen die Ou en Nuwe Testament om die leë bladsy tussenin te vul. Hoekom, wat het hom daartoe genoop? Via Xenophon erken Sleigh dat hy gedrewe is om te skryf (en te leer); hy wag nie op die muse nie. Oudergewoonte het hy sy veldwerk gedoen, dié keer ver van bekende weë, op die spore wat die Onsterflike Tienduisend, van Sardis (vandag bekend as Sart) tot by Bisantion (Istanbul), meer as ’n eeu voordat ’n verenigde Griekeland bestaan het . En dan ... dié epiese boek oor ’n klassieke quest. Sleigh slaag daarin om op Anabis te bou, ‘[...] soos ’n ranker ’n ou boom gebruik’, dit uit te spin soos ’n goue draad, en die leser se aandag daarmee vas te vang. En hy máák ons dínk. Oor hoe lank ons gesamentlike ontwikkelingsrit(e) nog is. Dis die slag wat Sleigh slaan. Met feite genuanseer deur insig.”
Willie Burger het in sy resensie op die boekredaksie24 se blog geskryf: “Ek het halfpad deur Afstande gevoel dat daar té veel konstruksie en té min hartklop is, té veel inligting en té lang beskrywings wat mens laat ophou omgee. Maar dat daar tog iets van die uitmergelende tog oor afstande van tyd en ruimte ’n mens bybly. Dit laat ook ’n mens met melancholie oor die mens wat steeds in die naam van gode, gemotiveer deur eiebelang, selfsug en hebsug, veldslag ná veldslag veroorsaak en steeds vergeefs probeer om sin en patroon te vind uit dieselfde herhalende handelinge.”
“Enige huiwering wat ’n mens aan die begin van die roman voel oor jou vermoë om die afstand vanaf jou eie tyd na ’n periode meer as twee duisend jaar gelede af te lê, word opgehef wanneer die verhaal van die veldtog in Persië op dreef kom,” skryf Louise Viljoen op LitNet.
“Na ’n effens moeisame begin word die roman onweerstaanbaar meesleurend. Die vertelling is beweeglik en vol aksie: dit verloop doelgerig vooruit, die hoofstukke is kort en hanteerbaar met rigtinggewende titels, die verskillende Midde-Oosterse ruimtes word konkreet voor die leser opgeroep, die Afrikaans is lewendig en toeganklik. Dit is ’n ruie verhaal waarin die leser nie die wreedaardige besonderhede van die veldslae gespaar word nie (soos byvoorbeeld wanneer die oorwonne Kuros se kop uit ’n sak pekel gepluk word om ’n dreigement teenoor sy leër te onderstreep), ook nie die uitmergelende besonderhede van die Grieke se moeisame tog huiswaarts nie.
“Die boek word uitgegee saam met ’n DVD waarop Sleigh kortliks oor die roman praat. Tesame met die kaart binne die skutblaaie van die boek, help dit die leser om hom- of haarself te oriënteer binne die magtige afstande van ruimte en tyd wat hier ter sprake kom. Die verklaring van vreemde terme word ook gemaklik in die teks ingewerk sodat die leser dit nie as leesversperring ervaar nie.
“Om Afstande te lees is om op die aangenaamste en heilsaamste manier moontlik opgevoed te word: deur die vertel van ’n storie. Dit is ’n besonder onderhoudende roman wat vir jou deure oopmaak na ’n vervloë geskiedenis, maar ook laat nadink oor die nawerking daarvan in ons eie tyd. Dit is ’n leeservaring wat niemand moet misloop nie.”
Sonja Loots skryf ook op LitNet dat dit ’n moeilike taak is om hierdie groot werk wat Sleigh met Afstande gedoen het, gering te skat. “Dit is ’n nougesette rekonstruksie van die verlede. Die reikwydte intellektuele diepgang van hierdie epiese werk is enorm. Maar,” kwalifiseer Loots, “hoewel daar onbetwisbaar baie vleis aan die been sit, het die murg helaas weggekook. (...)
“Afstande vertel ’n verhaal waarvan die verloop en uitkoms reeds bekend is. Baie veldslae, baie teenspoed. Optog, gevolg deur aftog. Dood, bloed en geweld. Waar die verhaalverloop op sigself nie meesleurend is nie, en die uitbeelding van een veldslag na die ander maklik eenselwig te raak, is die behoefte aan aangrypende karakteruitbeelding, kreatiewe beeld- en taalgebruik of ander stilistiese en tematiese kragtoere groot. Helaas vind ek geen van hierdie dinge in die teks nie.”
Loots sluit af: “Ten slotte: Afstande spruit uit en word omring deur van die grootste tekste in die geskiedenis van die letterkunde. Xenophon maak ’n bestaan deur die werke van die meesters Tukidides, Aeskulos, Aristofanes, Euripides, Sofokles en ander te kopieer vir Athene se gegoede bibliofiele. Sy reis lei deur stories. Die geplaveide pad na Apollo se tempel lei hom op die spore van Herodotus, Pithagoras en Oedipus. Xenophon en sy neef Proxenos bespreek ’n gedig van Homeros. Daar is talle verwysings na Griekse tragedies, blyspele en legendes, en ook Bybelse verhale kom ter sprake. Nagri skryf in teen die tradisie van die Farao se Boekrol van die Dooies, wat Moses as openingstrofes van sy Genesis gebruik het (aldus Afstande). Hy hoop die Verlosser, wanneer hy eendag gebore word, voeg sy skrywe naas dié van die laaste profete sodat die wêreld vir Nagri in hul geselskap sal reken: Habakuk, Sefanja, Sagaria, Maleagi, Nagri.
“Nagri herskryf Xenophon se teks, ‘Hy som dié teks op, hy laat dele weg, hy herskryf dit na eie behoefte, na die wens van die Vaders en vir die Verlosser se doel alleen.’ Aan sy manuskrip dink hy as Die Boek van Afstande. Daar sit iets van die metatekstuele spel in die feit dat Nagri hom besig hou met dieselfde bronteks as die skrywer van die roman Afstande, en deur die wyse waarop die titels ooreenkom. Hierdie gegewe word egter helaas nie op vindingryke of diepgaande wyse ontgin nie.
“Soos met Eilande, sal kritiese opinie oor Afstande waarskynlik verdeeld wees. Die sjarmante skrywer sal na alle waarskynlikheid ook met hierdie roman enorme kommersiële sukses, plaaslik en oorsee, behaal. Daar sal vele Hosannas wees, maar daar sal ook die afvalliges wees wat, soos ek, verkies om aan ander gode op die berg Olimpus te offer. Mag Zeus ons almal genadig wees.”
Wals met Matilda word in 2011 gepubliseer en weer is Dan die wenner van Sanlam en Tafelberg se Groot Romanwedstryd. Wals met Matilda het in 2012 met nog drie pryse weggestap, naamlik die WA Hofmeyr-prys, die Universiteit van Johannesburg-prys en die ATKV-prosaprys.
Hy vertel aan Willemien Brümmer (Beeld, 3 Junie 2011) dat hy Wals met Matilda binne twee jaar geskryf het nadat hy die koerantadvertensie vir die Groot Romanwedstryd gesien het. Die vonk vir die storie was twee dinge: ’n beriggie in ’n Engelse Sondagkoerant in 1995, tydens die honderdjarige viering van die “nie-amptelike Australiese volkslied”, “Waltzing Matilda”.
“Daar het gestaan ’n ondersoeker in Australië het vasgestel die oorspronklike swagman (die bondeldraende trekarbeider waaroor die liedjie gaan) was ’n Suid-Afrikaner met die naam Jacobus van der Merwe.” Daarna kon Dan nie weer ’n enkele woord oor Jacobus of Japie opspoor nie. Maar toe lees hy in prof HB Thom se tesis van hoe, aan die einde van die 1800’s, jong manne uit die Karoo na Australië is om te gaan leer oor skaapboerdery, en dan ook aanteelvee teruggebring het.
Hierdie aanteelvee was verwant aan die merino's wat die Nederlandse “mooiweersoldaat” Robert James Gordon wat destyds bevelvoerder van die Kaapse garnisoen was, gesteel. Hollanders het in 1789 ’n klompie van die beste wolskape van Spanje aan die burgers in Kaapstad geskenk en dit was Gordon se taak om hierdie skape op die buitepos Groene Cloof (deesdae Mamre) aanhou.
Willemien Brümmer vertel verder: “In Junie 1795 het die Britse vloot die Kaap ingeval, maar Gordon se troepe moes ‘leierloos voor die Engelse retireer’. Die Engelse kry die stad en kolonie op ’n skinkbord aangebied, en Gordon pleeg selfmoord. Sy vrou verkoop die skape op ’n vendusie aan twee Engelse skippers wat Australië toe gaan.”
