Gerugte van ’n ontvoering deur Chris Karsten, ’n lesersindruk

  • 2

Titel: Gerugte van ’n ontvoering
Skrywer: Chris Karsten
ISBN: 9780798182393
Epub ISBN: 9780798182409
Uitgewer: Human & Rousseau

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die kort beskrywing aanlyn oor die boek lui as volg:

“Wanneer Harry asemskep tussen sy omswerwinge deur Afrika, kom kuier hy by sy geliefde ma in Johannesburg. Gusta is veral na aan sy hart ná sy pa haar vir ’n jonger pop gelos het. Gelukkig weet Harry sy is veilig daar bo in haar luukse penthouse in Ponte Towers.

“Teen die tyd dat Harry in Oos-Afrika opgespoor word, is sy ma al dae lank dood. Harry kry die reuk van ’n groot gekonkel. Nie eens daai parmantige Ella Neser gaan hom keer nie.

“Nog ’n hoogtepunt in Chris Karsten se Ella Neser-oeuvre.”

Maar dít kan onmoontlik die diepte van die storielyn en karakters weergee. Ek verkies die stofomslag se langer beskrywing, wat verwys na die eensaamheid van ’n vrou deur man en kind verlaat; die enigste seun wat as huursoldaat werk ná ’n liefdesteleurstelling; die vrae wat selfdood ontlok by dié wat agterbly. En natuurlik die raaisel waarop hierdie hele boek gebou is: Is iemand vermoor; is iemand ontvoer; is die kunswerk eg; is Ella opgewasse vir die rol van mediator; en gaan die bose aan die einde oor die goeie oorwin?

Dat Chris Karsten nou behoorlik in sy vel as misdaadskrywer ingegroei het, is gewis. Nie alleen gooi hy die verhaal heeltemal onderstebo met die verdagte wat die heeltyd aan Ella Neser bekend is nie, maar hy begin ook die boek met ’n hartroerende verhaal van ’n skilder uit die laat 1400’s gegrond op die skilder Jan van Eyck. Hy skets hoe die kunswerk, Jong vrou met boek, bykans 600 jaar later ’n reeks lyke in haar spore agterlaat. Sommige besef haar finansiële waarde, maar vir Harry Grimbeek is dit die sentimentele waarde wat hom tot moordgedagtes en ontvoering dryf.

Chris se karakters is goed ontgin – net genoeg om konteks en diepte te gee sonder om te veel kollig op sommige te plaas en die ander in die skaduwees te laat kwyn. Soms verloor skrywers en hul redakteurs hier en daar tred met elke karakter se presiese gewoonte of verwysing, maar met Chris kan nie in hierdie opsig fout gevind word nie.

Chris het ’n dekade terug in ’n onderhoud aan my gesê dat hy in al sy boeke poog om uit verskillende oogpunte te skryf, om te wys dat selfs die grootste booswig tog diep binne-in wel menslik is. In hierdie boek slaag hy weer meesterlik daarin. Maak nie saak hoe diep Harry se wraak loop nie, daar bly ’n simpatie by die leser, omdat die karakter bekend is; sy diepste gedagtes en versugtinge met die leser gedeel word.

Deborah Steinmair skryf in ’n resensie oor een van sy vorige boeke: “Sy karakters is duidelik omlyn, lekker aweregs en met ’n vrygewige skeut eksentrisme ...” Harry Grimbeek is beslis duidelik omlyn en met ’n reusesierboog aweregs van ’n ander wêreld. Hy duld nie ompaaie of oppervlakkigheid nie, maar verdra baie van die mense wat hy liefhet.

Soms is Chris se beskrywing van ’n emosie of herinnering só sag en teer dat jy amper nie kan glo die volgende kru marteldaad van die hoofkarakter en sy trawante kom uit dieselfde siel se skrywerspen nie.

Die eerste hoofstuk oor die vallende vrou en die Parca – die vroulike personifikasies van die noodlot uit die Romeinse mitologie – wat aankom om Gusta se dood te aanskou, is treffend.

Chris gesels in die boek se aanlyn bespreking en sê hy wou die drie skikgodinne wat in elke mens se lewe voorkom (die een wat die draad van die lewe weef; die een wat die draad van elke mens se lewe met ’n maatstok meet; en die een wat die lewensdraad sny) inbring om weg te beweeg van die gewone. Dié eerste paar bladsye lok die leser in na die hoofstorie, maar word dan gevolg deur die liefdesverhaal oor die skilder, en eers op bladsy 31 keer die verhaal terug na Gusta se dood en hoekom dié skildery sentraal tot die storie is.

In verskeie resensies word hy geloof vir sy navorsing – “omvattend en onberispelik” noem Thys Human dit. JB Roux noem hom “’n meester van die woord en van sy vak”.

Net soos in sy vorige boeke is daar geen moeite ontsien om die bevindinge van ’n pataloog in leketaal te verduidelik nie. Maar nooit vervelig of langdradig nie. Net genoeg om te verduidelik dat alles verklaarbaar is; dat goeie speurwerk sy aan sy stap met die wetenskap; dat die dooie meer kan vertel as wat dié wat hul lewensdraad geknip het, sou wou hê.

Lof vir sy taalgebruik is daar ook baie. Van dié wat my opgeval het – en genoop het om oortjies in my boek se blaaie te vou – is beskrywings soos “voorhuilers” – die mense wat droewig ween by ’n begrafnis of roudiens, maar net vir aandag daar is; of die ongeskeerde Harry wat die begrafnisondernemer beskryf as ’n “ongeskraapte harder”.

Of: “Hy skrik wakker. Helder soos ’n geelvink met rooidag.”

Daar is ’n hele paar verwysings na psigose; selfdoodneigings; Ella se kêrel wat sampioene rook om van sy verlede te vergeet – hy noem dit sy “reis in die haasgat in”. “Hy jaag die wit haas,” soos Ella verduidelik as hy op sy acid trips gaan.

Chris se paragrawe oor alleenheid en eensaamheid: die vertroosting van eensaamte (“dis behaaglik”), hoe moeilik dit is om mense uit jou spasies te hou “sodat jy jou kan oorgee aan die genot van alleenwees”, geskryf deur iemand wat daardie gevoel verstaan.

Hy bewys weer dat hy iemand is wat die lewe waarneem en op die regte plek op die bladsy daardie waarnemings neerpen en die leser wegvoer: “[H]y kyk deur die oop vensters na die sfumato van kleure wat min kunstenaars die natuur kan nadoen: die ondergaande son wat die blou hemel kleur in rooi en oranje en ligte geel waar dit stadig versmelt in ’n see persblou jakarandas. Hy drink sy bier en onthou die laaste keer toe hy en sy ma saam hier gestaan het. Daar was ’n skynsel van kleure op haar gesig asof ’n kwas besig was om haar op ’n verfdoek te verewig, met perfekte skakerings en skaduwees vir haar vel en mond en wange en neus en hare.”

Dis egter François Bloemhof se woorde: “... daarmee saam natuurlik Chris se skryfstyl; hy sou selfs ’n telefoongids boeiend kon aanbied,” waarmee ek my die meeste vereenselwig.

Gerugte van ’n ontvoering beweeg weg van die gedetailleerde moord- en verminkingstonele kenmerkend van hierdie genre – selfs ook van die vreeslikhede wat Abel Lotz kon aanvang – maar neem nie ’n snars weg van die spanning wat die verhaal bied nie. Dis beslis een van Karsten se heel bestes nog.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top