Aspekte van postkoloniale verset in Eilande deur Dan Sleigh

  • 0

 
Abstract

Aspects of postcolonial resistance in Islands by Dan Sleigh

This article discusses the portrayal of various aspects of postcolonial resistance in the historical novel Islands by Dan Sleigh. The article place emphasis on the strategies of resistance followed in this novel by referring to structural aspects like the author, narrator and focalisation; the undermining of historiography and master narratives, the description of colonial space and the Other as constructs in colonial and postcolonial literature. The article concludes that Islands can be read as a historical novel with a strong postcolonial vision.

Opsomming

Aspekte van postkoloniale verset in Eilande deur Dan Sleigh

Hierdie artikel bespreek verskeie aspekte van postkoloniale verset wat voorkom in Eilande, ’n roman deur Dan Sleigh. Die artikel lê klem op die verwoording en strategieë van postkoloniale verset deur die bespreking van struktuurmiddele soos: die rol van die outeur, verteller en fokalisering, die relativering van geskiedskrywing, die ondermyning van meesternarratiewe, die ervaring van ruimte en die konstruksie van die "ander". Die artikel wys ten slotte daarop dat Eilande wel deeglik as historiese roman met sterk postkoloniale visie gelees kan word.

Aspekte van postkoloniale verset in Eilande deur Dan Sleigh

1. Inleiding

Heelwat resensies verwys na die roman Eilande deur Dan Sleigh (2002) as ’n uitstekende historiese roman en ’n indrukwekkende herskepping van ’n verlore era: die eerste 50 jaar van die nedersetting aan die Kaap (vgl. Abrahams 2002; Van Coller 2002; Venter 2002; Viljoen 2002).

Van Zyl (2003) het daarná oorsigtelik gewys op postkoloniale eienskappe van hierdie roman in haar vergelyking tussen Eilande en Pieternella van die Kaap (2000) deur Dalene Matthee.

Die doel van hierdie artikel is om spesifiek te wys op die verwoording van postkoloniale verset, die wyses waarop die postkoloniale verset vooropgestel word en die bevraagtekening en ondermyning van die geskiedskrywing in hierdie roman

Teoretici oor die postkolonialisme verwys telkens na verset (direk of indirek) as ’n inherente eienskap van postkoloniale tekste. Bohmer (2005:3) beskryf die postkoloniale literatuur as “that which critically or subversively scrutinizes the colonial relationship”. Dit sluit volgens haar die literatuur in wat koloniale perspektiewe en die metanarratiewe daarvan ondermyn deur die magstrukture, rasseklassifikasies en metodes van onderdrukking bloot te stel.

Viljoen (1996:4) stel met verwysing na die werk van Mishra en Hodge voor dat terme soos opposisionele postkolonialisme en medepligtige postkolonialisme, én die integrasie van hierdie twee onderskeidings, ’n geskikte benadering tot postkolonialisme in die Afrikaanse letterkunde sou wees (Viljoen 1996:4). Met opposisionele postkolonialisme word dan bedoel die literatuur wat onafhanklikheid van die imperiale heersers, bevryding van ’n rasgebonde samelewing, en taalonafhanklikheid propageer. Medepligtige postkolonialisme impliseer die “altyd teenwoordige neiging tot subversie in enige literatuur wat deur ’n sistematiese proses van kulturele oorheersing onderwerp word deur imperiale magstrukture” (1996:4). Sy ondersteun ook Ashcroft et al. (1989:2) se siening van die postkolonialisme as nie tydgebonde ná die tydperk van kolonialisme nie, maar eerder die ondermyning van kolonialisme.

Sowel Boehmer as Viljoen beklemtoon dus die aspekte van ondermyning van die koloniale stelsel en ’n verset teen die verskeie magstrukture binne daardie stelsel. Oor hierdie verset het Bhabha (2006:41) die volgende te sê:

Resistance is not necessarily an oppositional act of political intention, nor is it the simple negation or exclusion of the "content" of another culture, as a difference once perceived. It is the effect of an ambivalence produced within the rules of recognition of dominating discourses as they articulate the signs of cultural difference and reimplicate them within the deferential relations of colonial power – hierarchy, normalization, marginalization…

Postkoloniale verset word juis nie altyd eksplisiet gestel nie, maar dikwels in die wyse waarop die koloniale gesag beskryf word en implisiet in die gebruik van die koloniale strukture: dit lê juis tussen strukture, tussen diskoerse, sê Slemon (2006:105).

In hierdie artikel beoog ek om in meer besonderhede te fokus op aspekte van postkoloniale verset in Eilande en te argumenteer dat Eilande op ’n verskeidenheid wyses dié verset verwoord. Daar sal spesifiek verwys word na die wyses waarop in die vertelperspektief, die geskiedskrywing, die ondermyning van meesternarratiewe, die uitbeelding van die ruimte en die konstruksie van die "ander" van postkoloniale verset sprake is: “It is the notion of resistance that lies at the heart of the postcolonial debate” (Ahluwalia 2005:509).

2. Vertelperspektief

In die eerste plek is aspekte soos die outeur, die fokalisering en die verteller van uiterste belang om spesifiek struktuur te gee aan die postkoloniale perspektief in hierdie roman.

2.1 Outeur

Dan Sleigh, deurwinterde historikus, kenner van die argiewe en die dokumente van die VOC, skrywer van Die buiteposte (1993) wat handel oor die eerste 50 jaar aan die Kaap, beweer in sy “Erkenning” agter in die roman (2002:757): “Daar is geen geskiedenis nie, anders as die ontleding en vertolking van dokumente, ’n soektog na oorlewendes in ’n eindelose ruimte”, ’n uitspraak wat hy ook by meer as een geleentheid in onderhoude oor die skryf van die roman herhaal (Van Zyl 2003:55; Sleigh 2005). Hy erken ook in hierdie onderhoude, soos in die teks, dat hy gegewens verander het “ter wille van die leser” (2002:757). Duidelik is hier ’n ontkenning dat die teks ’n navolging is van die amptelike geskiedenis wat opgeskrywe is en waarvan hy ook ’n gedeelte as historikus beskryf het; maar ook ’n erkenning van die heuristiese aard van geskiedskrywing en die onvoldoende en onvolledige aard van dokumente waaruit ’n beeld van hierdie geskiedenis opgeroep moet word. Dit is ook die ontkenning van die mag van ’n verteller of skrywer om ’n werklik gesaghebbende en voltooide rekonstruksie te gee van ’n tydperk en die mense daarby betrokke.

Sleigh gee wel te kenne dat meer as 80 persent van die inhoud van Eilande teruggevoer kan word na historiese bronne (2005), maar sê in ’n onderhoud (2005) dat dit ’n roman is óór die skryf of optekening van geskiedenis - die garedraadjies van die klerk – en veral die kyk vanaf ’n towertapyt na hierdie gevangenes op die planeet Aarde, met die gepaardgaande vraag: Op pad waarheen? Die roman is volgens hom ’n beklemtoning van die tydelikheid van die menslike bestaan, veral op hierdie klippie, die kasteel aan die suidpunt van Afrika, soos ’n eiland in die ontsaglike ruimte. Sleigh verwys spesifiek na die rol wat die kyk van Star Trek in hierdie siening gespeel het, omdat die reeks ook te doen het met die uitbeelding van die kolonisering van onbekende streke (Van Zyl 2003:55; Sleigh 2005). Russell en Wolski (2001:1) verwys onder andere na Star Trek as ’n “thinly disguised metaphor for colonialism”. Eilande is volgens Sleigh eerder beeld van die universele menslike kondisie op die planeet Aarde as spesifiek dié van koloniseerders en gekoloniseerdes aan die Kaap aan die begin van die 17de eeu (Van Zyl 2003:64). Dit is soos die verteller op p. 719 sê: “Dit was geen nuwe storie nie, ook nie ’n herhaling van ’n vorige storie nie, maar ’n moeitevolle voortsetting van ’n lang, lang verhaal wat tot aan die einde van eeue sal voortsleep.” Daar is ook ander verwysings na die identifikasie tussen outeur en verteller, byvoorbeeld die manuskrip van 700 bladsye wat ooreenstem met Eilande se 757 bladsye.

Sleigh bevind hom verder in die gekompliseerde posisie van die wit setlaar as postkoloniale skrywer: die posisie van die Europeërs wat as setlaars in onder andere Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika beland het. Slemon (2006:105) verwys na hierdie gebiede as die “Tweede Wêreld”:

[T]he illusion of a stable self/other, here/there binary division has never been available to Second World writers, and that as a result the sites of figural contestation between oppressor en oppressed, colonizer and colonized, have been taken inward and internalized in Second World post-colonial textual practice.

As koloniseerders wat ook weer op een of ander wyse daar gekoloniseer is en later die koloniale verbande verbreek en onafhanklik geword het, beklee hierdie skrywers, soos Sleigh, ’n dubbele posisie binne die postkoloniale diskoers. Ahluwalia (2005:508) stel dit soos volg:

For the post-colonial white settler subjects there is a dual burden – not only do they have to recover their own narratives but they must also recognise that they have blocked narratives of the indigenous populations which they rendered invisible. It is this double inscription of resistance and authority which constitutes the settler subject.

Waar Eilande gepubliseer word in 2002, pas na die geboorte van die Nuwe Suid-Afrika, word dit ’n verdere dubbele visie en dubbele implikasie vir ’n blanke skrywer om oor die geboorte van die nuwe land te skryf: dié van 1652 en 1994.

’n Verdere komplikasie vir hierdie skrywers, soos Sleigh, se posisie is die gebruik van die taal van die koloniseerder: Engels, of in Sleigh se geval Afrikaans. Viljoen (1996:5) het reeds daarop gewys dat Afrikaans in ’n tweeslagtige posisie as taal van die onderdrukker én bevryder staan, ’n uitheemse taal wat juis inheems sy beslag gekry het en in die teken van hibriditeit staan.

