Chris Karsten (1947–)

  • 0

Gebore en getoë

Chris Karsten is op 9 November 1947 op Morgenzon in Mpumalanga (destyds Oos-Transvaal) gebore, waar hy ook grootgeword het.

Chris vertel aan Elretha Britz (Volksblad, 22 Maart 2016) dat hy van kindsbeen af lief was vir lees. Hy het baie gelees, maar dit was eers toe hy op hoërskool was dat hy tot die besef gekom het dat sy liefde vir lees nou saamhang met sy liefde vir sy taal, Afrikaans, en dat hy graag sou wou stories skryf.

Hy matrikuleer aan die Hoërskool Hoogenhout op Bethal (ook in Mpumalanga).

Verdere studie en werk

Chris is na skool na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1970 ’n BA-graad verwerf met Afrikaans-Nederlands en sielkunde as hoofvakke.

Hy begin in 1971 sy joernalistieke loopbaan as joernalis by Die Volksblad in Bloemfontein. Die dagblad Beeld is in 1974 gestig en Chris word na Johannesburg verplaas waar hy in die redaksie van Beeld dien en mettertyd as hoofsubredakteur aangestel word. Hy is later terug na Bloemfontein as hoofsubredakteur en ook Nasionale Koerante se verteenwoordiger in Zimbabwe. Terselfdertyd is hy ook hoof van Die Volksblad se tuiskoerante en doen hy ook verslag oor gebeurlikhede in die parlement. Hy word aangestel as nuusredakteur, asook lid van Volksblad se redaksie.

Op 1 Junie 1987 word hy aangestel as nuusredakteur by Rapport en is hy ook lid van die hoofredaksie aldaar. Hy word later bevorder tot senior adjunkdirekteur. As gevolg van die posisies wat hy beklee het, het hy die wêreld vol gereis om verslag oor nuusgebeure te doen. Terwyl hy in Johannesburg gewerk het, het hy en sy vrou, Simone, en hulle drie seuns, Christoff, Eric en Udo, in Westdene in Johannesburg gewoon. Christoff is in ’n motorongeluk oorlede.

Ná Chris se aftrede het hulle na George in die Suid-Kaap verhuis, waar hy steeds burohoof van Rapport was. Simone is in Kanada gebore en het as kind na Suid-Afrika gekom. In 2010 besluit die Karsten-gesin om na Kanada te emigreer, en Chris, Simone en een seun gaan vestig hulle in Lunenburg in Nova Scotia, ongeveer 80 km van Halifax. Hulle het aanvanklik in Halifax in ’n woonstel gewoon net om hulle voete daar te vind. Hulle het egter van die begin af geweet hulle sal nie in die stad bly nie, aangesien Chris in Johannesburg genoeg van die stad ondervind het.

Die dorpie is deel van ’n Unesco-wêrelderfenisgebied, vertel Chris aan Maryke Roberts op LitNet. "Op ons huis is ’n bordjie wat meld dat die huis in 1883 gebou is en in ons beskermde hawe vang die plaaslike inwoners vis vir ’n inkomste. Daar woon 3 000 mense en ons is omring van woude."

Dit het die Karstens nie lank geneem om vriende in Kanada te maak nie, aangesien mense daar "maklik kom koffie drink", vertel Chris aan Roberts. "Ek het iewers raakgelees dat Kanadese naas Italianers die meeste koffie in die wêreld drink."

Kanada voel nou al asof dit sy tuiste is, maar die verlange na sy familie en vriende is maar altyd daar, en dit wond nie minder nie. "Mens mis Afrikaans, want jy hoor dit maar min. Daar was onlangs groot opgewondenheid toe ons nuwe Suid-Afrikaners in ons dorp verwelkom het. Ek het ook al amper verleer om skaapvleis te eet, omdat jy dit nie in Kanada kry nie."

In Kanada word alles in winters gemeet. Omdat die winters daar so ysig is, is jy gedwing om meer huisvas te raak, en vir ’n skrywer is dit natuurlik die ideale toestand omdat hy al daardie ure agter sy rekenaar kan deurbring.

Voordat Chris se eerste boek gepubliseer is, verskyn daar etlike kortverhale van hom in tydskrifte.

Sy eerste boek, ’n jeugboek getiteld Floris Sapiens, verskyn in 1985 by Tafelberg. Dit is bekroon met die Sanlam-prys vir jeuglektuur (silwer) en vertel die storie van ’n groepie oermense (Neander, Sapiens, Ples, Cro Magnon, Saldanna, Java en Peking) se omswerwinge in Afrika. Terselfdertyd word daar ook vertel van die komeet Proxi C wat teen ’n groot spoed op pad is na die aarde en uiteindelik die aarde en alle lewe daarop uitwis.

