Die gesonde sinisme van Dan Sleigh

  • 0

Laat ek aan die begin bely: Ek het nie die historikus Dan Sleigh se vorige twee romans, Eilande (2002, 757p) en Afstande (2010, 620p), van voor tot agter gelees nie. Ek het hulle nie gekoop nie, maar hulle is aan my beskikbaar. Eersgenoemde handel oor die eerste Kompanjie-jare aan die Kaap en die ander een oor gebeure in Klein-Asië en die Midde-Ooste vier eeue voor Christus. Om sulke boeke te skryf, is 'n skrywersprestasie; te meer omdat hulle 'n histories-juiste indruk wek. Die outeur kán skryf en sy beskrywings en woordgebruik is indrukwekkend. Oor nisterreine soos die skeepvaart en krygskunde gebruik hy Afrikaanse terme van Germaanse (veral Nederlandse en Duitse) oorsprong wat nuut vir die deursneeleser moet wees.

Aan die eerste roman het ek meer omdat dit nader aan my ervaring en belangstelling is. Sleigh noem self waarom die tweede roman nie so gewild is nie: "Dit mag so wees dat lesers nie daarvan hou as stories nie in hierdie, hulle eie land afspeel nie, oor die afwesigheid van herkenbare verwysings" (bron hieronder, p 263). Eintlik het ek albei romans nie behoorlik gelees nie. Dit was soos twee proefhuwelike wat nie uitgewerk het nie. Ek kon my nie lank genoeg vereenselwig met wat gesê word en wat andersins alles gebeur nie. Dit is uitsonderlik as ek nie 'n boek volledig lees nie, maar in hierdie gevalle is my ervaring nie uniek nie. Andreas van Wyk sê: "Met Dan Sleigh se Eilande het ek halfpad tou opgegooi" (Die Burger, By, 11 deser, p 3).

Hierdie ervaring het nie verhoed dat ek Sleigh se jongste roman, Wals met Matilda (Kaapstad: Tafelberg, 2011, 399p), van voor tot agter gelees het nie. In dié geval kan nie gesê word die "huwelik" was dolgelukkig nie, want daarvoor het dit te lank geduur. Ek het gedink aan wat van Mozart se komposisie in die rolprent Amadeus (1984) gesê is: "Too many notes." Daar is te veel woorde, soms "lang, boordensvol sinne" (p 124), maar dit was nogtans vir my 'n skaflike leeservaring. Vir eersgenoemde twee romans het Teresa Williams die pragtige omslae ontwerp. Sleigh se jongste roman het van die wegspring af 'n blok aan albei bene: Die titel kan geregverdig word, maar is nie treffend nie, en die omslag, deur Michiel Botha, is tipografies en esteties 'n ramp.

Die tema is die bekende een van 'n outeur wat skryf al ervaar hy skrywersblok. Dit herinner aan die spreekwoordelike vrou wat praat totdat sy iets het om te sê. Skrywersblok is "nie aansteeklik ... nie en niemand is nog daaraan dood nie" (p 154). "Spinnekoppe bou in die hoeke van sy verstand ... ['n] ouerige man wie se verstand vakansie geneem het" (p 115). "Soos 'n hardwerkende delwer tref jy soms iets moois" (p 159). "'n Storie soos 'n tamatiesousbottel of busse in die oggend: eers kom niks, dan kom 'n hele klomp skielik gelyk" (p 340-341). Die situasie is meesal die hier en nou. Dit stel die outeur in staat om onder andere snydende kommentaar oor die nuwe Suid-Afrika te lewer, bv oor Afrikaans en Afrikaanse radio-uitsendings (SêNet, 6 deser). Dit was vir Sleigh seker baie makliker om hierdie roman as enige van die vorige twee te skryf en die inhoud wen aan aktualiteit.

Daar is so baie gesonde sinisme dat die werk baie lesers verdien. "Jy vertroetel en kweek hierdie siniese houding soos 'n private daggatuin" (p 104). Die outeur besef egter waarom die deurlees van die boek 'n lesersprestasie is: die teks is "amper spanningsloos" (p 388). Die intrige is anemies en die ontknoping (in soverre daar een is) is onbevredigend. Dit is amper soos Edward Bulwer-Lytton wat sy roman, Paul Clifford (1830), begin met "It was a dark and stormy night" en 'n hoofkarakter wat aan die einde van 'n hoë krans afspring maar dan in die lug bly hang. Ek gaan egter nie Sleigh se storie oorvertel nie. Ek beperk my aandag tot lees- en skryfwerk en die politiek.

