Dan Sleigh: Bedanking by ontvangs van UJ-prys

  • 1

Dan Sleigh: Bedanking by ontvangs van UJ-prys, 11 Oktober 2012

Geagte professor Van der Merwe, professor Human, dames en here

Eerstens, my dank aan die prys se skenkers en tweedens aan die universiteit as trustees, vir u belangstelling in die geldelike welstand van ons storievertellers. Ek bely hier as ’n eerlike materialis. U weet hoe afhanklik ons van ’n groot prys soos hierdie is. Want die plaaslike mark is klein, en ons kry nie salarisse nie. Ons kry ook nie bevordering, pensioen, kraamverlof of vakansie nie. Ons kry wel “af dae”, maar dit beteken iets totaal anders. Ons het geen kans vir tenders nie; dit gaan ook nie help om te staak of om jou lessenaar aan die brand te steek nie.

Die Australiese volksliedjie “Waltzing Matilda” vertel van ’n bondeldraer wat ’n skaap steel en dan in ’n rivier spring om van die polisie weg te kom. ’n Navorser het gevind dat die liriek op ’n werklike insident gebaseer is, en dat die betrokke rondloper ’n Suid-Afrikaner met die naam Jacobus van der Merwe was. Ek het die inligting gesien in die Cape Argus of die Cape Times, in 1997, in die tweede helfte van die jaar, as ek reg onthou. Dit was ’n nuusberiggie van vier of vyf sinne, onder sy eie opskrif. Van toe af tot nou was vyftien jaar. Baie het in daardie tyd gebeur, met die land, in die politiek, met hierdie universiteit, met gemeenskappe, in persoonlike lewens, met die media, met die taal Afrikaans. Die boek Matilda se sin, gevoel, toon en beeldspraak probeer sommige gebeurtenisse van dié tyd weergee. Ek het daarin verwys na Breughel se skildery Die Dood se dans met die Lewe: die grynsende geraamte is meer as ’n kop langer as die vrou, volgens haar kleding ’n jong edelvrou, en jy weet presies wie vir wie aan die einde van die dans huis toe neem.

Universiteit van Johannesburg het die nodige middele voorsien vir onafhanklike ure voor die rekenaar, vir verder droom, nog naslaan, meer ondersoek, tyd om aan sinne en sinsnedes te skuif en rangeer om verstaanbaar, interessant en slim te probeer voorkom. Dankie, UJ. Nog baie nuwe Afrikaanse skrywers, talentvol, vindingryk en gebore met die verlange om stories te vertel, sal in die toekoms hopelik vir UJ bedank vir die sterre in hulle oë en daardie betowerde verwondering by hulle lesers.

Ek sê hopelik. My twyfel is nie oor UJ nie, maar oor Afrikaans. Sal hier oor vyftien jaar nog ’n UJ-prys oorhandig word? Taal is ’n handelsartikel waarvoor geld geëis word. Ek dink aan my eie beroep, aan die personeel van u universiteit se Departement Afrikaans én die van Riana van Tafelberg Uitgewers. Vir die uitgewersbedryf is dit moeilike tye. Kyk wat en wie is oa teen ons: die mark word al kleiner, ons lesers vlug land-uit, digitale media is ons teenstander, die regering marginaliseer Afrikaans en eis BTW op boeke, biblioteke leen boeke gratis uit, breinverrottende televisie is maklik op die oë, en dan is daar ons onderwysstelsel en die wêreldwye veronnoseling van die mensdom. En in ons bedryf is daar soveel wat ’n deeltjie van elke boek moet kry: daar is die uitgewer en sy personeel, die drukker en sy mense, die boek se ontwerper en kunstenaars, boekwinkels en hulle klerke, pakhuise en hulle werkers, die belastinggaarder, die skrywer.

Taal is ongelukkig ’n gerief. As jy dit nie nodig het nie, gooi jy dit weg. Afrikaans is reeds siek, en ek vrees vir sy toekoms. Simptome is sigbaar in die peil van Afrikaans in die gedrukte media. My ou vriend Radio by wie ek Afrikaans geleer het, wat vroeër ’n voedingsbron was, is tot my spyt nou besmet. Ek verwys na skaamtelose taalbesoedeling, en ’n minagtende hantering en mishandeling van Afrikaans deur sommige aanbieders, hulle genooide gaste, hulle adverteerders, predikers, skrywers, sangers en Springbokke, en na die swak openbare voorbeeld wat hulle stel, asof hulle geen opvoedkundige verpligting erken nie. Dit terwyl ons gesamentlike bedryf, die oorgeblewe boekhandel, die taalkunde en letterkunde, goeie opvoeders en goeie voorbeelde nodig het vir komende geslagte sprekers, lesers en studente. Afrikaanse radio spog nou met hulle 75 jaar. Die louere behoort aan hulle voorgangers. Vergelyk hulle taalgevoel met dié van vyftig jaar gelede, en dit is soos om die inhoud van ’n Huisgenoot uit 1952 met een van 2012 te vergelyk. Dit voel soos by ’n begrafnis: jy wil huil, maar vind dit meer natuurlik om te vloek. Wanneer ons Afrikaanse radio sê: “SABC! Speak to us. Speak to the nation!” antwoord ek: “Damn you, and damn your nation.” [Amen! Ek self het juis vanoggend hardop teenoor die radio gesê: “Hoekom nie ‘ES A Bee See! Praat met ons, praat met die nasie’ nie!?” Jimmel. Ek raak emosioneel en mismoedig oor die verraad van Afrikaanse moedertaalsprekers teenoor hulle taal. Sê gerus vir Dan iemand stem met hom saam!]

Ek sê dit sodat hierdie Afrikaans-departement hopelik van die taalbesoedeling en verval kennis neem, soos u kollegas van die fisiese wetenskappe uiteindelik die gevare van omgewingsbesoedeling besef en dit hulle saak maak.

Die UJ-prys is veel meer as ’n welkome belastingvrye beloning. Dit is iets soos die oerknal, ’n vonk wat ’n ontploffing van kreatiewe moontlikhede ontsteek. Ek het ervaring van die uitwerking wat pryse op die lewe van ’n storieverteller het. Daardie goue stempel Wenner van die UJ-Prys op die stofomslag werk soos die gelukster waaronder jou boek gebore word, of soos die skild van ’n beskermengel. Dit beteken gemoedsrus, onthale, reise plaaslik en oorsee, selfs in Anton Rupert se private vliegtuig. Dit lei tot aanmoediging deur wonderlike skrywers en waarderende lesers, en lesings voor gehore van honderde. Vir mense met ego-probleme kan dit opwindend en selfs terapeuties wees. Dit verleen status aan ’n boek, met maande en jare van waardevolle reklame. Hoe lank dit duur, lê in die boek se gene. Maar terselfdertyd skep die goue stempel verwagting en aansporing. Dit bly die handskoen neergegooi: berei jou voor en maak gereed vir die volgende ronde.

Ek sal nie oor vyftien jaar hier wees nie (behalwe dalk in die gees), maar hoop dat u Universiteit en die Departement Afrikaans dan nog die UJ-prys sal vier, saam met Tafelberg Uitgewers en ’n Baie Bevoorregte Storieverteller. Ek dank u.


Lees Thys Human se commendatio tydens die oorhandiging van die UJ-prys vir Skeppende Skryfwerk.

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    François Verster

    Dr Dan, mag jy wel oor 15 jaar nog hier wees en steeds pryse losslaan!

    Aanhouer wen ondanks afdae.

    Groete Ou Grote

    Francois

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top