Die titel van die boek kan teruggeneem word na die opgrawings naby Florisbad in die Vrystaat. In Rapport van 14 Desember 1997 skryf Marina le Roux dat die kinders deur hulle omswerwinge te doen kry "met oorlewing, liefde en oorlog wat oortuigend teen die agtergrond van die oertyd geskets word binne ’n kontemporêre perspektief op selfstandigheid en individualiteit."

’n Volle 12 jaar verloop voor die publikasie van Chris se volgende boek in 1997. Dit is weer ’n jeugboek, met die titel Die jokkie wat met perde kon praat. Stephanie Nieuwoudt skryf in Beeld (9 Desember 1997) dat dit verfrissend was om ’n jeugboek onder hande te neem waarin die kinders almal deel is van ’n huisgesin wat baie geheg is aan mekaar en ook gelukkig is. Daar word nie in hierdie jeugboek gewroeg oor jongmense wat sukkel met probleme soos ouers wat aan drank verslaaf is of dwelms nie.

Chris erken dat hy nie ’n boek wou skryf waarin die karakters “wroeg” nie. “Ek wou skryf oor verhoudings: die verhouding tussen ’n kind en sy pa, ’n kind en sy ma, ’n kind en diere. In dié geval is die diere perde. Dalk is dit effens romanties-idealisties, maar ek dink tog daar is wel gesinne waarin mens gelukkig is."

Die jokkie vertel van Billy en sy familie, sy pa en sy ma, en dan ook die storie van Letsie. Billy se pa het Letsie se lewe iewers in Lesotho gered nadat sy perd vir iets geskrik en hy ernstige beserings opgedoen het. Onder meer kan hy nie praat nie. Hy word deel van die familie en toe Billy se pa die droomperd Pegasus aanskaf, word Letsie ’n jokkie van hoogstaande gehalte. Hy en Pegasus vorm ’n formidabele kombinasie. Alles verloop egter nie so vlot nie, veral wanneer die "wedrenboef" Mannie en sy trawante opdaag net voor die derby waarin Pegasus en Letsie moet ry.

Marina le Roux (Rapport, 14 Desember 1997) vind Die jokkie wat met perde kon praat ’n heerlike storie met ongekompliseerde en spontane verhoudings. En al is van die gebeure voorspelbaar, slaag Karsten daarin om die leser "mee te voer met ’n gewillige 'suspension of disbelief' ..."

Die tempo waarteen die storie vertel word, is vinnig, met ’n opwindende klimaks en ’n bevredigende afloop. Al is die verhaal nie perfek nie, is dit ’n storie wat gelees sal word.

Vir George Weideman (RSG, 8 Februarie 1998) is dit duidelik dat dit vir die skrywer ’n genot was om die karakters in Die jokkie te skep. "Die intrige is knap uitgewerk, hoewel dit nie buitengewone speurvernuf van die jong leser sal verg om agter die uiteindelike kap van die byl te kom nie."

Vanaf 2007 verskyn daar uit Chris se pen ’n reeks van ses boeke met die oorkoepelende titel Ware misdaad. Die titels wat in die reeks uitgegee is, is Opspraak deur moord: Suid-Afrikaanse doodslag skok (2007), Riller in die raaisel: onopgeloste Suid-Afrikaanse misdade (2007), Verlore onskuld: Suid-Afrikaanse kinders wat moor en roof (2009), Dodelik vroue: wanneer passie in bloed eindig (2009), Boos en bisar: wrede Suid-Afrikaanse misdade met ’n kinkel (2009), en Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade (2009). Die eerste vier is ook in Engels uitgegee.
Ook in 2007 verskyn Frats by Human & Rousseau. In 2008 verower Chris met Frats die eerste van sy ATKV-Prosa-pryse. Dit is ’n historiese roman wat op die lewe van Sarah Baartman gebaseer is. Sarah was die Khoi-Khoi-vrou wat in die 1800's na Europa geneem is waar sy as ’n "frats" tentoongestel is en deur wetenskaplikes bestudeer is.
Die hooffiguur in Frats is ene Khoena en vir Jaybee Roux was dit ’n slim truuk van Karsten om ’n fiktiewe storie rondom die ondervindinge van ’n geskiedkundige persoon te bou: "[S]ó kon Karsten voordeel trek uit die belangstelling wat daar steeds in Baartman heers, maar sy kreatiewe vryheid behou."
Vir Roux is Frats ’n uiters leesbare en toeganklike roman, "maar nooit sonder eerbied aan die geskiedkundige waarhede waarop die boek gebaseer is nie. Die sterk, gestroopte vertelstyl onderstreep die skrywer se agtergrond as joernalis, en tóg is die boek soveel meer as blote verslaggewing: dis meevoerend, eg en inderdaad met gevoel en deernis geskryf."
Op LitNet skryf Petra Müller: "In Frats het Chris Karsten die waagmoedige ding gedoen om op die spore van Saartjie Baartman se lewe ’n werklik aangrypende roman te konstrueer waarin haar gevoelslewe as objekgeworde vrou-mens die hartklop van die boek word. En wat ’n hartklop het die boek nie!"
Op “Crime Beat” vertel Chris aan Mike Nicol dat hy sy beroep as joernalis begin het as ’n hofverslaggewer. Die wetlike prosedures, vanaf die speurders tot die forensiese deskundiges tot by die denke en motiverings van die misdadigers, het hom gefassineer. En nadat hy 60 Suid-Afrikaanse moorde nagevors het, het hy tot die slotsom gekom dat ons almal, al kom ’n mens "normaal" voor, oor daardie dun lyn tussen reg en verkeerd kan stap.

