Koms van die motman: ’n onderhoud met Chris Karsten

  • 0

Koms van die motman
Chris Karsten

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176224

Skrywers oor hul nuwe boeke: Chris Karsten gesels met Naomi Meyer oor sy boek Koms van die motman.

Chris, baie geluk met Koms van die motman! Ek wil jou boek beskryf as ’n letterkundige spanningsroman, want jy trek die leser binne met ’n interessante karakterstudie van een van die prominente karakters in die boek voordat die cliffhanger aan die einde van ’n vroeë hoofstuk aankondig wat die leser benoud gaan maak. Wat is vir jou die belangrikste in die storie: karakter of plot? Of iets anders?

In die krimigenre gaan alles (ten minste soos ek dit sien en ek en my karakters dit uitleef) oor goed en kwaad, waarheid en onwaarheid, held en skurk, karakter en plot. Al hierdie elemente is vir my onskeibaar soos pap en melk. Ek hou veral van karakters (slegtes én goeies) wat nie heeltemal heel is nie en die storie dryf met optredes wat konflik skep. En sulke botsende gedrag, gemotiveer deur innerlike en/of uiterlike wroegings, lê tog in die hart van elke spanningsverhaal.

Kan jy die storie van Koms van die motman kortliks opsom? Of vertel watter raaisel(s) opgelos moet word?

In hierdie sesde boek waarin speurder Ella Neser verskyn, het sy geen moord om op te los nie. Toe sy in matriek was, is haar polisieman-pa so ernstig in ’n skietery gewond dat hy sedertdien in ’n koma is. Koms van die motman handel oor Ella se speurtog na die waarheid oor wat presies destyds gebeur het. En tipies van haar aard is sy bereid om selfs haar loopbaan en die mense naaste aan haar op te offer in haar koppige soeke.

Wat was die sneller van hierdie verhaal vir jou? Jy kan ’n paar dinge noem wat geïnspireer het as jy wil.

Die leser ontmoet Ella en haar komateuse pa die eerste keer in Abel se ontwaking, en daarna word in al vyf opvolgende Ella-boeke na hom verwys, soms net sydelings, soms in meer besonderhede. Sy is haar ouers se enigste kind en in die reeks boeke word dit mettertyd duidelik dat sy van kleins af baie geheg aan haar pa was: hy was haar held en sy wou in sy spore polisie toe gaan. Sy skietery het ’n traumatiese uitwerking op haar jong gemoed gehad, soos dit vir enige kind sal wees. Ek het gedink dit word tyd om die “ware” storie van die skietery te vertel, veral omdat daardie verlede nou haar toekoms kan beïnvloed.

Soos jy gesê het, is hierdie jou sesde Ella Neser-verhaal. Dink jy dat die leser die ander boeke in die reeks moes gelees het om agtergrond van die storie te hê? Vertel asseblief kortliks iets van die ander boeke in die reeks.

Ella se eerste “trilogie” – Abel se ontwaking, Abel se lot en Die afreis van Abel Lotz – handel oor haar oplossing van ’n reeks moorde wat deur die grillerige Abel gepleeg word. In die tweede trilogie – Die verdwyning van Billy Katz, Die dood van ’n goeie vrou en Koms van die motman – is die stories losstaande van mekaar, hoewel sekere herhalende karakters voorkom. In elke boek word kortliks ’n agtergrond ingeweef sodat dit nie vir die toevallige leser nodig is om enige van die vorige boeke te lees om deel te voel van Ella en haar soms vreemde wêreld nie.

Vertel my asseblief ook van Ella Neser – die motman is in haar verlede, of hoe? Wat kan jy nog van haar vertel? Jy het nou al baie tyd saam met haar spandeer, hierdie karakter. Hou jy altyd van haar en die besluite wat sy neem? Of is dit nie juis ter sake nie?

In die reeks het Ella emosioneel gegroei van ’n jong, onervare en naïewe moordspeurder wat by die diep kant ingegooi word, tot ’n vrou wat in hierdie genadelose manswêreld van moord en roof haar voete vind. Intussen verduur sy al 11 jaar die pyn van die emosionele wond wat sy opgedoen het toe haar pa geskiet is. Dit kan ook ’n rede wees vir haar aanvanklike onsekerhede en waarom sy so sukkel om ’n hegte en blywende vriendskap met ’n man te kweek. Ella word dus elke dag geteister deur die gewone emosies en twyfelinge wat vir die meeste van ons so bekend is – al raak sy soms oorhoeks en algaande meer hardegat in die pogings om haarself te laat geld.

