
Dan Sleigh het pas die eerste prys van NB-Uitgewers se Groot Romankompetisie met Die laaste goeie man gewen. Hy gesels met Naomi Meyer oor dié toekenning.
Dan, baie geluk met die toekenning van die eerste prys in die Groot Afrikaanse Romankompetisie. Vertel ons asseblief oor die manuskrip wat jy voorgelê het.
Dankie vir die gelukwensing. Die agtergrond is die jaar 1795, ’n keerdatum, toe Kapenaars kon voel wat die Koina ’n eeu tevore moes gevoel het, toe hulle hul land aan Europese koloniste verloor het. Dié jaar verloor Kapenaars onverwags die land aan die Engelse. Hoe reageer hulle?
Om in hierdie land oor die geskiedenis te skryf, is plofbaar. My vraag is: Kan mens jou dit waarlik indink, vanuit ons hedendaagse perspektief waar ons ons nou bevind, in die skoene van 'n ander, in 'n ander tyd? Is dit moontlik om die werklikheid en vandag se gebeure uit te sluit in die skryf van die roman? Of is dit juis nie die doel nie?
Dit is my werk, ek moet dit doen. Geskiedenis skryf is ’n wetenskap én ’n kuns en “in hierdie land” sonder vrees of politieke korrektheid. Maar ten opsigte van sogenaamde historiese romans was Tolstoi, Conrad, Solzhenitsyn en ander hoogs suksesvol. ’n Romanskrywer woon in sy verbeelding, kies self sy tydperk, en dáár bestaan geen “hedendaags” nie. Die leser kyk deur ’n venster na binne; wat hy sien, hang van hom af. Dus, is dit vir ’n skrywer moontlik om vandag met sy onwerklikhede uit te sluit? Of te inkorporeer? Lees die boek, kyk self.
Michiel Heyns het in sy voorlesing van die commendatio by die prystoekenningsgeleentheid genoem dat hy gereken het dis 'n baie hoë standaard waaraan mens as skrywer moet voldoen – om die karakter uit te sonder as "die laaste goeie man". Dit herinner aan Noag, of 'n Bybelse soort idioom, "die Israeliet sonder bedrog". Het jy hierdie druk ondervind terwyl jy die roman geskryf het, of het die titel eers later gekom?
In die Kaapse Argief is die volgende getuigskrif van die hoofkarakter, deur ’n tydgenoot geskryf:
William Ferdinand van Reede van Oudshoorn, lidt der Regeering mitsgaders praesident van Commissarissen uit de Rade van Justitie en administrateur ’s Comps. graan magasynen. Een warme aanhanger van de teegenswoordige Constitutie, die met al zyn magt de Engelschen heeft tragt te weeren, en des weegens ook verscheyde onaangenaamheden heeft moeten ondergaan. Besit een gesond en goed oordeel, voert met de grootste nauwkeurigheyd uit al het geen hy onderneemt en onderhoud alle zyne zaaken in de volmaakste order. Dat hy ook met goed gevolg zouden kunnen werden gebruikt in het militaire vak getuige zyne verrigtingen als Commandant van het Pennisten Corps. Allesints recommendabel, te meer daar hy by de burgers zeer is gesien.
(VC 162, Aanteekeningen betreffende verschillende ambtenaren aan de Kaap,Anon, g d, bl 7, Kaapse Argief)
William was die enigste uit ’n lys van dertig of meer vooraanstaande Kapenaars wat volpunte gekry het. In sy handel en wandel is hy ’n goeie man, maar dit beteken nie dat hy ’n engel is nie. Die woord “Laaste” verwys na beginselvastheid. Party gee makliker toe, kan onreg makliker verdra. Party het geen keuse nie. Die stryd is tussen Goed en Kwaad. Kwaad wen.
Wat boektitels betref, is my ervaring dat die titel verander hoe meer jy van jou boek weet. Dit groei met die boek, uit die boek. Die eindproduk is ’n kenteken en lokmiddel, soos wat die appel sy naam aan ’n boom gee. In die geval van Die laaste goeie man was dit die klein ironiese lading wat ons dit laat kies het. Ander titels is in die proses oorweeg, soos Sonderling, 1795 en Klipkuil. Jy sal weet waarom hulle gepas sou gewees het ná jy die storie gelees het. Eilande was eers Stemme uit die see, soos dit later in Nederlands geword het: Stemmen uit zee. Afstande was eers Die sterre en die rooi, rooi blomme,later Die aftog. Petra Müller het albei veranderings voorgestel.
Is daar nog ruimte vir fiksie in die hedendaagse wêreld, en veral in Suid-Afrika, waar die waarheid dikwels heelwat vreemder as die vreemdste fiksie is?
Ja, want wat sal ek anders lees? “Dit is nie duur nie, dit troos, dit verskaf afleiding, dis opwindend, dit bring kennis van die wêreld en wye ervaring. Dit is ’n morele verheldering.” (Elizabeth Hardwick: Writers at work, deel 7.Penquin, 1988)
“... veral in Suid-Afrika, waar die waarheid dikwels heelwat vreemder as die vreemdste fiksie is,” vra jy? Ek hoor by die Woordfees vanjaar het ’n radiojoernalis iemand gevra: “André Brink is onlangs oorlede. Wat beteken dit vir Afrikaanse letterkunde?” Die antwoord was: “Wie’s dit? Ek het nog nie van hom gehoor nie.” Miskien het ons nou meer skrywers as lesers. Ex Africa semper … ens.
Hoe sien jy die toekoms, en die jare vorentoe?
Wat romans betref, bring dit ’n gevoel van ontspanning en tevredenheid, en miskien het ek ’n einde bereik. Ek wil NB Uitgewers bedank vir die uitdaging en moontlikhede wat hulle in moeilike markomstandighede aan skrywers stel. Hulle het moontlik gemaak wat ek graag wou doen. En hul kundige personeel, soos Charles Fryer en Riana Barnard. En Helena Scheffler, vir haar aandeel aan vier lang romans. Ek moet geskiedenis skryf; dit is nodig, daar is min tyd oor en veel om te doen.
Lees 'n onderhoud met die debuutpryswenner van dieselfde kompetisie.


Kommentaar
Dan Sleigh is 'n man en 'n geskiedkundige en 'n skrywer uit een stuk. Na sy polities inkorrekte Mathilda-boek het ek gedink NB-uitgewers sou nie weer iets van hom publiseer nie. Maar hy skryf so goed dat die alternatief van nie-publikasie nie bestaan het nie.