Nadat Chris daardie 60 aaklige en somtyds bisarre sake herleef het in sy navorsing en in sy skryfwerk, was hy emosioneel heeltemal gedreineer. Hy het in daardie Ware misdaad-boeke probeer om so objektief as moontlik te wees en ook die misdadigers uit te beeld as mense met gewone emosies. Hy het ook besluit om in sy volgende werke die vryheid te hê om sy eie karakters met hulle eie emosies en motiverings te skep.

Chris het dit as volg aan Mike Nicol verduidelik: "Truman Capote once said while writing In Cold Blood: 'Journalism always moves along on a horizontal plane, telling a story, while fiction – good fiction – moves vertically, taking you deeper and deeper into character and events.' But In Cold Blood deals with characters and events from real life and Capote was 'fenced in by the barbed wire of fact'. Shifting from true crime to fiction I wanted to be able to move my stories more vertically and create characters and situations from my imagination free from those boundaries of fact."

Nadat Chris hierdie ware-misdaad-verhale geskryf het, het hy hom na iets heel anders gewend. Human & Rousseau het hom genader om ’n biografie oor die Suid-Afrikaanse aktrise Charlize Theron te skryf. Dit is in 2009 gepubliseer onder die titel Charlize: Ek leef my droom en is ook in Engelse vertaal.

Hy sou verkies het om minstens twee jaar vir so ’n projek te gehad het, maar hy moes dit binne tien maande voltooi, insluitende sy besoek aan Los Angeles. Hy vertel aan Marida Fitzpatrick (Beeld, 6 Junie 2009) dat dit nie soseer ’n verligting was om so ’n tipe boek te skryf na die misdaadverhale nie. Maar "eerder ’n kopskuif van gru tot glans. En glans is tog die landskap van ons samelewing.

"Die doen en late in die glanswêreld van Hollywood is vir baie mense ook obseen. En aap hulle nie maar meermale die lewe na nie? Is die storie van Monster, waarvoor [Charlize] met ’n Oscar beloon is, nie net so grusaam as enige van die Suid-Afrikaanse moorde in die misdaadboeke nie?"

Wat die skryf van hierdie biografie moeilik gemaak het, is die feit dat Charlize geweier het om deel te hê aan die projek. Chris het pogings aangewend om deur haar bestuurder ’n onderhoud met haar te voer, maar ten spyte van al sy e-posse aan haar was al sy probeerslae tevergeefs. "Dit was dus ’n yslike uitdaging om sonder haar samewerking en beskerm deur ’n byna ondeurdringbare posse van hoeders, agter haar sluier in te kom. In al my gesprekke met haar familie en vriende en uit haar onderhoude met joernaliste het ek na die mens Charlize gesoek; wat sy dink, hoe sy leef, en deur hulle oë en monde kom hierdie private beeld uit."

Ná die misdaadreeks en die biografie oor Charlize Theron kom Chris met ’n verrassing, naamlik ’n lekker stewige riller, getiteld Seisoen van sonde, wat in 2009 uitgegee is. Dit is in 2010 bekroon met die ATKV-Woordveertjie vir spanningsromans.

Die hoofkarakters is Wim van die Suid-Kaap wat met skoenlappers boer; ’n jong en kreupel vriend van Wim, Portis, en Molly, ’n patoloog. Die moordenaar is Jack, wat sy werk doen in opdrag van Minos, wat eintlik die skurk in die verhaal is. Later spruit dit duidelik uit die storie dat ’n geheime regeringsprojek uit die tyd van apartheid, Antinor, ook ’n rol in die moorde het.

Vir Chris is Jack ook ’n slagoffer en nie net ’n koelbloedige moordenaar nie: "Dit sou te maklik en verkeerd wees om ’n komplekse, misdadige persoonlikheid soos Jack bloot te herlei tot mishandeling as kind. Jack is ’n instrument in die hande van mense wat in ’n vorige era die kuns van beheer en manipulasie van die hele Suid-Afrikaanse samelewing byna vervolmaak het," vertel Chris aan Corné Coetzee.

