Resensie: Die respektabele Meneer Hartslief deur Chris Karsten

  • 0

Die respektabele Meneer Hartslief
Chris Karsten
NB-Uitgewers
ISBN:
9780798167840

Chris Karsten is ongetwyfeld een van Suid-Afrika se mees bekwame misdaadskrywers. Hy voldoen nie net aan die vereistes van dié genre nie, hy draai dit op sy kop. Hy speel met taal, struktuur, verhaallyne, aanbieding, parodie. Sy karakters is genuanseerd en interessant; hy bou spanning meesterlik op en verweef en beheer verskeie verhaallyne vernuftig. En dan is daar die magdom navorsing! Karsten erken in onderhoude dat hy gewoonlik vier maande slegs navorsing doen voordat hy met ’n roman begin. In al sy misdaadromans vind die leser ’n magdom interessanthede: daar is inligting oor skoenlappers, sterrekunde, Paganini, Amerikaanse hommelaanvalle, Middeleeuse argitektuur, die saksofoon, “sexting”, kuberboelies, forensiese oudits, die fedorahoed – noem maar op. Karsten verlei die leser verder met ’n spel tussen poëtiese beskrywings en die gruwel van die misdaad. Thys Human wys daarop dat Karsten die grense tussen ontspanningsleesstof en letterkunde uitdaag en verskuif: “Sy taalgebruik is keurig en toon respek vir sy leser. Hy doen moeite om sy karakters veelvlakkig en elk met sy eie mankemente uit te beeld.”

Benewens misdaadfiksie het Chris Karsten egter ook heelwat jeugboeke, ’n biografie van Charlize Theron en boeke oor ware misdaad in Suid-Afrika geskryf. Hy wen in 1985 die Sanlamprys vir jeuglektuur: silwer vir Floris sapiens. Sy debuutroman oor Saartjie Baartman, Frats, word in 2008 met die ATKV-prosaprys bekroon. Petra Müller sê in haar resensie van Frats op Fine Music Radio dat Karsten met sy debuutroman ’n “waagmoedige ding” gedoen het: “[H]y konstrueer ’n aangrypende roman waarin Saartjie Baartman se gevoelslewe as objekgeworde vrou-mens die hartklop van die boek word.” Abel se ontwaking verwerf in 2011 beide die ATKV-prys vir spanningslektuur en die ATKV-prosaprys. Met ’n Man van min belang wen hy die tweede prys in NB-Uitgewers se Groot Romankompetisie in 2012.

Karsten se nuutste misdaadroman, wat einde verlede jaar verskyn het, heet Die respektabele meneer Hartslief. Van dié roman sê Deborah Steinmair in haar resensie: “Chris Karsten is op volle vaart. Sy jongste spanningsroman vleg soos ’n rubberboot tussen stroomversnellings deur. Dit is pure adrenalien, witwater en oopkeelvreugde. Dit is tong in die kies en dodelik spannend.”

Ontmoet die Hartslief-clan – in hulle eie woorde soms ’n spul “flentergatte”. In Brixton se Dip het Antie Engel, die moeder en versorger van die spul, haar eie vier kinders en broerskinders grootgemaak. Sy bedryf die plaaslike sopkombuis en het waarskuwende drome oor onheil en dood. Haar eie kinders, die Lerm-span, bestaan uit Boela, die blokman en “spiere” van die groep, Moks, die gay kok wat ’n voorliefde vir daggakoekies het, Sampie, die klein mens – want hy wil g’n ’n “dwerg” genoem word nie – en die beeldskone ­Lottie, kelnerin met drome van model word. Meneer Hartslief van die titel, Eli, is die familiehoof, die leier van die clan. Hy het homself as jong bankier opgewerk na die blink geldwêreld van Sandton. Hy is ambisieus, intelligent, honger vir sukses, maar ook die finansiële versorger van die clan. Hy ondersteun Antie Engel se sopkombuis, betaal vir Lottie se modelklasse, Moks se sjefskool, en Poppie se gimnastiekopleiding. Poppie Hartslief is die jongste van die klomp; sy is 16 jaar oud, onskuldig-mooi en goed op pad om ‘n Suid-Afrikaanse se gimnastiekkampioen te word. Laastens is daar die sagmoedige Basie, wat betrokke raak by die minnares van die King of Sleaze, die Romeense nagklubeienaar Bogdan Petrescu.

En net hier ontspoor alles. Meneer P duld nie ’n gekafoefel met sy meisies nie en laat kom die loodgieter, wat sy vuilwerk vir hom doen. Koebaai Basie. Die ondersoek na Basie se dood sloer. Inspekteur Kolise maak nie vordering nie; elke keer wat Eli gaan navraag doen, is Basie se lêer dikker van die stof en dunner van antwoorde. Kolise haal bloot Sherlock Holmes aan – terwyl hy self allesbehalwe ’n Holmes is.

