Afrikaanse radio is vanjaar 75 jaar oud. Sy huidige gedaante is RSG. Dan Sleigh het soos volg daaroor in sy roman, Wals met Matilda (Kaapstad: Tafelberg, 2011, 399p), geskryf:
"’Ek ly aan taal soos ’n aansteeklike siekte ... ek is ... allergies vir dié wat daarmee mors’" (p 160). "’Taal ... is ... die huis waarin ek woon’" (p 162). "’Goddank, ek en my ou-oom het ons taal met ons kaiings en karringmelk ingekry’ ... Sy het, vertel sy, haar radio nekomgedraai. Sy is klaar met hom, hy sal nie weer sy mond in haar huis oopmaak nie. Sy het dit eerstens gedoen oor die onnosele Afrikaanse lirieke wat hulle uitsaai. ’Ek like jou, baby.’ Die waglikheid daarvan; hulle klink na pedofiele wat agter tralies hoort. Dan is hulle so onbeskof om dit in haar huis te speel. ’Ammal se Tjom, noem hy homself, die radio,’ sê sy ... ’Sluit my maar uit.’ Vroeër het sy die radio geniet" (p 303).
Toe was die radio "’n intelligente, aangename huisvriend. Hulle omroepers was ... opgelei, voorberei, bekwaam, sjarmant ... Dit was voor inbelprogramme, voor radio hom beskikbaar gemaak het vir die stem van Homo vulgaris. ’Mense wat nie van gevoeligheid vir taal weet nie, word losgelaat op ’n medium wat uit taal bestaan. Enigeen mag in die orkes speel, en uit erbarming nooi jy ook die dronke van die straat om in jou koor te sing. Hulle bel elke dag resepte ... Toast jou brood liggies, sit die baked beans op die toast, dan sit jy jou bacon op. Jy slice die avo oor die hake, dan add jy die lemon pepper.’ Sy het grootgeword in die sekerheid dat skollies só praat in vuil agterbuurte waar nie skole is nie; dit is nie haar geselskap nie. Radio het die verval soos ’n pes na elke huis versprei, binne tien jaar. Uur na uur, selfs vroegoggend op die heilige Sabbat, was dit onverwags, ongevraag in haar huis. Wanneer sy skemeraand in haar kombuis pietersielie, grasuie en sampioene kap, kom rugbyspelers die volk toespreek. Die forwards gaan gejudge word op hulle performance onder die up en under. ’Ek skreeu, ek druk my ore toe, ek ruk die prop uit die muur, my oliekruik val stukkend op die vloer.’ Haar stem breek; sy voel verraai, moedeloos ... ’Dis armblankegene of bywonerbloed wat uitslaan ... Taalbeheer is afgeskaf.’ ... ’Soos die Engelse sê ...’, dit hoor jy van die oggend tot die aand asof haar taal te armoedig is om hulle banaliteite te verwoord" (p 304).
"Van sy dié onnosele masjientjie uit haar huis gesmyt het, ontsnap sy darem Ammal se Tjom se advertensies, waar adverteerders se leuses in Joburgse Engels in jou huis geskreeu word: The South African Post Office. We Deliver, Whatever It Takes! ’Só geforseerd en kunsmatig. Nogal dieselfde wat verlede maand veertien dae lank gestaak het, maar dit is niks. Wat, in daardie hol aanspraak, was vir hulle onvertaalbaar? Dis bloot onbeskof.’ ... Wie besluit wat in huise geskreeu moet word? ’n Reklameagentskap in Johannesburg ... Sy het voor skool leer lees, vertel sy, van etikette op blikkies in haar ma se spens: blou pruime, rooi waatlemoen, groen vye, goue appelkose. Heel Appelkooskonfyt, het daar gestaan, welgesind, watermond. Nou is dit net Super Fine Apricot Jam. En op haar draadloos: All Gold Tomato and Onion Mix. Share the delight ... ’Daar moet ander wees wat soos ek voel, al is dit net ’n paar ... Daar moet ander wees’" (p 305).
"’Dit is wat hulle aan my doen. Klomp hanskakies ... As jy opstaan en praat, word jy gestempel, getjap. Ek wil nie ’n kampvegter of taalstryder of handhawer genoem wees nie, net dat my en my oom se taal ’n onbesoedelde fontein bly, waar enigeen kan skep. Vir altyd. Dit is ons reg ... Ek dink dis net ek wat omgee.’ As daar één regverdige is, sal u die stad spaar?" (p 306).
