Groot Afrikaanse Romanwedstryd: Commendatio – ’n Man van min belang

  • 2

Chris Karsten se manuskrip 'n Man van min belang het die tweede plek verower in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012. Die beoordelaars, Willie Burger, Louise Viljoen en Linda Rode, het dit beskryf as "’n verhaal wat die grense van die spanningsroman uitdagend en vernuwend oorskry".

’n Man van min belang met sy fassinerende karakters en wye verskeidenheid emosionele registers sentreer om ’n kil kern: die opsporing en identifisering van die beendere van geëkstermineerde politieke aktiviste gedurende ’n vorige politieke bedeling – ’n kwalik ontginde tema in Afrikaanse fiksie. Erns, ironie, humor en die burleske wissel mekaar moeiteloos af.

In dié hibriede roman, waarin op spore geloop word en dooies benoem word, staan kolonel Eddie Thom, die “ondervraer”, die “spesialis”, die “inkwisiteur”, sentraal. Hoewel na buite ’n man van min belang kon hy met die flits van sy duim oor lewe en dood beslis. Getrou aan die kernmotief van die verhaal speur Luca Thom as volwassene die spore na wat vir hom deur sy pa agtergelaat is toe hy in 1995 in ’n motorongeluk verkool het – volgens die geregtelike ondersoek. Onder hierdie spore tel ’n Coober Pedy-opaal wat net in ’n land bygenaamd Daar Onder ontgin word, en ’n sprokie wat sy pa destyds op band vertel het, met veelseggende afwykings van die oorspronklike teks.

Die kompleksiteit van skuld en die broosheid van boetedoening en vergiffenis word frappant belig in die roman. Hier is ’n morele outeur aan die werk: hy beskuldig nie, hy vel nie vonnisse nie, hy grawe oop en identifiseer. Die onus is op die leser.

Rondom die kerntema is ’n wye netwerk verhaallyne ineengevleg; verskeie kennisgebiede kom aan bod, netjies gevoeg binne die teksverband, onder meer musiek, veral Italiaanse operas, die geskiedenis van bokshelde, die antropologiese prosedures by opgrawings van menslike reste, ’n filosofiese sprokie van Goethe, en – les bes – wetenskaplike feite omtrent die sekslewe van die seepok, Balanus glandula.

Die leser word geboei deur karakters soos die joernalis Luther Roets, op die spoor van sy laaste storie; Mosman van die Taakspan vir Vermiste Persone wat die oortreders identifiseer nadat die beendere benoem is; Booger Thom, onvergeetlike grootmeester van die skrootwerf, versot op bokshelde van weleer en filmdivas uit die veertigerjare ... maar met sy eie doodgeswygde geheime; en laastens ’n byna mitiese vrouefiguur, Snowy Lamilami, wat ’n doodgewaande man deur sy laaste dae in ’n vreemde land begelei.

’n Man van min belang is ’n verhaal wat die grense van die spanningsroman uitdagend en vernuwend oorskry. Bowenal is dit een wat met menslikheid geskryf is.

 
Keer terug na die GAR–indeksblad.

  • 2

Kommentaar

  • Sopas klaargelees!!!  Van die bestes wat ek al gelees het ! Wonderlike Afrikaans, goed nagevors, objektief, leser moet self besluit,  Ek was spyt die boek is klaar. Regtig 'n puik boek!! Ek beveel dit  beslis aan! 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top