In Seisoen van sonde word ’n groot verskeidenheid verwysings by die verhaal ingeweef. Oor hoe hy dit regkry om kop te hou om al die drade bymekaar te hou, lig Karsten vir Coetzee in: "Ek doen my plotting rondom karakters van vlees en bloed, met menslike vrese, hoop en swakhede – sonder ’n heldkarikatuur wat in ’n enkele finale klimaks alle boosdoeners en onregte opruim. In die vertelling van ’n storie moet mense se eiesoortige belangstellings en hebbelikhede uiteindelik op mekaar begin inspeel. En dit verg baie beplanning en herskryfwerk, veral in ’n krimi-skryfsel wat mens- pleks van plotgedrewe is."

Van die verwysings wat die meesterbrein agter die moorde gebruik, stam uit Dante se La Divina Commedia. Daar is ook ander raakpunt in Seisoen van sonde met die Commedia, vertel Chris. "Die morele verwarring waarmee Dante se pelgrimstog begin – deur die hel in die eerste gedeelte van sy Commedia – het vir my goed te pas gekom as allegoriese kapstok vir al my karakters se sondes, straf en boetedoening.

"Maar in al drie sy dele is die geheel ’n epiese gedig oor liefde, vergifnis en goedheid. En is dit nie waarna ons as individue elke dag streef nie, is dit nie waarna die land kollektief smag ná al die verwarring en hel nie?"

Seisoen se agtergrond is die hede, en die mense wat vermoor word het almal een of ander verbintenis met aaklige dade wat gedurende die apartheidsjare gepleeg is. Maar Chris sê self hy wil nie in sy roman persoonlike kommentaar op iets of iemand lewer nie. "Ek skryf ’n fiktiewe storie met vratte van die werklikheid. Die karakters in die boek moet op hul eie getakseer word en is nie my buiksprekerpoppe nie."

In Beeld van 5 Oktober 2009 skryf Jaybee Roux dat Chris se taalgebruik soms subtiel is, soms robuus, “maar elke woord boei en van mooiskrywery is daar nie sprake nie. (...) Karsten se gestroopte aanslag kan toegeskryf word aan sy joernalistieke agtergrond. So ook sy 'nuk' om deurgaans die Show, don't tell-reël te verbreek. Min dinge is so bevredigend soos ’n skrywer wat waarde tot sy verhaal voeg juis deur een van die grondreëls van sy ambag op sy kop te keer.

"Karsten het die magiese vermoë om lesers aan die hart te gryp deur ’n doelbewuste afstand tussen leser en skrywer te handhaaf. (...) Hegte storielyne wat vernuftig ineengevleg word, karakters wat oortuig, foutlose navorsing, veelvlakkigheid (selfs die omslagontwerp is in die kol). Om hierdie boek gering te skat of ongemerk by jou verby te laat gaan, is die hemel hoor my, ’n sonde wat geen regverdige god ongestraf sal laat bly nie."

In Rapport Boeke (4 Oktober 2009) het ook Kerneels Breytenbach komplimente vir Seisoen van sonde gehad: "Karsten orkestreer sy feite soos ’n groot dirigent. Jy besef gou dat hy ontsaglik baie navorsing gedoen het om hierdie verhaal te kon skryf – oor die geskiedenis, die geologie en geografie, oor die plant- en dierkunde van Suider-Afrika. Sy mensekennis is groot, soos mens gou agterkom. Die vernuf waarmee hy Dante se Divina Commedia as rigsnoer gebruik, is grotendeels die fondament van hierdie kragtoer van ’n speurverhaal."

In 2010 tref Abel Lotz die Afrikaanse literêre misdaadtoneel. Abel se ontwaking is die eerste van die trilogie. Abel is ’n versamelaar van diere-artefakte en toe hy 50 jaar oud word, besluit hy om sy repertoire uit te brei na menslike artefakte, meer spesifiek die menslike vel. En so begin sy moordveldtog. Abel se ontwaking word bekroon met beide die ATKV-prosaprys en die ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur in 2011.

Chris vertel aan Mike Nicol dat hy gefassineer is deur die gekompliseerde en verwronge geestestoestand van reeksmoordenaars. In werklikheid is baie van hulle hoogs intelligent, maar almal van hulle is bedrieglik en dit is eienskappe wat vir die skrywer van fiksie wonderlike uitdagings bied. Chris verduidelik verder aan Nicol: "In most serial killings the motives remain opaque because their own minds are so deranged and unfathomable. Are these psychopaths born with short-circuited genes, or are they products of their upbringing? The old debate between nature and nurture. I’m more interested in this human condition or mental state of my characters than in the bloody and gory tally of corpses in their wake."

