Die versoeking van Thomas Maas deur Chris Karsten: ’n resensie

  • 0

Die versoeking van Thomas Maas
Chris Karsten
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798181167

Die Maase is ’n hegte, talentvolle Randse gesin. Die hoof des huises, Thomas, is ’n sielkundige van aansien wat elke dag ná werk ’n spesiale tydjie saam met sy vrou Donna deurbring, en hulle drie kinders weet hulle mag nie daarop inbreuk maak nie. Daar is die agtienjarige tweeling Antonie en Patty en die laatlam Florie, wat perdrylesse vir haar tiende verjaardag kry. Antonie se ongeluk het die einde van sy droom as motorfietswedrenjaer beteken. Patty wy elke beskikbare sekonde aan haar klarinet en Florie leef vir perdry. Dan is daar nog hul oupa, wat ’n baie positiewe verhouding met sy kleinkinders het, maar aan demensie begin ly.

Met elke kind se situasie kan die skone Amalia Rojas, wat haar oog vanaf die eerste ontmoeting op Thomas het, meeleef. Sy is immers die skatryk Argentynse eienares van Florie se perdryskool. Weldra begin sy die lewe van die Maase deurmekaar krap, met Thomas alte gewillig. Die groter probleem is dat die twee partye verskillende opvattings en planne het.

Dan huur Donna, wat ’n tuisteskepper is, die jong Ella Neser om uit te vind wat aan die gang is. Ella is ’n kruis tussen die Britse strokiesprentheldin Modesty Blaise en Precious Ramotswe, privaatspeurder in die skrywer Alexander McCall Smith se Botswana.

Ella lyk dikwels vir haar kliënte lig in die broek, maar sy was vroeër ’n gedugte moordspeurder in die polisie en twyfelaars kom skoorvoetend terug nadat sy hulle na Google verwys het. Sy het steeds voormalige kollegas in die polisie wat haar taak vergemaklik, en veral andersom. Sy is nou terug as privaatspeurder ná ’n verposing op plesierbote in die Karibiese See. Haar storie kom al van vier speurromans gelede uit die bedrewe pen van Chris Karsten, oudjoernalis en misdaadnavorser.

Die verhaal, wat eers redelik naby die einde ’n lyk oplewer, begin agterstevoor wanneer Ella haar finale verslag vir Donna opstel. Sy weet nie eers of daar ’n moorddossier oopgemaak sal word nie, want dis nie seker of so ’n misdaad gepleeg is nie.

Soos dit gewoonlik met Karsten se karakters gaan, is hulle veelvlakkig, en weens sy deeglike navorsing leer die leser hierdie keer iets oor Alzheimer se siekte, paraplegie, lykskouings, Argentinië en sy musiek, maar veral oor erotomanie soos dit by Amalia manifesteer. Of ’n jong speurder soos Ella verbatim sou kon aanhaal uit Hamlet, wat toevallig ook die boek is wat Amalia Rojas op haar bedkassie het, is baie onwaarskynlik, maar dit gee belangrike konteks.

Wat seggingskrag betref, is die storie vintage Karsten. Wie anders sou die versuim in die uitkenning van die lyk met soveel galgehumor beskryf as hierdie bobaas woordsmid wie se nimlike patoloog, Dok Koster, "die onbetwiste lord van die staatslykshuis", sê: "[D]ie plek is vol, dis nie ’n losieshuis vir hawelose kadawers nie." En wanneer Ella in die uitvoering van haar opdrag Thomas as huweliksraadgewer raadpleeg en die rol speel van ’n vrou in haar liefde verlaat, is hy oënskynlik die antitese van ’n rokjagter: "Met ’n tissue teen die neus het sy haar storie uitgespin van die swart hond wat aan haar hakke hap oordat haar geliefde haar ingeruil het vir ’n blonde hokkiespeler met beswete dye." Maas, die man wat ander se probleme oplos, het "haar simpatiek aangekyk, asof sy oë sag in haar siel vroetel, sy vrae ligvoets rondom haar broosheid. Om die storie gelooflik te maak het sy biografiese bokkies ingeroer."

Die leser kry die eerste aanduiding van wat die skrywer "minnesiekte" noem (en ja, die probleem is blykbaar nie tot vroue beperk nie) wanneer Thomas ’n klandestiene besoek bring tydens ‘n sielkundekonferensie in die Kaap. Hy vermoed steeds nie dat hy homself in ’n letterlik dodelike web help vasspin nie. Sy mymerings, effe geforseerd terwyl hy wag, dwaal van die Griekse argitektuur van die gebou na die Helleense koning Antiochus wat met sy stiefma Stratonika getroud is omdat hy gevaar geloop het om van minnesiekte te sterf as sy pa hom nie sy sin gee nie. Dit blyk ’n vooruitskouing te wees van die problematiek wat wag.

Die verteller is alomteenwoordig met die gesigspunt wat wissel tussen Ella, Thomas, Donna en ten slotte Amalia. Dit klink of die stem van die skrywer te duidelik na vore kom wanneer genoem word dat Ella se voormalige mentor dit nie kan verdra as sy ondergeskiktes ’n "taal mix" nie. Dit klink darem net te onwaarskynlik dat iemand met die naam Silas Sauls daardeur gesteur sou word.

Nuutskeppings soos in die beskrywing van die stalbestuurder Themba wat "knikkebeen" loop weens ’n vroeëre besering en Amalia se kleresmaak wat darem net te "buitenissig" vir Ella is, werk verfrissend.

Net ’n skrywer van Karsten se kaliber wat die speurroman tot in sy binnegoed ken, kan die elemente daarvan met soveel sukses agterstevoor inspan en omdop. Hy gebruik intertekstuele verwysings na die verhale van Hamlet, Fatal attraction en Madame Butterfly om ooreenkomste tussen Amalia en Ophelia, Alex Forrest en Cio-Cio-san se dryfvere aan te toon, terwyl Thomas soos Hamlet, Dan Gallagher en kolonel Pinkerton ’n totaal ander perspektief op hul verhoudings met hierdie vroue huldig.

Die verhaal het onmiskenbare postmodernistiese kenmerke sonder om geladenheid en leesbaarheid in te boet. Amalia is die antagonis, maar ’n moontlike scenario vir die einde laat skeidslyne verdof. Die feit dat die boek se tematiese stelling deur Lou Pepler, Ella se kêrel en klankbord, pittig op ’n skinkbord aangebied word, naamlik dat los seks (of "slenterseks" soos Karsten dit noem) gevaarlik is, beteken nie dat alle los drade uiteindelik netjies vasgebind word nie. Inteendeel.

Al word lesers gelei om te dink hulle weet presies wie die moord gepleeg het, wag ’n mens in spanning op die ontmaskering. Tog kom die verwagte skuldenaar nie na vore nie en jy begin twyfel of dit ooit so gebeur het. Dit maak van Die versoeking van Thomas Maas ’n veelvlakkige, tergende en verrassende sielkundige roman.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top