“Ek het gedink die jaar (1897) val saam met die groot runderpes en ek maak vir Japie die groot runderpes-reeksmoordenaar wat (noodgedwonge) in Middelburg net alles skiet wat voorkom,” sê Sleigh aan Brümmer.
Japie gaan dan na Elizabeth Farm in Nieu-Suid-Wallis in Australië om daar te gaan kers opsteek oor skaapboerdery en dit is daar waar hy vir Matilda ontmoet. Sy is die plaas se erfgenaam wat Japie in haar rooi skoene leer wals.
Die ander aansporing vir die skryf van Matilda was ’n briefie in Die Burger, geskryf deur ’n onderwyseres van die Hoër Meisieskool Paarl. “Op ’n Maandag verskyn, saam met die koerant, die bylae vir skoolkinders met die vieslikste taalgebruik, en toe sê die redakteur: ‘Ja, maar die kinders práát so’.
“Ek sal graag eendag vir die onderwyseres wil dankie sê, want toe skryf sy hulle práát nie almal so nie. Met haar bydrae het ek vir Carelina ontwikkel. Ek het ’n geleentheid gesoek om te skryf oor iemand wat taalsensitief is. Daar is ’n ding wat ek glo bestaan – dat mense byvoorbeeld so musieksensitief is dat hulle die musiek in kleur kan sien of met hul vel kan voel. Vir haar het ek nou so taalsensitief gemaak dat sulke gemors soos hierdie in die jeugkoerantjie haar in blou kolle sal laat uitslaan.”
In Wals met Matilda is die hoofkarakter Koos van der Merwe (al het Dan gesê jy vat ’n vet kans as jy ’n karakter in ’n boek Koos van der Merwe noem), ’n skrywer en oud-geskiedenis-onderwyser. Thys Human gaan voort in sy resensie in Beeld van 4 Julie 2011. “Sy historiese romans laat die drukkerspers van Goeie Hoop Uitgewers vrolik kletter totdat hy eers sy vrou en kort daarna sy dogter en haar gesin verloor. Daarna verval hy en sy gedagtes in donkerte en wis hy sy rekenaarmanuskrip getiteld Wals met Matilda uit.
“Hy bly in ’n gerieflike woonstel wat aan die uitgewers behoort, op Milnerton-strand en dié sal hy moet prysgee as sy skryfstilte te lank aanhou. Sy uitgewers stuur ’n kleinniggie van Boerneef, Carelina van der Merwe, na Koos as die ‘muse’ wat hom moet help om van sy skrywersblok ontslae te raak. Sy word biegmoeder, beeldpoetser, leefstylafrigter en reisgenoot wat nie net toegang tot Koos se woonstel verkry nie, maar ook tot sy gedagtes.”
Dan beskryf Carelina aan Charles Smith (Volksblad, 20 Julie 2011): “Sy is die reddende engel wat Koos weer op sy voete staanmaak. Koos was baie horisontaal en sy maak hom weer staan op sy voete. Sy het haar gawes van haar grootoom, Boerneef, geërf, wat ook ’n Van der Merwe was. Sy kan dit nie help nie. Sy het dit in haar bloed. Sy het dit baie sterk in haar bloed. Sy onderdruk haar eie skeppende skryfwerk, want dan klink sy presies soos haar bekende grootoom. Sy is bang hulle noem haar Boernig.”
Thys Human skryf verder in Beeld: “Koos stry egter nie net teen sy eie demone nie, maar ook teen die verval en verlies aan sy omgewing, sy taal, sy kultuur en sy geskiedenis. Só gelees, kan die roman beskou word as ’n klaaglied vir Koos se geliefdes, die stad (Kaapstad) waarin hy woon, maar ook die Zeitgeist waarvan hy hom deel voel.
“Sleigh beskik oor die sonderlinge vermoë om selfs van daardie wasige figure wat dreig om in die stof van geskiedenisboeke te verdwyn, karakters van vlees en bloed te maak. In die verhaal wat Koos oplaas aan Carelina dikteer, word die jong Japie (Jacob) van der Merwe byvoorbeeld die berugte runderpes-reeksmoordenaar wat in 1897 groot troppe beeste in die Karoo van kant moes maak en in dieselfde jaar na Elizabeth Farm in Nieu-Suid- Wallis vertrek het om daar meer van skaapboerdery te leer. In Australië maak hy kennis met die plaas se erfgenaam, Matilda, wat hom in haar rooi skoene leer wals. Onverhole geluk is hulle egter nie beskore nie en ná talle omswerwinge word Japie uiteindelik deur die groot, groot onbekende ingesluk.
“Op dié wyse betrek Sleigh nie net die interessante ontstaansgeskiedenis van wolboerdery in die Karoo nie, maar ‘bevestig’ hy ook op kreatiewe wyse die vermoede dat die oorspronklike swagman (bondeldraende trekarbeider) waaroor die liedjie ‘Waltzing Matilda’ gaan, ’n Suid-Afrikaner met die naam Jacobus van der Merwe was.
“Hoewel die historiese agtergrond van Sleigh se romans radikaal van mekaar verskil, vertoon Wals met Matilda sekere tematiese ooreenkomste met Eilande en Afstande: die individu as slagoffer van ’n identiteitsverterende bestel; die sogenaamde ‘klein man’ wat deur magshebbers op moeilike, amper onmoontlike sendings gestuur word; en die byna desperate hunkering van alleenmense om van hul isolasie (eiland-wees) bevry te word.
“Sleigh struktureer sy roman op uiters vernuftige wyse. Van die eerste bladsy slaag hy daarin om die leser se nuuskierigheid oor selfs die kleinste verhaalaspek te prikkel. Veral meesterlik is die manier waarop hy die rampspoedige reis wat Koos in 2006 saam met sy kleindogter-hulle na die Slagtersveld onderneem, jukstaponeer met die reis wat hy in die hede van die roman (2009) met Carelina meemaak.
“Voorts handhaaf Sleigh ’n baie fyn balans tussen erns en humor. Koos se taksering van die skrywers wat saam met hom in die woonstelblok woon, asook sy striemende tirade teen literêre kritici en resensente, laat ’n mens se tone krul. Van die beskrywings in die roman is so spitsvondig dat jy dit nie onaangehaal wil laat wegkom nie, byvoorbeeld: ‘Koos was in ’n kettingbotsing met die noodlot se nagwa’; ‘Maar net twee dinge vra hy as skrywer, twee goed alleen, en dit is belastingvrye kontantpryse en gereelde applous’; en ‘Wanneer haarkappers sterf, verskyn geen komete nie’.
“Sleigh gee self toe dat hy sy eie voor- en afkeure het en by monde van sy hoofkarakters verwoord. Veral in die laaste deel van die roman kry ’n mens soms die gevoel sy skrywerstem slaan te duidelik en te prekerig in die karakterdialoog deur. Dit is egter bysaak in ’n roman wat my as leser én as lid van daardie laakbare groep ‘aanmatigende akademici’ gróót plesier verskaf het. Wals met Matilda is ’n roman waaruit Sleigh se ‘uniekheid, eiesoortigheid en seldsaamheid’ as woordkunstenaar onweerlegbaar blyk.”
In Rapport van 25 Junie 2011 beskryf Joan Hambidge Wals met Matilda as ’n “metafiksionele roman, ’n roman-oor-’n-roman waarin die skrywende instansie ’n skrywersblok beleef en besin oor die skryfproses én die verhouding tussen skryf en lewe. Dit lewer kommentaar op die kreatiewe proses en die ontvangs van ’n roman. Ons beleef die skrywende instansie se werklike lewe teenoor nog ’n lewe in fiksie, wat spanning skep, bykans soos cliffhangers in ’n vervolgverhaal.
“Die boek vlot is geskryf met ’n hele arsenaal tekste wat voor die deur kom staan. Die boek het attitude. Teenoor die bakens en dikwels lang, uitgesponne romans soos Eilande en Afstande is hierdie roman veerlig sonder om oppervlakkig te wees. Dit vra besonder tersaaklike vrae oor die aard van die romankuns. Dit lewer ook skerp kommentaar op die moderne uitgewersbedryf wat eerder ’n geldmaker sal publiseer as een wat goed nagevors en geskryf is.
Dan wil sy weet: “En die skrywer? Haak hy af met sy muse? En Japie Jumbug? En Matilda? Hoekom verdwyn sy so vinnig? Die historiese kenner Dan Sleigh lewer baie interessante kommentaar op taalkwessies, historiese feite en die algemene kulturele stand van sake. Van hier toe Doer onder.”
