Afstande is heilsame opvoeding en ’n onmisbare leeservaring

  • 0

Afstande
Dan Sleigh
Uitgewer: Tafelberg
ISBN:9780624049098
Prys: R233.75

 

Klik hier en koop Afstande nou van Kalahari.net!

 

Dan Sleigh is bekend daarvoor dat hy sy kundigheid as historikus op besonder boeiende wyse kan versoen met sy kreatiwiteit as skrywer. Alhoewel hy reeds vanaf 1971 publiseer, het sy groot deurbraak in die literêre wêreld gekom toe hy in 2001 die Insig-Sanlam-romanwedstryd gewen het met ’n manuskrip wat later as die roman Eilande (2002) groot sukses behaal het. Dié roman het sy inspirasie geput uit Sleigh se historiese navorsing oor die buiteposte van die VOC onder Kaapse bestuur in die periode 1652-1795. Onlangse koerantberigte het aangekondig dat hy vir ’n tweede keer die Sanlam-romanwedstryd gewen het met ’n manuskrip getitel Wals met Matilda.

Vroeër vanjaar was daar egter nog ’n belangwekkende gebeurtenis in Sleigh se loopbaan, naamlik die verskyning van die omvangryke roman Afstande wat die leser meer as 2 400 jaar in die geskiedenis terugneem. Dit is ’n historiese roman van die tradisionele soort waarin daar gehou word by bepaalde historiese gegewens, maar sekere gapings in die geskiedskrywing deur die verbeelding gevul word.

Die historiese materiaal wat Sleigh in Afstande gebruik, is dié wat deur die Griekse historikus Xenophon opgeskryf is in sy beroemde boek Anabasis (oftewel “Opmars”). Xenophon skryf hierin oor die veldtog van die Persiese prins Kuros om sy broer ArtaXerxes as heerser oor die magtige Persiese ryk in 401 vC te onttroon. Xenophon is een van die tien duisend Griekse huursoldate wat deur Kuros gehuur word om sy doel te bereik. Die opmars word naby die Persiese hoofstad Babilon gestuit by die slag van Kunaxa, waarin Kuros sterf. Na die dood van hulle aanvoerder moet die Griekse huursoldate oftewel die Leër van Tienduisend probeer terugkeer na hulle tuiste terwyl hulle voortdurend deur die Persiese magte aangeval word. Die terugtog neem hulle noordwaarts tot by Trapezum aan die Swart See, waarvandaan hulle terugbeweeg tot by Bisantion (die huidige Istanboel) voordat hulle ná verdere oorlogswedervaringe na hulle onderskeie tuistes kan terugkeer.

Xenophon se verslag oor hierdie tog het om verskillende redes beroemd geword in die wêreldgeskiedenis. Daar word byvoorbeeld gesê dat Alexander die Grote dit gebruik het as veldgids op sy eerste ekspedisies na Persië. Vanweë die helderheid en toeganklikheid van die Anabasis is dit ook een van die eerste tekste wat aanleerders van Grieks gegee word om te lees. Dit is al deur talle skrywers verwerk in feitelike en fiktiewe tekste sodat Sleigh verskeie voorgangers op hierdie gebied het.

Naas die historiese Xenophon plaas Sleigh die fiktiewe karakter Nagri, wie se verhaal – soos wat die Sleigh dit self stel - afspeel op die wit bladsy tussen die Ou en die Nuwe Testamente. Die Ou Testament eindig met die Jode wat slawe is in Babilon en vurig hoop op die koms van ’n verlosser wat hulle sal terugneem na Jerusalem, terwyl die Nuwe Testament fokus op die geboorte en lewe van die verlosser. As Joodse slaaf is Nagri op vroeë ouderdom gekastreer om as eunug aan die Persiese hof te werk. By die profete van die Joodse gemeenskap in Babilon hoor hy dat daar tekens is dat die verlosser op weg is en dat hy moontlik ’n Griek sal wees. Daarom doen hy alles in sy vermoë om uit te kom by die Griekse leër, meer spesifiek by Xenophon, van wie hy reeds aan die hof van ArtaXerxes gehoor het. Hy sien dit ook as ’n geleentheid om terug te keer na Jerusalem, waar hy sy boodskap oor die verlosser aan die Jode sal kan bring. Sleigh laat die ontmoeting tussen die historiese Xenophon en die fiktiewe Nagri plaasvind op daardie punt in Xenophon se verslag waar hy verwys na “enkele oorlopers” wat by die Grieke aangesluit het ná die slag van Kunaxa. So word Nagri Xenophon se slaaf of bediende wat hom van allerlei raad bedien en die ervarings van die Tienduisend op sy eie manier weergee.

Alhoewel ’n mens hier te doen het met ’n tradisionele historiese roman sonder enige postmodernistiese truuks, is dit tog goed om ’n paar van die postmodernistiese insigte oor die opskryf van geskiedenis in herinnering te roep. Alhoewel ons aanneem dat Xenophon se weergawe van die veldtog getrou aan die werklikheid is, bly dit sý weergawe van die gebeure wat hy met ’n bepaalde eiebelang opgeskryf het. Net so is Sleigh se uitnemende weergawe van hierdie tog in sy roman sý interpretasie van die Anabasis,waarby hy ook insigte uit ander tekste van Xenophon (soos die een oor demokrasie) en die werk van Griekse digters soos Homeros ingewerk het. Alhoewel kenners van klassieke Grieks beter toegerus sal wees om oor Sleigh se interpretasie van Xenophon te oordeel, was ek oortuig deur die behendige wyse waarop hy sy omvattende gegewe orkestreer en die magdom aan inligting omskep in ’n roman. Romanskrywers gebruik soms op hinderlike wyse hulle agterna-kennis van die geskiedenis om die romangebeure te manipuleer en met goedkoop betekenis te laai, maar Sleigh laat hom nie werklik verlei om dit te doen nie.