Die saadjie vir die ontstaan van Abel kan teruggevoer word na die film Psycho. Hierdie film is gegrond op die geval van Ed Gein, ’n alleenloper. Toe ’n vrou wegraak, het die polisie haar in hulle soektog in Gein se plaashuis gekry waar sy aan ’n vleishaak gehang het – oopgeslag, en hy het al haar vel begin afsny. In die huis het die polisie heelwat items gekry wat met mensvel oorgetrek is. Gein het nie al die vroue doodgemaak nie, maar het lyke opgegrawe en hulle velle afgesny om stoele en lampskerms mee oor te trek. Hy is net aan een moord skuldig bevind, vertel Chris aan Phyllis Green in Sarie.

Die speurder in Abel se ontwaking is die jong Ella Neser, wie se eerste moord as ondersoekbeampte dié van Mia Vermooren is. Haar lyk is in ’n park gevind. Kort voor lank is daar ’n tweede moord voor Ella Neser se deur.

Vir Nico Geldenhuys (Beeld, 19 Julie 2010) kry Karsten dit reg "om ’n speurverhaal aanmekaar te weef wat toeganklik en uiters boeiend is. Aan die begin van die roman is die hoofstukke lekker kort en kragtig. Dan, namate die leser by die verhaal ingetrek word, raak die vertelling meer omvattend en kompleks sodat daar selfs ’n paar draaie in Kanada gemaak word, sowel as terugflitse na die Anglo-Boereoorlog."

Geldenhuys is veral beïndruk met Karsten se karakterisering. Hy beskik oor die kuns om besonderhede op so ’n manier te gebruik dat die leser die karakters se persoonlikheid daaruit kan leer ken, sonder dat dit in woorde gesê hoef te word. Abel se ontwaking is vir Geldenhuys ’n indrukwekkende roman met karakters wat die leser vasgenael sal laat sit.

In 2015 is Abel se ontwaking verwerk tot ’n draaiboek deur Johnny Breedt, ’n kunsregisseur wat aan films soos Paljas en Hotel Rwanda gewerk het. Hy het die boek op ’n vliegtuig gelees en kon dit nie neersit nie. Hy wou met die maak van die fliek, wat onder die titel Ontwaking vrygestel is, iets in Afrikaans doen wat nie normaalweg gedoen word nie en die kyker na plekke toe vat wat hy nie normaalweg sou wou sien nie, vertel Breedt aan Charles Sieberhagen.

Gys de Villiers, Paul Eilers en Armand Aucamp is van die akteurs wat in die film te sien is. Vir Chris was dit ’n hoogtepunt om te sien hoe sy denkbeeldige karakters werklikheid word en dis des te beter as die omskepping deur so ’n bedrewe vakman soos Johnny Breedt gedoen word.

In 2011 verskyn die tweede deel van die Abel-trilogie, Abel se lot, en in 2012 die laaste deel, getiteld Die afreis van Abel Lotz. Al drie die boeke is deur Elsa Silke in Engels vertaal. Die Engelse vertaling van Die afreis van Abel Lotz onder die titel Face-off was in 2015 op die kortlys van die Herman Charles Bosman-prys.

In Abel se lot is daar ook meer as een storielyn, iets wat deurgetrek kan word tot by die derde deel. Vir Cilliers van der Berg (Beeld, 21 Augustus 2011) is Abel se lot “(uit) eie reg werklik ’n goedgeskrewe spanningsverhaal wat sy sout werd is".

Oor die derde deel skryf Madri Victor in ZuidAfrika dat Die afreis op tegniese gebied meesterlik is. "Min skrywers kan soveel komplekse verhaallyne, die magdom fokalisators en gereelde spronge tussen ruimtes met die vernuf en gemak van Karsten saamweef en bemeester. Hy is met reg een van die top krimi-skrywers in Afrikaans."

Nadat Ella Neser uiteindelik gesorg het dat Abel Lotz ter ruste gelê kon word, het Chris se pen gelukkig nie stil geword nie. In 2013 verskyn ’n Man van min belang, wat in 2012 die tweede prys verower het in NB-uitgewers se Groot Roman-wedstryd.

In hulle commendatio oor ’n Man van belang sê Louise Viljoen, Willie Burger en Linda Rodedat dit ’n "verhaal is wat die grense van die spanningsroman uitdagend en vernuwend oorskry. Bowenal is dit een wat met menslikheid geskryf is."

JB Roux skryf in Beeld van 29 April 2013 dat die verhaal van ’n Man van min belang "begin aan die einde van ’n seun Luca Thom se speurtog na en hereniging met sy doodgewaande pa en sentreer rondom die opsporing en identifisering van die beendere van vermoorde politieke aktiviste gedurende apartheid. Wanneer die oorskot van vier mense in die Langkloof gevind word, soek die joernalis Luther en die struggle-veteraan Mosman na antwoorde. Mosman is nou direkteur van ’n obskure intelligensie-afdeling wat gemoeid is met die uitken van die oorskot van diegene wat tydens apartheid verdwyn het."

