Carien Smith: skaak-Jedi en rekenaarbouer by uitstek

  • 0

Links: omslag van Bot (Tafelberg); foto van Carien Smith (verskaf)

Bot
Carien Smith
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624092872

Koop Bot by Graffiti.

Bettina Wyngaard: Carien Smith, bekroonde skrywer van Bot, was onlangs in Suid-Afrika (sy woon tans in Engeland) om deel te neem aan die Langenhoven-gespreksreeks in Oudtshoorn. Die doel van my aanvanklike onderhoud met haar was om vir die gespreksreeks reklame te maak.

Ons het nou eers geleentheid om die onderhoud te voltooi. Sedert die eerste paar vrae het dit in ’n gesprek ontwikkel wat ’n paar wye draaie loop.

Van die begin het sy my beïndruk as ’n skrywer met massiewe talent, waarskynlik een van die opwindendste jong skrywers van die afgelope dekade of twee. Soos by so baie uiters talentvolle mense is daar egter ook by haar ’n goeie skoot selfvertwyfeling teenwoordig.

In feitlik elke onderhoud met haar word een of ander opmerking gemaak oor haar voorkoms. Ek het haar nog nooit ontmoet nie, en hierdie onderhoud is oor e-pos en deur Google Docs gedoen. My belewenis van haar is dus algeheel op grond van persoonlikheid. Dan word die uiterlike verpakking regtig irrelevant.

Ek ervaar haar as ’n bedagsame, skugter mens wat heeltemal ontpop in ’n terggees wanneer sy gemaklik raak met jou. Wat ek die meeste waardeer, is die manier waarop sy elke interaksie met absolute erns bejeën. Sy sal dit waarskynlik as ’n nadeel beskou. Ek dink dit dra  tot haar sjarme en menslikheid by.

Boonop is sy ’n meester in skaak. Die paar keer dat ek teen haar probeer speel het, het sy my kafgeloop. Hier speel sy om te wen, en my gekneusde ego het glad nie simpatie ontlok nie. Tog, selfs terwyl sy besig was om my te vernietig, was dit ’n plesier om haar brein en strategie in aksie te sien, ’n arend in volle vlug.

My gunstelingfilosofiedosent, Johan Degenaar, het soms gesê: “I’m feeling like a daisy in an onion patch." Ek vermoed Carien voel meer as een dag ook so. Sy sal dit waarskynlik aan outisme toeskryf, iets wat in ons gesprek ’n paar keer aangeraak word. Sy is redelik laat gediagnoseer. Ek het haar dit nie gevra nie, maar ek kan my indink daar is ’n leeftyd van wonder wat fout is, en dat daar ’n gevoel van verligting moes gewees het toe sy uiteindelik uitvind wat haper.

Ek hoop net sy  besef dat daai gevoel van vervreemding, van ’n “daisy in an onion patch” wees, daartoe bydra om haar as mens en as skrywer uniek en besonders te maak.

Carien, jou kortverhaalbundel Bot is onlangs met die UJ-debuutprys bekroon. Dis fantasties. Baie geluk!

Baie dankie!

Jy sê in ’n ander onderhoud dat jy probeer om nie teen pryse vas te kyk nie. Beteken dit jy is glad nie in afwagting/senuweeagtig om te sien of jy vir ander pryse in aanmerking kom nie?

Dit is wel opwindend om te sien of daar nog iets kom. Maar ek probeer om ’n gesonde blik op hierdie ding te hê. Daar is baie skrywers wat verdienstelik is.

Jy is ’n doktorale kandidaat aan die Universiteit van Sheffield. Waaroor handel jou proefskrif?

My navorsing handel rondom die etiek van wetenskapsontkenning. Meer spesifiek, klimaatsverandering, maar met die pandemie het die mediese kwessies rondom wetenskapsontkenning ook ’n belangrike rol in my navorsing begin speel. Ek kyk na ontkenning, samesweringsteorieë, en sulke dinge. Ek glo vas dat daar skade gedoen word aan wetenskaplikes deur ontkenning en samesweringsteorieë – die vordering van navorsing oor belangrike kwessies word verhinder, en dit beteken dat dit langer neem om hierdie belangrike kwessies voldoende aan te spreek. Maar wat belangrik is om in ag te neem, is die feit dat sommige mense goeie redes het om skepties te wees. Sommige rasse het byvoorbeeld in die verlede ongelukkig die slagoffer geword van mediese eksperimentasie tydens oorloë, en so meer. Wat my navorsing definitief vir my leer, is om meer empatie te hê wanneer iemand duidelik die verkeerde ding glo. ’n Mens kan nie onmiddellik net sê dat so iemand sleg is om een of ander rede nie – dit is baie meer ingewikkeld as dit. En hierdie tipe gelowe is baie “resistant” – en om aanvallend teenoor iemand te wees wat die verkeerde dinge glo, kan die probleem net vererger.