Die tussenin posisie van die outeur as a “post-colonial white settler” en sy direkte ondermyning van die aard van die geskiedskrywing in die roman en in onderhoude, dra by tot ’n afstandelike visie teenoor die historiese gegewe wat hy as basis gebruik vir die roman. En dit is juis hierdie afstand wat een van die wesenskenmerke van verset in die postkoloniale teks is (Smith 2004:258).

2.2 Die verteller

Die raamwerk van vertelperspektiewe in hierdie ingebedde teks is uiters belangrik vir die postkoloniale visie van verset wat daaruit voortspruit.

Om die verhaal oor te dra kies die outeur ’n historiese karakter, ’n klerk, en die teks word, volgens die outeur, die geskiedskrywing en outobiografie van hierdie amptenaar aan die Kaap, met ’n klomp kennis, dokumente en aantekeninge tot sy beskikking (Sleigh 2005). Dit is ’n verteller wat ook binne die sisteem van die VOC werksaam was, deel was van die proses van kolonisering, en tog in verset kom teen daardie sisteem, soos die wit skrywers binne die apartheidsisteem as skrywers deur hul geskrifte in opstand kon kom teen die sisteem van daardie tyd. Om van binne die koloniale sisteem daarteen in opstand te kom, word deur Bhabha (aangehaal deur Parry 2006:48) beskou as ’n vorm van radikale verset: “ To the extent to which discourse is a form of defensive warfare, then mimicry marks those moments of civil disobedience within the discipline of civility: signs of spectacular resistance.”

Die klerk sit die raamwerk van sy vertelling in ’n proloog uiteen. Maar die verhaal van hoe hy op dié raamwerk besluit het, lê in die laaste afdeling van die roman. Die verteller, die klerk Johannes Guilielmus de Grevenbroeck, stel homself op p. 686 bekend en gee verdere leidrade tot die skryfproses van hierdie roman en verhale daarbinne ingesluit. Hy beskryf vanaf ’n afstand, want hy is onder andere eensaam en oud, sinies oor die Kapenaars as “Afrikaanse gedrogte”, en sonder illusies oor die lewe, geskiedenis en sy eie kennis (686). Volgens Smith (2004:260) is dit juis persone met ’n “akademiese” posisie wat genoeg agtergrond en kennis het om instinktief vanaf ’n afstand, effens gedistansieer van hierdie “morsige” wêreld, die postkoloniale posisie te beskryf.

Die klerk beskik oor binnekennis van die VOC en as sekretaris van die Politieke Raad het hy oor sy leeftyd aan die Kaap ook baie ander inligting bekom (687). Hy ken die mense en die tydperk van die eerste 50 jaar baie goed (soos Sleigh met Die buiteposte) en het ontsaglik baie materiaal om te verwerk. Die vermoede begin egter by hom ontstaan dat daar ander stories is wat roep om vertel te word (687), eerder as die amptelike VOC-geskiedenis vanuit die dokumente van die koloniseerder. Dié ontwikkeling van selfrefleksie oor die koloniale sisteem by die verteller vorm, volgens Russell en Wolski (2001:4), een van die kernmomente van ’n postkoloniale teks en is een van die wyses waarop verset teen die koloniale sisteem aangedui word.

Dié dokumente waaruit die koloniale geskiedenis saamgestel word, word ook uitgebeeld as onbetroubaar. Die sekretaris moes geheimhouding sweer en in die dokumentering gesonde oordeel aan die dag lê oor wat om te skryf en wat om te verswyg (688). Al die dokumente is aan hom toevertrou (714), al die mees vertroulike dokumente. So word hy geheimskrywer (714). Wat hy oor het om te verwerk, is egter slegs “skraapsels papier”. Selfs Kolbe se weergawe van die geskiedenis word aangedui as “gebrekkig” omdat Kolbe volgens die verteller nie die persoonlike intriges agter die dokumentasie sou begryp nie. En die dokumentasie, die “groeiende argief wat die biografie van die kolonie se geboorte en jeugjare was”, was volgens hom toenemend in ’n staat van “verwaarlosing” (703). Vroeër in die roman verwys die verteller ook na die onbetroubaarheid van dokumente: die Kaapse boeke wat vol foute was (306), selfs dalk opsetlike foute om die Direksie te mislei (306). Ook Mauritius se boeke het verbrand (660), sodat slegs getuienisse en vertellings oor daardie tyd oorgebly het. Dié onbetroubaarheid van en gebrek aan dokumente dui reeds op ’n ondermyning en relativering van die geskiedskrywing.

Ook ten opsigte van die karakters oor wie hy wil skryf, is die inligting onvoldoende. Hy en ander, soos Tas, wil graag meer hoor van oorlewendes, want “soveel is verswyg” (739). Hy moet egter karakters uit sy verbeelding skep, want hy kan nie hulle gesigte sien nie (729), mag nie meer in die argiewe lees nie, en “verloor” sommige van die mense in wie hy belang stel (729). Getuies wat hy ondervra, gee nie altyd datums of name van plekke nie (729). Een van die fokaliseerders wat hy gebruik, Deneyen, is volgens hom onbetroubaar (730-31). Van die mense wat hy wou ken, was reeds oorlede (734). Sodoende word verder ruimte geskep vir die verbeelding van die verteller en outeur.

Die inligting wat die verteller oor die begintydperk van kolonialisme aan die Kaap verskaf, gee ’n uiters negatiewe beeld daarvan, wat deur die loop van roman geëggo word: die leiers is “uit hebsug gebore” (688); die Van der Stels en ander heersers kon edel heer speel en mense laat kwyn, “witgekalkte heerlikhede oprig” en ander mense se huise (en eilande) laat vergaan, mense op eilande laat smyt (710), en buiteposte laat verdwyn (722, 724). Hulle is as heersers genadeloos (725), Justisie was geblinddoek (726) en geen inspeksies is meer deur kommissarisse gedoen nie (726). Hy besluit later om hierdie leiers uit die storie te haal. Vir hom het hulle nie meer saak gemaak nie en sodoende sou hy sy eie verbittering ook uitsny (734).

Waar sy verhaal dus eers (tipies koloniaal) oor die heersers sou gaan, die vyand wat hy deur middel van woorde wou vernietig, het die skraapsels papier, duidelik nie volledig nie, self anders besluit, ’n ander slagveld gekies: ’n beeld van verset teen die koloniale stelsel. Die Kaap sou nou slegs die agtergrond word, die koloniale vesting ondergeskik aan die groter verhaal. Die Van der Stels, en ander heersers, word verlaag en verklein tot “onder die bediendes en voetsoldate” (691), en die beroemde Kaap is net ’n “wankelrige kaartehuis” (692).

Die belangrikste deel van die verversingstasie word nou volgens hom die buiteposte se “lewende mense” (692) – die klein, onbelangrike mense wat nie in die groot geskiedenis genoem word nie. Dit was, volgens hom, nie die kasteel nie, maar die buiteposte en sy mense wat die Kompanjie moes dra (703). Daar was “mense met siele, of wat eers siele gehad het” (733), hulle wat soos eilande afgesonder was van die vasteland, weerloos teenoor die “onwetendheid van die see” en wisselende owerhede waaroor hulle, soos kinders, onkundig was (733). So verskuif die fokus van die vertelling na die buiteposte: Wie was hierdie mense van die buiteposte? het hy begin wonder; “[H]oe klink hulle stemme?” (733). Sodoende word afgewyk van die tradisionele koloniale geskiedenisperspektief en word die klem op die gewone mens se ervaring van die geskiedenis geplaas.

Met steeds groeiende selfrefleksie beskryf die klerk die Kaap. In teenstelling met die perspektief van ’n roemryke vestigingsgeskiedenis, beskryf hy dit eerder as ’n “hekseketel aan die brou” (701), met as oorsaak daarvoor: “selfsug, en wraak, en eiebelang, en gierigheid en jaloesie” (702). Hy wys ook later op die korrupsie, die onderdrukking van onafhanklike denke, dat almal slegs slawe was van die Kompanjie (716) en dat geen vryburger werklik vry was nie (717). Hy word bewus van die bitterheid onder die Hottentotte, onder andere oor die moord op die Chainouqou-stam wat 40 jaar getrou was aan die Kompanjie, maar uitgemoor is sonder dat dit eers aangeteken is (718).

Om die verversingstasie te laat slaag, besef hy al hoe meer, moes die Hottentotte verdryf en hul grond afgeneem word. Die vrae by hom as verteller word al hoe meer, onder andere: Wat het van die inboorlinge geword? (702). Hy weet byvoorbeeld hulle is opsetlik aan drank en tabak verslaaf (702).

So samel hy getuienis téén die Kompanjie in. Waar hy aanvanklik diens verlaat het net oor verset teen een amptenaar, Van der Stel (719), word sy vertelling verset teen ’n hele stelsel. Al hierdie inligting word op “strokies afvalpapier aangestip” (703) en uitgesmokkel na sy kamer – “vir latere gebruik” (703): “as die pen jou wapen is, dan skryf jy” (717). Kossew (1996:161) merk op dat die sentrale tema in baie postkoloniale tekste juis die waarde van die skryfaksie as betrokkenheid en verset is: “Who takes up the position of power, pen in hand?”

Die uitgesproke subjektiwiteit van die klerk se vertelling moet hier raakgelees word, en dus daarmee gepaardgaande sý rekonstruksie van betekenis (Tiffen 2006:101). Dit is ook duidelik dat hierdie verteller daarop uit is om ’n ánder weergawe te gee van die koloniale gesag as die amptelike weergawes daarvan – reeds daarin lê die uiting van sy verset (Slemon 2006:105).

Waar hy as jongeling die matrose as “honde sonder naam” uitgeskel het (694), wil hy nou juis húlle geskiedenis vertel, en dié van onbekende vrouens, want wie anders sal namens soveel naamlose vrouens praat?