Anders as sy skrywer, Koos, in Wals met Matilda het Dan nog nooit aan skrywersblok gely nie. Hy het nie net aan Wals met Matilda gewerk nie, maar terselfdertyd ook aan Afstande, en gelukkig het hy nooit deurmekaar geraak met die tydsverskil waarin die twee boeke afspeel nie.
“Matilda het byvoorbeeld motorkarre in. Yskaste, tikmasjiene, daai klas van goed,” sê Dan aan Brümmer. “Met Eilande het ek reeds gedink hier is ’n waagstuk. Ek vat 300 jaar gelede, hier is nie ander mense wat dit doen nie, en dit het ’n sukses geword. Toe dink ek (met Afstande) ek gaan nog iets groters aanpak – nog vreemder, nog langer gelede, verder afstande, buitelands – en dit soos om jou droom van Kilimandjaro te verwesenlik. Jy het dit gedóén, die foto is aan jou muur en jy kan altyd daarna kyk.”
Oor ooreenkomste tussen sy romans het hy voorheen gesê dat die ding wat Eilande en Afstande in gemeen het, is “regerings wat mense rondmors en hulle stuur op moeilike, amper onmoontlike sendings.”
Matilda is egter heeltemal anders, aan Willemien Brümmer. “Hierdie is iets heeltemal anders. Koos is wel in baie opsigte teen die bestaande stelsel. Hy’t ’n groot afkeer van die regering en in werklikheid van alle politici. Hy dink hy kan homself regeer. As daar ’n ordentlike administrasie is, het jy nie politieke partye nodig nie, en hoe minder politiek, hoe beter.
“Ek stem met Koos in hierdie een opsig saam: Noem dit wat hier genoem word demokrasie, maar dit is net een man, een stem. Dit is ’n identiteitsverterende stelsel vir almal, of jou party nou gewen het of verloor het.”
Brümmer wou weet hoe hy in Matilda die verlede so moeiteloos laat vlees word het, veral Japie se omswerwinge in Australië.
“Ek doen moeite om die leser te oortuig dit is die werklikheid, die skrywer wás daar, hy hét dit gesien, ek glo in hom, hy sal nie vir my lieg nie. As ek vir jou sê ek was nog nooit in Australië nie, dan breek dit die illusie. Ek het laas so gevoel in die bioskoop met daardie groot haai wat die mense opgevreet het, en ek het daai stoel so vasgehou: Jaws. As daar nou iemand gekom het en gesê het: ‘Toemaar, dis maar net ’n stuk masjinerie’, sou ek gesê het: ‘Dan liég julle mos vir my!’.
“Elke towenaar is ’n skelm, nè? Hy trek ’n hasie uit ’n hoed, maar dis nie ’n regte hasie nie. Hy’t ’n kuns bemeester om dit te doen, en jy moet hom nie die kuns afvra nie, anders doen jy afbreuk aan sy beeld as towenaar.”
In Matilda is Koos een maal deur ’n leeskring gevra oor sy “skryf-resep”: “Een emmer suiker, ’n emmer swart verf, vier emmers bloed. Meng en laat gis. Sit voor met ’n lyk op bladsy een en ’n ongelukkige einde.” Dan Sleigh kan egter nie volgens ’n resep werk nie. “Ek doen iets heeltemal anders.”
Dan ontvang in 2002 die Molteno-medalje van die Kaap 300-stigting vir prestasie in die literêre, visuele en uitvoerende kunste en natuurlike en kulturele omgewing. In 1998 ontvang hy die goue erepenning van die Stigting Simon van der Stel en in 2007 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir die Bevordering van Geskiedenis. Die motivering vir die toekenning lui soos volg: “Dr Sleigh kan vandag met reg beskou word as een van Suid-Afrika se voorste en gesaghebbendste kenners en wêreldkundige oor die geskiedenis van die Nederlandse koloniale tydperk soos vergestalt in die VOC se heerskappy in die Kaap. Hy het ongeveer 24 boeke die lig laat sien, waaronder Jan Kompanjie: Die wêreld van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, Die Buiteposte. VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur 1652–1795 en Eilande. Deur sy gereelde artikels aangaande die Kaapse kultuur-historiese erfenis in die Saterdag-bylae van Die Burger dra dr Sleigh ’n belangrike opvoedings-, bewarings- en bewussynsboodskap oor unieke en waardevolle historiese Suid-Afrikaanse terreine, erfenisgeboue en artefakte aan die lesende publiek oor.” (Akademie Nuusbrief)
In 2011 word Dan met ’n Spesiale Prys van die Departement van Kultuursake en Sport van die Wes-Kaapse regering gehuldig.
Benewens die versamel van skeepsmodelle (hy sê self dat hy admiraal is van omtrent twintig skepe), is Dan se groot liefde geskiedenis en die opteken daarvan. Hy is een van slegs ’n handjievol geskiedkundiges wat die sewentiende-eeuse skrif van die VOC-dokumente kan lees, en in opdrag van die Nederlandse regering is hy verantwoordelik vir die transkribering van die resolusies van die Generale Vereenigde Nederlandsche Geoctroyeerde Oostindische Compagnie (VOC) se Politieke Raad.
Dan Sleigh is iemand wat in ’n ander lewe net sowel skeepskaptein kon gewees het, of navigator op die brug, of self stoker in die enjinkamer – ’n maritieme man, want soos reeds genoem, vloei die seewater sterk in sy are. Die Nederlandse verbintenis van sy ma se kant af kan dalk ook verantwoordelik wees vir sy belangstelling in die vroeë Kaapse geskiedenis. Hy is ook een van die min mense met ’n wetenskaplike agtergrond wat die oorgang kon maak van koue navorsing na fiksie.
In 2012 het Dan Sleigh saam met Piet Westra, vroeër hoof van die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad, ’n boek Die aanslag op die slaweskip Meermin, 1766 geskryf.
Sleigh het aan Deborah Steinmair (Die Burger, 6 Julie 2012) vertaal: “Dit het ’n mooi blou omslag. Daar sal ’n afbeelding van ’n hoeker onder seil op wees. Dit handel oor ’n onderwerp wat baie mense interessant sal vind; daar is deesdae soveel belangstelling in slawerny en slawe.”
Dit gaan oor 107 slawe se aanslag op ’n skip. “Toe die opstand uitbreek, het hulle die hele dienswag uitgemoor en die rustende deel van die bemanning onder dek vasgekeer sonder kos of water. Nou het die slawe die skip, maar kan dit nie beheer of seil nie, dit dryf op die oop see rond. Toe gaan hulle suid van die Kaap by Struisbaai aan wal. Daar is hoofstukke oor die oorsprong van slawerny en die rede waarom slawerny bestaan het aan die Kaap, die aard van Kaapse slawerny, asook op Madagaskar en aan die ooskus van Afrika.”
Sleigh vertel aan Steinmair dat dit sekere vooropgestelde idees wat mense van slawerny het, op sy kop gaan gooi.: “Daardie swart konings wou gewere, drank en goud hê, en daarvoor het hulle betaal met mans, vroue en kinders. Hulle het sommer hul eie vrouens ook verkoop.”
Dit vertel ook meer oor die alledaagse lewe aan die Kaap in 1766. “Onder goewerneur Tulbagh,” vertel Sleigh, “was dit reeds die daeraad van die wêreldwetenskap. Dit was ’n tyd van studie, ondersoek, humanisme, nuwe beginsels, en belangstelling uit Europa in vreemde plante, diere en sterre. Hier was nie net bobbejane en seemeeue aan die Kaap nie, hier was werklik intelligente mense ook.”
Sleigh sê hy werk die beste in stilte. Hy en Westra het soms vergader om op die rekenaar te kyk hoe dinge vorder.
“Maar wanneer ons aan die werk spring en skryf, is ons apart. Dit is eintlik die lekker deel, die stilte daarvan, wanneer jou kop nou regtig volstoom werk. Dis afskuwelik as die telefoon of die deurklok lui, want dan moet jy wegkom hier waar jy so lekker gewerk het en ’n gordyn toetrek, en alles verdwyn.”
Oor sy volgende projek vertel hy aan Steinmair “Ek sou graag nog een laaste roman wou probeer, maar dit sal dan die einde wees, want my sig word so sleg. Ek het ’n rekenaar so groot soos ’n bioskoopskerm om te kan lees wat ek doen. Daar is geen tekort aan stories nie.”
