1795 deur Dan Sleigh: ’n lesersindruk

  • 1

1795
Dan Sleigh

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624073307

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

1795 is ’n kragtoer en het verdien om NB se Groot Romanwedstryd in 2016 te wen.

Hierdie geskiedkundige roman handel oor die oorname van die Kaap deur Engeland by die Slag van Muysenburg in Junie tot September 1795. Dit was egter nie regtig ’n “slag” nie, maar ’n bloedlose oorgawe wat die hoofkarakter, William van Rheede van Oudtshoorn (en baie ander) dwars in die krop gesteek het.

Deur die oë van William, die ryk en vooraanstaande lid van die Politieke Raad en administrateur van die graanstoor (en seun van ’n goewerneur) sien ons Kaapstad van die 18de eeu. Die skildery op die omslag van die boek ondersteun die uitstekende beskrywings. Baie bekende geskiedkundige plekke en name duik op. Die geskiedenis word vertel met baie verwysings na ander wêreldgebeure in die 18de eeu sowel as die verre verlede (bv Termopulai).

Die boek teken die ontwikkelende taal op deur dikwels tussen hakies te sê “Kapenaars sê ...”. Baie woorde wat vandag in onbruik is, word gebruik. Hoewel die outentiekheid van die vertelling hierdeur verhoog word en die leser aangemoedig word om die woorde te gaan opsoek, kan die leser dalk vervreem word.

Die beskrywings en vertellings van Francine en haar verhouding met William is lieflik en kontrasteer skerp met dié van sy vrou Geesje.

Die taalgebruik is deurgaans verruklik. Elke woord is perfek op sy plek. Daar is geen irriterende maniertjies, mooiskrywery, herhaling of clichés nie.

William word werklik mens en die geskiedenis lewendig. Ander karakters wat diep in mens se hart kruip, is Louis Thibault, die argitek; Jan en Johanna van Reenen, die boer en sy vrou; en natuurlik Francine, asook Flora en Geduld, William se slawe. Sluysken en Gordon is “skurke” wat mens met ’n “lekker hart haat”.

My enigste kritiek is:

  1. Die boek word regtig later ’n bietjie lank en swaar. Is die opsomming van Matteas Behrens se verhaal regtig nodig?
  2. Wat word van William?
  3. Waar is die bronnelys en die bedankings?

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top