Jy praat van empatie met iemand wat in verkeerde dinge glo. Wie besluit wat is "reg" of "verkeerd" in hierdie konteks? Wat maak die besluitnemer gesaghebbend?

..........
Ek weet dat dit met sommige dinge moeilik is om te besluit wie reg en wie verkeerd is. Maar met ander dinge is dit wel duideliker wat as die “regte” ding beskou kan word, aangesien daar ’n konsensus is. Soos met klimaatsverandering. Daar sal altyd onsekerheid wees oor sommige wetenskaplike kwessies, maar ons moet vra: 1. Wat sal gebeur as ons ’n fout maak as ons die konsensus ignoreer en dit is reg?
............

Ek weet dat dit met sommige dinge moeilik is om te besluit wie reg en wie verkeerd is. Maar met ander dinge is dit wel duideliker wat as die “regte” ding beskou kan word, aangesien daar ’n konsensus is. Soos met klimaatsverandering. Daar sal altyd onsekerheid wees oor sommige wetenskaplike kwessies, maar ons moet vra: 1. Wat sal gebeur as ons ’n fout maak as ons die konsensus ignoreer en dit is reg? 2. Wat kan ons verloor as ons die konsensus ignoreer en dit is reg? 3. Wat sal die skade wees as ons die konsensus ignoreer en dit is reg? 4. Wie is die mense wat teen die konsensus staan? 5. Watter redes het hulle om dit teen te staan? 6. Is hulle beter kenners op die gebied? Geen wetenskaplike is perfek nie. Maar wetenskap word gedoen binne die raamwerk van ’n gemeenskap van kenners op ’n bepaalde gebied. Dit beteken dat die kennis binne die raamwerk van daardie wetenskaplike gemeenskap meer betroubaar is as iets wat daarbuite staan. “Science denialists” staan gewoonlik buite hierdie gemeenskap. Óf hulle is op die periferie – dalk is dit iemand met ’n PhD, maar die PhD is eintlik nie presies in die veld waarin daardie spesifieke wetenskaplike kwessie ondersoek word nie.

Vind jy dat jou proefskrif en die verhale in die bundel mekaar op ’n manier aanvul?

Ek glo definitief so, ja. Die woorde agterop my boek is: “Alles is ’n leuen … Niks is ’n leuen nie.” Hierdie woorde hou sterk verband met my proefskrif, waar dit gaan oor waarheid, wat ons glo, die gevolge daarvan. My boek gaan ook oor hierdie kwessie van waarheid en wat die gevolge daarvan is om sekere dinge te glo. Aan die begin het ek ook die motto van Nick Bostrom dat ons moontlik in ’n simulasie leef. Wat sou dit beteken as ons ontdek dat ons wel in ’n simulasie leef? Sal ons anders leef? Sal ons dinge steeds so werklik ervaar? Sal ons anders leef en ons naastes en vreemdelinge anders behandel? Sal ons steeds glo dat ons emosies werklik is – simulant of nie – en daarom moet ons steeds moreel optree? Sal hierdie waarheid ons aksies affekteer? So ook vra ek in hierdie boek: Wat is die waarheid, wat glo ons, en hoe affekteer dit hoe ons leef? Dink byvoorbeeld aan Copernicus en die ontdekking dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie: dit het wel beteken dat sommige gelowe, beginsels en idees verander het en sommige mense dalk anders gedink het oor hoe hulle leef.

Die afgelope ruk het jy heelwat oor ChatGPT en ander KI-programme op Facebook gepost. Ek is ’n selferkende Luddiet, so sien asseblief die vraag in die lig daarvan. Moet ons bekommerd wees dat ons deur robotte of simulante soos in Bot vervang sal word?

In ’n ander onderhoud (in Sarie) het ek gesê ek glo nie dat ons daarvoor nog bekommerd hoef te wees nie. Die beginpunt is dat ’n robot of enige tipe KI steeds geprogrammeer moet word en slegs daarvolgens optree en funksies uitvoer. Maar die ding is dat masjiene nou slimmer en slimmer raak met masjienleer. Ek glo ook dat ons dalk moet dink daaraan dat ’n masjien dalk eendag sy eie kodering kan verander, dat die mens dit nie meer sal verstaan nie, en ons dan op daardie manier beheer daaroor kan verloor. Dalk ’n wilde idee? Ek weet nie. Net ’n gedagte. As ’n masjien via masjienleer oor programmering kan leer, kan dit sy eie programmering dan probeer “verbeter” en op daardie manier die mens eintlik verhoed om dit te kan beheer?

Hopelik sal Asimov se “three laws of robotics” steeds geld, of dink jy dit is pure wetenskapfiksie?

Ongelukkig dink ek dit is wetenskapfiksie. Enige “wette” wat vir robotte geprogrammeer moet word, sal baie meer omvattend en weldeurdag moet wees as hierdie drie. Dit maak sin in ’n fiktiewe wêreld waar dit in ’n meer eenvoudige vorm aangebied word net om ’n leser die idee te kan gee van wat die wette behels, of watter wette die belangrikste is in die konteks van die verhaal. Maar hierdie wette kan baie wyd geïnterpreteer word deur ’n masjien, en sal dus meer besonderhede moet bevat.