Sy verhaal begin dus anders as aanvanklik beplan: as fokaliseerders kies hy nou nie die gesaghebbers nie, maar die gewone mense: “soldate, ’n beeswagter, matrose, ’n klerk …” (1), om oor ’n spesifieke vrou te vertel. Juis hierdie mans, omdat hulle gehelp het “om die klein vlotjie drywend te hou” (2). Hulle is die “stemme uit die see”, die voorheen ongehoordes, wat nou ook moet stem gee aan ander stemloses, soos die twee vrouens Eva en Pieternella, “want mense sterf eers werklik as hulle nie meer onthou word nie” (2). Húlle verhaal word vertel, komende uit die see, waaruit die geskiedenis van mense voortkom: “die groen vrugwater waarin ons dryf” (2). Op hierdie wyse word die verteller geïdentifiseer as een met ’n dubbele visie: dié van die koloniale (sekretaris en klerk) en dié vanuit die oogpunt van die gekoloniseerde, ook as ’n éérste interpreteerder vanuit hierdie postkoloniale posisie (Ashcroft et al. 1989:61). Dit is die soort spreker “who resists the colonial (and thus) necessarily achieves the position within the framework of the system they oppose” (Griffiths 2006:167).

Dat die manlike wit skrywer ’n manlike wit verteller kies, wat op sy beurt manlike fokalisators, ook hoofsaaklik wit, gebruik om óór die bruin vroue te vertel, skep reeds vrae oor die betroubaarheid van die vertelling. Dit dui egter implisiet ook op die onbetroubaarheid van historiese bronne en die vermoë van die amptelike geskiedskrywing om ’n volledige beeld te skep van die verlede en reg te laat geskied aan die mense betrokke by daardie geskiedenis. Die vraag na wie die storie van die "ander" vertel, kom spesifiek ook by Van Zyl (2003:61) na vore. Kossew (1996:127) stel dit so:

The strong sense in Post Colonial literatures of the need to release a voice that is silenced by colonial authority is complicated in white literature by the fact that the white writer is speaking "for" the silenced voices and thus could be seen as merely imposing another kind of imperial authority upon them.

Dit is egter ook die dilemma van die persoon wat uit die gebrekkige bronne tog die stemme van dié wat juis nié opgeteken is in die koloniale geskiedenis nie, wil laat hoor, sodat hulle nie vergeet sal word nie. Dit is immers juis hierdie “quest to recover this silenced Other which gives post-colonial theory its impetus over other post-phenomena” (Ahluwalia 2005:509).

Die kritiek teen hierdie soort fokalisering as appropriëring deur wit skrywers (Van Zyl 2003:62) kan miskien eerder deur die bril van Gopal (2004:151) gelees word: “The fact that the subaltern does not speak in any unmediated or immediately accessible ways, far from closing the possibility of knowledge, invests the search for better understanding with greater urgency.”

Hierdie struktuur van fokalisering dra wel by tot ’n suggestie van die dubbele kolonisering van die vrou onder kolonialisme: deur die man én deur die imperiale mag (Loomba 2005:138, 140). Dit is opmerklik dat Eva en Pieternella hoofsaaklik in dialoogvorm ’n spreekbeurt kry, maar dat die fokalisering op hulle deurentyd deur die verteller en die mans in hul lewens is.

3 . Geskiedskrywing

In aansluiting by Sleigh se standpunt dat dit in hierdie roman slegs gaan oor die “ontleding en vertolking van dokumente, ’n soektog na oorlewendes in ’n eindelose ruimte”, sê die verteller die volgende:

Maar ongetwyfeld sal die geskiedenis hom herhaal, en wat was, sal weer wees. En as iets soos ’n einde verlang word waar geen einde is nie … goed dan. Maar jy kan nooit vertel sodat iemand ten volle begryp nie, want die hoorder sit in sy eie droom gevang. Werklike begrip en ’n werklike einde sal daar nooit wees nie, omdat ’n sirkel voortgaan sonder einde. (734)

As voorbeeld verwys die klerk na die soektog na goud in die binneland, eintlik swart goud. Die soektog na slawe lei slegs tot nóg ’n afgeleë buitepos in die binneland, “… koorsstreek en slawe. Het hulle dan niks geleer nie?” (734). Só ’n siening maak ook die dink oor die toekoms sinloos: “Wat maak dit saak wat enigeen van die toekoms dink? Die toekoms ontvou soos dit moet, blind, onverskillig” (740). Dit bly volgens hom die ou storie van vooraf en “(d)aarna, daarna en daarna sal dit weer wees asof dit nooit was nie. In alles bly net die see dieselfde, leeg en eindeloos” (755). Die roman sluit dan met die woorde: “So herhaal die geskiedenis hom: die eerste keer as tragedie, die tweede keer as klug. Een sirkel word die volgende, niemand merk dit op nie. Die groot see stroom voort en verander nie” (756). Uiteindelik word mense skepe en eilande, slegs ’n ark as “'n toevlug in die wye ruim” (756).

In aansluiting by die siening van die geskiedenis as ’n onkeerbare kringloop waarin menses slegs noodlotsgebonde is, maak die verteller, soms deur middel van ander fokaliseerders, ook soortgelyke uitsprake tydens die res van die roman. Mense word gesien as hierdie “klein mensies gevang op ’n skip in die wye see” (11), oorgelaat aan die noodlot en die ongeluk of toeval (382, 645). Die onvermydelike kringloop van die geskiedenis word meer as een keer beklemtoon: "Saturnus vreet sy eie kinders op, die hede vreet aan die toekoms, die begin vreet aan die einde” (427), en aan die einde “kyk jy om en sien net ’n tuimelende see agter, en ’n tuimelende see voor …” (593).

Mense is in hierdie onkeerbare kringloop van die tyd slegs deel van ’n komediespel, akteurs op ’n verhoog. So stap Deneyen op die verhoog (383), ’n komediespeler wat sy verskyning maak (385), alhoewel die see, volgens die verteller, die eerste oorsaak is: “daardie komediespeler op die Kaapse verhoog wat die meeste misgekyk word” (384). En agter alles, as dekor en toneeldoek, staan Tafelberg (385).

Die Kaap is duidelik net agtergrond vir die menslike verhaal wat hom sal afspeel. Paul Carter (2006:333) verwys ook na die vroeëre kolonies as slegs agtergrond vir die imperiale geskiedenis waarin die geskiedenis self die dramaturg is wat feite in ’n logiese rangorde rangskik. In Eilande is dit egter die verteller wat sy garedraadjies aanmekaar ryg, oorsaak en gevolg probeer verbind, die spel van noodlot en toeval uitbeeld, wat nooit die hele verhaal vertel of volledig kan wees nie – “it makes no claim to authoritative completeness. It is, must be, like a journey, explaratory” (Carter 2006:334). Sleigh noem byvoorbeeld dat hy ook ’n eie lyn van oorsaak en gevolg begin rekonstrueer het uit die onvolledige feite tot sy beskikking (Van Zyl 2003:56).

Dié vertelwyse en fokalisering, die verwysing na gebrekkige inligting en dokumentasie, en die keuse om die klein geskiedenisse te vertel, eerder as dié van die heersers, vestig bepaalde postkoloniale perspektiewe binne hierdie roman. Daar is die wegbeweeg van die storie van die koloniale sentrum en ’n nader beweeg na die gemarginaliseerdes, wat voorheen op die periferie beweeg het (Ashcroft et al. 1989:33; Boehmer 2005:197; Smith 2005:110); die poging om die geskiedenis te herskryf vanuit die gesigspunt van die onderdrukte (Ashcroft et al. 1989:34, 171); die implikasie dat geen geskiedenis ooit volledig is nie (Ashcroft et al. 1989:153) en die fiktiewe aard van alle historiese vertellings wat blootgestel word (Kossew 1996:15). Dit lei tot ’n verskeidenheid perspektiewe en verhale binne die groter raamwerk van die amptelike geskiedenis, sodat ook ’n ander perspektief op die sogenaamde globale geskiedenis verkry word (Lazarus 2004:8; Loomba 2005:17; Van Zyl 2003:58). Die vertellersperspektiewe sluit dus ook aan by Loomba (2005:200) se pleidooi dat om te probeer luister na die "ander", beteken om ’n verskeidenheid narratiewe te ontbloot wat deur die meesternarratiewe van die koloniale gesag versluier is, maar ook te dink oor hoe hierdie narratiewe met mekaar skakel. Die radikale skryfproses, sê Fee (2006:171), bestaan juis daarin om al sukkelend, binne jou beperkings, die dominante ideologie van binne af te herskryf, om sodoende ’n ander kyk op die werklikheid te gee.

Dit is juis die toenemende mate van selfrefleksie by die verteller oor die verhaal wat hy vertel, die posisie van die Hottentotte en die ander ondergeskiktes binne die onderdrukkende stelsel van die VOC, wat die verset daarteen impliseer en die postkoloniale visie van die roman versterk, soos (Russell en Wolski 2001:11) ook in die bespreking van Star Trek aandui. Die verteller beklee dus van die begin ’n ambivalente, tussenin posisie waarin hy gedurig beweeg tussen sy kennis van die koloniale sisteem en sy vrae oor die uitwerking daarvan op die ondergeskiktes en onderdruktes. Hierdie afstand van waaruit hy vertel, is een van die oorheersende perspektiewe in postkoloniale literatuur (Smith 2004:244), die “’immanent critique’: criticism from the inside out”, soos Benita Parry aanvoer (Smith 2004:246), wat ook beskou word as een van die mees radikale vorme van bevraagtekening van die Westerse denkpatrone (Smith 2004:258).

Dit is juis deur die fiktiewe narratief, gegrond in die historiese dokumente soos hierdie een, waar daar meer vryheid is as binne die streng historiese, dat die lewe van die mense herskryf en bewaar kan word (Boehmer 2005:188).

