Onderhoud met Chris Karsten oor Die respektabele Meneer Hartslief

  • 1

Titel: Die respektabele Meneer Hartslief
Skrywer: Chris Karsten
Uitgewer: NB Uitgewers, 2014

Koop jou eksemplaar van Die respektabele Meneer Hartslief by Kalahari.com

 

Jy hoor gereeld die naam Chris Karsten in dieselfde asem as “pryswenner” of “naaswenner” en nou word daar vroeg volgende jaar ook ’n film bekendgestel wat op een van sy boeke geskoei is.

Dis drie jaar nadat Abel se ontwaking, boek een van ’n trilogie, die rakke getref het. Dis donker, spannend en effe bisar; dié storie van Abel Lotz, wat die grootste deel van sy lewe op ’n kleinhoewe buite Johannesburg saam met sy versteurde ma gewoon het. Daar waar hy die velle van klein diertjies verwerk en dan verruil vir die maskers en tsantsas uit Afrika en Suid-Amerika, wat hy in sy galery verkoop.

Vir sy 50ste verjaarsdag het Abel spesiale planne – hy wil vir hom ’n nuwe gesig uitsoek: dié van ’n mooi jong vrou. En hy is op die uitkyk vir tatoes wat sal pas by die temas van sy Kosmiese Joernale. En daarvoor het hy jong, onbelemmerde velle van jong vroue nodig ...

Dié boek palm die ATKV-Prys vir Prosa (2011) en ATKV-Prys vir Spanningslektuur (2011) in. En so word ’n hele nuwe aanhangersklub gebore van diegene wat in groot afwagting sit en wag vir boek nommer twee, Abel se lot, en toe die laaste in die trilogie, Die afreis van Abel Lotz.

En nou begin die opgewondenheid van vooraf: die fliek gebaseer op die eerste boek begin vroeg aanstaande jaar draai en groot akteurs, soos Gys de Villiers, Tertius Meintjies, Juanita Velts, Paul Eilers, Gerard Rudolf, Armand Aucamp en Jaco Muller, sal te sien wees. Dit is Saterdagaand op Stellenbosch vir uitgenooide gaste – Chris inkluis – vertoon.

Chris Karsten

Ná Abel laat sien Karsten ’n Man van min belang (2013) die lig en dis die naaswenner in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd.

Ons kuier in Melissas in Dorpstraat op Stellenbosch, enkele ure voor die bekendstelling van sy nuutste boek, Die respektabele Meneer Hartslief, wat by Protea Boekhuis gehou word.

Die beskrywing van die boek in die Human & Rousseau-bladjie lees as volg: “Wanneer ’n nagklubbaas die katelknaap van sy minnares laat vermoor deur ’n eksentrieke huurmoordenaar, loop hy hom vas in die vermoorde se familie, die Hartslief-clan van Brixton. Elie Hartslief is die brein; Antie Engel met haar sopkombuis en sesde sintuig die hart; neef Boela met die slaghuis, die spiere; en die verfynde Moks met sy helderkleurige mohican en daggakoekies die bek. Elie is deesdae amper respektabel en mnr Morkel van Morkel Wealth se regterhand, maar sy broer se moord noodsaak dat die Hartsliefs laer trek. Maar hulle teenstanders is die berugte Bogdan Petrescu en sy huurmoordenaar Lood – ’n man met ’n voorliefde vir saksofoonmusiek en ’n aanleg om mense op kreatiewe maniere dood te maak. Dink Coen-broers en Westerns in Brixton en Sandton.”

Ek wonder onwillekeurig hoe dit voel om ná twee jaar weer uit Kanada in Suid-Afrika te kuier. Chris en sy vrou en seun woon die afgelope rapsie meer as vier jaar in Kanada. Hy vertel: “Die dorpie waar ons woon, is in Nova Scotia, so 80 km van Halifax en ’n Unesco-wêrelderfenisgebied. Op ons huis is ’n bordjie wat meld dat die huis in 1883 gebou is en in ons beskermde hawe vang die plaaslike inwoners vis vir ’n inkomste. Daar woon 3 000 mense en ons is omring deur woude.”

Hy sê Kanada voel darem nou al soos sy tuiste en hy mis dit as hy so reis, maar die verlange na sy familie en vriende word al meer, hoe langer hy weg is. “Mens mis Afrikaans, want jy hoor dit maar min. Daar was onlangs groot opgewondenheid toe ons nuwe Suid-Afrikaners in die dorp verwelkom het. Hulle het voorheen die Matjiesfontein-hotel besit en het nou ’n inn daar by ons gekoop.”

Hy vertel dat hul gesin gou vriende in Kanada gemaak het. “Mense kom drink maklik koffie – ek het iewers raakgelees dat Kanadese naas Italianers die meeste koffie in die wêreld drink,” vertel hy terwyl hy sy hande om sy eie koppie koffie vou.

Hy lag en sê hy het amper verleer om skaapvleis te eet, omdat jy dit nie daar kry nie, en hy sal darem ook graag ’n stukkie boerewors saam met sy skaaptjoppie wil geniet voor hy teruggaan huis toe.

Chris is op Morgenzon in Mpumalanga gebore, matrikuleer aan die Hoërskool Hoogenhout op Bethal, en behaal ’n BA-graad met Afrikaans-Nederlands en sielkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy het sy hele lewe in Gauteng gewoon, voor hy en sy gesin eers na George en toe na Kanada verhuis het. Of soos hy sê, bykans “vyf winters gelede, want alles word daar in winters gemeet”. Omdat die winters so lank is, raak jy in daardie maande baie meer huisvas – natuurlik ideaal vir ’n skrywer, wat dan al sy ure agter sy rekenaar kan deurbring.