(a) Hoe doen jy jou ander navorsing, soos die geskiedkundige agtergrond? (b) Is daar baie feite in jou stories, of is die boeke fiksie – en die storie dus waar die klem lê?

Navorsing is vir my noodsaaklik, selfs in hierdie genre wat as blote afleiding en vermaak gesien word (in soverre fiktiewe moord vermaaklik kan wees). Krimistories speel af in ’n wêreld van skynwaarhede van gevestigde forensiese en polisietradisies en -protokol, waarsonder jou storie sy geloofwaardig sal verloor. Ek kombineer dus my fiksie met sekere feitelike en selfs historiese gegewens, soos veral hier in Koms van die motman. Maar die feite bly net in ’n ondersteunende rol en sal nooit die storie oorneem nie. Byvoorbeeld: wanneer ek op ’n antagonis besluit wat in my storie spesifieke sosiopatiese of psigopatiese karaktertrekke moet openbaar, gaan soek ek in die kriminologie na so ’n werklike misdadiger wie se afwykende gedrag ek vir my skurk kan afkyk. Vir Abel Lotz het ek byvoorbeeld die psigiatriese verslae van die Amerikaanse moordenaar Ed Gein in die 1950’s bestudeer. Hy is die “inspirasie” vir baie gruwelboeke (soos Hannibal Lecter in The silence of the lambs) en gruwelflieks (soos Hitchcock se Psycho).

(a) Jy skryf nie altyd spanningsverhale nie, maar wanneer jy dit wel doen: Waarom doen jy dit? Wat is vir jou lekker en wat is uitdagend van spanningsverhale skryf?

(b) Wat is anders vir jou wanneer jy ’n verhaal skryf wat nie verpak word as ’n spanningsverhaal nie? Hoe verskil die skryfproses, indien hoegenaamd?

Ek het my fiksieskrywery met twee jeugboeke begin, maar toe het my joernalistieke loopbaan al meer tyd en energie geverg, sodat ek langer as tien jaar later eers weer my hand aan my persoonlike skrywery kon waag. Die joernalistiek was ’n goeie leerskool vir die niefiksieboeke wat ek toe aangepak het. Maar die hunkering was groot om op my verbeelding pleks van feitelike gebeure staat te maak en om weg te kom van werklike mense en hulle gedrag aan wie jy niks kan verander nie; ek wou my eie karakters skep en hulle fiktiewe stories vertel. My eerste roman was Frats, losweg gegrond op die lewe en dood van Saartjie Baartman. Dit het die ATKV-prosaprys gewen en my latere skryfloopbaan opnuut op koers gesit. Fiksie het my ook uiteindelik verlos van die boeie van die joernalistiek en niefiksie, in die sin dat ek vry was om enige van my karakters as’t ware ’n snor te gee of die snor af te skeer, sou ek wou. Soos Capote gesê het oor In cold blood, sy sogenaamde niefiksieroman waarin hy gebind was om hom by feitelike gegewens en werklike mense en hulle voorkoms te hou.

Wat lees jy (op die oomblik), of noem ’n paar van jou gunstelingboeke en skrywers?

Ek het die gewoonte om meer as een boek op ’n slag te lees. Tans lê langs my bed Jesmyn Ward se hartroerende Sing, unburied, sing, en langs my leesstoel is Everything that rises must converge, ’n bundel kortverhale van Flannery O’Connor. Ek lees wyd en hou daarvan om nuwe skrywers te ontdek en oues te herontdek. Ek het nie spesifieke gunstelinge nie, net ou staatmakers so uiteenlopend soos Hemingway, Graham Greene, Thomas Harris, John Irving, Khaled Hosseini, Philip Roth, Stephen King, Elmore Leonard, Richard Russo, Dashiell Hammett, Raymond Chandler, Don LeLillo en Louis L’Amour.

Waaraan skryf jy volgende?

Ek het min bygelowe, behalwe dié een wat iemand anders ’n slag min of meer só bewoord het: om te praat oor ’n skryfprojek waarmee ek besig is, is om ’n gat in my kop oop te maak waaruit alle wonderlike nuwe gedagtes uitlek en verlore gaan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top