4. Die ondermyning van meesternarratiewe

Russell en Wolski (2001:4) sê oor Star Trek, wat juis deur Sleigh uitgesonder is as ’n invloed op Eilande: “The meta-narratives of colonialism and exploration are questioned.” Volgens Boehmer (2005:137) is dit die doel van postkoloniale tekste om juis die broosheid van die meesternarratiewe te ontbloot:

… the erosion of transcendant authority; the collapse of imperialistic explanations of the world. In short, postcolonial and postmodern critical approaches cross in their concern with marginality, ambiguity, disintegrating binaries and all things parodied, piebald, dual, mimicked, always-already borrowed, and ironically secondhand.

 Smith (2005:110) beklemtoon verder die verskuiwing van die imperiale sentrum:

These attitudes inform what is sometimes referred to as either "the Empire writes back" discourse or post-colonial literature. This kind of writing assumes that the centre does not necessarily have to be located at the imperial centre. It is argued that the centre can be shifted ideologically through imagination and that this shifting can recreate history.

In hierdie artikel word slegs enkele gesigspunte oor die ondermyning van die meesternarratiewe aangeraak: die ondermyning van die siening van Europa as die sentrum en die gevolglike aandag aan die periferie, grensposte, hibriditeit en die geskiedenis van die ander en stemloses; die kritiek op die oordrewe gesagsuitoefening en geweld; eerder die uitbeelding van die gewoon-menslike ervaring as dié van die heersers; ’n verskeidenheid perspektiewe op die koloniale geskiedenis; en die blootstelling van die leuens oor vrye regspraak, geregtigheid, vryheid en burgerskap, nasieskap en eenheid.

Dit word van die begin van die roman duidelik gestel deur Harry/Herrie dat die kolonisering van die Kaap die inwoners se hele lewe en wêreld kom verander het (16). Peter Havgard dink ook: “rondom hulle was ’n wêreld aan die vergaan” (61). Die VOC en die Fort en Kasteel was die middelpunt van bestaan: die Kompanjie se belange het altyd eerste gekom, en sy teken het wêreldwyd versprei (371) as die “loflike Kompanjie”, wat deel was van die sogenaamde beskaafde wêreld (167). Vanuit die vertelperspektief van die verskillende fokaliseerders kom egter ’n ander beeld te voorskyn: ’n vlag wat links en regs klappe uitdeel (125); die Here XVII wat die dobbelsteen rol oor al sy onderdane (350), wat in anderland oor jou en jou gesin besluit (594), wat soos die Here optree, sodat die onderskeid tussen here en Here vervaag.

Ook die Kasteel as bastion van beskawing aan die suidpunt van Afrika word ’n “mensvreter” (382), vreet met onversadigbare honger aan die land (427), ontsien nie bloed nie (429), en sal uiteindelik die einde van sy base en sy eie einde veroorsaak (427). Volgens die verteller was nie die Kasteel óf die Fort óf die Kompanjie die belangrikste nie, maar die buiteposte en die lewende mense daar. Húlle het die sukses van die verversingstasie verseker.

Van imperiale/koloniale helde en gerespekteerde leiers is daar nie veel sprake onder die fokaliseerders en verteller nie. Volgens Smith, (2005:95) is die ontdekkers en reisigers die helde in die imperiale literatuur, hulle is die “vaders” van die kolonialisme. In Eilande word hierdie figure nie juis bewonder nie.

Die verteller vra oor hierdie leiers in Europa: “Maar wie was hierdie hoë here en waaroor het dit gegaan? Oor die ambisies van parasiete, die vuilgoed wat hulself graag staatsmanne laat noem. Jy sien hulle name in boeke. Merk hulle daar, en moet sulkes nooit met jou lewe vertrou nie” (287). Van Goske, die goewerneur, dink Deneyen: “het die Nederlander tot die vlak van die barbaar gedaal en hulle struikrowery met massamoord vergeld?” (441). Hy wonder later: “Uit watter reg beplan ’n goewerneur ’n strooptog op ’n gebroke volk se beeste?” (446). Dié refleksie oor die koloniale optrede by ’n karakter soos Deneyen is hier opvallend.

Dit is veral met die verwysings na die misbruik van gesag en geweld dat die verteller in Eilande van sy sterkste verset uitspreek. Smith (2005:108) verwys soos volg na hierdie magsmisbruik:

History is also about power … It is the story of the powerful and how they became powerful, and then how they use their power to keep them in positions in which they can continue to dominate others. It is because of this relationship with power that we have been excluded, marginalized and "Othered".

Die koloniste word reeds aan die begin as “vreemde invallers” (12) beskryf, en gou word die Kaap ervaar as ’n oorlogsfront met die Fort ’n veldheer se tent (70). Die Koina word uitgeroei (137) en bandiete word “gevangenes van die monster wat tans die Kaapse rots bewoon” (380). Die oorlog om grondgebied laat die Koina alles verloor (382), mense wat nooit gevangenes moes gewees het nie, word gevangenes op eilande (382). Kaart en transport word goedkoop bekom deur die inboorling se onkunde uit te buit (389), en in die gereg was min menslikheid te bespeur (384). Die wet is verskillend vir wit en swart en arm en ryk toegepas (390, 421). Uiterste strawwe word opgelê (409-26), sodat die fiskaal moet erken sy hande is rooi van bloed, maar dit is dié bloed wat die meul van die Kasteel en die verversingstasie laat draai (429). In Afrika is regspraak nie duidelik en eenvoudig nie (474), en in elk geval kan die regspraak nie geld vir swart mense wat volgens die VOC sonder siel is nie (506).

Agter hierdie beskrywings van geweld en uitbuiting skuil die postkoloniale onderbewussyn: “a vague, repressed unease that the land had been taken away from its original inhabitants, a suppressed history of colonial conquest and occupation” (Viljoen 2004:108).

Uiteindelik word die buiteposte die tydelike sentrum van waaruit vertel word, maar die ewig veranderlike see, en nie meer Europa nie, die sentrum waaruit alles ontstaan en waarna alles terugkeer: “Jou skip is klein en die see is groot” (594).

5. Ruimte

Ashcroft et al. (1989:9) noem die verhouding tussen plek en self en die daarmee gepaardgaande konstruksie van ’n algemene onbepaalde ruimte en ’n spesifieke plek as die mees intrinsieke kenmerk en een van die mees bespreekte aspekte van die postkolonialisme.

Louise Viljoen (2004:137, 138) beskryf die Afrikaanse prosa as veral gemoeid met ruimte in die breedste sin omdat dit ontstaan het uit ’n agtergrond van ’n geskiedenis van kolonisasie en dekolonisasie, ’n geskiedenis van die verkryging van grond, die konflik met die inboorlinge daaroor en die toewysing van verskillende grondgebiede vir rassegroepe. Dit lei tot postkoloniale herbesinning by Afrikaanse skrywers oor hul verhouding met die landskap, die land, die grond en ook die taal wat ’n noue verbintenis met die Afrikaanse ruimte en die geskiedenis daarvan het. Afrikaans het immers ontwikkel uit die Nederlands van die besetters en was die taal van koloniseerders en ook versetbewegings. Die Afrikaanse taal was betrokke by naamgewing, die verandering van ruimte na plek. Sodoende, sê Viljoen in verband met ander Afrikaanse romans (2004:141), het daar ’n ruimtelike binariteit ontstaan rondom koloniale vestiging, uitbreiding en ontdekking, ’n opposisie tussen koloniale vesting aan die Kaap en die onontdekte binneland, beskawing en onbeskaafdheid, die Kaap as Europees teenoor Afrika, tussen kultuur en natuur, tussen betrokkenheid by die gemeenskap en vryheid, die Kaap as beskawing, die binneland as wildernis, wit teenoor swart.

Ashcroft et al. (1989:82) sien ook die aspek van verplasing (“displacement”) as essensieel vir die begrip van die postkoloniale posisie en die ondermyning van die sogenaamde sentrum as die hoogtepunt van rebellie en ontbloting van die koloniale gesag.

Dit is duidelik dat die sogenaamde sentrum dus sy vastigheid verloor en slegs tydelik word, steeds gerekonstrueer word, en ’n veranderlike word.

Die gevoel van verplasing en vervreemding blyk baie duidelik by die verskillende fokaliseerders: vir party was hulle wêreld aan die vergaan (6); ander voel “gestrand” in hierdie land (62), geketting aan hierdie klip wat hulle Afrika noem (69); Eva het geen plek tussen die “afkeer van die Koina en die hooghartige Kaapse vrouens” nie (161); Deneyen voel aan die Kaap meer ’n gevangene as vry, “gevang en verban op ’n dorre eiland”, ’n gevangene van die Kasteel (444, 445). Uiteindelik beland hulle almal op eilande – letterlik of figuurlik – en die eilande word ook maar net weer skepe op die wye oseaan in die wye ruimte. Hierdie gevoel van diaspora beskou Smith (2004:254) as “a collective trauma, a banishment, where one dreamed of home, but lived in exile”.

In Eilande is daar baie sterk sprake van verskillende aspekte van die postkoloniale beklemtoning van die ervaring van ruimte: die binêre opposisies, die soeke na ’n middelpunt van bestaan en die ontkenning en ondermyning van die sentrum; die oorname en verlies van grond en die geweld wat daarmee gepaard gaan, asook die gevoel van verplasing binne die grensgebiede van interkulturele kontak.