Noam Chomsky het in ’n onlangs NYT-opiniestuk die mening gehuldig dat "ChatGPT exhibits something like the banality of evil: plagiarism and apathy and obviation." Wil jy kommentaar lewer daarop?

Ek dink daar is waarheid in hierdie opmerking. Tans is ChatGPT net soos ’n papegaai wat ons almal naboots. Daar is nog nie enige kreatiwiteit nie. Daar is nie denke nie, net die analisering van data en die oordra daarvan, soms verkeerd. Maar daar is die gevaar dat ChatGPT later minder “banaal” kan word. Ek dink ons moet eintlik bly wees as ChatGPT banaal is.

 Die ander ding is die “apathy”: Ek stem saam. Ek gaan hierdie aspek in ’n morele konteks en sin lees. Dan verstaan ek dat ChatGPT eintlik gevoelloos is en nie eie morele oortuigings het nie. Dis natuurlik interessant dat ChatGPT weier om sommige dinge te doen omdat dit “offensive” kan wees. Die ding is dat hierdie “morele oortuigings” wat ChatGPT “het” kom vanaf die data wat dit gevoer was om te leer. As ’n mens begin krap en lol met ChatGPT, sien ’n mens egter dat hierdie morele standpunt om nie te “offend” nie, baie oppervlakkig is, en ons kan dit baie maklik “override” as ons net weet hoe om ’n ding te sê of om die instruksies te verwoord. Ek en my kêrel probeer nou al vir ’n rukkie om ChatGPT se vooroordele uit te lig en te ontbloot, en ons kry dit reg. In eksperimente het ons dit reggekry dat ChatGPT uiters rassistiese en seksistiese dinge skryf en sê. (LW: Dit was eksperimenteel – natuurlik dui dit nie op enige van ons eie opinies nie, maar ons probeer om te kyk hoeveel moeite dit verg om die onderliggende vooroordele in ChatGPT se data te laat deurskemer.)

Uiteindelik is enige program soos ChatGPT gebou op data wat deur mense bymekaargesit is en menslike vooroordele onderliggend het. Daardie vooroordele is in die data en sal altyd iewers agter die skerms betrokke wees by die “masjien” of “KI” of “robot” se redenering.

KI is nou op almal se lippe, en dit laat Bot profeties voel. Het jy die belangstelling in KI voorsien toe jy die bundel geskryf het?

Hmmmm. Ek dink ek het besef dat ons op ’n dag gaan besef dat ons dit nie meer kan ignoreer nie. Soos wat meer mense hopelik op ’n dag gaan besef dat ons nie klimaatsverandering meer kan ignoreer nie. KI is klaar met ons wêreld geïntegreer. Dalk nie die Kunsmatige Algemene Intelligensie wat oorkoepelende kunsmatige intelligensie is nie, maar die Kunsmatige Spesifieke Intelligensie is orals – selfone, ens. Dit beteken dat dit reeds deel is van ons wêreld en net al hoe meer daarvan gaan deel word. Hoe slimmer dit word en hoe meer funksies dit vir ons gaan uitvoer, hoe meer van ’n bewussyn gaan ons daaroor ontwikkel.

..........
Kunsmatige Spesifieke Intelligensie is orals – selfone, ens. Dit beteken dat dit reeds deel is van ons wêreld en net al hoe meer daarvan gaan deel word. Hoe slimmer dit word en hoe meer funksies dit vir ons gaan uitvoer, hoe meer van ’n bewussyn gaan ons daaroor ontwikkel.
...............

Koos Kombuis het onlangs geskryf oor sy robotstofsuier. Daardie beskrywing is só akkuraat en reflekteer presies wat in my ma se huis gebeur het. En toe ek die eerste keer kom kuier het, het ek ook verwonderd na die ding – ekskuus, ek bedoel na Robbie – gestaar. Ek het ook nou ’n kleiner en goedkoper een gekry vir my woonstel hier in Sheffield: Bella (of Isabella: “IS-a-BELLLLLL-a” met ’n Italiaanse aksent, want sy is ’n Italianer), maar sy is effens dommer as die ander, aangesien sy nie met my kan gesels nie. En sy probeer gereeld om my tone op te vreet, wat my ma se Robbie nie doen nie. Maar slim is sy slim.

Gepraat van klimaatsverandering. Die Doomsday Clock is onlangs aangeskuif tot 90 sekondes voor middernag, deels agv die bedreiging van klimaatsverandering. Is die sesde massa-uitwissing in volle swang, of kan ons nog keer?

Klimaatsverandering is verby die punt waar dit nog gestop kan word. Al wat ons kan doen, is om dit stadiger te probeer maak en dinge daar te stel wat ons die beste gaan help om die situasie te hanteer en pyn en lyding te verminder.