Wanneer skrywers by hulle rekenaars sit en die toetse slaan, "hoor hy die geknetter van gewere om 'n wolf van die deur te hou" (p 75). Tydens skrywersblok is die "swart toetse, soos grafstene in 'n oorlogskerkhof" (p 91-92). "Aan die einde van elke paragraaf verdwyn die lig soos uit 'n stad waarteen oorlog verklaar is" (p 118). As die skrywer die blok afskud, sal die toetsbord van die rekenaar "rustig sing soos 'n gesonde byekorf" (p 117). "Skryf is soos skeer, as jy dit nie elke dag doen nie, is jy 'n boemelaar" (p 85). Skrywers is ook lesers. "Sy oog suig ure lank die duisende swart lettertjies op soos 'n spons" (p 121). "Die inhoud van 'n boekrak vertel veel oor die eienaar" (p 77; ook p 87). "Sy loop tot voor die boekrak asof dit 'n winkelvenster vol nuwe klere is" (p 147).

Sleigh verwys na literatore as "skrifgeleerdes en taalkonstabels" (p 30; ook p 239). "Een spesie wat myns insiens maar mag uitsterf, is literêre kritici en resensente" (p 31). "Om met resensente te argumenteer is soos om met prostitute oor hulle gedrag te praat" (p 39). "Hy het geen waardering vir resensente se retoriek gehad nie, selfs al het hulle dit goed bedoel: Die verhaal se dele is ten volle geïntegreer? Dink net aan die doelloosheid van 'n ten volle geïntegreerde bestaan. Of: Die bundel is beide gaaf en af. Onverstaanbare sotterny" (p 74). "'n Skrywer het altyd sy naghemp aan, sê Defoe, wanneer lesers in sy werkkamer staan; hulle sien al jou swakhede daar" (p 148).

Daar is 'n outeur "wat skryf asof hy klipmure stapel" (p 34, 320). Dit laat my dink aan die bibliotekaris wat met boeke gehandel het asof hulle bakstene is. "Van letterkundige berade het hy weggebly; dit was vir hom soos familiebyeenkomste waar almal bewus is van bloedskande" (p 72). "Natuurlik was hy, soos 'n huis sonder diefwering, onbeskerm teen uitbuiting. Hy het nie met ander skrywers gemeng nie, hy het altyd gesê hy praat nie hulle taal nie, aanbid nie hul gode nie, lees nie hulle Bybels nie en ken nie hul geheime handdruk nie" (p 74). Laasgenoemde kan na bv die Broederbond verwys. Hy het 'n "sien-en-knik-verhouding" met outeurs. "Hulle is ware skrywers, in die letterkunde ontvang, gebore, gedoop, geënt, gekatkiseer, geskool, gegradueer, gepromoveer, gepensioeneer" (p 66).

Oor 'n bepaalde outeur skryf Sleigh: "Die man skryf buitengewoon goed; sy tekste is dinamiet. In elke paragraaf sterf iemand, permanent of voorlopig ... Die bomgooiers, sluipmoordenaars, gifstrooiers, spioene en speuders wat sy verbeelding bevolk is hoogs oorspronklik ... Hy leef op 'n dieet van verbode vrugte" (p 67). Aan 'n leeskring het 'n skrywer sy resep verklap: "Een emmer suiker, 'n emmer swart verf, vier emmers bloed. Meng en laat gis. Sit voor met lyk op bladsy een en ongelukkige einde" (p 70). Later sê Sleigh van Wilbur Smith: "Die ervare vakman wat graag die sappigste dele van die vroulike anatomie in botaniese terme beskryf" (p 83).

Oor 'n skryfster (p 144) van liefdesverhale: "Haar boeke verkoop soos McDonald's ... Haar sinne is sagte pienk woldrade, elke paragraaf 'n gebreide pienk trui om romantiese harte saggies en warm te koester, elke verhaal 'n groot reënboog met 'n pot goud vir dié met die regte gesindheid" (p 67). Die leser kan hieraan terugdink as hy later verwys na "soet liefde onder die roseprieel" (p 72) en "haar groot hond wat geluidloos treur op die pienk matjie voor haar bed" (p 144). 'n Ander skryfster "voorsien skralerige novelles (hulle is soos 'n koeldrankmasjien: jy gee jou geld en weet presies wat jy gaan kry)" (p 68).

'n Kortverhaalskrywer uit die Klein-Karoo herinner aan "wat Flaubert voornemende essayiste aangeraai het: wees gereeld en ordelik in jou lewe en oorspronklik en gewelddadig in jou stories. Hy is 'n wenner; sy sinne, vars soos Karoolug en met klein, harde beelde gestapel ... 'n doodse kalmte hang oor sy teks soos 'n verlate slagveld ... Elke sin kom reguit, hard, soos 'n vuishou ... Hy eet die pere met sy mes en drink die stroop uit die blik" (p 68-69).