Russell en Wolski (2001:1) se verwysing na Star Trek as ’n metafoor vir kolonisasie is hier van toepassing in die lig van Sleigh se verwysing na Star Trek in onderhoude (Sleigh 2005). Hulle brei daarop uit en sê dat ruimte wat nog nie gekarteer is nie, onbekend is, nie bestaan voor die koloniseerder nie eers die kaarte opstel, name gee en daardeur beheer begin uitoefen nie: “Once colonized, the unfamiliar becomes familiar and is assimilated into the social structure that is the United Fedaration of Planets” (2001:2). Die grens in Star Trek is, soos in kolonialisme, volgens hulle die die grens tussen ruimte en plek: “Place exists where names are known, features are recorded and maps can be drawn. Space exists where these are unknown. The known world is a place, the unknown world is space” (2001:6). Naamgewing is die primêre uiting van die koloniseringsproses omdat dit deur middel van taal die ruimte in besit neem. “’n Mens sou hier kon woon, dit kan jou huis word as jy eers elke plek ken en aan elke ding sy verdiende naam gee,” dink Bart (230). Op hierdie wyse, sê Boehmer (2005:18), is ook die sentrum van Europa bevestig: “ naming set up a synchronous time frame for the colonies; though not Europe, they were declared to be contiguous to Europe, and subject and secondary to it”.

Eilande gee duidelike aanduiding van die tóé bestaande binêre opposisies tussen Europa en Afrika, en tussen die koloniale vesting aan die Kaap en die binneland, maar slaag ook daarin om hierdie opposisies te ondermyn. Daar word, uit die oogpunt van die koloniseerders, verwys na die agterlike Afrika, en selfs ook die agterlike Kaap teenoor die vaderland in Europa (65), die beeld van donker Afrika (62, 342). Ten spyte van die moontlike befaamde koninkryke van Afrika is daar die assosiasies met “slange, mensvreters, leeus, mismaakte mense, genadelose wreedheid, onkunde” (69) – terwyl die gesagsfigure juis die beeld word van “genadelose wreedheid"! Huise van klip (beskawing) word gestel teenoor huise van riet “wat die natuur wil hê” (69). Die vervloekte land, Afrika (95), is brutaal; lewe en dood is hier bure (155). Afrika is ’n plek waar niks te bereik is nie (178); Afrika is die plek sonder grense of heinings, waar vrouens kaal loop, waar daar nie gode is nie (292).

Die sentrum aan die Kaap is enersyds die “magtige Kasteel, hierdie vesting op die drumpel van Indië” (175), maar dit word ook in ander terme beskryf: as agterlike Kaap (62), ’n mislike lewe vir die koloniste geketting aan hierdie klip wat hulle Afrika noem (76). Tafelbaai is ’n dorre eiland (350), ’n Kasteel wat osse vreet (463). Die plekke wat die beste weiplekke aan die Kaap was, het slagvelde geword (508). Die Kaap is net ’n afgesonderde eiland, halfpad tussen Europa en Batavia (514). Wanneer Pieternella en Daniël aan die einde terugkeer na die Kaap, is dit nie beter as Mauritius nie, maar die plek van valse trots en rassisme.

Batavia word aanvanklik as die hemel beskou – almal wou net Ooste toe, en ook na Mauritius (177). Aanvanklik is ook die buiteposte “'n rare poort na nuwe ruimte, na groter vryheid” (307). Maar ook Mauritius is vernietig deur mag wat verderf (470) en die skip Mauritius is “op ’n noodlottige koers” geplaas (593). Die paradys wat Batavia was, die sentrum van die Nederlandse ryk in die Ooste, het ’n stinkende lyk geword (725) en was beeld van wat ook met die Kompanjie sou gebeur: “Batavia is siek, en met verloop van tyd moet die loflike Kompanjie in die vaderland sterf” (725). So word die magtige koloniale sentra slegs illusies: “kom ons voor die goue poort, dan sien ons dit is ook nie meer wat dit was nie” (726).

Een van die opmerklike aksies tot die versterking van Europa as die sentrum word deur die verteller in Eilande aangeraak deur die verwysing na die benoeming van plante in die kolonies. Loomba (2005:56) noem dit spesifiek

the emergence of a natural history as a structure of knowledge within a new "planetary consciousness" which emerged in Europe at this time as a result of colonial expansion. Linnaeus’s System of Nature (1735), which inaugurated a system of classifying plants that is still current … rewoven into European-based patterns of global unity and order.

Reeds voor Linnaeus se klassifikasie verskyn het, noem die klerk die hortus botanicus by die Universiteit van Leiden waarvoor Jan Kompanjie se skepe voorbeelde van plante aangedra het “uit die uithoeke van die aarde” (694) en wat hom amper oortuig het om plantkundige te word. Verder verwys hy na Van Reede wat op Malabar ’n paar duisend verskillende spesies geïdentifiseer en in besonderhede beskryf het (704) en, soos die klerk, besig was met ’n onvoltooide manuskrip, die Hortus Malabaricus (705). Van Reede het daarbenewens ook ’n Hortus Capensis beplan waarvoor die klerk die Latynse benamings en beskrywings sou doen – ’n verdere strategie om die inheemse vanuit die sentrum te benoem (712, 713). Soos met die beplanning om die eerste 50 jaar aan die Kaap te beskryf, verander ook hierdie bestemming vir die klerk: sy hart was later nie meer in die botanie nie (714).

Uiteindelik was die sleutel tot hierdie verversingstasie, wat die sleutel was tot die ekonomie van die Kompanjie en Oos-Indië, die buiteposte, die geskiedenis van die gewone mense van die buiteposte (692): “Die buiteposte was lewende mense.” So word die sentrum afgewentel, ondermyn, gedesentreer tot die grense, die gemarginaliseerdes, die stemloses.

Die verkryging van grondgebied is ’n bloedige stryd waar die swakke moes wyk voor die sterke (770); grense is na willekeur verskuif (78). Grond is doodgewoon afgevat (780, 343) en die koloniale uitbreiding het ongesteurd voortgegaan – “ons stig net ’n nuwe kolonie en hys ons vlag daar” (78). Die vrees vir die inboorlinge het verdwyn en die “land was oop voor die Europeër, en hulle het vermenigvuldig en was gereed om hom te bewoon” (325).

Die see beklee ’n amper mitiese plek in Eilande. Dit is die see, eerder as Europa of die koloniale gesag wat in die Kasteel gevestig is, wat in die roman uitgebeeld word as die sentrum waaruit dinge ontstaan en beheer word; dit is die omringende ruimte van die see wat die mense op eilande plaas. Sleigh (2005) beskou self die kasteel aan die suidpunt van Afrika as ’n eiland in die ontsaglike ruimte, en in die roman word op dié siening uitgebrei. Die mense aan die buiteposte is volgens die verteller in ’n sleurtog van dag tot dag gebonde aan die “onwetendheid van die see” (733). Hy skryf juis oor die “stemme uit die see” (1) wat “roep uit die see” (2), want dit is uit die see dat alles voortkom: “die groen vrugwater waarin ons dryf” (2). Die see word beeld van die geskiedenis wat onherroeplik voortstroom: “Die groot see stroom voort en verander nie” (756); en teenoor die tydelike bestaan van die mens is dit uiteindelik net die see wat agterbly: “in alles bly net die see, leeg en eindeloos” (740). Wanneer jy aan die einde terugkyk, sien jy net ’n “tuimelende see agter, en ’n tuimelende see voor” (593). Die see is die eerste oorsaak van die gebeure aan die Kaap: “daardie komediespeler op die Kaapse verhoog wat die meeste misgekyk word” (384).

Die see is opvallend juis nie ’n ideologiese konstruksie wat as sentrum moet dien nie. Dit is ewig en veranderlik, maar ook allesomringend en deel van die siklus van lewe en dood, die kringloop van die geskiedenis. Sleigh en die verteller plaas sy karakters as mense in ’n tussenin ruimte, aan boord van ’n skip, op eilande, op grense, ’n vloeiende, steeds veranderlike landskap van voortdurende migrasie. So word die postkoloniale posisie metafoor vir die universeel menslike kondisie (Lazarus 2004:247; Van Zyl 2003:64).

6. Die konstruksie van die "ander"

6.1 Die "ander"

In die postkoloniale diskoers is al uitgebreid geskryf oor die aard en posisie van die ander/Ander. Opsommend kan die volgende gesê word: Die posisie van die “subaltern”, wat letterlik beteken “minderwaardig” of “ondergeskikte”, word beklemtoon en beskryf as die koloniale "ander" of net die ander/Ander (Boehmer 2005:21). Die teenwoordigheid van hierdie "ander" is volgens Boehmer egter ook altyd waarneembaar in alle imperiale geskrifte, al word dit doelbewus verswyg (2005:21).

Ashcroft et al. (1989:103) beskryf die konstruksie van die "ander" deur die koloniale diskoers as ’n poging om die "ander" juis as radikaal anders as die koloniale self te beskryf. Deur middel van hierdie koloniale diskoers word dus beheer uitgeoefen oor die identiteitskonstruksie van die "ander". Deur aanhoudende herhaling van hierdie persepsie van die "ander" vanuit die fokus van die eie identiteit (want die "ander" kan alleen bestaan in kontras met die self) ontstaan ’n hibriede konstruksie van die "ander": amper wit, maar nie wit genoeg nie. Om sy gesag oor die "ander" uit te oefen wil die imperiale mag egter nie herinner word aan hierdie ambivalensie nie; die verskil moet juis die kontras uitbeeld, nie die ooreenkomste nie. Bhabha (2005:266) beskryf dit soos volg:

[C]olonial mimicry is the desire for a reformed, recognizable Other, as a subject of a difference that is almost the same, but not quite. Which is to say, that the discourse of mimicry is constructed around an ambivalence; in order to be effective, mimicry must continually produce its slippage, its excess, its difference.

So word ’n hibriede identiteit gevorm wat die leefwyse van die koloniseerder aanneem, sy taal en kultuur, onder die gesag van die koloniseerder staan, maar nooit werklik kan deel word van hul kultuur nie – sleg as ’n nabootser (“mimic man”) (Bhabha 2005:267). Dit bly dus slegs ’n gedeeltelike aanvaarding van die "ander", ’n gedeeltelike teenwoordigheid, en ’n dubbelvisie op daardie persoon vanuit die gesigspunt van die koloniseerder: gevorm deur die fokus en na die beeld van die oorheerser, maar nie deel daarvan nie, nie aanvaarbaar genoeg nie (Bhabha 2005:268).