In Sleigh se twee hoofkarakters, wat beide as geronde mense uit die roman na vore tree, kry hy die geleentheid om twee verskillende wêrelde ten tonele te voer. Xenophon verteenwoordig klassieke Athene; Nagri die Joodse volk in slawerny en ballingskap. Die leser maak kennis met Xenophon se Sokratiese opvoeding, sy blinde geloof in die wyse waarop die gode sy lot beskik, sy voortreflikheid as soldaat, sy vermoë om planne te maak wanneer sy leër vasgekeer is, sy gawe om hulle te besiel wanneer hulle moed verloor, en sy durende geloof dat eenheid hulle grootste bron van krag is. Die verhaal oor die Leër van Tienduisend se ervarings bring ’n mens onder die indruk van menslike gehardheid, deursettingsvermoë en vasberadenheid, maar ook van die wyse waarop gewone mense se lewens gemanipuleer word deur die magsug en gierigheid van politieke leiers. Dit is ’n tema wat Sleigh ook in Eilande aangespreek het.

Die verhaal van die Jood Nagri vorm ’n interessante kontrapunt met dié van Xenophon. Teenoor laasgenoemde se redelikheid en gelate aanvaarding van die lot wat ’n grillige godedom vir hom beskik, staan Nagri se byna obsessiewe hoop op die verlosser van sy volk en sy verterende haat vir die Persiërs wat sy volk verneder het (Sleigh vertel dat hy geïnspireer was deur die jukstaposisie van weemoed en wreedheid in Psalm 137 wat handel oor die Jode se ballingskap in Babilon). Sleigh slaag daarin om met hierdie karakter ’n nuwe wêreld vir die Afrikaanse letterkunde te ontsluit, dié van die eunugs wat gekastreer is omdat hulle as paleispersoneel so naby aan die heersers geleef het en dikwels die aanhoorders van staatsgeheime was. As eunug aan die hof van die Persiese koning leer Nagri sekere beskawingsvaardighede aan wat van hom die verfynde en kundige man maak wat Xenophon tydens sy tog bystaan. Hierdie agtergrond voed egter ook sy begeerte om terug te keer na Jerusalem, waar hy hoop om die verlosser te vind of ten minste sy mense op te sweep tot opstand teen hulle onderdrukker. Die roman-einde beskryf hom egter as die prototipiese Swerwende Jood wat steeds weswaarts swerf terwyl hy die koms van die verlosser verkondig. In teenstelling met die verhaal van Xenophon is Nagri se verhaal een wat geen einde het nie en altyd oop bly in die hoop op ’n beter toekoms.

Dit is betekenisvol dat Xenophon en Nagri albei skrywers is. Xenophon teken daagliks die besonderhede van die Tienduisend se tog aan en Nagri kopieer die inligting vir hom. Wanneer hy aan die einde van die tog in Bisantion agterbly, skryf hy die Evangelie van Nagri op omdat hy glo dat dit van hom verwag word om ’n boek te skryf wat ná dié van die profete geplaas kan word. Xenophon skryf ’n geskiedenis wat tegelykertyd ’n outobiografie is; Nagri skryf op sy beurt ’n geskiedenis wat ook ’n geloofsbelydenis is. Twee soorte skryf en twee soorte dryfvere om gebeure op te teken kom dus in die roman aan bod.

Enige huiwering wat ’n mens aan die begin van die roman voel oor jou vermoë om die afstand vanaf jou eie tyd na ’n periode meer as twee duisend jaar gelede af te lê, word opgehef wanneer die verhaal van die veldtog in Persië op dreef kom. Na ’n effens moeisame begin word die roman onweerstaanbaar meesleurend. Die vertelling is beweeglik en vol aksie: dit verloop doelgerig vooruit, die hoofstukke is kort en hanteerbaar met rigtinggewende titels, die verskillende Midde-Oosterse ruimtes word konkreet voor die leser opgeroep, die Afrikaans is lewendig en toeganklik. Dit is ’n ruie verhaal waarin die leser nie die wreedaardige besonderhede van die veldslae gespaar word nie (soos byvoorbeeld wanneer die oorwonne Kuros se kop uit ’n sak pekel gepluk word om ’n dreigement teenoor sy leër te onderstreep), ook nie die uitmergelende besonderhede van die Grieke se moeisame tog huiswaarts nie.

Die boek word uitgegee saam met ’n DVD waarop Sleigh kortliks oor die roman praat. Tesame met die kaart binne die skutblaaie van die boek, help dit die leser om hom- of haarself te oriënteer binne die magtige afstande van ruimte en tyd wat hier ter sprake kom. Die verklaring van vreemde terme word ook gemaklik in die teks ingewerk sodat die leser dit nie as leesversperring ervaar nie.

Om Afstande te lees is om op die aangenaamste en heilsaamste manier moontlik opgevoed te word: deur die vertel van ’n storie. Dit is ’n besonder onderhoudende roman wat vir jou deure oopmaak na ’n vervloë geskiedenis, maar ook laat nadink oor die nawerking daarvan in ons eie tyd. Dit is ’n leeservaring wat niemand moet misloop nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top