In Mei 2012 is Dan Sleigh met die koninklike Nederlandse onderskeiding Ridder in die Orde van Oranje Nassau vereer. Dit is tydens die viering van Koninginnedag by die Kasteel deur David de Waal, konsul-generaal van Nederland, aan hom oorhandig.
In sy huldigingstoespraak het De Waal Sleigh beskryf as ’n man met ’n passie vir die geskiedenis van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) aan die Kaap. Hy het gesê Sleigh se passie kan teruggevoer word na die feit dat hy ’n afstammeling is van die Amsterdamse skipper Klaas Acker.
De Waal het verder genoem dat die VOC-tydperk sentraal staan in Sleigh se werk en dat hy algemeen beskou word as die voorste kenner van dié tyd. Sy kennis en lang ondervinding van die Kaapse VOC-argiewe het gehelp om die Tanap-projek, waardeur ’n groot aantal belangrike VOC-dokumente getranskribeer en gedigitaliseer is, ’n sukses te maak. Vir Sleigh was dit die eerbewys waaraan hy die meeste waarde geheg het.
Sleigh is tans ook betrokke by die Kaapse straatname-hersieningskomitee. De Waal het die wens uitgespreek dat dit sal help om te verseker dat De Waal-rylaan, genoem na dié konsul-generaal se oupa, sy naam sal behou. (Die Burger, 2 Mei 2012)
In 2014 is Dan Sleigh deur die US Woordfees gehuldig toe ’n profielaanbieding oor hom deel van die program was. Willem de Vries (Die Burger, 13 Maart 2014) het as volg oor die aanbieding berig: “Hoewel Dan Sleigh tussen nederig en sku hink, is sy bekroonde werke deur Petra Müller opnuut as ‘meesterwerke’ bestempel. Volgens haar vorm drie van sy boeke, Buiteposte, Eilande en Afstande, ’n eenheid, ‘dié van vreemdelingskap op aarde’.”
Dan Sleigh het met haar en Wium van Zyl oor sy werk met storie, historie en taal gesels. Sleigh beskou homself as historikus eerder as letterkundige. Sleigh is ’n internasionale kenner van die tydperk van die VOC, “die grootste kapitaalsaak op Aarde” in sy tyd.
Na aan sy hart, so kom hy oor, is die karakter van Carelina van der Merwe in Wals met Matilda waarin sy as ’n taalgevoelige nasaat van die Afrikaanse digter Boerneef, die skrywer in die verhaal uit sy skrywersblok help. Van Zyl het daarop gewys kritici het aan die rol van taalterapie in die boek nog min aandag gegee. “Carelina het meer as talent,” sê Sleigh, “dit is ’n toorkuns waardeur sy met woorde genesend werk. Dit is haar woordkuns wat Koos [die skrywer] genees.”
In Wals met Matilda is ’n wens vir die onderwys waarin Carelina vra dat mense oorspronklik moet dink, taalgevoelig moet wees en hulself nie tot napraters verskraal nie. “Ek wou hê dat hulle waarheid en sin in taal sien, nie vals skaduwees van die waarheid nie, anders word taal soos blikkieskoffie.” (Die Burger, 13 Maart 2014)
In 2016 word Dan se volgende historiese roman, 1795, gepubliseer en weer ryg hy die toekennings in: wenner van NB-uitgewers se Groot Romanwedstryd in 2015, asook die WA Hofmeyr-prys in 2017 en ATKV-Prosaprys 2017. Dit was ook die wenner van ’n SALA-toekenning in 2018 en die Helgaard Steyn-prys vir skryfkuns in 2020.
In Sarie (30 Augustus 2016) vertel Phyllis Green meer van 1795: “Die verhaal draai om William van Reede van Oudshoorn, iemand wat Dan ‘die laaste goeie man’ noem. Deur sy oë ervaar ons die gebeure aan die Kaap in die jaar, 1795, die laaste jaar wat die Kaap onder die VOC-vlag regeer word. Alhoewel die kern van die verhaal gebou is rondom geskiedkundige feite, hoe die Kaap regeer word deur kommissaris Sluysken van die VOC en sy amptenary, en hoe daar oorlogswolke op die horison wink, is daar ook ’n intense persoonlike verhaal oor William se verlore liefde. Eers is dit sy geliefde Neeltje wat hy aan die dood afstaan, daarna die ongelukkige huwelik met Geesje Kirsten, van wie hy van bed en tafel geskei is. Daar kom ’n Franse vrou in die Kaap aan, Francine-Marie, en William raak verlief op haar. Maar vervulde liefde is hom nie beskore nie.
“In Simonstad lê die Engelse vloot onder bevel van generaal Craig net en wag om aan wal te gaan om die Kaap in te neem. William doen alles in sy vermoë om Sluysken te oortuig dat daar ’n oorlogsplan opgestel moet word en dat die Kaap verdedig moet word ten alle koste. Helaas, op die ou einde is dit elke korrupte amptenaar vir homself en net so is die Kaap in die hande van Brittanje. William se volgehoue verset teen verraad en vreemde oorheersing maak hom ’n teiken en die nuwe regering probeer sy lewe so moeilik as moontlik maak.
“Teen die einde van die boek lê generaal Craig besoek af by William en wanneer hy sien William skryf met ’n gansveer, sê hy aan William: ‘Moes ek uit Engeland kom om jou van staalpunte te vertel? Jy sit hier en mors jou tyd met die verlede. Dit is geskiedenis.’ Waarop William antwoord: ‘Vir my, nie geskiedenis nie: Dit is ek.’ William sê dat geskiedenis soos ’n kanker is, ‘jy kom nie van sy pyn weg nie.’
“En dit is die kern van die verhaal, die geskiedenis is wat dit is, jy kan dit nie verander nie, hoe pynlik dit ook al mag wees. Lees eers oor die verlede, want dikwels sal dit insig gee oor die hede. Ek het die verhaal geweldig geniet. Dan Sleigh kry dit reg om die geskiedenis lewendig te maak.”
Dan het aan Green vertel dat hy drie jaar lank, nag en dag, aan 1795 gewerk het. “Ek kan nie my mense, hul wêreld en al hul omstandighede verlaat voordat hul verhaal gereed was vir publikasie nie.”
Sleigh vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 18 Augustus 2016) hoekom 1795 sy laaste roman is: “Ek moet nou my tyd beter gebruik. My oë is aan die ingee; die dokter sê ek het nog so ’n paar jaar oor, en ek moet dit behoorlik gebruik.”
Hy vertel ook aan La Vita meer oor watter redes agter sy besluit sit om oor die Britse oorname van die Kaap in 1795 te skryf: “Die karakter van William van Reede van Oudtshoorn wat my al jare geïnteresseer het omdat in die Kompanjie se dokumente die heel laaste dokument sy weiering is om oor te gee.
“William was lid van die politieke raad en eienaar van die Kaapse woning Saasveld. Hier loop natuurlik nóú nog stories in die Kaap dat hy daar waar Saasveld gestaan het, daar by die Labia in Rheedestraat, nè ... gaan jy na die Monte Rosa-ouetehuis en daar óp hul terrein staan sy grafkelder.
“Dit is wat vir my in die boek op die idee gebring het dat hy hom teruggetrek het in sy grafkelder. Die storie was dat hy in sy grafkelder ’n lessenaar en papiere en potlode reggesit het sodat ás hy wou kommunikeer uit die dood dan kon hy. Hy is ’n soort verkenner van die doderyk wat sal gaan kyk hoe lyk dit daar en dan vir ons laat weet. Ongelukkig het daar geen berigte deurgekom van die verkenner af nie ...
“Ek het die kêrel goed geken en omdat hy my geïnteresseer het, en veral sy rol in die laaste stryd teen die Engelse en sy verskriklike frustrasie daarna ... Hy was ’n soort krygsgevangene in sy eie huis ... Mense is vandag nog verstom oor hoe die Engelse die land so maklik kon oorvat. Dit kon net deur verraad gebeur. En deel van die ontwikkeling van die verhaal is die ontmaskering van [Robert] Gordon, hoof van die Kaapse garnisoen. Ek het dit nie reggekry om binne-in goewerneur [Abraham] Sluysken se kop te kom nie, ek kon net róndom sy kop speel. Maar ek kon binne-in Gordon kom, want ek ken sy agtergrond beter.”
Oor sy navorsing wat hy vir 1795 gedoen het en hoe dit verskil van sy navorsing vir feite-artikels vertel Dan aan Murray la Vita: “Ek sal nie navorsing doen vir ’n roman nie, want dis te vars; jy moet lánk daaroor dink en dit moet deur en deur gedink word. As ek ’n artikel oor hom sou skryf, dan sou ek die navorsing gaan doen en môre die artikel skryf, maar vir ’n roman is dit glad anders.