Die luitenant se bewondering vir Holmes maak Eli Hartslief egter nuuskierig, en na ’n bietjie navorsing op die internet kom hy af op die volgende Sherlock-aanhaling uit “Die avontuur van Charles Augustus Milverton”: “Ek dink daar is sekere misdade waaraan die wet nie kan raak nie, en wat daarom, in sekere mate, private vergelding regverdig.” Hiermee die leitmotief vir die roman: Eli en die res van die clan word self ’n kollektiewe Sherlock Holmes. Hulle volg leidrade soos selfoonrekords en die paar lang, swart hare wat op Basie se liggaam gevind is, op. En hulle verkry uiteindelik wel hulle private vergelding, maar nie sonder duur betaling nie.

Chris Karsten se wenresep in Die respektabele meneer Hartslief is dat hy weer eens genuanseerde karakters skep waarmee die gewone leser kan identifiseer. Die Hartslief-clan kom byvoorbeeld gereeld oor Sondagmiddagete bymekaar om die vordering van hulle ondersoek na Basie se moord te bespreek. Hierdie Sondagmiddagtafereel is vir enige Suid-Afrikaner intens herkenbaar. Karstens boor ’n aar raak wat diep in die kollektiewe geheue van sy Suid-Afrikaanse leser loop, iets wat jy ook by ander kunstenaars teëkom. Onlangs lees ek ’n artikel in The Guardian oor die kunstenaar Marlene Duma waarin sy praat oor haar jeugjare in Suid-Afrika en sê: “The family was Afrikaans-speaking, gregarious and loud. I didn’t want to leave them at all. When I moved to the Netherlands, I missed Sundays, which was when we would really argue and discuss things. We knew we cared for one another, so you could lose your temper and it didn’t matter.” Hoe kan Karsten se Suid-Afrikaanse leser dan anders as om met die Hartslief-clan empatie te hê? Hoe kan ons nié emosioneel belê by hulle nie?

As teenpool vir die Hartslief-clan skep Karsten die loodgieter, oftewel Lood. Deborah Steinmair noem hom ’n “booswig waarin ’n mens jou tande kan slaan – ’n man van substansie”. Lood is ’n komplekse karakter. Hy rook die een Lucky Strike na die ander, maar drink slegs rooibostee. Hy het ’n groot liefde vir sy fedora en is pynlik netjies daarop, maar op die plasie waarop hy woon, is die verweer duidelik sigbaar. Hy verduur erge pyn vanweë ’n kniebesering, maar voel g’n duit vir sy slagoffers nie. Hy het ’n liefde vir jazz, ken sy saksofoon en het ’n groot versameling saksofoonmusiek. Hy speel saans op die stoep saksofoon vir sy honde en daarom is sy lippe chronies droog en is daar ’n trekking om sy mondhoeke. Sy mondspiere is inderwaarheid so goed ontwikkel dat daar volgens Cas van Rensburg ’n ouderdomsbeperking moet wees op die grusame toneel waarin hy hierdie mondspiere vir sy “werk” aan ’n karakter inspan. Die hoeveelheid navorsing oor die fedora, mondspiere, saksofoon en saksofoonmusiek gee diepte aan Lood as karakter. Hy word meer as ’n blote booswig, ’n psigopaat. Hy word ook musiekliefhebber, diereliefhebber, enkeling. Die leser wonder teen die einde van die verhaal wat met hom gebeur, of hy weer in ’n volgende boek gaan opduik.

Karsten was voorheen ’n joernalis en het intensiewe navorsing vir sy Ware Misdaad-reeks gedoen. In ’n onderhoud met Sarie sê hy: “Ek het altyd probeer om ’n klein bietjie insig te gee aan die kant van die oortreder, die moordenaar: waar kom hy vandaan, is dit moontlik dat hy so iets kon doen om iemand se lewe te neem? Ek het ook nie die slagoffer se kant gekies nie. Die ou was dalk ’n slagoffer van die omstandighede waarin hy grootgeword het of die omstandighede van die land het hom gedryf om so iets te doen. Dis nie vir my om te oordeel nie. […] Wanneer jy op ’n joernalistieke vlak oor misdaad skryf, beweeg jy op ’n horisontale vlak; jy gee die feite weer en kry die mededelings en skryf dit. Die oomblik as jy fiksie begin skryf, moet jy dieper delf. Dan begin jy meer agterkom hoe mense se koppe werk; jy moet motiewe gee; jou fiktiewe karakters moet persoonlikhede word …” Karsten se booswigte, karakters soos Lood en Abel Lotz, word dikwels vir die leser meer onvergeetlik as die speurder, juis vanweë sy enorme kennis en insig in die gemoedslewe van ’n psigopaat, sy simpatie en begrip.