’n Postkoloniale visie beklemtoon die feit dat die koloniseerder en die gekoloniseerde nie deur netjiese binêre opposisies verteenwoordig kan word nie, maar dat hulle juis gedurig besig is om mekaar te konstrueer in die onvermydelike wisselwerking wat plaasvind (Loomba 2005:52).Dit is baie duidelik dat in Eilande aandag gegee word aan die koloniale siening van die "ander", in die algemeen en in die besonder, soos vanuit die oogpunt van die koloniste, maar dat daar terselfdertyd postkoloniaal kritiek gelewer word teenoor dié siening.

Die Manicheaanse allegorie van teenoorgesteldes op grond van rasseverskille word direk toegepas asof die “ander ras” (Koina, Hottentotte) aan die Kaap ’n homogene groep is. Die binêre opposisie, of die ekstreme Manicheaanse allegorie van wit-swart, beskaaf-onbeskaaf, menswaardig–minderwaardig, goed-boos, sentrum–grense, bly dus die uitgangspunt in die koloniaal-gesentreerde diskoers teenoor die “ander” (Ashcroft et al. 1989:172; Loomba 2005:91). Dit is hierdie ideologiese diskoers wat aanleiding gee tot die gewelddadige onderdrukking van die gemarginaliseerdes in die koloniale samelewing; dit is ook hierdie diskoers wat in Eilande ontbloot word.

In Eilande word dié tipiese homogenisering en binêre opposisies duidelik aangedui, maar ook ondermyn deur stem aan die gemarginaliseerdes te gee, mense as indiwidue te beskryf, en die hibriede saambestaan van kolonis en gekoloniseerde uit te beeld.

Aan die een kant van die samelewing (Keert de Koe) was die kolonie, aan die ander kant “suiwer en onophoudelike barbarisme” (309). Die Koina, Hottentotte en ander groepe word as een rassegroep beskryf - al word verskillende name wel genoem - en onder andere beskou as heel naïef, soos kinders (7), nie waardig om as mense gereken te word nie (91), lafhartig (173), bygelowig (309), brutaal, onkundig, sedeloos, sonder opvoeding, meer dierlik as menslik (395), barbare en ’n walglike volk (444).

In hierdie koloniale diskoers word die "ander" nie as volledig menslik beskou nie, of soms glad nie menslik nie, met die gevolg dat ’n beleid van onderdrukking en selfs vernietiging dus ook nie as onmenslik beskou kan word nie (Smith 2005:100). Gevolglik word gewelddadige optrede teenoor hulle as geregverdig uitgebeeld, as selfverdediging en beskerming van die koloniale beskawing aan die Kaap. Hulle is die uitgesproke vyand, mag op sig geskiet word as hulle met ’n wapen loop (87), word ná veediefstal met moord gedreig (86), is 10 gulde per (afgekapte) kop werd (87) en word na verdelging net “van die boek af(ge)haal” (119). ’n Beeswagter word doodgeskiet omdat hy ’n bierbeker breek (395). Die “meester Heere” sê ’n swart man het nie ’n siel nie (506). Hulle grond kan sonder seremonie afgeneem word (91) en vir hulle godsdiens is daar geen eerbied nie (93).

Hierdie mense word op dieselfde wyse beskryf en behandel as die swarte wat summier oorboord gegooi word uit die roeiboot (223), die “kort heidentjies in Nagasaki” (307) en die Indiër wat moes sterf “Omdat hy nie ’n Hollander was nie, nie ’n Christen nie, nie ’n wit vel gehad het nie, daardie drie redes” (653). Die Hottentotte word gelyk gestel aan die slawe: “slawe is skaars, maar Hottentotte sal in die wingerd werk, skaap oppas en graan sny vir bietjie tabak en klere. So die lewe is taamlik goedkoop …” (655).

Die kinders wat as gevolg van die kontak tussen die kolonialiste en die ander groeperinge in die land gebore word, word as basters, halfgeslag, bestempel en deur albei gemeenskappe verwerp (Smith 2005:101). Dit is die afstand tussen die goeperinge, tussen die koloniale self en die gekoloniseerde ander, dat ’n hibriditeit en ’n ondefinieerbare "ander" ontstaan in die ontmoeting tussen vreemde kulture in vreemde lande met die geforseerde ontmoeting tussen vastelande aan die begin van die 17de eeu. Kossew (1996:76) noem dit die skisofrenie van die koloniale setlaarsposisie waar kontak met die ander begeer word, maar afstand behou moet word, waar ’n mate van afstand noodsaaklik is om gesag en beheer te behou. In Eilande word dit veral duidelik uit die verskillende verhoudinge met Harry, Eva en Pieternella.

6.2 Harry, Eva en Pieternella

Dit is op sekere indiwidue dat die fokus sterker val as op groeperinge. Die lot word beskryf van Harry, Eva en Pieternella as verteenwoordigers van hierdie ander rassegroep (Hottentotte) aan die Kaap en ook as verteenwoordigers van die gemarginaliseerdes, die stemloses.

Van die begin val die klem op die “andersmaak” van hierdie drie karakters, soos waargeneem deur die klerk as verteller en die ander fokaliseerders wat met hulle kennis gemaak het. Waar die “andersmaak” by hierdie mense ’n feestelike geleentheid was om sekere oorgangsrituele te vier, word die “andersmaak” in die roman juis die proses van hibridisering, die invloed van die botsing en integrasie van verskillende kulture onder die geweld en gesag van die koloniseerder, met tragiese gevolge. In die konstruksie van beide Eva en Pieternella is hulle sonder indiwiduele stem. Hulle lewens moet ook gerekonstrueer word uit fragmente beskikbaar in historiese dokumente. Daaruit moet afleidings gemaak word oor hulle lewe en ook ander soos hulle. Op hierdie wyse word die gebreke en verswygings in die koloniale geskiedskrywing verder geopenbaar (vgl. Loomba 2004:150-52).

Eers verander die name: Autshumao/Harry/Herrie; Krotoa/Eva. Chief Harry, en baie van sy volksgenote, se “andersmaak” lê in die ontdekking van drank en tabak (10) waartoe hy/hulle deur die koloniseerders verlei word. Hy word ook, soos Eva later, van verraad teenoor sy eie mense beskuldig (46). Sy uiteinde, soos dié van Eva, is dat nie een van die twee groepe, die Hottentotte of die Hollanders, hom vertrou of as een van hulle wil aanvaar nie.

Krotoa/Eva se verhaal word deurlopend vanuit ’n mansperspektief vertel: eers vanuit Harry se oogpunt, later dié van Van Riebeeck en Peter Havgard, haar man. Hans Michel en Deneyen se waarnemings sluit die laaste jare af.

Eva is, soos Pieternella ná haar, verteenwoordigend van die “moeder van baie” (2), maar ook van die proses van kolonisering en die konstruksie van ’n “ander” en ’n hibriede identiteit. Waar hibriditeit vroeër net negatief verwys het na mense van gemengde bloed, het postkoloniale kritiek die term positief verander as die verwysing na kulturele vermenging or grense heen, multikulturaliteit, multikulturele gemeenskappe en pluraliteit (Smith 2004:250, 251). Hierdie hibriditeit ontstaan in die wisselwerking tussen koloniseerder en gekoloniseerde wat interafhanklik raak. Die vorming van identiteit aan weerskante van hierdie grense is dus merendeels onstabiel, onseker en gedurig in ’n proses van verandering (Smith 2005:149) – soos duidelik in die geval van veral Eva en Pieternella. Dié bevraagtekening van en onsekerheid oor identiteit dui, volgens Bhabha (2006:43), ook op indirekte verset teen die bestaande koloniale diskoers en die kulturele onderskeid as basis van gesag.

Krotoa leer maklik die Hollandse taal aan en word Eva (24), ter wille van die kos en oorlewing. Sy word vroeg al Jan Kompanjie se kind (36), leer húlle godsdiens (38), woon tussen Christene (58), sê dat sy ’n Hollandse hart het (62), word amper volbloed-Hollander (94), en trou met ’n blanke man (184). Van Riebeeck verwoord vroeg iets van haar verwarde bestaan: “Wie is vandag haar mense? … Hier het veranderings oor die Kaap gekom wat haar lot vier, vyf keer verander het” (59). Party dae huil sy oor die Koina, maar die meeste ander dae dink sy sy is ’n Hollander (62). Sy ry nog soms op ’n os soos die hoofvrou van ’n stam (71) en het soms nog gaan velrok dra (76). Sy word beskryf as “amper volbloed-Hollander" (94), maar het ook nog haar Hollandse rok uitgetrek en velrok en karos omgehang (118).

Die las wat deur hierdie tweeslagtige identiteit op haar gelê word, word deur Peter en Hans Michel verwoord. Sy moes moeilike keuses maak: Gaan sy die Hollanders help om haar eie mense uit te roei (63)? Hoekom loop sy saam met Peter? Sy word geminag deur haar eie mense omdat sy onder die Hollanders woon, en deur die Hollanders omdat sy bruin is (97). Sy is die wit man se teef (106), maar ook kop in een mus met hulle (113, 118). Deur haar sogenaamd wit te maak, het sy alle identiteit verloor, op die grens tussen twee gemeenskappe geleef, op haar eie eiland. Sy het in twee huise gewoon, twee tale gepraat, twee soorte klere gedra (80). Minh-ha (2006:197, 198) se uiteensetting is hier van pas: "At times rejected by her own community, other times needfully retrieved, she is both useless and useful … Not quite the Same, not quite the Other, she stands in that undetermined threshold place where she constantly drifts in and out."

