Gewalste woord

  • 0

Commendatio gelewer tydens die oorhandiging van die UJ-Prys vir Skeppende Skryfwerk aan Dan Sleigh se Wals met Matilda, Universiteit Johannesburg, Donderdagaand 11 Oktober 2011

’n Heerlik wars, moedswillige en selfs stroom-op streep kenmerk Dan Sleigh se roman Wals met Matilda wat vanaand met die UJ-Prys vir Skeppende Skryfwerk bekroon word.

Jy vat ’n vet kans as jy ’n karakter in ’n boek die naam Koos van der Merwe gee. Noem hom Jan Smit, dan word hy ernstig opgeneem, maar Koos van der Merwe, en jy het jou skyfies gehad. (225)

Vir dié goedbedoelde raad deur een van sy hoofkarakters hou Dan Sleigh hom doelbewus doof. Hy noem sy bejaarde hoofkarakter aspris Koos van der Merwe en gee aan hom die grimmigheid van ’n kort-gekettingde hond wat makliker byt as blaf. Wanneer hy boonop nóg twee Van der Merwes as sentrale karakters die roman inskryf, begin die leser vermoed dat daar met hom/haar gekgeskeer word. Voorts besluit Sleigh op ’n romantitel wat die oorbekende Australiese volksliedjie “Waltzing Matilda” in gedagte roep en skroom nie eens om die name van sy karakters (Niksnut, Heel Groot Baas, Frölich Fortuin) met ooglopende allegoriese betekenis te laai nie. En al hou die roman, ten spyte van die effens onheilspellende voorblad, die belofte van ’n vloeiende woordwals op drieslagmaat in, skop Dans met Matilda (genadiglik) viervoet vas vóór dinge té gemoedelik en voorspelbaar raak. Die polisie se onbeholpe pogings om Koos by sy buurvrou se selfmoord/moord te betrek, ontaard gelukkig nie in ’n speurklug met Peter Sellers-agtige lawwighede nie, maar word weldra eerder na die agtergrond verskuif. En voordat Koos se pyngedagtes (en ’n mens vermoed dat hy waarskynlik in Totius ’n simpatieke oor sou vind) in ’n uitsiglose grafskrif of elegie ontaard, word die woorddoepa van ’n ander digter “wat met die taal speel soos ’n kind met ’n vlieër in die son” – Boerneef! – as verweer ingespan.

Hoewel ’n mens nog altyd vermoed het dat Sleigh as skrywer ’n sin vir humor het, oortref hy in dié roman soms jou stoutste verwagtings. Koos se taksering van die skrywers wat saam met hom in die woonstelblok woon, asook sy striemende tirade teen literêre kritici en resensente, laat ’n mens tone krul. Maar maak géén fout nie: alles is gewis nie net grappiesmaak en ginnegaap nie. In Wals met Matilda is daar talle wonde wat onder die verhaaloppervlak bloei.

Koos is, soos Sleigh self, ’n skrywer en oudgeskiedenisonderwyser. Sy historiese romans laat die drukpers van Goeie Hoop Uitgewers vrolik kletter totdat hy eers sy vrou, en kort daarna sy dogter en haar gesin (sy geliefde skoonseun, Eric, en sy kleindogter en oogappel, Matilda), verloor. Hierna word Koos verteer deur selfverwyt, verval sy gedagtes in donkerte en wis hy sy rekenaarmanuskrip getiteld Wals met Matilda reël vir reël uit sodat dit “wegloop soos die water deur ’n gebombardeerde damwal”.