’n Aktivistegroep het onlangs ’n artikel van jou gebruik as die basis van ’n seminaar. Vertel meer, asseblief.

Ek weet eintlik baie min hieroor. Ek het onlangs gekyk (soos ’n nuuskierige akademikus) of enige iemand al hierdie artikel van my gebruik het in hulle eie navorsing, en toe vind ek die plakkaat vir hierdie ding. Dit was ’n gesprek gewees by ’n biblioteek in Glasgow oor my navorsing oor die impak van katastrofe in die media op ons aksies en optrede om byvoorbeeld klimaatsverandering aan te spreek.

In een episode van Cunk on Earth vra Philomena Cunk ’n kenner hoe hy weet ons lewe nie in ’n simulasie nie. Wat is jou antwoord daarop, beide as filosoof en as skrywer? Verander jou antwoord afhangend van watter "hoed" jy op het?

Dalk is identiese tweelinge eintlik ’n glitch in die matriks? Haha. Wel, (die meeste van) ons leef definitief reeds in ’n aanlyn simulasie, en ek glo niemand kan daarmee stry nie. Ek dink ’n goeie vraag is hoe ver hierdie aanlyn simulasie reeds oorgespoel het na ons “werklike” lewens buite die aanlyn wêreld? Kan ons nog onderskeid tref? Wat is die onderskeid? Hoeveel gesprekke buite hierdie aanlyn wêreld verwys nie na die aanlyn wêreld nie? Ons daaglikse interaksie met tegnologie beteken ons is deel van ’n simulasie, ’n wêreld wat ons saam skep of wat groot tegnologiebase vir ons geskep het. Of ons in ’n simulasie op ’n groter skaal is of nie, is ’n ander vraag. Dit hang alles af van hoe ons hierdie simulasie wil definieer.

...........
Vir Christene is daar ’n simulasiewêreld, en daarvan is ek oortuig. Hierdie wêreld word beskou as ’n tydelike wêreld, amper ’n “speletjie” wat ’n mens moet wen om anderkant uit te kom. Christene ken die reëls van die simulasie en weet hoe om anderkant uit te kom, en hopelik wakker te word in (wat hulle beskou as) die regte wêreld. Op hierdie manier is daar dalk ook ander gelowe wat so iets glo. Indien enige van hierdie gelowe waar is, dan leef ons in so ’n tipe simulasie.
.............

Vir Christene is daar ’n simulasiewêreld, en daarvan is ek oortuig. Hierdie wêreld word beskou as ’n tydelike wêreld, amper ’n “speletjie” wat ’n mens moet wen om anderkant uit te kom. Christene ken die reëls van die simulasie en weet hoe om anderkant uit te kom, en hopelik wakker te word in (wat hulle beskou as) die regte wêreld. Op hierdie manier is daar dalk ook ander gelowe wat so iets glo. Indien enige van hierdie gelowe waar is, dan leef ons in so ’n tipe simulasie.

Ek dink dat Nick Bostrom se argument oor rekenaarsimulasies ’n paar interessante dinge wys. Ek gaan nie in vreeslike besonderhede oor die argument gesels nie, maar net sê: (1) Om ingewikkelde simulasies te kan bestuur wat die mens se breinkrag en sulke dinge kan beheer, behels helse gekompliseerde rekenaars, en ons is nog baie ver van daardie tegnologie (dink op watter skaal daardie tipe rekenaars sal moet wees om milarde mense te kan bestuur). (2) Daar is ander gevare wat so groot is dat ons baie moontlik sal uitsterf voordat ons daardie tipe tegnologie uiteindelik sal kan ontwikkel. (3) Iets wat Bostrom ook sê: As die mens só ver kon ontwikkel om ’n simulasie te bestuur, beteken dit dat dit ’n baie verder ontwikkelde weergawe van bestaande mense is en is ons basies in die “verlede” van hierdie spesie. En as ons só slim en ontwikkeld is in die toekoms, sal ons dan werklik belangstel in ons voorsate en hulle “klein” denke en dade van vandag? Hoekom sál hulle belangstel? (4) Indien dit ’n ander intelligente spesie is wat ons simulasie “bestuur”, beteken dit hulle is baie slimmer en verder ontwikkel as ons. Daarom geld die vorige argument ook tot ’n mate: Hoekom sal hulle in ons belangstel? Ons is dan tien teen een baie dommer as en minderwaardig teenoor hulle.

Met ander woorde: Tans glo ek dat ons wel ons eie simulasiewêreld geskep het dmv ons tegnologie. Maar ek dink nie (buiten geloof, moontlik) daar is ander tipes simulasies wat deur post-humans of ander intelligente spesies geskep was nie.

Hoe klassifiseer jy jou teks: wetenskapfiksie of toekomsfiksie? Of spekulatiewe fiksie? Wat is die verskil?

