Onderhoud: Debuutpryswenner van Groot Afrikaanse Romankompetisie 2015

  • 0

Eloïse Wessels van NB-Uitgewers en Anneli Groenewald (foto: Naomi Bruwer)

Anneli Groenewald het pas die debuutprys van NB-Uitgewers se Groot Romankompetisie met Die skaalmodel gewen. Sy gesels met Naomi Meyer oor dié toekenning.

Anneli, baie geluk met die toekenning van die eerste prys in die Groot Afrikaanse Romankompetisie se debuutafdeling. Vertel ons asseblief oor die manuskrip wat jy voorgelê het.

Baie dankie. Die skaalmodel handel oor ’n hoofkarakter wat as randfiguur in die samelewing staan en probeer om agter die verhaal van die verdwene dorpie Skipskop te kom.

Vertel ons asseblief ook van jou, die skrywer. Jy is 'n joernalis by Farmer's Weekly. Is jy nog altyd besig met woorde – en skryf jy nog altyd fiksie ook?

Ek werk tans aan die produksiekant by Farmer’s Weekly, maar ek sien myself steeds as joernalis. Dit is ’n ingesteldheid, ’n benadering tot die lewe, waarvolgens ’n mens altyd vrae vra en niks as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek wou altyd fiksie skryf, maar ek wou ook altyd finansieel op my eie bene kon staan. Joernalistiek maak dit moontlik om kos op die tafel te sit, maar terselfdertyd daagliks ’n mens se skryfvaardighede te slyp en algemene kennis uit te brei – ek geniet die bedryf geweldig, en ek geniet dit om daagliks met woorde te werk. Dit was egter vir my baie lekker om tegelykertyd in beide mediums te kon werk – bedags die harde werklikheid en binne die streng joernalistieke styl, en dan enige ander uur van die dag of nag fiksie wat darem ’n bietjie meer ruimte laat vir rondspeel met feite en styl.

In die commendatio wat Heilna du Plooy oor Die skaalmodel voorgelees het, word verwys na die interessante perspektief van die hoofkarakter: dié van die buitestander/randfiguur. Ek sien dat jy 'n ruk lank in Engeland gebly het – het hierdie tydperk bygedra tot daardie gevoel van buite 'n samelewing staan? Of is dit 'n persoonlike karaktertrek, eerder as 'n omstandigheidsituasie, wat 'n rol gespeel het?

Dalk moet ek dit eerstens duidelik maak dat die hoofkarakter geensins outobiografies is nie. Haar plek in die samelewing is dus nie ’n aanduiding van hoe ek op enige stadium sou voel of waar ek my sou bevind nie.

Uiteraard stel ek belang in randfigure en ervaar ek baie empatie met randfigure. Is almal nie maar op een of ander stadium in hul lewe, hoe kortstondig dan ook al, randfigure nie? Almal het ’n bepaalde konteks waar hul deel van die binnekring sal voel, en dan weer ’n ander konteks waarbinne hulle sal hap na wind. Ek is veral geïnteresseerd in hoe mense vanuit die binnekring reageer wanneer hulle duidelik kan sien dat daar mense is wat hap na wind.

Is daar nog ruimte vir fiksie in die hedendaagse wêreld, en veral in Suid-Afrika, waar die waarheid dikwels heelwat vreemder as die vreemdste fiksie is?

Skrywers vertolk natuurlik verskillende rolle in die samelewing, afhangend van die genre waarbinne hulle skryf. Die skrywers wat ek aanhang, is dié wat help bou aan ’n breër perspektief op die vreemde onverstaanbaarhede van die werklikheid. Binne so ’n raamwerk glo ek hoe vreemder en wreder en meer genadeloos die werklikheid raak, hoe meer ononderhandelbaar raak die rol van fiksie.

Hoe beïnvloed hierdie toekenning jou planne vir die onmiddellike toekoms, en die jare vorentoe?

Geensins. Ek geniet die mediabedryf en ek geniet dit om met my voete in die werklikheid te staan. Ek dink ook dit is belangrik. Maar die toekenning is natuurlik ’n groot beloning. In die mediabedryf skryf ’n mens vandag ’n storie en jy kry môre die erkenning. Met Die skaalmodel is dit jare se werk wat nou erkenning gekry het. Vir my beteken dit wel dat ’n deur oopgaan om in die toekoms steeds so binne die verskillende mediums te werk. Dit bly egter in woorde.

Kyk na foto's en lees commendatio's by die prysoorhandigingsgeleentheid van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2015.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top