"’Natuurlik maak dit my seerder as ander, want my taal is kuns én gereedskap: my tjello, my palet, al my fyn beiteltjies, ek word bang wanneer dom mense daarmee speel. Ek wil hê hulle moet ophou, verder wil ek niks met hulle te doen hê nie’" (p 307).
"’Die draadloos dink nie ons ore is gevoelig nie.’ Sy slaan oor na dialek. ’Stondôrd aitsprôk is ok lot vôr ... Ak had ’n jôr gespôr vir ’n fekônsie in die Bôi, mô genôde, nôby De Or wos dôr ’n got innie pot. Mai orme kor! Van der Mirwee’s Breakdown. Put the inyo roid. Hulle gebruik sommer vir Kleinsus om advertensies te lees. Sy is goedkoper.’ ... Verval, net verval, die kern kan nie hou nie. Yeats" (p 312). "’Loep hôl die leftovers by die roadhouse, sa fiddie Porra ak kom lôtter’" (p 366).
"Sy voel oor besoedeling van haar taal soos hy oor besoedeling van die natuur; vir albei is dit iets om van bang te word. Duiwelswerk sou sy dit noem: Dronk van ’n sorgelose tydsgees verval almal gelate in toestande waaruit terugkeer onmoontlik is" (p 333). "’Ons sal dit gewoond word, soos ’n gehoor wat lank genoeg in die sirkus sit’" (p 164).
"Sy is diep teleurgesteld deur die radio en die arme dagblad, wat sy uit wanhoop hanskakies en verraaiers noem omdat hul nie haar geliefde taal beskerm nie. Hy begryp haar gevoel goed, natuurbewaarders die wêreld oor weet watter verwoesting en uitwissing onbeheerde indringers veroorsaak. Sy is soos die mak kanarie wat in die myn afgedra word, sy is eerste om van gif in die lug te weet ... Sy kan nie haar angs help nie, dit voel vir haar soos aanranding deur vertroude vriende of familie" (p 365).
"’Ek kan nie meer luister hoe my enigste Afrikaans deur joiners en hanskakies mishandel en verneder word nie’" (p 374). "Afrikaanse radio het as opvoedkundige voorbeeld, indien nie as gehalte-standaard nie, gekapituleer" (p 390).
Tot dusver het ek die hoofvrouekarakter, Carelina/Lientjie van der Merwe, aangehaal. Maar die hoofmanskarakter, Jakobus/Koos van der Merwe, dink in ’n soortgelyke idioom. "’Ek kla nie oor verandering nie, maar oor verlies. Ek voel sleg wanneer ek na verlore drome kyk’" (p 37). Hy "het nog die tuin van herinnering" (p 46). "’Waarop lewe jy?’ ... Op die verlede" (p 104). "Hy was geen oorgee-er nie, hy sou veg" (p 203). Van sy dogter skryf hy: "Sy het nooit twee tale gemeng nie, dit was ’n saak van styl en smaak" (p 270).
Van RSG kan ’n mens seker sê: Dit is nie ’n nuwe ster nie; dit is "eintlik meer soos ’n komeet" (p 79), die spreekwoordelike ster wat verskiet het. Die radio is veronderstel om optimaal te kommunikeer, maar dit gebeur deesdae dikwels dat bv insetsels tydens ’n nuusuitsending gespeel word wat onverstaanbaar is: "’n Vreemde uitspraak maak die persoon onverstaanbaar" (p 208). Gaan ons aanvaar "jy het jou skyfies gehad" (p 225), of gaan ons ons vir ’n beter RSG beywer? "’Skryf, skryf, teen die uitdoof van die lig’" (p 236).
Vervolg.
Johannes Comestor


Kommentaar
Bravo Johannes. Nou die dag was daar 'n komediant die gas in Praatsaam en hy praat van 'lyne wat gekruis word'. Ek kom later agter hy bedoel 'grense wat oorgesteek word', hy't 'crossing the lines' direk vertaal kan jy glo. 'n Inbeller wou weet waarom kunstenaars so lief is om Engelse woorde te gebruik en die komediant, Brummer dink ek is sy van, reken toe hulle moet hom maar vergewe want hy het in Benoni (of Boksburg) grootgeword, die dat hy meestal in Engels dink. Watter onsin; dis gebrek aan dissipline en taaltrots. Mens dink in elk geval nie in 'n taal nie.
Terloops, in sy boek Afstande het Dan Sleigh ook 'n interessante siening oor demokrasie (Aristoteles).