Maar Mosman kon nog nie sy struggle-ervarings verwerk nie en hy wil nog altyd vergelding vind teen sy vorige vyande. Mosman en Luther vind hulle weg na Luca Thom, Eddie Thom, die polisieberader se seun, en die oudaktrise Carlira Rosati.

Ook Chris se volgende roman, Die respektabele meneer Hartslief (2014), word baie goed ontvang en is op die kortlys vir die kykNET-Rapport-prys in die filmkategorie vir 2015. Elie Hartslief is die respektabele meneer van die titel. Elie, sy broer Basie en susters Lottie en Poppie word deur hulle antie Hartslief in ’n armoedige huisie in Brixton grootgemaak. Saam met hulle bly die Lerms: Boela die blokman, Moks die gay kok en Sampie, die klein mens.

Elie bly later in Sandton en werk vir ’n beleggingsmaatskappy. Hy is ook getroud met die baas se dogter, Wanda. Dan word Basie, Elie se broer, vermoor en sy koplose lyk word in ’n sloot gevind nadat hy betrokke geraak het by Stella, minnares van die nagklubeienaar Bogdan Petrescu. Die familie besluit om self ondersoek in te stel nadat dit duidelik word dat die polisie, by name luitenant Kosile, nie veel moeite gaan doen om agter die kap van die byl te kom nie.

Op haar blog skryf Joan Hambidge as volg oor Meneer Hartslief: "Hierdie roman het 'n besondere positiewe ontvangs beleef. Veral die skrywer se besondere taalvermoë is uitgesonder. Vir my is die mees uitstaande aspek van hierdie roman die nougesette navorsing: oor die saks (en die geskiedenis van die instrument); cuisine (96); klere (onder andere pasjmina vesels, 169); kuberboelies en forensiese oudits.

"Die impak van moderne tegnologie en hoe foto's iemand se privaatheid binnedring, word uitstekend beskryf. (...) Ook die familiestruktuur word insigryk beskryf (soos op bladsy 70). (...)

"By die lees van hierdie komplekse misdaadroman, Die respektabele meneer Hartslief, is die leser bewus van Karsten se enorme kennis en insig in die gemoedslewe van 'n psigopaat, naamlik die huurmoordenaar, Lood wat Bogdan Petrescu se bevele uitvoer. Op 'n besondere wyse word Elie Hartslief se forensiese ondersoek na bedrog en geldwassery onthul."

In Chris se volgende roman, Die verdwyning van Billy Katz (2015), is die speurder wat vir Abel gejaag het, Ella Neser, weer op die toneel. Hier is die onwettige handel in ledemate die tema waarom alles draai. Ella het fisiek en emosioneel nog nie heeltemal herstel van haar konfrontasie met Abel nie. En die ontdekking in die slottoneel van Die afreis van Abel Lotz, vier linkervoete in ’n Checkerssak, sit die hele ondersoek in Billy Katz aan die gang.

Chris vertel aan Elretha Britz (Volksblad, 12 November 2014) dat daar nie iets spesifieks gebeur het wat aanleiding gegee het tot die skryf van Billy Katz nie. "Karakters dryf my stories, nie gebeure nie. Ek hou veral van karakters wat bietjie afwyk van die geykte vorm en wat gedryf en gemotiveer word deur ou spoke wat soms vir hulle bekend lyk, soms onbekend. Die gebeure in hierdie storie rondom die voete en die geheimsinnige verdwyning van die rykmanseun en rokjagter Billy Katz, is net die gom wat al die uiteenlopende karakters op die een of ander manier aan mekaar bind."

Hy het ook besluit dat Ella Neser nou reg sal wees om die geval van die Checkerssak met die ledemate in te ondersoek. "En hoe sy dit gaan hanteer as sy onverwags hulp kry van ’n aantreklike oudspeurder, ’n regte dwarstrekker wat destyds gewond uit die Bosoorlog gekom het, verslaaf aan beetsap en sampioene (veral die soort wat bekend is as magic mushrooms). Boonop het ek ’n goeie skoot werklikheid uit ons onlangse geskiedenis hierby ingemeng om die konteks van die verhaal aktueel te maak. Soos in al my vorige boeke is hier weer ’n klompie 'kleurryke' karakters wat die storie dryf – soos die ma en haar twee dogters in wie se hande niemand graag sal wil beland nie, en die arme tonglose man wat al amper 50 jaar steeds net Purity-babakos kan eet."

Soos Chris se getroue lesers al aan gewoond geraak het, is daar ook in Billy Katz twee storielyne: een wat in die hede afspeel en een wat in 1994 afspeel met die oudspeurder, Lou Pepler, en Billy Katz wat skoonveld is. Pepler is die gom wat die twee lyne saambind.