“Dit is jare se kennis wat bymekaarkom. En ek moet weer die naam van Helena Scheffler noem. Sy is só ’n wonderlike kultuurhistoriese kenner van kleredrag, kós, meubels. Sy het my raad gegee.”
Vir La Vita is een van die dinge van 1795 wat hom geboei het, hoe die storie van die totstandkoming van Afrikaans uitgebeeld word. Dan verduidelik aan hom dat deur die hele boek die Nederlandse taal aan die verander is. “En William gebruik daardie [nuwe] woorde; hy is ’n Renaissancemens; hy verander saam met die tyd. Afrikaans het deels tot stand gekom omdat in die tyd van die VOC geen hoërskole aan die Kaap was nie,” sê Sleigh. “Daar was geen taalkundige opvoeding nie. Die kinders het gepraat soos jy op die plaas en op straat en in die slawehuis ... en die kombuis praat. So dit is die natuurlike taal. Daar was nou jong klerke wat by die Kompanjie begin werk het wat nie geweet het hoe om te spel of [Nederlands] te skryf nie. Hulle het geskryf soos wat hulle praat.”
La Vita beskou die karakter van die Franse weduwee Francine-Marie de Remony as een van die sprankelendste in 1795. Sleigh vertel aan hom meer van haar: “In William se huis staan ’n klavier onder ’n swart doek. Dit is natuurlik kulturele dood; daar gebeur níks in die huis nie ... En nou kom Francine en die eerste ding wat sy sê, is: ‘Kan ons nie daardie ding weer aan die gang kry nie?’ En hulle kry dit aan die gang ... nou begin die kulturele lewe weer in sy huis terugkom.
“My gedagte daar is: Wat ons skep, wat die Mozarts en die Rembrandts en Vermeer, en dié kêrels geskep het – dít is wat ná ons sal bly. Ons sal vergaan, en dalk verdwyn die mens van die aardbol af. Maar die mens se sképping is die beste van hom, die beste wat hy op aarde verrig het en dít is wat hopelik behoue sal bly ná ons. As daar ’n laaste vuurpyl na die naaste planeet is, dan is dít wat daarop behoort te wees – die mens se beste skeppings.
“Heel aan die einde dan vra Francine ook nog vir William: ‘Wat ook al gebeur, glo in skoonheid.’”
Die beoordelaars van die WA Hofmeyr-prys, Ena Jansen, Danie Marais en Francois Smith, beskryf 1795 as ’n “ambisieuse museale roman waarin Sleigh se kennis van die VOC-geskiedenis indringend verhaal word.
“Sleigh laat oortuigend sien dat gebeure uit 1795 relevant en aktueel is, veral wanneer dit gaan om verset teen verraad en korrupsie en om opstand teen die verlies van kultuur en taal.”
Vir die beoordelaars staan Sleigh se “kragtige, evokatiewe prosa” uit en “vanaf bl 1 stap jy met hom [William] Strandstraat op na die klipkuil en sien die Kaap deur sy oë nooit weer kan jy Kaapstad nié as palimpses ervaar nie.”
Op LitNet sluit Heilna du Plooy haar LitNet Akademies-resensie-essay as volg af: “Daar is onderliggend aan die roman ook die tema van die held wat nooit sy vermoëns tot volle ontplooiing kan bring nie, wat op ’n byna tragiese wyse gedoem is om sy positiewe en dienende ingesteldheid al hoe meer te internaliseer en om al hoe meer na binne te lewe. Die uitbeelding van William van Reede van Oudtshoorn as so ’n figuur werp lig op die afwesigheid van helde in bepaalde historiese periodes, maar ook op die magteloosheid van die denkende individu teen die meeslepende krag van ’n politieke en finansiële magspel.
“In hierdie stuk kon slegs enkele aspekte van 1795 aangeraak word. Dit is ’n ryk roman wat eintlik ‘in mondjesmaat’ gelees moet word om die fyn afwerking van besonderhede en formulering tot sy reg te laat kom.”
Op haar blog skryf Joan Hambidge: “Die sogenaamde historiografiese roman is ’n uiters belangrike deel van enige letterkunde. Die kluif boeke oor die Anglo-Boereoorlog onder andere, of Dan Sleigh se falanks belangrike tekste, maak vir belangrike en stewige leeservarings. In die hande van ’n mindere skrywer sou die gaapkurwe hoog gewees het, maar Sleigh laai die gegewe met drama. Die romanwedstryd se eerste prys in 2015 was welverdiend.”
In Rapport van 7 Augustus 2016 skryf Chris van der Merwe dat die integrasie van geskiedenis en verhaal en van storie en historie uitstaande is. “Elke toneel het ’n funksie in die ontwikkeling van die twee sentrale temas van oorlog en liefde. Opmerklik is die balans tussen vreugde en verdriet.
“Saam met die teleurstelling oor die verraad van die Kaapse regeerders kom die troos van ’n inspirerende liefdesverhouding. Albei temas word gekenmerk deur verlies, en verlies het skynbaar die laaste woord. Tog is daar ’n suggestie dat die kuns, of dit nou die woordkuns is of musiek, iets van die essensie van die lewe kan weergee wat steeds bly spreek, oor die verganklikheid van tye heen. (...)
“William ontdek teen die einde van die roman ’n boeiende verhaal, geskryf in die Kaapse dialek, oor die gewelddadige verlede in die binneland – ’n verhaal wat nogal sterk herinner aan Willem Anker se roman Buys. Ook William begin nou om sy ervaringe neer te skryf, en die suggestie word gewek dat die roman wat die leser lees, die storie is wat William neergeskryf het. Sy taal word bedreig, maar daar is tog tekens van kreatiwiteit in ’n nuwe taal wat aan die ontwikkel is.
“Sleigh se 1795 is ’n grootse roman, ’n helder baken wat toon wát in Afrikaans vermag kan word.”
In Mei 2017 is Dan Sleigh deur die FAK, in samewerking met die Hugenote-Vereniging van Suid-Afrika, vereer vir sy bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur toe hulle die NP Van Wyk Louw-toekenning aan hom oorhandig het tydens ’n geleentheid by die Hugenote-Gedenkmuseum op Franschhoek.
Tydens die oorhandiging het Danie Langner gesê dat Dan Sleigh met boeke soos Eilande en 1795 nie alleen die ou geskiedenis van die VOC op ’n besonder boeiende manier oordra nie, maar ook die geskiedkundige band wat daar tussen Suid-Afrika en Nederland bestaan, bevestig.
“In sy meesterwerk, 1795, vertel Sleigh die verhaal van William van Reede van Oudtshoorn se liefde vir die Kaap en sy geskiedenis, sy verdediging van die Kolonie teen die oprukkende Britse besetters, sy rebellie teen die lamsakkige VOC-owerheid en sy strewe na ’n eie Kaapse Republiek.”
’n Groot gedeelte van 1795 het William se huis, Saasveld, wat aan die voet van Tafelberg gestaan het, as agtergrond. Die huis is in die 1950's afgebreek en is steen vir steen na Franschhoek verskuif, waar dit gebruik is om die Hugenote-museum op te rig.
Langner het voortgegaan: “In 1795 beskryf dr Sleigh vir William as die laaste goeie man. Ek dink William sou bly wees as hy kon weet dat sy Saasveld-huis eeue later ’n bymekaarkomplek was om aan nog ’n goeie man erkenning te gee vir sy liefde vir die Kaap en geskiedenis.”
Sleigh het die toekenning met die volgende woorde in ontvangs geneem: “Hierdie toekenning span vir my die kroon op my skrywersloopbaan en dit is ’n groot eer om op dié manier deur die FAK vereer te word en met Van Wyk Louw geassosieer te word.” (Netwerk24, 27 April 2017)
In Mei 2017 is Dan Sleigh na Nederland om daar ’n paar lesings te gaan lewer. Op 31 Mei het hy by die Tong Tong-fees in Den Haag gepraat. Die titel van sy lesing was “Gemengde cultuur, gedeeld verleden in Zuid-Afrika”. Hy het gepraat oor die gemeenskaplike geskiedkundige en kultuurbande tussen Indonesië, Suid-Afrika en Nederland en hulle gedeelde geskiedenis belig.
Op 1 Junie was hy in Amsterdam waar hy in die Zuid-Afrika Huis onder leiding van Ingrid Glorie met Duncon Bull, bewaarder van die buitelandse skilderkuns van die Rijksmuseum, gepraat het oor 1795 en die geskiedkundige konteks daarvan.