"Op die suidelike hoek woon die skrywer van geïllustreerde kinderboeke met moderne temas, soos oor twee pappies maar geen mammie nie, enkelmoeders met blougeslaande oë, swart boetie en wit sussie ry saam om Pappie met die getatoeëerde gesig vir naweekparool op te laai, of loop die heuwel op om 'n emmer water te haal, wanneer hulle 'n pedofiel ontmoet: wat is in daardie emmer kindertjies, water oom, kom ek wys julle 'n vissie wat graag by julle wil kom swem. Dit lyk of gewone, gelukkige gesinne uitgestorwe is" (p 69).

Die outeur het dit teen die vervlakking in leesstof. "Kort artikels met groot kleurfoto's is 'n simptoom van 'n ander kwaal: volgehoue ligte vermaak, die dood van verbeelding ... wat oorbly, is blywende breinskade" (p 201-202). Uitgewers stel afset en wins voorop: "Ons lesers soek skerp, lewendige beskrywings wat geen eise aan die intellek stel nie" (p 100). Dit onderskryf "Thomas Mann se wenk aan skrywers om nie 'n leser verstandelik moeite aan te doen nie ... jy moenie intellektuele inspanning van lesers verwag nie" (p 165). Met die terugsnoei of afskaffing van skoolbiblioteke is "'n fontein van beskawing ... gedemp" (p 182). "'n Wonderlike ding is 'n boek" (p 326). "Die beste skrywer gebruik die minste middele om die meeste te sê aan die beste verstand" (p 166). "Woorde is die klanke van beelde ... elke woord 'n prent met dimensie" (p 340).

Die outeur se politieke waarnemings is myns insiens van die hoogtepunte in die roman. "Tussen hulle is die oudpolitici maklik om te herken van hulle dae aan lamppale, maklik om te vergeet, moeilik om te vergewe, minder opreg as hulle honde" (p 23). "Parlementslede verkies deur halfgeletterdes wat stem oor dinge waarvan hulle geen begrip het nie" (p 27). Robbeneiland het "'n sleg versorgde apartheidsmonument en propagandakantoor van die Party" geword (p 37). "Reg voor ons is Robbeneiland, ons regering se poging tot 'n toeristiese klaagmuur" (p 90). Skaapboerdery het in Australië vinniger vordering as in Suid-Afrika gemaak "omdat hulle nie ons moeilikhede soos roofdiere en inboorlinge gehad het nie" (p 57). Dáár is die klein getal inboorlinge geleer: "Niks vir niks, anders wil hulle alles verniet hê" (p 279). In Suid-Afrika: "Bedags was die Spaanse merino's in die veld met 'n herder om te sorg dat hulle nie met Koina-skape verbaster nie" (p 301). "Onthou altyd, by hond, skaap, perd en mens: bloed tel" (p 189).

"Hy vind die gewoonte van volksliedere vóór rugby belaglik ... Hy hou van goeie voetbal, maar die gesanik irriteer hom; 'n onmusikale lied met onsinnige woorde geskryf deur mense wat niks van voetbal weet nie vir mense wat niks van musiek weet nie. Wat in godsnaam het dit met die wedstryd te doen? ... Hy vra wat ek van Suid-Afrika se nuwe volkslied dink. Hulle s'n, nie myne nie, sê ek. 'n Onsimpatieke sameflansing ... Ek hoor julle [Australiërs] verkies 'Waltzing Matilda'" (p 126-127). Ek verkies 'Sarie Marais', maar die politiek-korrekte Rugbyraad en die borge verkies die volkslied.

Die kostelikste en tragieste dialoog handel oor die veldblomtuin wat die hoofkarakter se vrou in die duine by die see gevestig het. Op 'n dag toe hulle nie gestaak het nie, kom 'n hele leërskare munisipale werkers daar aan om 'n verskil te maak. "'Dees is wheets, madam, de four man order us, I mus' cut him ... I mus' cut him. Four man she order us' ... Sy het besef die wêreld waarvoor sy leef bestaan nie meer nie" (p 46-47). "Eendag ... as ons die land teruggekry het, maar daar gaan geen eendag wees nie" (p 269).

"Alles verander agteruit" (p 54). "Noudat Stellenbosch tot niet gaan" (p 89; ook p 375, 390). "Ons is almal op ons eie en alleen" (p 144). "Dit is 'n snaakse land. Die gevaarlikes speel grootmeneer, die goeies vlug voor die gereg" (p 254). Daar is die geval van 'n man wat daagliks gratis kos geneem het "met die bussie na twee bewaarskole in die swart woonbuurt. Toe eendag skiet hulle hom dood en steel die kombi" (p 321).

As historikus ken Sleigh die verlede beter as die meeste van ons. Hy vergelyk dit met die hede. Ek kan hom nie sy sinisme verkwalik nie.

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top