Oedasoa waarsku Peter: “As jy vir haar wit maak, dan is sy nie van ons nie, dan kry sy van ons ook niks” (147). Die gevolg vir Eva is toenemende eensaamheid: “sy het ’n taal gepraat wat net sy geken het, sy alleen was van die Kaapse veld, sy alleen het die taal van beeste geken” (150). Die Westerse andersmaak, die doop, deurloop sy onder protes (158) en sy verset haar ook teen die troue: “sy wou nie soos ’n dier met ’n pad langs gejaag word nie” (159). Haar tradisionele dans tydens die troue werk net nog meer vervreemdend (184). Die verskil tussen háár mense en Peter se mense word ’n al hoe groter verdelende faktor: die kinders kon nie na haar mense toe gaan nie, maar moes na waar daar ’n skool en geleerdheid is (198).

Die gevolg was dat sy al hoe meer gedrink, al hoe meer gevloek en geskel het op die wit mense (179). Sy was aan die einde ’n vrywillige banneling en in eensame opsluiting (310) en word ná ’n tydperk aan land weer verban na Robbeneiland (331) as gevolg van haar “aanstootlike gedrag” in die Fort. Haar kinders word van haar weggeneem en as straatvrou en drankverslaafde land sy weer op die eiland en sterf daar ’n eensame dood. Volgens die sekretaris van daardie tyd was haar “ingebore boosheid” duidelik te sien uit die sondes van ontug en drank (489). Hierdie onbegrip van die koloniale amptenare vir die hibriditeit wat deur die koloniale ingryping in mense se lewens veroorsaak word, vorm deel van die postkoloniale kritiek in Eilande.

Pieternella, wat op die afgesonderde eiland moes grootword, is nie Koina nie, en mooi (249), maar sonder ’n pa na Peter se dood. Volgens Hans is sy opgewek en intelligent (310). Hy leer haar lees en skryf, en deel die Westerse kultuur onder andere deur middel van sprokies – daardie vreemde wêreld van paleise, prinsesse, konings en dwerge (338). Sy was die eerste van dié soort kinders met ’n inheemse ma en wit pa (401). Deneyen dink aan hulle as “soos met diere … dit was die kinders van die rooidag – geklee soos die Kompanjie se slawekinders” (401). Sy is self baie bewus van haar status in die gemeenskap as “halfslag” (566): “Al is ek buite die eg gebore, en half Hottentot, en al is my ma aan die Engelse siekte dood, en ek ’n weeskind sonder ’n bruidskat, en sonder geleerdheid … En sal kinders met bruin oë in jou familie welkom wees?” vra sy aan Deneyen (511, 512).

Hierdie oomblik van selfrefleksie word veral deur Russell en Wolski (2001:5, 7) beskryf as tipies ook van die hibriede staat in StarTrek:

The Borg becomes neither wholly Other, not wholly self – he is the hybrid. The eruption of the hybrid space into the colonial relationship fractures the colonial relationship and ultimately serves as the basis for the disruption of colonial authority. The emergence of the hybrid serves as a displacing space which challenges the previously clear self/other divide …

It is the returned gaze of the hybrid, the reminder of the contradiction at the very heart of the colonial relationship which challenges and ultimately fractures the rigid boundaries of colonial self and native other.

Pieternella trou met Daniël Zaaiman en hierna is dit sý beeld van haar wat verhaal word. Sy word ’n vrou vol selfvertroue op Mauritius waar sy met die Opper se vrou maats word (628, 629). Daniël is trots op haar, sy is almal se gelyke op Mauritius en hulle is gelukkig daar; sy is kalm en het almal in die oë gekyk. Omdat sy van kindsbeen af op eilande was, wil Daniël haar terugneem Kaap toe (682).

Hierna word sy deur haar seun Pieter beskryf aan die klerk, maar dit is ook onvolledig, want hoe kyk ’n seun nou na sy ma? Dit word sý refleksie oor sy ma en hul posisie op Mauritius en later aan die Kaap. Hy sien haar ook jonk en gelukkig op Mauritius (741), maar arm en ongelukkig aan die Kaap, met die mense wat so behep is met trots en status en ras (741, 743). Waar hulle op die eiland geagte mense was, nederige eerbare mense, word hulle in die Kaap uitgeskel as baster, halfnaaitjie en wasmeid (743). Sy ontwikkel ’n afkeer van die Kaap, voel vernederd, moet al haar besittings verkoop en wasgoed inneem om te bestaan (752). Van Zyl (2003) beskryf Pieternella as die beste voorbeeld van hibriditeit in die roman.

6.3 Die koloniste as "ander"

Dit is egter nie slegs dié van ’n ander ras wat soos "ander" behandel is en onderdruk is deur die Kompanjie nie (Van Zyl 2003:59). Die gewone burgers, vryburgers, soldate en matrose moet nie net “stry teen die natuur, teen honger, teen die inboorlinge en hoofsaaklik teen wanhoop” nie (69), maar voel ontuis, afgesonderd en gevange. Peter voel gevange in die Kaap (191) en op “die barre eiland” (193). Theuntjie word verban na die buitepos Robbeneiland (194). Hans Michel sien na sy ontslag op die skip golwe kom en gaan “soos mylstene in sy lewe, van nêrens na nêrens” (348) en ontdek dat hy “nêrens huis het nie” (356). Lierman word verban omdat hy ’n “(d)onderse Hottentot geskiet” het – “die eerste keer dat ’n wit man nou oor daardie ding voorkom. Ons goewerment wil kruip voor die swartgoed” (364). Die bandiete op Robbeneiland word Hans Michel se “broers, almal onbekend en verlore, hopeloos gestrand tussen ’n illusie en vergetelheid” (380). Hulle sou een na die ander naamloos sterf: een van hulle se misdaad was “hardnekkige weerstand teen sy wettige owerheid. Sy naam kon hy nie onthou nie” (380).

Dit is ook van hulle wat, soos Peter, later met die inheemse bevolking en die slawe trou en by hulle kinders verwek, wat deel vorm van die nuwe hibriede bevolking van die kolonie aan die Kaap, lankal nie meer net ’n verversingstasie nie. Dit is veral Peter se denke oor Eva, Deneyen en ander se sieninge oor Pieternella en die koloniste se eie ervaring as onderdruktes wat hierdie hibriditeit en die bevraagtekening van die absolute verdeling tussen die koloniste en die sogenaamde "ander" ondermyn en as deel van die postkoloniale verset gelees kan word.

Peter Havgard se besinnings en denke oor die Kaap en Eva is ’n goeie voorbeeld hiervan. Hy vra vrae oor Eva se houding teenoor die Hollanders en haar eie mense (63), oor die betekenis van sy verbintenis met Eva (76), wat van die Koina moet word (78), en wys vir Eva op die onverbiddelike skeiding tussen “my mense” en “ons vyande” (92). Hy is bekommerd oor die las wat die kommandeur op Eva gelê het (122), wonder oor wat sy vader se houding sou wees oor sy verhouding met Eva (142), kyk krities na die rol van die VOC (137) en voel steeds nie tuis aan die Kaap nie, maar ’n gevangene (191, 193).

Russell en Wolski (2001:8) beklemtoon baie sterk die oomblik van selfrefleksie as deel van hierdie verset teen die absolute Manicheaanse verdeling wat deur kolonisasie uitgebeeld is:

In the hybrid moment, the self realizes that its self understanding is far from clear. In this moment, the self realizes that it is not some sovereign or fixed entity which exists in isolation of the other, the boundaries between self and other are collapsed.

Die gewelddadigheid van optrede teenoor sy onderdane deur die amptenare van die Kompanjie is een van die oorsake vir ’n gevoel van verset en onderdrukking by hierdie burgers. Die Hollander hang graag, lees ons; “dit verskaf vermaak en opvoeding vir die gepeupel” (292). Deneyen voel sy hande is rooi van die bloed (409) en hy sal by kerslig beplan “hoe om nog mensebloed te stort op wyses wat die gemeente altyd sal onthou” (411). Slawe wat dros, word gehang en later op die buitegalg gelos vir die voëls om te vreet, ens. (416).

Die teenstanders van die gewone kolonis word gaandeweg nie meer die inboorlinge nie, maar die Here XVII: “En jy weet nie wie jou teenstander is of wanneer jy hom moet verwag nie, maar soos die boek sê, sal dit waarskynlik die here self wees” (649). Die VOC se merk sit op bandiete se blaaie gebrand (376), die 380 bandiete op Robbeneiland is “gevangenes van die monster wat tans die Kaapse rots bewoon” (380). Van vroeg af moet almal leer dat die Kompanjie se belange altyd eerste kom (79); die Here XVII rol die steentjies oor die lot van Jan Maat (350) en word die here/Here. Mense word gevangenes op eilande (382). Daar is een wet vir arm mense en een vir rykes en dié met magtige vriende (421). Justisie in Afrika word uitgebeeld as die “stelselmatige doodslaan van vier mense deur vreemdelinge” (443). Hierdie meester en Here het ’n manier “om jou voete op ’n koers te sit en dan agter jou dood te gaan” (569). Uiteindelik lei dit daartoe dat iemand soos Daniël Zaaiman sê: “Ons hoef nie Nederlanders te wees nie. Ons is burgers van Mauritius, dit is vir my genoeg” (672).

Die geskiedenisse van die stemloses en onderdruktes kan volgens Loomba (2005:200) net geskryf word wanneer daar wegbeweeg word van die meesternarratiewe van die koloniale heersers waarin juis dié stories onderdruk is. Hierdie twee "verhale" is egter met mekaar geïntegreer. Dit is juis die klem op die gewoon menslike ervaring van die kolonialisme as sisteem wat ook deur Eilande as die postkoloniale visie beklemtoon word (Gopal 2004:161). Dit is met die wegbeweeg van die meesternarratiewe na die narratiewe van die vrouens, die gekoloniseerdes en die inboorlinge dat die struktuur van die geheel vanuit ’n ander perspektief duideliker word (Loomba 2005:207; Kossew 1996:8). Die beskrywing van die "ander", die erkenning van die posisie van die "ander", is immers die begin van ’n wegbeweeg van die sogenaamde sentrum na die periferie van die koloniale ondervinding waar net die illusie van gesag nog geld (Ashcroft et al. 1989:78, 89). Só lewer die verteller in Eilande sy kritiese, ondermynende kommentaar op die koloniale sisteem.

