Die Ware Moord-reeks: 'n Voyeuristiese blik wat die psige aangryp

  • 0
Skrywer: Chris Karsten
Uitgewer: Human & Rousseau
Junie 2007
Bladsye: 144
Formaat: Sagteband
Prys: R110 

Die ganse mensdom, selfs die duifie sonder gal wat geen vlieg skade aandoen nie, het skynbaaar ‘n morbiede belangstelling in ware moord. Ons wil presies weet waar en hoeveel keer het die jaloerse minnaar sy beeldskone vriendin met die steakmes of ornamentele hamer bygekom, hoe hoog het die bloed gespat, hoe ver het sy gekruip, hoe lank het sy gebloei; meer nog: na watter TV-program het hulle gesit en kyk toe hulle aan die stry geraak het, watter kos het onaangeraak in hul borde gestol?

Die twee boeke in die Ware Moord-reeks, Opspraak deur Moord en Riller in die Raaisel, bied presies die voyeuristiese blik waarna die volk smag op sommige van die moorde wat ons nasionale psige aangegryp het. In hierdie boeke paradeer ‘n hele koor Antjie Somerse, Casanovas, femme fatales, sadistiese minaars, patologiese wreedaards en verminkte lyke op ‘n produksieband verby slagoffers soos die stomme Marike, die eensame, tango-dansende eks van die ekspremier, die engelkoor meestal blonde skooldogters wat weggetoor is deur die Vark van Capital Park, Gert van Rooyen (onder sy familie bekend as “Bokkie”), die mooi seuns wat afgemaai is in die Sizzlers-slagting; konkelaars soos die smeulende Italiaanse skoonheid Sonia Swanepoel en die glimlaggende Frans Vontsteen met swartraambril en seunsagtige sjarme, Milnerton se kruisboogmoordenares wat onlangs weer op vrye voet beland het, die bloedjong Marlene Lehnberg, skêr in die hand, en vele meer.

Die skrywer, Chris Karsten, is ‘n joernalis en weet hoe om ‘n storie aanmekaar te timmer. Daar is geen opspraakwekkende nuwe materiaal of insigte nie; ou moordstories word in die mikrogolf opgewarm en met ‘n sousie opgedis: dis warm en geurig, maar nie heeltemal vullend nie. ‘n Mens kry die gevoel hierdie boeke is haastig saamgeflans (miskien toe Tafelberg se taalversorger vir die langnaweek weg was?). Sinne soos die volgende het deurgeglip: “Buitendien hy ken iemand op Wolesley, vir oornag.”

Die omslae is in die tradisionele poniepers-kleure: swart, wit en rooi. Daar is ‘n dramatiese slagtersblokmes in voorafverkorting en die skaduwee van ‘n lang, skerp mes wat agter iemand se rug huiwer. Die boeke kom ook hul belofte van poniepers-leesgenot na: uitasem sensasie versag deur die skyn van karakterontleding en ‘n sweempie sielkundige analise. Die skrywer vind telkens een of ander hoek om die gru-drama aan te hang, hy berei die verhoog voor sodat die gebeure meer persoonlik en aangrypend in ons kop kom nesmaak. Baie daarvan is natuurlik bespiegeling en borduurwerk.

Die hoofstukke het dramatiese strooilektuur-titels soos “Bloeityd in die Hantam” en “Casanova ontmoet die Laksman”. Blokke teks word verteerbaar opgebreek deur foto’s van moordenaars en slagoffers en skokkende, vetgedrukte aanhalings soos in koerantberigte.

Ek het hierdie boeke in een sitting, vraatsig, verslind en daarna snobisties in die laai weggebêre. Ek sou nie graag iets wou oorkom en miskien onthou word met die volgende paragrafie in die nuwe Boeke-Insig nie: “Op die bedkassie van die sukkelende digter van Kaapstad was die twee boeke in die Ware Misdaad-reeks: Opspraak deur Moord en Riller in die Raaisel."

Nogtans kan ek hierdie boeke hoog aanbeveel as lughawe- of etensuur-leesstof: hulle is eenvoudig onweerstaanbaar boeiend, soos die dofgevatte Huisgenoot waarna almal gryp in die dokter se spreekkamer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top