In 2022 is Dan Sleigh se volgende boek, wat sy laaste boek sou wees, deur Tafelberg uitgegee. Op LitNet het Willem de Vries met hom gesels oor Retoervloot – Kaapstad en die VOC in 1713. Oor die motivering vir sy passievolle belangstelling daarin om die geskiedenis van die VOC vas te lê, het Sleigh aan De Vries gesê: “Die motivering was hoofsaaklik die plesier van VOC-studies, as gevolg van die interessantheid, onuitputlike rykdom en veelvuldige beloning daarvan. Aan die inligting wat in Retoervloot gepubliseer is, het al lank ’n behoefte in VOC-historiografie bestaan, eerstens oor die beheer en werking van die stelsel, tweedens oor die oorsprong of bron van die 1713-pokke-epidemie.”
Oor die nalatenskap van die VOC vir vandag het Dan Sleigh voortgegaan: “Die meeste van die Kompanjie se ondernemings was geslaagd, anders sou hulle nie kapitaal daarin belê het nie. Die Kaapse maritieme diensstasie was ’n duur mislukking, totdat Jan van Riebeeck die inisiatief geneem het om die diensstasie se produksiestelsel uit die Tafelvallei na die Liesbeeckvallei te verskuif. Wat in later jare teen die VOC getel het, was sy logge, duur administrasie, korrupsie op alle vlakke en aggressiewe Britse imperialisme. Die VOC se vernaamste nalatenskap beskou ek as onder andere die wêreldstad Kaapstad, gestig deur en vir die VOC, sy argief (as ’n bruikbare en betroubare venster op die verlede), die Afrikaanse taal en die Wes-Kaapse bevolking, afstammelinge van Koina, Oosterlinge, Europeërs en Afrikane uit Wes-Afrika, Madagaskar en Mosambiek.”
“Kaapstad se maritieme geskiedenis bly met die hede verweef,” het De Vries aan Dan Sleigh gesê. “’n Boek soos Retoervloot wys hoedat die geskiedenis ’n gesprek tussen eras en beskouings behels. Dit laat ’n mens dink aan die voorbeeld van die Golden Acre, vroeër genoem die Goue Akker, ’n naam wat dateer van lank voor verdiepinggeboue aan die Kaap verrys het en waaroor jy al voorheen geskryf het. Vertel iets meer hiervan, en die rol daarvan wat die retoervlote betref het.”
Hierop het Sleigh as volg geantwoord: “Die belang en sukses van die maritieme aanvullingsdiens in Tafelbaai, soos oor 143 jaar deur die Kompanjie se retoervlote bewys, het ’n aanloklike teiken van groeiende Britse imperialisme geword. Die fisiese aanslag op die Kaap het van 1778 tot 1806 geduur. As hawestad op ’n belangrike seeroete in die Britse Ryk het Kaapstad, sy regering en bevolking ná 1795 ’n verreikende metamorfose beleef.”
Chris van der Merwe skryf op LitNet oor die impetus agter die skryf van Retoervloot: “’n Geluk is nie iets wat ’n mens aldag tref nie, maar soms gebeur dit wel. Dit het die historikus Dan Sleigh ervaar toe hy toevallig in die biblioteek van die Witwatersrandse Universiteit ’n joernaal ontdek wat die Nederlandse admiraal Van Steelant in 1713 geskryf het oor sy terugvaart uit Batavia na Nederland. Die joernaal is nog nie vantevore ondersoek nie, en dit bevat waardevolle inligting – Sleigh se geluk is daarom ook ’n geluk vir die lesers van sy jongste publikasie, Retoervloot. Hierin gee die skrywer ’n verkorte, vertaalde weergawe van die joernaal, maar hy bied veel meer as dit – ’n magdom gegewens oor die VOC, oor die ‘Kaapse vlek’ en ook oor die skrywer van die joernaal. (...)
“Seker die belangrikste inligting wat uit die joernaal afgelei kan word, is dat die pokke-epidemie wat die Kaap in 1713 getref het, versprei is vanuit die Sandenburg, die boot waarop Van Steelant gevaar het. Van Steelant se vyf kinders, wat saam met hom op die boot was, het almal pokke gekry. By die Kaap aangekom, was daar nie ’n mediese amptenaar op die landsboot wat die inkomende bote geïnspekteer het nie, en op land is daar gevolglik geen kwarantynmaatreëls getref teen die verspreiding van pokke nie. Hoewel Van Steelant se kinders toe reeds van hul siekte herstel het, is hul klere in die slawelosie gewas, en vanaf die kinderklere het die pokkevirus deur die slawelosie versprei en van daar deur die hele nedersetting. Uiteindelik het 1 984 mense aan die pandemie gesterf – ongeveer 50% van die bevolking; die Koina is feitlik totaal uitgewis. Sleigh vertel ’n interessante verhaal om te illustreer hoe lank die pokkevirus buite die menslike liggaam kan voortleef. Hy vertel van die graf van ’n pokkeslagoffer wat in 1759 in ’n dorpie in Engeland oopgegrawe is, 30 jaar na sy dood, om plek te maak vir ’n nuwe lyk. Al die begrafnisgangers het pokke gekry, en van hulle af het dit oor die hele dorp versprei.
“Hoewel die pokke-epidemie die verreikendste gevolg van die besoek van die retoervloot van Van Steelant was, is geen amptelike melding gemaak van pokke aan die Kaap of aan boord van die Sandenburg nie – nóg in die dagregister van Helot, die waarnemende Kaapse bevelvoerder, nóg in die joernaal van Van Steelant. Onrusbarende inligting word liefs verswyg. (...)
“Sleigh plaas die joernaal van Van Steelant binne die konteks van die bedrywighede van die VOC. In 1602 gestig, het die organisasie mettertyd in ’n magtige handelsryk ontwikkel. Die kaarte wat by die boek ingesluit is, toon die uitgestrektheid van die gebied waar hulle handel gedryf het. (...) Ten slotte moet melding gemaak word van die waardevolle kaarte en tekeninge voor in die boek, die kosbare versameling kleurfoto’s en die pragtige omslag. Om by die taal van die VOC te bly: ’n vlagskippublikasie!”
Oor Retoervloot skryf Fransjohan Pretorius (Netwerk24, 7 Maart 2022) as volg: “Retoervloot is iets vir die niefiksie-rak. Die oorsprong van die werk is die skrywer se ontdekking in die biblioteek van die Universiteit van die Witwatersrand van die persoonlike joernaal van admiraal Johannes van Steelant van die VOC oor sy retoervloot van Batavia tot in Nederland in 1713. Dit was die vloot wat die verwoestende epidemie van kinderpokke na die Kaap gebring het. Eindelik kon Sleigh vir ons vasstel op watter skip die pokke na die Kaap toe gekom het.
“Waaroor hierdie werk nie gaan nie, is om by die kinderpokke-geskiedskrywing betrokke te raak wat sedert die 1970’s woed deur historici soos Shula Marks, Robert Ross, Sumner la Croix en Russel Viljone. Dit bied wel vir historici wat dáárin belang stel waardevolle bykomende pitkos.
“Wat ons hier kry, is Sleigh se parafrasering van Van Steelant se joernaal. Dit gee vir ons ’n verhelderende kyk op die verhaal van die admiraal en sy vloot en hul maande lange stryd op see teen afstande, siektes en elemente van die natuur. En natuurlik van hulle verblyf aan die Kaap. (...)
“Naas die fyn parafrasering van Van Steelant se joernaal gaan die skrywer buite om die retoervloot van 1713, en gee hy ter wille van konteks gebeure en ervarings uit vroeëre en latere retoervlote – alles inligting wat vir die fynproewer kos is. Het jy egter geen aptyt vir detail nie, kan jy swaar sluk.
“Deur sy kundige behandeling van Van Steelant se joernaal gee die skrywer vir ons ’n ensiklopedie van die VOC se bedrywighede, met die retoervloot van 1713 wat die kern daarvan vorm. Die joernaal spreek van energie, ondernemingsgees, moed en deursettingsvermoë.
“Waardevolle inligting kry die leser ook in die verklarende woordelys, die omskakeling van mate en gewigte, die verhelderende kaarte en die keurige kleurfoto’s. Met die publikasie van Retoervloot gee Tafelberg aan Sleigh erkenning vir sy lewenslange studie van die VOC-tydperk.”
Jean Meiring beskryf in sy resensie Retoervloot as ’n “manjifieke, uiters genietlike boek” (Netwerk24, 27 Februarie 2022).