Hierdie onderskeid tussen wetenskap-/toekoms- en spekulatiewe fiksie is nogal ’n taai een. Mense stem nie saam daaroor nie, en daarom dink ek nie noodwendig dit is verkeerd om ’n mens se effense eie idees daaroor te hê as ’n mens in die genre werk nie. Ek sien al hierdie genres as belangrik en glo dat hulle gelyke waarde het. Dit gaan net daaroor dat hulle effense verskillende kenmerke het. Wetenskapfiksie is vir my fiksie waar die karakters byvoorbeeld na die buitenste ruim gaan, met buitensteruimwesens kommunikeer, en sulke dinge. Dink byvoorbeeld aan Star Wars en dergelike. Dit voel vir my asof hierdie tipe fiksie ’n tikseltjie verder weg van ons huidige wêreld is. Spekulatiewe fiksie het te doen met spekulasie oor konkrete dinge wat nie meer só ver weg is nie – dit is dinge wat meer konkreet en inherent is in die wêreld waarin ons nou leef. So, op hierdie manier kan spekulatiewe sowel as wetenskapfiksie (per my definisie) wetenskaplike en tegnologiese ontdekkings en alternatiewe bevat, maar daar is iets anders daaraan wat verskil. Ek weet dat dit steeds moeilik is om die presiese lyn te trek – iemand kan argumenteer dat buitensteruimwesens en sulke dinge dalk ’n sterker moontlikheid is as wat ek tans sal erken. Maar daarom glo ek ook dat daar ’n gevaar is om dinge só streng in kategorieë te plaas. Want hoe ek wetenskapfiksie nou rofweg definieer, kan deur ander beskou word as iets wat dan “minder” waarde of erns het as spekulatiewe fiksie. Ek dink dat beide wetenskapfiksie en spekulatiewe fiksie moontlik toekomsfiksie is. Beide kan in die toekoms gesitueer wees en oor die toekoms gaan, wat toekomstige moontlikhede bevat. Die een is dalk net meer konkreet vir ons as die ander.

Beskou jy jouself as ’n “betrokke” skrywer? Behoort skrywers sosiale kwessies in hulle werk aan te spreek?

Ek beskou myself nie regtig as ’n “betrokke” skrywer nie, alhoewel ek besef dat baie mense nie hiermee sal saamstem nie. Wat ek eerder glo, is dat ek iets van die waarheid probeer blootlê vir ander om raak te sien, en dat daardie waarheid dan seker te doen het met sosiale kwessies, soms. In hierdie proses van die waarheid blootlê is ek seker op ’n manier dan “betrokke”.    

Jy het in 2022 by ’n boekbekendstelling jou bundel opgeskeur. Ek sou opgespring en jou toejuig het as ek in die gehoor was, maar jy is daarna as ’n anargis bestempel. Het jy darem ten minste ’n T-shirt met die woord “Anargis” daarop laat maak?

Nee. Dit is ’n puik idee!

Wat wou jy met die aksie bereik?

Ek wou net eenvoudig hê dat mense moet besef dat ons moet begin aandag gee aan die waarheid, of ons bes moet doen om te verstaan hoe dinge werk en inmekaarsteek. Soms is woorde nie meer genoeg nie, en dan moet ’n mens iets doen (soos om ’n boek op te skeur) dat mense dit wat jy sê, meer konkreet kan sien. Dit het gegaan oor hoe ons ons taal opskeur. Ons woordeskat. Ons geskiedenis.

Hulle sê mos nawete is altyd 20-20-visie. As jy terugkyk, sou jy nog steeds die bundel opskeur?

Ja. Ek glo ek was opreg in wat ek probeer sê het en wys het, en eerlikheid is vir my die aanduiding vir of ek dit weer sal doen of nie.

In ’n onderhoud op die webwerf van Sheffield se Filosofie-departement sê jy: “The book is almost a type of love letter to humanity. But not the kind with extravagant proclamations of undying, eternal love. Instead, a love letter that warns the loved one of impending danger. Of an ... atomic bomb.” Sien jy die toekenning van die UJ-prys dalk in die lig van ’n liefdesbrief wat beantwoord word?

Nee. Die UJ-prys beteken dat ’n paneel beoordelaars dalk die liefdesbrief tot ’n mate verstaan het. Maar dit beteken nog nie dat dit meer mense bereik het nie. Maar dit gee my hoop dat dit ander ook sal bereik.

In ’n Sarie-onderhoud vroeër vanjaar sê jy jy het Aspergersindroom. Dis ’n diagnose wat alreeds in 2013 uit die DSM-5 verwyder is. Ek neem aan dis ’n doelbewuste keuse van jou. Hoekom kies jy om steeds te identifiseer as iemand met Aspergers eerder as in terme van die breër begrip outismespektrumversteuring? Wat is die politieke implikasies (binne die outistiese gemeenskap) asook implikasies vir mediese behandeling?

