Wenner: Chris Karsten vir Op pad na Moormansgat (Human & Rousseau)
Commendatio: Beer Adriaanse
In die huidige filmlandskap, met immer krimpende begrotings, skrywersgildes wat staak en gehore wat soos vlieë om superheldflieks saamkoek, word jy summier uit die gebou gejaag as jy ’n geskiedkundige film voorlê. Geen studiobaas of vervaardiger wil geld bestee aan ’n genre wat soos huiswerk voel nie. En tog verskyn daar hierdie jaar ’n film soos Oppenheimer oor die oploop na die eerste atoombom, én die plaaslik vervaardigde reeks Shaka: Ilembe, oor die aanloop na een van Suid-Afrika se mees legendariese historiese leiers. Albei uiters suksesvol. Die lokprent vir Ridley Scott se nuwe film oor Napoleon is ook besig om opslae te maak. Daar is ’n baie goeie rede waarom skrywers en filmmakers hulle juis na die geskiedenis wend. In die warboel van die hede, veral ons huidige hede, is dit dikwels die verlede wat vir ons die weg kan aanwys.
Midde hierdie landskap publiseer Chris Karsten Op pad na Moormansgat. Anders as vele ander boeke oor die Anglo-Boereoorlog en wrede konsentrasiekampe, sleep Moormansgat jou in ’n intrige in met iets anders as ’n wapperende Vierkleur op die hart.
Dit begin klein. Helena, ’n jong vrou met ’n verskriklike agtergrond, soek die verlore legkaartstukkies van haar lewe. Haar pa was Billy Foster, leier van die berugte Foster-bende wat in 1914 ’n bloedspoor deur Suid-Afrika getrap het. Die verhaal van ’n gelukkige en geliefde seun wat so ’n nare draai neem, is filmgoud en sal vir enige akteur ’n rol van ’n leeftyd bied. ’n Verhaal wat reeds al die bestanddele vir ’n spanningsvolle boek én film bied, is egter nie genoeg vir Karsten nie. Soos die kraai vlieg trek Moormansgat ons oor tyd en plek om ’n reliëfbeeld van ’n uiters plofbare tyd in Suid-Afrika uit te beeld. In swiep en omvang het ons hier te make met oorlog, politiek, misdaad en selfs groter sosiologiese onderstrominge. Karsten is egter nie net ’n kraai wat vlieg nie, maar ’n jagter, wat sy karakters se spore oor berge en dale bekruip en van naderby bestudeer.
Deur eerstepersoonsvertellings, dagboekinskrywings, nuusberigte en ander tasbare immersies dompel Karsten ons keer op keer naby die brandpunt van gebeure. Ons voel hoe die geskiedenis lewe. Hoe magte buite die karakters se beheer hulle rondslinger en uitwerp. Hoe dit in hul derms voel. Die kleurryke en uiteenlopende akteurs dra elkeen slegs ’n klein stukkie van die storie, en tog vorm al die stukkies saam ’n veerkragtige verhaal en ’n geheelbeeld van ’n universele tema: ons verweefdheid as mense. Al raak lesers hoe ingesuig in die verskeie vertellings is mens deurlopend bewus van die oorhoofse spanningslyn – dat Billy Foster en Koos de la Rey se verhale noodlottig gaan bots en dat Suid-Afrika nooit weer dieselfde gaan wees nie. Dit maak die roman geweldig meesleurend en dit kan filmies kers vashou by reekse soos The Crown of Babylon Berlin.
Die fyn besonderhede wat Karsten hier verf, bied enorme potensiaal vir ’n film- of televisieverwerking. Buiten die beskrywings wat speels met die taal omgaan, maak sy landkaarte, foto’s en karaktersketse van Moormansgat reeds ’n tipe filmbybel met uitstaande dialoog. Akteurs sal vuisslaan om karakters soos Nonnie de la Rey (in haar gebroke Afrikaans), Tapiwa Mahlangu, met sy droë humorsin, of die stokstywe Isak Heyns te vertolk.
Ons is bewus van die finansiële eise van ons tyd, en die uitwerking wat dit op die Suid-Afrikaanse filmbedryf het. Ons is eweneens bewus van die groter dinamiek van die televisiemedium, veral waar Op pad na Moormansgatgenoeg verweefde verhaallyne het, en in diverse tydvakke afspeel, om van mekaar losgemaak te word en oor twee of drie televisieseisoene vertel te word. Met Britse/Engelse kernkarakters is ’n Britse koproduksie ook moontlik. Op pad na Moormansgat sal ’n baie groot kykgehoor kan haak. Soos al die beste historiese verhale, verhelder dit ons verstaan van die hede.
Tussen die Foster-bende – gewapen tot die tande en vasgekeer in ’n grot – en generaal De la Rey, wat sy karige kommando’s teen ’n magtige empire saamtrek, is ons volledig in John Ford se vallei. In Op pad na Moormansgat het Helena, ons jong heldin, ’n kinderlike voorwete van groot onheil wat wag. Die verlede is dringend, en soos in PT Anderson se There will be blood en selfs iets van ons geliefde Arende, drom dit hier om die retina saam.
Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2023.
Lees ook:
Die geskiedenis word lewendig in Chris Karsten se Op pad na Moormansgat