En weer is daar allerhande "snaakse" karakters: die Pottas-gesin met Mona, haar twee dogters, Vera en Heidi, en haar grootmaakseun, Rakker, wat hulle in die veld opgetel het nadat sy tong uitgesny is vir moeti.

Deborah Steinmair skryf in Rapport (18 Oktober 2015): "Soos Ella en elke held in misdaadromans word die arme Lou Pep­ler gereeld papgeslaan, vasgebind en tot kort duskant die hiernamaals gemartel. Daar is volop skop, skiet en donder en boosheid wat broei. En in die middel is die beskadigde, broos en moerige Ella Neser, ’n sterk vrou wat haarself en ander red.

"Dis ’n boek wat hom eenvoudig nie laat neersit nie. Karsten is ’n woordsmid en storiewewer. Karakters is skerp geteken en die dialoog oortuig. Dis ’n knap roman uit die pen van die skrywer wat, so het Kerneels Breytenbach voorspel, die volgende groot speurroman gaan skryf ná Deon Meyer. Meyer het (...) ’n paar waardige opvolgers/mededingers, en Karsten vorm beslis deel van hierdie uitsoekgroepie. Ag julleself gelukkig, Afrikaanse misdaadvrate."

In Chris se mees onlangse boek, Die dood van ’n goeie vrou, wat in 2016 verskyn het, is Ella Neser weer die speurder wat die moord moet oplos. Hy het 18 maande aan Die dood van ’n goeie vrou geskryf, vertel Chris aan Leserskring. "Ek laat gewoonlik die eerste konsep van ’n manuskrip eers op die agterplaat prut terwyl ek ’n nuwe een aanpak, en herskryf dit dan later van vooraf."

Die slagoffer in Die dood van ’n goeie vrou is Clara Heyns, ’n moeder van twee. Sy is in haar huis gevind met twee engelvlerke aan en op die oog af is daar geen rede vir iemand om haar dood te maak nie. Haar man is die hoofverdagte en die getuienis teen hom loop op. Hy is egter ’n jagmaat van die polisiehoof en hy stuur telkens vir Ella op ’n ander spoor.

Ella loop haar ook vas teen kantoorpolitiek, seksisme en haar nuwe minnaar, Lou Pepler, wat sy in die arms van ’n rooikop gesien het.

Op Netwerk24 skryf Kerneels Breytenbach dat Die dood van ’n goeie vrou Chris Karsten se sterkste boek tot op hede is. "Jy hoef nie soos ek ’n voorliefde te hê vir sy skryfwerk nie. Jy sal die boek lees en agterna verbysterd staan oor hoeveel van die roman se heerlikhede terugkom om by jou te spook. Iets wat my nog altyd opgeval het by Karsten se romans is die manier waarop hy die brokkies van sy sentrale intrige in die loop van die roman plaas. Daardie kern van die gebeure, tesame met hul aanloop, wat vir jou nodig is om by die chronologiese raam van die speurtog verby te kyk en te antisipeer wat die oplossing van die raaisel gaan wees.

"Want is dít nie die groot plesier van speurverhale nie? Om te kyk of jy in die lees dinge raakgesien het wat jou vinniger by die oplossing sal bring as wat dit die speurder in die verhaal neem. Dit is hierdie inmessel van feite in die groot bouwerk wat ’n skrywer soos Karsten onderskei van baie ander skrywers. Hy weet hoe om dit te doen sodat jy dit nie dadelik raaksien en eien as leidraad nie. (...)

"Karsten lewer hier ’n meestersklas in die kleine van hoe ’n skrywer binne ’n nieliterêre verband karakters kan skep wat die soort dimensies verkry wat ’n mens in ’n literêre werk sou verwag. Die vraag wat ’n mens jou uiteraard afvra, is wat Chris Karsten doen om van hierdie roman iets nuuts te maak? Hoe verskil dit van sy eie en ander skrywers se romans? Is dit uniek?

"Die antwoord is dat Karsten se plotting buitengewoon goed is. Die soorte speurverhale wat vertel kan word, is legio; dit is hul innerlike werking wat hulle uniek maak.

"Die aspek van Die dood van ’n goeie vrou wat dit sonderling maak, is die manier waarop Karsten jou kan voer tot by ’n moontlike oplossing van die raaisel, net om jou te laat besef dat jy jou blind gestaar het teen sy misdirects. Soos ’n kulkunstenaar laat hy jou sif aan feite terwyl hy ligkens skeer oor die werklik belangrike mededelings. Baie skrywers werk met net een of twee misdirects; Karsten se verhaal wemel daarvan.

"As ’n mens dan nog in gedagte hou dat hy in al sy skryfwerk ’n verbluffende vaardigheid getoon het met die forensiese uitpak van inligting, weet jy hoekom Die dood van ’n goeie vrou jou kop so laat swymel. Karsten voer jou met detail – en dan lei hy jou willens en wetens om die bos ook.