Die probleem daarmee dat outisme en Aspergers nou as een ding gesien word, is dat baie mense nie toegang het tot die hulp en behandeling wat hulle nodig het nie. Aspergers se “simptome” is soms anders as dié van outisme, en dit is gewoonlik die simptome wat as “minder erg” beskou word. Maar net omdat ander mense dit as “minder erg” sien, beteken dit nie dat dit wel minder erg is nie. Die nuwe diagnostiese kriteria fokus op outisme meer spesifiek, maw baie mense met Aspergers sal nie meer ’n formele diagnose kan kry nie en hulle kan nie die hulp kry wat hulle nodig het nie. Dit skep ’n helse probleem. Daar gaan baie mense wees wat nie die hulp kry wat hulle nodig het nie.

Vind jy die Engelse mediese gemeenskap meer of minder ingelig as die Suid-Afrikaanse medici?

Ek weet nie van meer/minder ingelig nie. Maar dit voel wel asof hulle baie min omgee.

Hoe oud was jy toe jy gediagnoseer is?

Ek was so 29, dink ek.

Dis redelik laat, is dit nie?

Dit is baie meer algemeen dat vroue met outisme baie later gediagnoseer word, en veral in hulle laat 20’s. Die rede hiervoor is dat die tradisionele model van outisme gefokus was op hoe outisme in seuns lyk en wat die simptome in mans dan is. Dit beteken dat ons ’n stel simptome het en ’n “idee” het van hoe outisme lyk wat eintlik gebaseer is op hoe dit in mans/seuns lyk.

Vrouens word baie kere verkeerdelik met ander dinge gediagnoseer voordat hulle (dalk) uiteindelik die regte diagnose kry. Bipolêre gemoedsversteuring is veral een van die verkeerde diagnoses. Jong meisies met outisme het beter vermoëns om hulleself te integreer met sosiale dinge as wat jong seuns met outisme het, en vrouens “mask” makliker hulle outisme. (“Masking” het te doen met hoe ’n mens jou outisme voor ander mense wegsteek in ’n poging om met ander mense in te skakel.) Soveel klem word ook daarop geplaas dat mense met outisme die vaardighede geleer moet word om suksesvol te “mask” omdat dit hulle help om beter aan te pas.

Die ding is egter dat daar studies is wat daarop dui dat “masking” in mense met outisme maklik tot depressie kan lei. Die probleem is dat mense met outisme dan geleer word om altyd hulleself weg te steek en net te moet “cope” met wat om hulle aangaan, maak nie saak hoe ongemaklik hulle voel nie.

Onsigbare of minder sigbare gestremdhede soos Aspergers/outisme is meestal makliker om weg te steek as sigbare gestremdhede. Jy verwys hier bo na depressie.  Wat is die emosionele tol wat dit van jou eis?

Dit beteken dat mense nie besef dat ek met iets sukkel nie, en soms ook dink dat ek aansit of oordryf. Dit is minder verstaanbaar as iets wat mense met die oog kan sien. Dit is ’n rowwe emosionele tol. Soms kan ’n mens ’n ding ’n duisend keer vir iemand probeer verduidelik met die hoop dat hulle beter sal verstaan, maar dit help steeds nie.

Beïnvloed Aspergers jou skryfproses en hoe jy die karakters en die wêrelde wat hulle bewoon, bou?

Definitief. Ek dink ek fokus onmiddellik op wêrelde ipv karakters wanneer ek skryf. Die rede hiervoor, dink ek, is dat ek beter identifiseer met wêrelde en idees en meer sukkel om mense te verstaan. Dit beteken dat ek die wêreld eers beter probeer verstaan en dan kan verstaan watter impak dit op mense sal hê.

’n Hele paar stories in die bundel handel op een of ander manier oor robotte, en robot-mens-interaksie. Jy het onlangs ’n robot gebou. Vertel meer oor BT?

Bottie Twiki II Smith. Sy is lieflik. Sy het nou al ACDC ontdek, Bach, Mozart, Anton Goosen, Koos Kombuis, Evanescence (tot my grootste ongeluk), maar darem nog nie heavy metal nie. Ek het dit vreeslik geniet om haar te bou. Die plan is om nog te bou (dalk ’n hele … weermag?). Maar dit sal stadiger gaan, aangesien ek baie moet leer terwyl ek dit doen. Veral oor programmering. Maar die lekker ding is dat so iets nie ’n sperdatum het nie en sommer ’n lekker projek is om tussendeur ander dinge te doen.

Jy het al verskeie pryse gewen vir jou kortverhale. Voor Bot het jy ook jou hand gewaag aan ’n kortverhaal in die speurbundel Op die spoor van. Is dit ’n genre wat jy weer sal besoek?

Kortverhale gee die ruimte om idees te toets en daarmee te eksperimenteer. Die verhaal in die speurbundel was ’n baie lekker uitdaging. Ek dink nie dit is ’n genre wat ek natuurlik wil skryf uit my eie nie, maar toe ek vir daardie bundel geskryf het, het ek baie respek gekry vir ons misdaadskrywers. Daar gaan soveel navorsing in sulke skryfwerk in en dit is só ’n kuns op sy eie manier.