Joan Hambidge wys in haar blog daarop dat ’n mens Die respektabele Meneer Hartslief ook as ’n parodie moet benader: “Parodie nie in die sin van send-up of grap nie, maar as teks wat al die kenmerke en stylfigure van die misdaadroman wil uitlig op ’n self-bewuste manier.” Sy maak die ooreenkoms tussen die Hartslief-clan van Brixton versus die King of Sleaze en Francis Ford Coppola se Godfather-films, waar die rol van die familie en die Rooms-Katolieke Kerk in opposisie geplaas word met geldgierigheid en boosheid. In Die respektabele meneer Hartslief boet nie net Petrescu vir geldgierigheid nie; in die Hartslief-clan se omstandighede vind ons ook suggestie van betaling vir finansiële gewin. Dit is immers deur Eli Hartslief se ambisie, sy obsessie met geldelike sukses, dat hy by magte is om hoegenaamd teen Meneer P in opstand te kom – wat direkte gevolge vir hom en sy familie het. Die onus val op hom om orde te herstel na die dood van sy broer – baie soos die geval is in The Godfather. Hambidge sê dat Karsten ’n roman skryf wat “die struktuur van die misdaadroman blootlê” en kommentaar lewer op “ons huidige geslag lesers se obsessie met speur- en misdaadverhale”. In die misdaadroman word die leser amper 'n medepligtige; die leser dien as 'n getuie van die moord, verstaan hoe die misdadiger se kop werk en bevind hom partykeer selfs teen die speurder gekant. Maar hier is die speurder nie ’n randfiguur nie, dit is ’n groep waarmee die leser óók sterk identifiseer. Die leser se obsessie met misdaadverhale word gekoppel aan ’n obsessie om te sien dat persoonlike vergelding gebeur.

In aansluiting hierby kan die omstandighede rondom Poppie betrek word: Petrescu wil Eli persoonlik te na kom en fokus daarom op Poppie. Sy is ’n maklike prooi: ons samelewing is immers ook obsessief oor tegnologie en sosiale media, en “sexting” (waar eksplisiete video’s van kinders op sosiale media geplaas word) kom algemeen voor by ’n jeug wat misdaad dikwels as “prank” of poets beskou. Die impak van moderne tegnologie en hoe foto’s op sosiale media iemand se privaatheid binnedring, word hier uitstekend beskryf. Karsten se navorsing daaroor is indrukwekkend. Loop jy op sy spoor na en lees byvoorbeeld Nina Burleigh se artikel “Sexting, Shame and Suicide: A shocking tale of sexual assault in the Digital Age” wat op 26 September 2013 in Rolling Stone verskyn het en wat Karsten in die roman aanhaal, open dit ’n hele nuwe misdaadwêreld vir jou – een waarin werklikheid beslis vreemder en meer angswekkend as fiksie is.

Dít is natuurlik Karsten se krag: hy open wêrelde vir jou met sy deurdagte navorsing en intertekstuele verwysings – sonder om ooit uit die oog te verloor dat die misdaadroman eerstens “vermaaklik” moet wees: dit moet die leser wegvoer uit sy eie gebroke wêreld na een waar booswigte wel aan die pen ry, waar daar juis vergelding is, waar geregtigheid geskied. Karsten betrek humor as teenwig vir ontstellende onderwerpe soos “sexting”, tienerselfmoorde, gruwelmisdade. Die tong-in-die-kies titel van hierdie misdaadroman is bewys daarvan.

Hambidge wys verder daarop dat die naamgewing in Die respektabele Meneer Harstlief so reg in die kraal van Vladimir Propp se Morphology of the folktale (1928/1958) is, want karakters in volks- of feëverhale het meestal name wat beskrywend is. Vergelyk maar Antie Engel (versorger van talle), Moks (die kok), Dot (van wie se naam Eli ’n tatoeëermerk op sy lyf het), Poppie (die onskuldige, naïewe kind), Boela (’n boel spiere), Lood (die loodgieter wat Petrescu se vuilwerk doen), en Petrescu self, King of Sleaze (’n man wat daarop roem dat hy ’n afstammeling van Vlad die deurboorder is). Karsten se spel in Die respektabele meneer Harstlief is dus ook met die volksverhaal. Die nostalgiese teruggryp in ’n kollektiewe identiteit van die Suid-Afrikaner (vergelyk maar die Sondagmiddagetes, die ambisie en werkywer van ’n arm, onderdrukte werkersklas, die sterk bande tussen uitgebreide familie en die gemeenskap) onderstreep dit.

Oor hierdie roman sluit Steinmair haar resensie só af: “’n Mens verloor jou in Karsten se wêreld waar skobbejakke onnoembare wreedhede pleeg, maar hul innerlike dialoog in uitnemende Afrikaans voer. ’n Mens verlekker jou in sy geil verbeelding en verstommende taalvaardigheid.”

Die respektabele meneer Hartslief is ’n vernuftige spel met genrereëls, taal, parodie, die leser se nostalgiese verlede en fyn humor. Daarom sal dit ’n leesplesier vir ’n groter gehoor as slegs lesers van die misdaadroman wees.Chris Karsten bewys met dié roman onteenseglik sy virtuositeit as misdaadskrywer.

Hierdie resensie is oorspronklik op Fine Music Radio uitgesaai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top