Koos se skrywersbelangstelling in die geskiedenis van skeepvaart blyk duidelik uit die titels van sy vorige romans, Die droomskip en In oop water. Maar ook sy gemoedsgesteldheid na die traumatiese verlies van sy hartsmense word aan die hand van seebeelde verwoord:

Koos word stiller soos die tyd se vaal seemis hom teen aandskaduwee toetrek, die slytasie van baie getye word merkbaar, die slymerige, klewende wier, die skerp kraaibekke en ander skurwe skulpgroei en die stad en land se negatiewe uitwerpsel. Alles groei op hom, en dit werk vertragend, afbrekend. (75)

Omdat Koos sy gerieflike woonstel in Bay View Villas op Milnertonstrand sal moet prysgee as sy skryfstilte té lank voortduur, stuur sy uitgewers (met die gepaste naam Goeie Hoop Uitgewers) vir Carelina van der Merwe, ’n kleinniggie van Boerneef, as die “muse” wat met bandopnemer en notaboek sy skrywersblok moet help genees. Sy is biegmoeder, beeldpoetser, leefstylafrigter en reisgenoot wat met halfmas matroosbroek en dienlike plastiekskoene nie net toegang tot Koos se woonstel nie, maar mettertyd ook tot sy gedroogdokte gedagtes, verkry.

Koos stry egter nie net teen sy eie demone nie, maar ook teen die verval en verlies van sy omgewing, sy taal, sy kultuur en sy geskiedenis. Só gelees, kan Wals met Matilda ook beskou word as ’n klaaglied vir Koos se geliefdes, die stad (Kaapstad) waarin hy woon, en ook die Zeitgeist waarvan hy hom deel voel. Hy voel hy leef in die verkeerde tyd; dekades te laat:

Hy is gedurig in opstand teen die wêreld, halfpad die hel in, besete deur ’n kollektiewe irritasie oor burokrate, parlementslede verkies deur halfgeletterdes wat stem oor dinge waarvan hulle geen begrip het nie, kapitalistiese vandale wat die natuurlike blommevelde in erwe uitmeet en hulle stootskrapers en betonmengers instuur sodat dit dáár nie weer lente sal word nie, klerewinkels waar kleurkeuse tot bruin, geel en swart beperk is, oor die fiets wat hy op advies van sy dokter gekoop het met die groot kabelkrul oor die agterrat en vier-en-twintig verstellings wat hy nie nodig het of verstaan nie. (26-7)

Sleigh beskik oor die sonderlinge vermoë om daardie bladsye van die geskiedenisboeke wat so moedswillig swyg, met oortuigende inhoud te vul en om selfs van die wasigste historiese figure karakters van vlees en bloed te maak. Wals met Matilda bestaan uit 20 hoofstukke waarin Koos se verhaal in 2009 in Kaapstad telkens afgewissel word met die wedervaringe van ene Jacobus (Japie) van der Merwe, eers in Middelburg in die Karoo en later ook in Nieu-Suid-Wallis (Australië) in 1897. Mettertyd word dit duidelik dat laasgenoemde verhaallyn eintlik die manuskrip is wat Koos aan Carelina begin dikteer, en dat dit die einste jong Japie is wat as die berugte runderpes-reeksmoordenaar in 1897 groot troppe beeste in die Karoo van kant moes maak en in dieselfde jaar na Elizabeth Farm in Nieu-Suid-Wallis vertrek het om daar meer van skaapboerdery te leer. In Australië maak hy kennis met die plaas se erfgenaam, Matilda, wat hom met haar soetskeeloë en in haar rooi skoene leer wals. Onverhole geluk is hulle egter nie beskore nie en na talle gedwonge omswerwinge word Japie uiteindelik deur die groot, groot onbekende “ingesluk”, maar eers nadat hy ’n aangrypende liefdesbrief saam met ’n boodskapper na haar terugstuur.

Op dié wyse betrek Sleigh nie net die interessante ontstaansgeskiedenis van wolboerdery in die Karoo, of van landbou in Nieu-Suid-Wallis in die 19e eeu nie, maar “bevestig” hy ook op kreatiewe wyse die vermoede dat die oorspronklike swagman (bondeldraer) oor wie “Waltzing Matilda” gaan, ’n Suid-Afrikaner met die naam Jacobus van der Merwe was.