Hy is die skrywer van twee kinderboeke: Floris sapiens, waarvoor hy die Sanlamprys vir jeuglektuur (silwer) ontvang het, en Die jokkie wat met perde kon praat. Sy eerste roman, Frats, het in 2007 verskyn, en is ’n jaar later met die ATKV-prosaprys bekroon.

Hy sê hy geniet dit om vir jongmense te skryf, het veral die stuk in ’n Man van min belang geniet waar die storie lank stilstaan by twee seuns se lewens wat in die koshuis woon, so ’n bolangse verwysing na sy eie koshuisdae.

As koerantman was hy gemoeid met baie van die stories wat in sy “Ware Misdaad”-reeks opgeneem is. Sy boek oor die aktrise Charlize Theron het in Mei 2009 verskyn, en sy tweede roman, Seisoen van sonde, in Junie 2009.

Hy vertel dat hy net in Afrikaans skryf, omdat hy “te lief vir die taal is” en nie maklik in ’n ander taal kan dink nie. Die vertalings van sy boeke, soos Charlize: Ek leef my droom na Charlize: Life’s One Helluva Ride, en al drie Abel-boeke is deur vertalers behartig en aan hom vir goedkeuring voorgelê. Hy sê sy boeke is eintlik vir Afrikaanssprekendes bedoel en hy is soms skrikkerig dat die nuanses met vertaling uit Afrikaans kan wegval. “Maar ek glo hulle is steeds toepaslik vir die Suid-Afrikaanse leser.”

Hy sê ook hy wil nie in ’n groef verval en as eksklusiewe misdaadskrywer bekend wees nie. Dit het heel toevallig oor sy pad gekom toe hy destyds gevra is om die “Ware Misdaad”-reeks te skryf. Hy poog ook in al sy boeke om uit verskillende oogpunte te skryf, om te wys dat selfs die grootste booswig tog diep binne-in wel menslik is. Die donker boeke maak hom wel effe somber en daarom is Die respektabele Meneer Hartslief lighartiger, met humor deurspek.

Hy is bly Abel is amper heeltemal agter hom – behalwe die film se uitsaai wat nou voorlê en waaroor hy baie nuuskierig is. “Die regisseur het vir my al die konsepte gestuur en selfs ’n lokprent van twee minute en dit het my baie opgewonde gemaak. Ek het nooit gedink my boek sal in ’n film verwerk word nie, maar dis ’n eer dat jou boek weer op ’n ander manier aan ’n ander gehoor bekendgstel word. Fliekgangers is nie noodwendig lesers nie,” sê hy.

“Mense hou nie van Abel nie, ek ook nie, maar hy kruip tog onder mens se vel in,” vertel hy en glimlag dan as hy die dubbelsinnigheid van sy woorde besef, omdat Abel velle oes – van mens of dier! “Abel was ’n kulminasie van ’n klomp idees in my kop. Ek het hom geskep en toe besef ek moet ’n teenpool skep, wat ek toe in adjudant Ella Neser gekry het. Aan die einde van die trilogie sal lesers opmerk dat daar vir dié adjudant dalk lewe ná Abel is ...”

Dis die boek waaraan hy nou werk, maar hieroor verklap hy baie min. “Ek kan net sê dat Ella terug is, met daardie vier linkervoete wat in die laaste Abel-boek gevind is. Maar ek wil nie meer sê nie; dis asof die energie uit jou kop gaan as jy te veel praat oor die boek waaraan jy skryf.”
Ek vra of die oorgang van koerantman na boekskrywer moeilik was. Hy was immers sy hele lewe lank joernalis by Volksblad, Beeld en Rapport. Hy het by oop grafte, misdaadtonele, oorstromings, rugbywedstryde en politieke byeenkomste sy nuus uitgegrawe. “Joernalistiek het my die dissipline gegee om binne ’n formele struktuur te kan skryf. Maar dit leer mens ook om baie ekonomies met woorde te werk en dit kan tot nadeel wees in ’n boek, waar jy meer byvoeglike naamwoorde [gebruik] en beskrywend moet skryf,” vertel hy.

Maar hy hou daarvan om te skryf en dít het nie verander nie. Hy skryf elke dag, sommige dae meer as ander, maar die dissipline van skryf is daar. Hy loop en broei nie op karakters nie, fokus eerder op die karakters wat in sy huidige boek figureer.

Idees vir sy karakters is te danke aan sy liefde vir lees. Lees en skryf is daagliks deel van sy dagtaak. Hy lees goed raak en stoor dit iewers in sy brein, tot hy met karakters begin en dan word alles aanmekaar gevleg. “My karakters is nie volledig as ek begin skryf nie. My eerste weergawe is net om die struktuur neer te pen. Daarna volg vier of vyf weergawes, veral as ek begin heen en weer met uitgewers. Die eerste weergawe het altyd gate wat jy probeer toestop.”

Chris vlieg Maandag na Johannesburg vir die Gauteng-bekendstelling van sy boek, voor hy huiswaarts keer. Ek wonder watter bestellings hy het om terug te neem Kanada toe. “My vrou het gevra vir blikkies vyekonfyt,” bely hy voor ons groet.

Uittreksels uit resensies

Frats is uiters leesbaar en toeganklik, maar nooit sonder eerbied aan die geskiedkundige waarhede waarop die boek gebaseer is nie. Die sterk, gestroopte vertelstyl onderstreep die skrywer se agtergrond as joernalis, en tog is dié boek soveel meer as blote verslaggewing: dis meevoerend, eg en inderdaad met gevoel en deernis geskryf.” – Jaybee Roux, Beeld (2007)

Opspraak deur moord is ’n boeiende boek wat enige leser se hare regop sal laat staan, en harte sal laat bons van nuuskierigheid oor wat volgende gaan gebeur.” – Llewellyn Prince, Die Burger (2008)

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top