Die wenners van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2015 is gisteraand in Kaapstad aangekondig. Prysgeld van R350 000 is vanjaar aan die wenners oorhandig.
The Cartel Rooftop Bar
Kerneels Breytenbach, een van die beoordelaars, was seremoniemeester van die geleentheid.
Anneli Groenewald het die debuutprys ontvang vir haar roman Die skaalmodel.
Commendatio
Hierdie onverbloemd polemiese debuutroman bied die bekende verhaal van die verdwene kusdorpie Skipskop uit die hoek van ’n buitestander en randfiguur aan, met ’n sterk, gemoduleerde vertelstem. Die blik van die werklikheid vanuit so ’n randposisie bied ’n ongewone perspektief op die geskiedenis.
Die gebruik van werklike dokumente (soos briewe aan die pers, gedigte en rubrieke) gee ’n baie leesbare tekstuur, met die afwisseling van skryfstyle en stemme, terwyl dit ook getuig van vernuftige navorsing. Die aweregse en subtiele vertelstyl is meesleurend en die subtiliteit waarmee dramatiese gebeure uitgebeeld word, geslaagd. Die implikasie dat ’n “klein” mensie wat hoofsaaklik ’n toeskouer is vanuit haar onopgemerkte lewe tog van betekenis kan wees in ’n wyer sfeer, is oortuigend en ontroerend, en sorg vir ’n sterk nawerking in die leser se gemoed.
Die geskiedenis van Skipskop word in Die skaalmodel opgehaal as korrelaat vir die verhaal van klein mense wat fyngemaal word, en só resoneer die roman wyd en groot.
Dan Sleigh is as wenner aangekondig vir sy roman Die laaste goeie man. Dit is die tweede keer dat Sleigh hierdie prys verower. In 2000 het sy roman Eilande die Sanlam/Insig/Kwêla-romanwedstryd (in samewerking met Tafelberg-uitgewers, LitNet en RSG) gewen.
Commendatio
In Die laaste goeie man is ’n meestershand aan die werk om ’n boeiende herskepping te lewer van ’n minder bekende deel van ons geskiedenis, die Britse beleg van die Kaap in 1795. Die relevansie van hierdie gebeurtenis vir die hede kom sterk dog subtiel na vore in hierdie uitstekend gestruktureerde historiese roman, ’n deurdagte bepeinsing van die intellektuele en politieke strominge wat ons in Suid-Afrika gebring het waar ons is.
Boonop is die taalgebruik pragtig, instinktief-poëties en onopgesmuk: die eenvoudigste sin verloop sonder opsmuk of mooiskryf met amper-musikale kadens en ritme. Die skryfstyl is dig en ferm, en die roman se rykdom aan besonderhede en onberispelike historiese navorsing is verbluffend. Ook die karakterisering is fassinerend.
Die laaste goeie man is volkome oortuigend, ’n onvergeetlike herskepping van ’n verbygegane era.
Etienne van Heerden het die tweede plek verower met sy roman Sjinees.
Commendatio
Hierdie ambisieuse, verbluffende roman, in die tradisie van breedopgesette vertellings met verskillende verhaallyne en uitgebreide agtergrondbeskrywing, bring vernuwing in die skrywer se oeuvre, veral wat die soberder vertelstyl betref. Die tekstuur van die vertelling is baie ryk; die hele gegewe word baie konkreet ingeklee met fyn besonderhede, en die taal is ’n besonderse kontrei-Afrikaans gemeng met die verteller se gesofistikeerde idiolek.
Die verbeeldingrykheid en kreatiwiteit voer die leser mee en open nuwe wêrelde, met milieus wat wissel van Amsterdam en Hongkong tot die Oos-Kaap. Hiermee word die verwysingsveld van die Afrikaanse letterkunde verruim en die roman bied ’n unieke invalshoek op Suid-Afrikaanse omstandighede.
Die kreatiewe wyse waarop feit en verdigsel in die sjarmante Sjinees vermeng is, is merkwaardig.
Alexander Strachan het die derde plek gekry vir sy roman Brandwaterkom. Strachan was in 1990 die eerste wenner van DeKAT en Antenne se Groot Romanwedstryd (in samewerking met Saambou en Tafelberg-uitgewers) met Die jakkalsjagter en in 1993 was hy die naaswenner met Die werfbobbejaan.
Commendatio
Hierdie roman getuig van deeglike en omvattende navorsing na ’n steeds pakkende aspek van die Boereoorlog, die Boereverraaiers oftewel Joiners. Dit is ook ’n ondersoek na die ontwykende aard van die verlede, en van die motiverings rondom verraad.
Die skryfwerk is besonder oortuigend danksy die moeitelose manier waarop historiese feite en die fisiese konteks van die verhaal geïntegreer is. Op ’n tegniese vlak toon die vertelling die stempel van ’n gesoute outeur in die spel van kontraste en ooreenkomste en die wisselende vertelritme wat die twee historiese tydvakke in die roman van mekaar help onderskei. Die beskaafde Britse sfeer waarin baie Vrystaatse professionele lui hulle voor, tydens en ná die ABO bevind het, word knap vasgevang.
Brandwaterkom is sowel bloedstollende oorlogsverhaal as diepsnydende ondersoek na die verraderlike manier waarop verhale met ons op loop gaan.
Die wenners saam met Eloïse Wessels van Media24 Boeke.
Marinda van Zyl, wie se roman Amraal op die kortlys was in die oop afdeling.
Dan Sleigh
Petrus Steyn, hier saam met sy Nina Steyn, was op die kortlys vir die debuutprys met Die onglobare.
SJ Naudé en Michiel Heyns. Heyns was een van die beoordelaars.
Heilna du Plooy, een van die beoordelaars
Etienne Bloemhof en Kaia en Etienne van Heerden
Joan Hambidge
Carolyn Meads en Helené Prinsloo
Louise Viljoen
Riana Barnard en Alexander Strachan
Derick Muller en Madri Victor
Richard en Lana Barnett
Kommentaar
Geluk aan al die skrywers!