7. Slot

 Eilande vertoon wel heelwat eienskappe van die tradisionele historiese roman: die skep van ’n oortuigende milieu, die saamvat van ’n tydsgees, die verwysing na historiese figure en die noukeurige navolging van bestaande historiese bronne. Dit is egter juis hierdie buitengewoon goeie rekonstruksie van ’n era wat die postkoloniale verset versterk, omdat dit die kenmerke van die koloniale bestel so duidelik en krities belig.

Sleigh se vroeëre optekening van dié geskiedenis in Die buiteposte (1993) beklemtoon juis die “andersmaak” van dieselfde geskiedenis in Eilande. Die postkoloniale verset is juis geleë in die ondermyning van die koloniale en imperiale geskiedskrywing (Slemon 2006:105): die ontkenning van ’n gesaghebbende geskiedenis, die onbetroubaarheid van dokumente en die ontkenning dat ’n volledige rekonstruksie van die geskiedenis moontlik is.

Die noukeurige, herkenbare historiese agtergrond vorm die herkenbare koloniale konteks om juis die “stemme uit die see” tot hul reg te laat kom, binne die ruimte en tyd wat nie erkenning aan hulle gegee het nie. Sodoende kan hulle deel word van die onsekere, dubbelslagtige bestaan wat juis die kern van die postkoloniale wêreld vorm. Dié agtergrond dra by tot die blootlegging van en selfrefleksie oor die magstrukture, rasseklassifikasies en metodes van onderdrukking waarna Boehmer (2005:3) verwys.

In die loop van die artikel is heelwat elemente aangedui as bydraend tot die postkoloniale verset in Eilande, die opposisionele en medepligtige postkolonialisme wat in verset kom teen sistematiese kulturele oorheersing en imperiale magstrukture (Viljoen 1996:4). Vergelyk in hierdie verband die onstabiele en ambivalente aard van ’n wit skrywer en verteller/fokalisators oor bruin vrouens; ’n verteller wat die VOC se dokumente gebruik vir sy verhaal oor die “ander”; waar verbeelding aan soveel onkunde moet vorm gee; die negatiewe uitbeelding van die VOC en sy heersers; die ontkenning van die koloniale sentrum en eerder die uitbeelding van die buiteposte as tydelike sentrum; vrae oor onderdrukking en geweld; die beskrywing van ’n onvermydelike noodlot en ongeluk as die bepalende faktor in mense se lewens eerder as die koloniale mag; die gebruik van die historiese stof as agtergrond vir ’n uitbeelding van die algemeen-menslike kondisie van onsekerheid, tydelikheid en onvastheid.

Voeg daarby die uitbeelding van ’n vervreemdende ruimte en die ervaring van verplasing met die see as enigste konstante. Die selfrefleksie by verteller en karakters oor hulle koloniale en postkoloniale hibriede posisie en die ondermyning van die absolute Manicheaanse opposisies tot die uitbeelding ook van die koloniste as gemarginaliseerdes, beklemtoon die bestaan in grensgebiede op die periferie van die vesting.

Dit is die skryfaksie van die klerk, sy selfrefleksie en kritiese kyk van binne die sisteem wat die kern vorm van hierdie postkoloniale verset. Sodoende kom ánder stories, fokaliseerders en perspektiewe na vore, word die dominante ideologie van binne gekritiseer, verswygde feite aangeteken en oorgelewerde “waarhede” bevraagteken. Dit word meer as ’n dubbelvisie op die ménse binne en onder hierdie koloniale sisteem.

Die beklemtoning van die menslike kondisie as ewig onseker, onvas, soekende, sonder vaste plek op aarde, steeds voortseilend deur die ontsaglike ruimte op pad na ’n onbekende bestemming, transponeer die postkoloniale verset uiteindelik tot veel meer as verset teen die kolonialisme of die VOC. Dit word ’n universele menslike verset teen ’n ewige onsekere bestaan.

Sleigh het beslis bygedra tot die “rewriting and reimagining” (Brink 1996:19) van die geskiedenis in die herskrywing van sy historiese Die buiteposte tot ’n roman waarin hy die stiltes en stilles in die geskiedenis stem gegee het. Dit is ’n geval van wat Brink (1996:18) noem “products of the fictive capability of the historians who have studied these contexts”. Die geskiedenis word hier slegs agtergrond, flardes papier wat aanmekaar geryg word, gapings wat verbeeldingryk gevul word om ook plek te maak vir dit wat vroeër verswyg is.

Bibliografie

Abrahams, F. 2002. Eilande is ’n meesleurende, vaardig geweefde teks. Rapport, 23 Junie 2002.

Ahluwalia, P. 2005. When does a Settler Becomes a Native? Citizenship and Identity in a Settler Society. In Desai en Nair (reds.) 2005.

Ashcroft, B., G. Griffiths en H. Tiffin. 1989. The Empire Writes Back. Theory and Practice in Post-Colonial Literatures. Londen: Routledge.

Ashcroft, B., G. Griffiths en H. Tiffin (reds.). 2006. The Post-Colonial Studies Reader. Tweede uitgawe. Londen: Routledge.

Bhabha, H.K. 2005. Of Mimicry and Man: The Ambivalence of Colonial Discourse. In Desai en Nair (reds.) 2005.

—. 2006. Signs Taken for Wonders. In Ashcroft et al. (red.) 2006.

Boehmer, E. 2005. Colonial and Postcolonial Literature. Migrant Metaphors. Second edition. Oxford: Oxford University Press.

Brink, A.P. 1996. Reinventing a Continent (Revisiting History in the Literature on the New South Africa: A Personal Testimony). WorldLiterature Today, 70(1):17-23.

Carter, P. 2006. Spatial History. In Ashcroft et al. (reds.) 2006.

Desai, G. en S. Nair (reds.). 2005. Postcolonialisms. An Anthology ofCultural Theory and Criticism. New Brunswick: Rutgers University Press.

Fee, M. 2006. Who Can Write as Other? In Ashcroft et al. (reds.) 2006.

Gopal, P. 2004. Reading subaltern history. In Lazarus (red.) 2004.

Griffiths , G. 2006. The Myth of Authenticity. In Ashcroft et al. (reds.) 2006.

JanMohamed, A.R. 2006. The Economy of Manichean Allegory. In Ashcroft et al. (reds.) 2006.

Kossew, S. 1996. Pen and Power. A Post-Colonial Reading of J.M. Coetzeeand André P. Brink. Amsterdam: Rodopi.

Lazarus, N. (red.). 2004. Postcolonial Literary Studies. Cambridge: Cambridge University Press.

Loomba, A. 2005. Colonialism/Postcolonialism. Tweede uitgawe. Londen: Routledge.

Min-ha, T.T. 2006. No Master Territories. In Ashcroft et al. (reds.) 2006.

Parry, B. 2006. Problems in Current Theories of Colonial Discourse. In Ashcroft et al. (reds.) 2006.

Russell, L. en N. Wolski. 2001. Beyond the First Frontier: Star Trek, the Borg and the Post-Colonial. Journal of Cult Media, 1(1):1-13.

Sleigh, D. 1993. Die buiteposte. VOC buiteposte onder Kaapse bestuur 1652-1795. Pretoria: HAUM.

—. 2002. Eilande. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2005. Onderhoud by die Kasteel met Honneurs-studente (23 Junie 2005).

Slemon, S. 2006. Unsettling the Empire: Resistance for the Second World. In Ashcroft et al. (reds.) 2006.

Smith, A. 2004. Migrancy, hybridity, and postcolonial literary studies. In Lazarus (red.) 2004.

Smith, L.T. 2005. Imperialism. History, Writing and Theory. In Desai en Nair (reds.) 2005.

Tiffin , H. 2006. Post-Colonial Literatures and Counter-Discourse. In Ashcroft et al. (reds.) 2006.

Van Coller, H. 2002. Eilande g’n dorre geskiedenis. Sleigh verloor nooit greep op sy stof of vertelling nie. Volksblad, 19 Augustus 2002.

Van Zyl, D. 2003. Perspektiewe op die "ander" in Pieternella van die Kaap deur Dalene Matthee en Eilande deur Dan Sleigh. Stilet, XV(2):53-67.

Venter, L.S. 2002. Baken as historiese roman. Beeld, 20 Mei 2002.

Viljoen, H. en C. Van der Merwe (reds.). 2004. Storyscapes. South AfricanPerspectives in Literature, Space and Identity. New York: Peter Lang.

Viljoen, H. 2004. Land, Space, Identity: The Literary Construction of Space in Three Afrikaans Farm Novels. In Viljoen en Van der Merwe (reds.) 2004.

Viljoen, L. 1996. Postkolonialisme en die Afrikaanse letterkunde: ’n verkenning van die rol van enkele gemarginaliseerde diskoerse. Tydskrif virNederlands en Afrikaans, 3(2).

http://academic.sun.ac.za/afrndl/tna/viljoen96.html (2 April 2008 geraadpleeg).

—. 2002. Vroeë Kaap meesterlik verbeeld. Leser herken hom in die "bloedige geboorte". Die Burger, 20 Mei 2002.

—.2004. Civilization and Wilderness: Colonial Spatial Binaries and the Construction of Contemporary South African Identity in André Brink’s An Instant in the Wind and Kirby van der Merwe’s Klapperhaar sal nooit slaap nie (One Can Never Sleep Quietly on a Coir Mattress). In Viljoen en Van der Merwe (reds.) 2004.

 


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top