"Agterna kan jy net jou kop oor Die dood van ’n goeie vrou skud. Dit is eintlik ’n redelik eenvoudige verhaal, maar die vertel daarvan, en die manier waarop Karsten dit doen, maak dit so ’n kragtoer. Dit lees só lekker!"

Ook op Netwerk24 haal Deborah Steinmair die heuningkwas uit vir Die dood van ’n goeie vrou. Sy beskryf Karsten as ’n "ervare hand met forensiese besonderheid" met karakters wat "duidelik omlyn, lekker aweregs en met ’n vrygewige skeut eksentrisme" is. Karsten "knoop onneersitbare misdaadromans en skroom nie om ander se skoene aan te trek nie".

Ook Maryke Roberts is positief oor Die dood van ’n goeie vrou in haar resensie op LitNet. "Hierdie boek is anders as Karsten se vorige boeke omdat die leser nie van die begin af die moorde en gebeure deur die moordenaar se oë – soos onder meer met die grillerige Abel Lotz – ervaar nie. Die boek volg eerder die moordondersoek vanuit Ella Neser se perspektief. Met net genoeg verwysings na haar persoonlike lewe, maak dit die boek toeganklik en word Ella amper ’n ou bekende vir die leser.

"Tog hoef jy nie enige van sy vorige boeke te gelees het om hierdie een te geniet nie. Slim terugverwysings na Ella se verlede hou jou in die prentjie van haar gemoedstoestand en soms onverklaarbare reaksies op gebeure.

"Karsten het ’n hele paar verdagtes wat hy om die beurt teen mekaar afspeel en hoofstukke slim op ’n mespunt eindig, om met die volgende hoofstuk net ’n nuwe verdagte te ontgin. Tot die laaste paar bladsye is jy steeds onseker oor die moordenaar.

"Karsten se studies in Afrikaans en sielkunde, sy bykans 40 jaar as joernalis waar navorsing ’n integrale deel van sy beroep was en sy belangstelling in misdaad kom duidelik na vore as jy sy boeke lees. Die taalgebruik is uitstekend, geen klip word onaangeraak om elke moontlike leidraad of besluit van die karakters te illustreer nie."

In ’n onderhoud in 2012 op LitNet wou Bibi Slippers by Karsten weet of die joernalis in hom steeds sy kop uitsteek terwyl hy sy romans skryf: "Die kennisgebiede wat ek vir elke boek ontgin, is die noodsaaklike agtergrond wat nodig is om karakters en situasies te kan laat leef. Elke skrywer doen sulke navorsing. Die feit dat ek eens ’n joernalis was, is bloot toevallig. Wat ek van die joernalistiek geleer het, is om nuuskierig en objektief te wees, en dit, hoop ek, word wel in my skryfsels gereflekteer. Boweal respekteer ek my lesers om aan hulle die vryheid te gee sodat hulle hul eie menings in die leesproses kan vorm."

 

Publikasies

Publikasie

Floris Sapiens: ’n fantasie

Publikasiedatum

1985

ISBN

0624022021 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Sanlam-prys vir jeugverhaal, silwer 1985

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die jokkie wat met perde kon praat

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624036324 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Opspraak deur moord: Suid-Afrikaanse doodslag skok

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798147170 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Ware misdaad-reeks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Riller in die raaisel: onopgeloste Suid-Afrikaanse misdade

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798147187 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Ware misdaad-reeks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Frats

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798148801 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

ATKV-prosaprys 2008

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verlore onskuld: Suid-Afrikaanse kinders wat moor en roof

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798148993 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Ware misdaad-reeks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Dodelike vroue: wanneer passie in bloed eindig

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798149006 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Ware misdaad-reeks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Boos en bisar: wrede Suid-Afrikaanse misdade met ’n kinkel

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798149747 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Ware misdaad-reeks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798149891 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Ware misdaad-reeks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Charlize: Ek leef my droom

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150279 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Seisoen van sonde

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150385 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Sielkundige riller

Pryse toegeken

ATKV-prys vir spanningslektuur 2010

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Abel se ontwaking

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151306 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

  • ATKV-prosaprys 2011
  • ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur 2011

Vertalings

  • Engels 2012
  • Filmuitgawe 2014

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Abel se lot

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798152921 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2013

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die afreis van Abel Lotz

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798156400 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2014

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Man van min belang

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798157766 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

  • Tweede Prys NB-Uitgewers se Groot Romankompetisie 2012
  • ATKV-prys vir goeie gewilde prosa 2014

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die respektabele meneer Hartslief

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798167840 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die verdwyning van Billy Katz

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780798171076 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die dood van ’n goeie vrou

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798174183 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Chris Karsten beskikbaar op die internet

Artikels deur Chris Karsten beskikbaar op die internet

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top