Meiring het voorts geskryf: “Soos Karel Schoeman is Sleigh iemand oor wie die leser gou wonder: Is hy ’n geskiedkundige of het hy self ’n stuk van sy prille jeug in die 17de en vroeg 18de eeu aan die Kaap deurgebring? Met helder en soms vermaaklike segging (die totstandkoming van die VOC word byvoorbeeld met die oerknal vergelyk op bladsy 32), skreef Sleigh hier, soos in sy vorige historiese niefiksieboeke, die luik oop op ’n tydperk in ons land se geskiedenis toe nog baie min van die boustene van wat sou volg, vasgemessel was. (...)
“Dis die Kaap as produk van die handelswêreld van daardie tyd in die algemeen en van die retoervlootkultuur in die besonder wat hier Sleigh se stip aandag het. Tog pak hy dit – ’n tema so wyd soos die Heer se genade – aan die hand van ’n spesifieke teks aan wat die loep op ’n enkele jaar werp: 1713. (...)
“Retoervloot móét gelees word, bedink en beredeneer word. Sleigh het hiervoor ’n luik oopgesper.”
Dan Sleigh is op Vrydag 28 Julie 2023 deur ’n familielid en buurman dood in sy huis gevind. Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie. Hy was 84 jaar oud.
Huldeblyke:
- Wium van Zyl: “Die Afrikaanse letterkunde en die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing het ’n onvervangbare bron van kennis van sowel die taal as die land verloor. Hy het gelukkig vooruit gekyk en die VOC-vereniging met jonger belangstellendes gevul. Ek is dankbaar dat ons wel so ’n talent vir soveel jare gegun is. (...) As historikus het hy steeds die nadruk geplaas dat geskiedskrywing gegrond moet wees op argivale bronne en het hy populêre boeke in dié verband met groot skeptisisme beskou.” (Die Burger, 31 Julie 2023)
- Hester Carstens, Dan Sleigh se uitgewer: “Dit is die hartseerste tyding wat ek in ’n baie lang tyd ontvang het. Mense sê altyd wanneer iemand sterf, is dit soos ’n biblioteek wat afbrand. In Sleigh se geval is dit soos 20 biblioteke wat afgebrand het. Sy dood is ’n onskatbare verlies. Geen mens op aarde het die dinge geweet wat hy geweet het nie. Ek onthou hom as iemand wat sy kennis mildelik gedeel het. Hetsy in boeke, aan die studente wat hy gelei het of die doodgewone mens, en hy het dit met ’n plesier gedeel. Hy was ’n wonderlike, waarlik mensliewende, hartlike, fantastiese man en almal sal dit beaam.” (Die Burger, 31 Julie 2023)
- Joan Hambidge: “Op ’n keer het hy opgemerk dat hy eers geskiedkundige is en dan skrywer. Tog verweef hy die twee uitstekend. Buitelands is hy ook erken. Eilande is in 2004 deur André P Brink vertaal as Islands en dit haal selfs die lys van 10 beste boeke van die Seattle Times in 2005. Selfs die Booklist het dit in die VSA uitgesonder as uitmuntend en Stemmen uit zee het eweneens lof in Nederland ontlok. Michael Pye se uitspraak in The Scotsman (2004) kan op al sy historiese tekste van toepassing gemaak word: ‘I can only beg you: make time for this brisk, dense and entirely fascinating book. Its scale is exhilarating, not exhausting. Dan Sleigh has made a whole history dance and has defied time to bring back, like some sorcerer, the beat and blood of lives that would otherwise be only traces in the documents of an old colony.’
“Hy was een van min skrywers en navorsers wat nog die dokumente in die oorspronklike taal van die VOC kon lees. Elke roman lewer bewys van hóé belangrik dit is om hierdie soort optekening in romans te lees waarvan die meeste lesers beskamend min weet, soos oor rouborde en wapens. Van ‘fraaije gestreepte woudezels’ (kwaggas) en Van Steelant se joernaal. Of die oorsprong of bron van die 1713-pokke-epidemie.
“’n Mens deel sy sentimente oor die verwaarlosing van die Kasteel en die verloedering van Kaapstad. Oor die ontstaan van Afrikaans kon hy gesaghebbend praat: Hy het immers argiewe besoek.
“Hy was ’n jintelman wat my altyd as ‘u’ aangespreek het ondanks mý versoek om informeel te wees. Dis die einde van ’n era.” (Vrye Weekblad, 3 Augustus 2023)
- Jean Sleigh, sy dogter: “My pa se dood is tragies en skielik. As jy my pa in een woord moet beskryf, sal dit ‘epies’ wees. Hy het soveel mense in soveel sfere geraak – etnies, kultureel. Net ’n maand gelede het ek nog oproepe ontvang van laerskoolkinders wat wou hê hy moes saam met hulle op ’n toer gaan. Die oproepe en boodskappe wat ek nou ontvang, is ’n herhaling daarvan, van mense wat dieselfde voel. Hy laat ’n groot leemte. Wanneer hy besluit het om iets te doen, het hy dit deurgevoer. Die boeke wat hy geskryf het ... hy was soos ’n masjien.” (Netwerk24, 30 Julie 2023)
- Daniel Lötter, skrywer: “Van Sleigh se werke soos Eilande en Afstande is soos bakens in die Afrikaanse letterkunde en sy optekening van ons geskiedenis was nog altyd waardevolle, en korrekte bronwerke. Dok Dan se bydrae sal soos die skrywer self onthou en geëer word. Ek was ’n geweldige bewonderaar van hom as akademikus, historikus, opvoeder en letterkundige. Sy kennis van die Kompanjiestuin by uitstek was ongeëwenaard.” (Netwerk24, 30 Julie 2023)
- Wes-Kaapse regering: “Dan Sleigh made a tremendous impact through his work as a novelist and historian. He possessed a range of knowledge that we will probably not see in anyone else again. His passion and drive for his research showed in everything that he did. We have lost a legend of the arts with his passing. Our condolences go out to Dan’s family, friends and all those who knew and worked with him.” (“We mourn the passing of a brilliant historian and novelist, Dan Sleigh”, Wes-Kaapse regering)
Matilda Burden (Die Burger, 2 Augustus 2023) skryf in haar huldiging van Dan Sleigh: “Hy het ’n gebalanseerde lewensuitkyk gehad en het elke gebeurtenis, hetsy in die hede of van historiese aard, in perspektief geplaas en die algehele konteks oorweeg voordat hy ’n uitspraak daaroor gegee het.
“Die heengaan van Sleigh is in meer as een opsig ’n enorme verlies vir Suid-Afrika. Hy was sonder twyfel een van die hardwerkendste, noukeurigste en mees toegewyde historici van sy tyd, en heel moontlik van ’n era wat baie wyer strek as net sy eie tyd.
“Hy was ’n onvergelyklike bron van kennis van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) se tydperk aan die Kaap, maar ook van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die breë. Dis tog goed om te weet dat dié lof in sy lewe aan hom gebring is en nie net nou ná sy dood nie. (...)
“Sleigh het insig gehad wat hom in staat gestel het om van blote feite verklarings te maak – verklarings vir wêreldtoestande, maar ook menslike optrede. Hy het historiese feite ontleed en laat praat sonder om sy eie agendas in te span.
“In sy navorsing was hy deeglik – hy het nie tyd en moeite ontsien om stapels en nogmaals stapels argiefdokumente deur te werk nie. Hy was egter ook snydend eerlik in sy vertolking – hy het nie verdraai of aangepas om ideologieë of verwagtinge te probeer bevredig nie. Die resultaat van sy navorsingsetiek was betroubare en onbevooroordeelde bronne wat hy nagelaat het vir geskiedenis, kultuurgeskiedenis en verwante dissiplines in Suid-Afrika en wêreldwyd. (...)
“Hy het die kuns om te skryf nie net in sy romans toegepas nie, maar dit ook op geskiedskrywing toegepas. Hy het graag gesê dat geskiedenis tweeledig is: Dit bestaan uit die wetenskap van navorsing, ontleding en vertolking van feite, maar ook uit die kuns om weer te gee, die kuns van skryf.
“Voordat ek hom goed genoeg leer ken het, het ek gedink dat hy stug, onbereikbaar en onbehulpsaam was, maar dit kon nie verder van die werklikheid af gewees het nie. Dit was omdat hy stil van geaardheid en nederig was dat ’n mens hom min hoor praat het. Hy was in werklikheid so behulpsaam en mededeelsaam met feite, metodiek en bronne, dat daar sekerlik baie navorsers is wat hom ewig dankbaar sal wees vir sy opregte belangstelling in hul onderwerpe en sy vrygewige deel van inligting.”