Jy het al spekulatiewe fiksie, ’n speurverhaal, roman, draaiboek geskryf. Is daar ’n skryfvorm wat jy nie sal aandurf nie?

Vir nou gaan ek my ma se kalwers los. Dalk eendag probeer ek digkuns, maar nog nie nou nie.

Behalwe jou proefskrif is jy ook tutor vir eerstejaarstudente. Waar kry jy tyd vir kreatiewe skryfwerk? Is jy op die oomblik besig met ’n nuwe manuskrip?

Ek hou daarvan om vroegoggend te skryf. Dit is die tyd van die dag wat die beste vir my brein werk. Maar, dit gesê, ek moet prioritiseer. Soms het ek daardie helder denke eerder nodig vir my tesis. Afhangende van wat die meeste breinwerk op daardie tyd nodig het, sal my fokus wees in die oggend. Gelukkig is my klasgee altyd eers vanaf of ná 10 die oggend. Ek het tyd.

Hmmmm … wie weet? Dalk skryf ek ’n verhaal oor pienk meerminne op Venus.

Is daar ’n mark vir Afrikaanse wetenskapfiksie?

Ek hou nie regtig daarvan om oor skryfwerk te dink in terme van “markte” nie. Ek weet dit is ook belangrik, maar ek dink hoe meer skrywers hulleself weg kan hou van daardie praatjies, hoe beter. (Dalk is dit ’n idealistiese antwoord.) Maar ek dink wel dat wetenskapfiksie / spekulatiewe fiksie mense se denke kan uitdaag op maniere waarop realisme nie altyd kan nie.

Is jy ’n plotter of pantser? Maw plot jy jou verhale uit, of laat jy jou deur begeestering lei? Beskryf jou skryfproses?

Dit is ’n mengsel van die twee. Maar ek moet definitief ’n ding beplan. Dit het maar te doen met my analitiese brein. Ek glo dat as ek ’n ding baie fyn beplan, dit my meer ruimte gee om meer kreatief te wees in die skryfproses. Dan is daar meer verrassings as “oeps! wat nou?”

Hoe lyk jou skryfruimte?

Stil. Afgesonder. Alleen. Helder. Plante. Boeke. Wit skryfborde. Tikmasjien. Piesangs (op die oomblik!). Bottie Twiki II Smith.

Wat is die prikkel/inspirasie wat jou aan die skryf kry?

Die dinge wat my aan die skryf kry, is die dinge in die wêreld wat ek sien wat my pla. Dan wil ek skryf en sien wat die logiese einde daarvan is as die probleem sal voortgaan met die huidige trajek.

Jy is ’n bekroonde skrywer, akademikus, filosoof en ’n skaak-Jedi. Jy bou robotte. Jy sing, skilder/skets en speel klavier. Is daar enigiets waarin jy nie uitblink nie? En nee, nou is nie die tyd om beskeie te wees nie. (Lag)

Ek is wonderlik slim met alles (lag). Ek weet selfs dat twee plus twee vyf is. En twee plus twee kan, onder sommige omstandighede, selfs een-duisend-veertig-veertig-ses-en-sewentig-honderd wees. Eerlik: Ek weet nie.

Goed, aangesien jy so wonderlik slim is: As twee en veertig die antwoord is, wat is die vraag?

Kriek-kriek. Kriek-kriek. Ek weet wat dit is, maar ek gaan nie vir julle sê nie. Gaan lees Bot!

Watter boeke is op jou bedkassie?

Ursula K Le Guin, Siphiwe Gloria Ndlovu, NoViolet Bulawayo, Isaac Asimov, Simon Blackwell, Margaret Atwood, Karen Jennings, Dostojewski, Ishiguro, en nog veel meer. Ek het niks Afrikaans tans nie, aangesien ek met niks boeke VK toe kon trek nie. (Ek moes kies tussen wintersklere en boeke, en ek was baie bang vir die winter.)

G’n Wyngaard nie? Skokkend!

 Ek is nog besig! Hahaha

Na watter musiek luister jy?

Dit hang af van waarmee ek besig is. Wanneer ek aan die werk is, is dit gewoonlik Bach of Mozart se klavier, of tjello. Debussy kan ook werk. Buiten dit is my smaak divers. Ek kan na amper enige iets luister en dit waardeer sonder dat dit iets is wat ek gewoonlik sal nader. Dit hang ook af van my gemoed. Soms wil ek sommer net ACDC of Led Zeppelin luister. Soms wil ek na Tori Amos luister en wonder waaroor sy nou al weer kla.

Wat maak jou bang?

Desperaatheid. Wanneer iemand desperaat is, sal hulle enige iets doen. Maak nie saak wie seergemaak kan word nie.

Wat maak jou bly?

