Charlize – Ek leef my droom
deur Chris Karsten
Human & Rousseau, Kaapstad en Pretoria
Sagteband, 300 pp, R250
ISBN 9780798150279
Ook in Engels beskikbaar as Charlize: Life’s one helluva a ride
Glans, glorie, onmeetlike rykdom. ’n Vinnige lewe waarin alles duur en smaakvol en almal beeldskoon is: partytjies, premières, roekelose inkopietogte. Sjampanje, kaviaar; ’n lang, slap motor wat jy nie self hoef te bestuur nie; ’n ster om elke hoek en draai.
Dís Hollywood. Of eerder: die cliché. ’n Sprokieswêreld, ’n versugting. Ons droom daaroor, lees daaroor en swymel oor uitverkore prinse en prinsesse.
Almal is versot op Aspoestertjiestories, oor doodgewone jongmense wat die ondenkbare reggekry het deur Hollywood as “wannabe” binne te vaar en die jongste ster aan die Hollywood-hemel te word. As so iemand boonop uit Suid-Afrika kom, tot relatief onlangs die muishond van die wêreld, deel van ’n donker en “agterlike” kontinent …
Veral ná haar Oscar voel Suid-Afrikaners besitlik oor Charlize. Haar gesig het op elke denkbare tydskrifvoorblad verskyn, met die ongelukkige uitsondering van Landbouweekblad. Charlize Theron se jong lewe is ’n stórie. En dit verg ’n aartsjoernalis en skrywer soos Chris Karsten om so ’n storie volledig onder woorde te bring.
Maar dis nie net ’n roekelose heldeverering wat ’n boek oor Charlize Theron amper onafwendbaar gemaak het nie. Eintlik wéét ons Hollywood is nie net maneskyn en rosegeur nie. Baie sterre verbloem ’n donker, hartseer kant waaroor ons graag meer wil weet.
Charlize is geen uitsondering nie. Inteendeel.
Die eerste goue ster wat op die voorblad van Charlize plek moet kry, is vir Karsten se deeglikheid en verbete navorsing. Hy gaan haal Charlize se storie vóór haar geboorte al, met ’n bietjie stamboeknavorsing. Daar is agtergrondinligting oor haar ouers en grootouers, haar ouers se huwelik, Charlize se grootwordjare op ’n hoewe in Putfontein.
En natuurlik: die gebeure van die aand toe Charlize se pa deur Gerda Theron doodgeskiet is. Die voorval waaroor Charlize weier om te praat, die skadu in haar verlede. Karsten se opsomming oor wat waarskynlik dié aand gebeur het, is die akkuraatste en omvattendste wat tot dusver gepubliseer is. En steeds weet niemand, behalwe die betrokkenes self, presies wát daardie aand plaasgevind het nie.
Hoe het Charlize Hollywood “verower”? Wat was haar eerste rolle en hoe het sy daardie rolle gekry? Hoe groot is die rol wat Charlize se ma in haar sukses gespeel het? Wat van haar veelbesproke liefdesverhoudings? Hoe lyk haar paadjie vorentoe? Waar woon en hoe leef sy deesdae?
Hoeveel van haar rolprente was regtig suksesvol?
Karsten beantwoord al hierdie vrae deeglik, eerlik en boeiend. Nie ’n enkele feit is onder verdenking nie. Veral sy insig in hoe Hollywood funksioneer, is verstommend. Karsten het die vermoë om tonne navorsing te doen, maar presies die regte hoeveelheid inligting deur te gee. Hy gebruik feite en kennis om sy “storie” se agtergrond en intrige in te kleur en lesers te boei sonder om dié feite in lesers se kele te probeer afdruk bloot omdat dit daar is.
Charlize – Ek leef my droom verdien nog ’n goue ster vir balans. Die doel met hierdie boek is nie om Theron se sterretjie nog blinker te vryf nie. Ook nie om haar te probeer “uithaal” nie. Karsten gee ’n volledige prentjie. Charlize kry erkenning vir die moeilike pad wat sy moes loop, vir haar durf en uithouvermoë, haar innerlike krag.
Maar Karsten ontluister ook heelwat mites, mites wat sy meestal self geskep het. Tydens onderhoude skroom sy nie om die werklikheid effens skuins te hou en selfs onderstebo te draai, om haar aanhangers te laat hoor wat sy glo hulle móét hoor nie.
En Charlize, die méns? Wie ís hierdie enigmatiese skoonheid uit Benoni se wêreld? ’n Brose, beeldskone meisietjie wat met haar boude in die botter beland het? Of ’n amasone wat – letterlik – haar man kan staan en hard baklei vir wat sy wil hê? Lees en besluit self. Selfs Theron se mees gesoute navolgers sal iets teëkom wat hulle sal verbaas.
Die boek is nie hééltemal foutloos nie. Soms is daar klein, maar onnodige herhalings. Ons lees byvoorbeeld ’n hele paar keer van die tatoeëermerkie teen Charlize se enkel. En “pannekoek” op bladsy 262 moet “plaatkoekies” wees. Verder is dié boek donners naby aan volmaak, met ’n gawe bonus vir Theron-aanhangers: ’n fotobeeld van veertig bladsye.
Chris Karsten het ’n hele paar uiteenlopende boeke agter die blad. Charlize – Ek leef my droom toon weer eens dat alles wat hierdie man skryf, getuig van ’n gesoute vakmanskap wat in alle opsigte bo verdenking is.