Soos een van die lede van die beoordelaarspaneel tereg opmerk: “Dan Sleigh se metafiksionele Wals met Matilda bewerkstellig op tipies postmoderne wyse ’n verbeeldingryke konneksie met ’n stukkie populêre Australiese historiografie, ingebed in die onsekerheid van hedendaagse skrywerskap en ongedurigheid oor die taal (met sowel hoof- as kleinletter), en met genoeg van ’n onnutsigheid om die afloop van Japie se avontuur “Down Under” ter stigting voor te hou vir die nuwe avonturiers wat hulle heil, of uitkoms, deesdae in Australië gaan soek” (Johl 2012).

Ofskoon ’n mens jou nooit in die tyd van Eilande of Afstande sou kon indink dat ’n Sleigh-roman verwysings na branderplankryers, silwerkleurige geheuestokkies of selfs ’n opgewarmde Mustang sou bevat nie, vertoon Wals met Matilda wel sekere tematiese ooreenkomste met sy romanvoorgangers: die uitgebreide en noukeurige navorsing, die individu as slagoffer van ’n identiteitsverterende bestel; die sogenaamde “klein man” wat deur magshebbers op moeilike, amper onmoontlike, sendings gestuur word; en die byna desperate hunkering van alleenmense om van hul isolasie (eiland-wees) bevry te word.
Aan die hand van die titel Wals met Matilda roep Sleigh nie net die nie-amptelike Australiese volkslied “Waltzing Matilda” in herinnering nie, maar illustreer hy ook die kentering wat in die loop van die roman by sy hoofkarakter, Koos, plaasvind. Voor die noodlottige ongeluk het Koos dikwels met sy kleindogter, Matilda Wells, op sy arm om en om die “geel tafel” gedans “tot hulle duiselig en laggend in die groot leunstoel neergeval het”. Ná die ongeluk raak hy letargies, stokkerig en aan bande gelê. Die naam Matilda word vir hom “die sug van die wind in hoë bloekoms, die verlatenheid van rolbos gevang teen myle en myle ogiesdraad, konynproef, dingoproef, die naam van ’n warrelwind slingerend in ’n voetpad sonder end of begin, van bewende hittegolwe en spookagtige blink waterplasse oor ’n woestynvloer, op ’n kus bestrooi met beendere, waar geloof gestrand het. Hy dink: Om te dans met Matilda is om te dans met die dood” (92).
Maar met haar belangstelling, ondersteuning en skyfhulp herstel Carelina van der Merwe weer sy onwennige voetwerk:

Alles gaan oor die skep van vertroue. Die taktiek is eenvoudig: Ek gee bewys van my eerlike en goeie bedoelings om jou vertroue te wen, dít is mos die maklikste ding in die wêreld en kan nog aangenaam wees ook. So ek gee jou bewyse van my vertroue, en geleidelik gee jy my joune. Ek gee alles, jy is eers onwillig, ek hou aan, later gee jy ook alles. Dit werk altyd. Jy leer om my te vertrou met persoonlike inligting, dan met jou huissleutels, jou motor, daarna jou bankkaartjies. (155)

Oplaas besef Koos dat om te wals met “Matilda” ook kan beteken om te dans met die lewe.

Wals met Matilda is ’n roman van verlies en verdriet, maar terselfdertyd ook ’n testament vir die helende krag van ’n gewillige oor om te luister, die vreugde van ’n gedeelde bord kos, ’n wandeling saam met ’n vriend op die strand, ’n tweede asem in die huis en die lafenis van heelwat koppies stomende tee.

By geleentheid noem Koos dat hy as skrywer slegs twee dinge vra, “twee dinge alleen, en dit is naamlik: belastingvrye kontantpryse en gereelde applous” (79). Ek wonder of Koos dit ironies sou vind dat die hardste applous én die prysbedrag vir Wals met Matilda vanaand juis te danke is aan daardie laakbare groepering genaamd “literêre kritici”.

Miskien moet iemand hom dit in die oor fluister!

Meneer die Adjunkvisekanselier, ek versoek u graag om die UJ-Prys vir Skeppende Skryfwerk (2011) aan Dan Sleigh se Wals met Matilda te oorhandig.

* Met waarderende erkentlikheid aan Johann Johl (’n mentor en voorloper)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top