Man uit die dode deur Chris Karsten: ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Man uit die dode
Skrywer: Chris Karsten
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 978-0-7981-8163-1

Ek moet uit die staanspoor bieg: Die voormalige joernalis met sy ellelange lys toekennings van spanningslektuur, Chris Karsten, is my gunsteling- Afrikaanse skrywer. Sy debuutriller, Seisoen van sonde, wat in 2010 met die ATKV-Woordveertjie vir spanningsromans bekroon is, was die eerste boek wat ek uit sy pen gelees het. Sedertdien versamel ek sy Ella Neser-romans. Dus was dit vir my ’n teleurstelling om te sien dat die krimi wat hy oorspronklik as ’n vervolgverhaal vir Netwerk24 geskryf het, slegs 122 bladsye beslaan! Máár, aangesien dit Kersdag was en ek eers met die kinders en later met vroulief tyd moes spandeer, was Man uit die dode die ideale Kersgeskenk.

Ek word op die agterblad verras deur twee elemente: Eerstens speel die krimi af in Osspruit, ’n klein dorpie in Mpumalanga. Ek moes Osspruit google. Tweedens dreig COVID-19 om die land tot stilstand te ruk en dit skep die perfekte klimaat om 2020 mee af te sluit.

Die boosdoener is ’n Italianer genaamd Tony Acido, en kenmerkend aan skurke in die Ella Neser-romans is hy wreedaardig boos en duiwelslu. Tony se steenkoolvragmotors loop 24/7 en verkrummel die dorp se teerstrate. Die inwoners teken protes aan, maar die burgemeester is doof vir hul klagtes. Januarie se straatbetogings spoel met felheid oor na Februarie en kos Tony en sy vennote miljoene rande.

Op Maandag 23 Maart kondig die Staatspresident die 21 dae inperking af. Net die volgende dag verdwyn die eerste belhamel en die dag daarna die tweede een. Na die derde belhamel verdwyn, word Ella genader om ’n privaat ondersoek van stapel te stuur. Ons weet uiteraard dat dit nie die laaste persoon is wat gaan verdwyn nie en dat die moontlikheid bestaan dat Ella self kan verdwyn. Sy dra immers ’n letsels as bewysstuk dat Chris se heldin nie aldag ongedeerd wegloop nie.

Man uit die dode is vol kleurvolle karakters, waarvan Cornelius en die Deysel-gesin my gunstelinge is. Ek sou egter meer van die oudspeurder Lou Pepler, wat ek in Die verdwyning van Billy Katz ontmoet het, wou lees.

Chris se verhaaltempo is vinniger as wat Quinton de Kock in kitskrieket kolf, sy taalgebruik suiwer en sy storielyn sekuur. Net voor die klimaks spring daar egter ’n kisduiweltjie uit wat ek nie sien kom het nie.

Die laaste keer dat ’n dun krimi my soveel genot verskaf het, was Deon Meyer se Die vrou in die blou mantel. Tog moet ek erken: Ek het gemengde gevoelens oor die dun krimi. Aan die een kant voel ek gekul omdat Chris my altyd wegvoer met ’n speurtog wat my ’n dag of twee laat vergeet van ons huidige hoë misdaadsyfer, en aan die ander kant sou ek graag ’n bundel van sy speurverhale wou lees.

Vir R220 is Man uit die dode die ideale geskenk ongeag die seisoen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top