Publikasies
Publikasie |
Duif oor water |
Publikasiedatum |
1971 |
ISBN |
hb |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
C Louis Leipoldt-prys van Departement van Nasionale Opvoeding |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die nege-maande-mars |
Publikasiedatum |
1972 |
ISBN |
0624002519 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
’n Man om te hardloop |
Publikasiedatum |
1973 |
ISBN |
0624004686 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Tussen twee vlae |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Onder die bittervaan |
Publikasiedatum |
1975 |
ISBN |
0624007561 (hb) |
Uitgewer |
J Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Anselm en die jut |
Publikasiedatum |
1976 |
ISBN |
0799302406 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
2de prys Van der Walt se wedstryd vir oorspronklike jeugverhale |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Sersant Barodien, Kaapse Korps |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Jan Kompanjie: die wêreld van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie |
Publikasiedatum |
1978 |
ISBN |
06240116658 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Niefiksie (geskiedenis vir die jeug) |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
’n Kanon vir Barbier |
Publikasiedatum |
1978 |
ISBN |
0624011240 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Ruiters teen die Ryk: die verhaal van die Tweede Vryheidsoorlog |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0625015762 (hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Niefiksie (geskiedenis vir die jeug) |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Van Bart, Martiens: Voortreflike ABO-samevatting. Die Burger, 6 November 1999 |
Publikasie |
Vryburger Tas |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
The Huguenots; with AJ Grant and Ronald Mayo |
Publikasiedatum |
1988 |
ISBN |
0636010813 |
Uitgewer |
Kaapstad: Maskew Miller Longman |
Literêre vorm |
Niefiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die buiteposte: VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur 1652-1795 |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Nie-fiksie (geskiedenis) |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
The forts of the Liesbeeck frontier |
Publikasiedatum |
1996 |
ISBN |
0620207752 |
Uitgewer |
Kaapstad: Castle Military Museum |
Literêre vorm |
Niefiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
They rode against an Empire |
Publikasiedatum |
1999 |
ISBN |
0620244577 |
Uitgewer |
Kaapstad: Castle Military Museum |
Literêre vorm |
Niefiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Eilande |
Publikasiedatum |
2002 |
ISBN |
0624040313 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Afstande |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
9780624049098 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
K Sello Duiker-prys 2012 |
Vertalings |
Nederlands 2011 |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Wals met Matilda |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780624051466 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die aanslag op die slaweskip Meermin, 1766 / saam met Piet Westra |
Publikasiedatum |
9780620545969 (sb) |
ISBN |
2012 |
Uitgewer |
Kenilworth: Africana Publishers |
Literêre vorm |
Geskiedenis |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
1795 |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780624073307 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Geskiedkundige roman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Retoervloot – Kaapstad en die VOC in 1713 |
Publikasiedatum |
2022 |
ISBN |
9780624092520 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Geskiedenis |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor Dan Sleigh
- Azar-Luxton, Grizéll: Dan Sleigh – seemens. Kaapse Bibliotekaris, Mei/Junie 2004
- Badenhorst, Mickey: Foto: Rustenburg Leeskring bespreek Dan Sleigh se historiese roman 1795. LitNet, 1 November 2018
- Bakkes, André: Castle indeed the oldest. Die Burger, 31 Mei 2011
- Brümmer, Willemien: Op reis met “Matilda”. Die Burger, 3 Junie 2011
- Bruwer, Naomi: Foto’s en commendatio’s: die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2015. LitNet, 22 Mei 2015
- Burden, Matilda: Dan Sleigh “een van mees toegewyde historici van sy tyd”. Netwerk24, 31 Julie 2023
- Comestor, Johannes:
- Cornelissen, Joris: “Gedeeld, verleden, gemengd cultuur” – lezing. LitNet, 31 Mei 2017
- Dan Sleigh: Historian, novelist, conservationist
- Dan Sleigh
- Dan Sleigh
- Dan Sleigh bied lesingreeks in Nederland aan. Netwerk24, 27 April 2017
- “Dan Sleigh se dood is soos 20 biblioteke wat afgebrand het”. Op en wakker, 2 Augustus 2023
- Dan Sleigh vereer deur FAK. Bolander, 31 Mei 2017
- Davids, Kaydene: Bekroonde skrywer Dan Sleigh oorlede. Netwerk24, 29 Julie 2023
- De Vries, Willem: US Woordfees huldig Dan Sleigh. Die Burger, 13 Maart 2014
- De Waal, Shaun: Obituaries / Tributes paid to Dan Sleigh, who illuminated SA’s colonial history in his epic novels. Network24, 31 Julie 2023
- Green, Phyllis: Dan Sleigh kry iets reg wat min kan! Sarie, 30 Augustus 2016
- Hambidge, Joan: Beleefd en belese: ons groet Dan Sleigh. Vrye Weekblad, 3 Augustus 2023
- La Vita, Murray:
- Dan Sleigh se Persiese towertapyt. Die Burger, 20 Augustus 2010
- En wat van die skrywers? Netwerk24, 19 Augustus 2016
- Meyer, Naomi: Onderhoud: wenner van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2015. LitNet, 18 Junie 2015
- Nieuwoudt, Stephanie Oor eilande en stilte. Beeld, 20 Julie 2002
- Nieuwoudt, Stephanie: Sleigh se Eilande verkoop blitsig. Die Burger, 27 Julie 2002
- Oosthuizen, Jean: Dan Sleigh roskam uitgewers oor verspreiding van pseudogeskiedenis. LitNet, 11 Oktober 2022
- Persbericht: Zuid-Afrikaanse historikus Dan Sleigh voor lezingenreeks naar Nederland. LitNet, 20 April 2017
- Pople, Laetitia: Sleigh wen WA Hofmeyr-prys. Netwerk24, 22 Junie 2017
- Proust herbesoek. Beeld, 15 September 2012
- RIV Dan Sleigh (1938–2023). Versindaba, 29 Julie 2023
- Salzwedel, Ilse: Dan Sleigh – een van Afrikaans se onbetwiste meesters. Afrikaans.com, 15 Januarie 2018
- Smit, Jana: Sleigh ’n “onvervangbare bron van kennis”. Netwerk24, 30 Julie 2023
- Smith, Charles:
- FAK vereer skrywer Dan Sleigh. Netwerk24, 27 April 2017
- Hy is altyd eers geskiedkundige en dan skrywer, sê Dan Sleigh. Volksblad, 20 Julie 2011
- Smith, Francois: Die mens is ’n eiland. Die Burger, 27 Maart 2002
- Stehle, Rudolf: Bekroonde skrywer vrees toekoms van reeds siek Afrikaans. Volksblad, 16 Oktober 2012
- Van Bart, Martiens: Skole vir bewaring vereer; pionier tree af. Die Burger, 7 Desember 1996
- Van der Merwe, Anja: Skrywer, historikus Dan Sleigh sterf. Maroela Media, 29 Julie 2023
- Van Zyl, Marinda: Sleigh laat historiese verhaal lééf met mense. Beeld, 23 April 2012
- We mourn the passing of a brilliant historian and novelist, Dan Sleigh. Wes-Kaapse regering, 29 July 2023
- Westcoastway: A morning with Dr Dan Sleigh and the friends from the Blaauwberg Conservation Area
- Westra, Piet: Nederland vereer Sleigh vir sy werk. Die Burger, 2 Mei 2012
Artikels deur Dan Sleigh beskikbaar op die internet
- Bedanking by ontvangs van UJ-prys, 11 Oktober 2012. LitNet, 5 November 2011
- Eilande se besonderse geskiedenis nou verbind met dié van SA. Volksblad, 17 November 2001
- Groenpunt: Plek van die mense. Die Burger, 25 November 2006
- Kleurryke verlede uitgebeeld in gebrandskilderde glas. Die Burger, 8 April 2000
- Mauritius het bande van 400 jaar met Kaap die Goeie Hoop. Die Burger, 19 September 1998
- Morawiese Mamre se wortels groei diep in Kaapse Weskus. Die Burger, 7 Junie 1997
- Moslems benadeel? Die Burger, 6 November 2004
- Robbeneiland as Kompanjiestronk weersinwekkend. Die Burger, 24 November 2001
- Robbeneiland was ook weggooiplek van ellendelinge. Die Burger, 1 Desember 2001
- Stigting VOC herdenk 300 j bande tussen SA, Australië. Die Burger, 1 Maart 1997
- Vroeë Kaapse inboorlingleiers. Die Burger, 22 Augustus 1995
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
Dít was Dan Sleigh: die héél beste!