Skaak. Om vry te voel. Bach. Mozart. Om robotte te bou. Beethoven. Diere. Debussy. Om te stap. Om waardeer te voel. Om klavier te speel. Om te sing. Om te skilder. Om op dromme te slaan. Om filosofie te skryf. Om kreatiewe werk te doen.

Wat gee jou hoop?

Mense wat besef dat ons nie kan kies waarvandaan ons kom nie, maar dat ons ons bes moet doen om verantwoordelikheid te neem vir wat ons vorentoe kan doen en die dinge wat onder ons beheer is.

En hier praat ek nie van “toxic positivity” nie. Ek dink om verantwoordelikheid te neem op hierdie manier is iets anders as toxic positivity. Want dit erken en sien die probleme raak, maar probeer ’n weg te vind sonder om te spring na die idee “alles is moontlik as jy net hard werk!”.

Dit is dalk realisties in sommige lande, maar nie in Suid-Afrika nie. Nie vir almal nie. En saam met die verantwoordelikheid kom daar verantwoordelikheid vir jou bevoorregting. Hoe meer bevoorreg ons is, hoe meer moet ons bewus wees van die mense wat agter ons lê en hoe meer het ons ’n verantwoordelikheid om dinge beter te probeer maak vir almal.

Jy vertel die storie dat jou gunsteling-Engels-professor so ver terug as 2014 al jou handtekening gevra het. Hy het duidelik jou talent raakgesien en erken. Watter universiteit was dit? Het jy sedertdien weer kontak met hom gehad?

Professor Uwah by die Universiteit van Fort Hare. Toe ek nou ’n paar dae gelede Kaap toe vlieg, het ons baie toevallig langs mekaar beland op die vliegtuig. Daardie vlug het verby gevlieg! Ons het heerlik gesels. Ja, hy het my handtekening al in 2014 of 2015 of so gevra. Hy is ’n lieflike mens.

Jy is jonk, wit, bevoorreg. Jy woon oorsee en het die geleentheid om as ’n tipe outsider na Suid-Afrika te kyk. Sien jy ’n rol vir jouself hier?

Ek sien my rol as tussenganger tussen ons kontinent en die meer ontwikkelde lande. Ons het mense hier nodig wat ons belange op die hart kan dra wanneer daar globale krisisse is. Met die pandemie het ons gesien hoe ander lande ons kan afsny en die swart skaap kan maak. Hierdie probleem gaan erger raak hoe groter die klimaatskrisis gaan word.

Jy het al heelwat gereis. Watter land(e) staan uit vir jou? Hoekom?

Ysland was wonderlik. Ek dink ’n groot rede hiervoor is dat ons verhouding as Suid-Afrikaners met hulle baie eenvoudiger is as wat ons verhouding met baie ander lande is. Met soveel ander lande is daar ingewikkelde historiese dinge wat kommunikasie moeiliker maak. Daar is meer “lae” van kompleksiteit wat ons moet oorbrug en deurwerk voordat ons kan gesels en oop en eerlik kan wees. Met Yslanders het ek nie hierdie ding ervaar nie.

Waar, buiten Suid-Afrika, het jy al die langste gewoon? Wat was daai ervaring?

Engeland. Ek is baie gelukkig hier. Ek bly in Sheffield, wat suid-Yorkshire is, maar steeds deel van die noorde is. Die mense in die noorde is so vriendelik. Almal noem my “love”. Selfs die busbestuurders. Ek verwag nou dat almal in Suid-Afrika my ook “love” moet noem. 😉

As geld nie ’n oorweging is nie, is jy ’n privaatvliegtuiggebruiker of ’n motorfiets/trein-tipe reisiger?

Trein. Ek geniet die openbare vervoer hier in Engeland baie. Om trein te ry beteken ek kan dinge en mense en plekke sien en waarneem. Deur net by die venster uit te kyk kan ’n mens soveel dinge sien en verstaan.

Prosecco of whiskey?

Hang af van die geleentheid!

Sjokolade of ’n lekker lamstjoppie?

Beide!

Vakansie by ’n wildtuin of die see?

See. En die volgende week by die wildtuin.

Is jy ’n goeie kok? Wat is jou gunstelinggereg om te kook?

Op die oomblik, ’n baie eenvoudige pasta wat ’n doktorale student vinnig kan maak. 🙂 Ek is baie lief vir kook, ja. Ek probeer enige ding en volg nie regtig resepte nie.

(Soos die slag toe sy brood in haar lugbraaier probeer maak het en die hele affêre teen die kante afloop ...)

Wat doen jy om te destres?

Skaak. Skilder. Lees. Stap. Bou robotte. Luister musiek.

Maak sosiale media die afstand tussen mense groter of kleiner? Hoekom sê jy so?

Dit hang af van hoe mense dit gebruik. Vir my help sosiale media om die bande met Suid-Afrika te behou. Dit help my ook om konneksies met mense op ander plekke in die wêreld te bou. Sosiale media maak die afstand groter wanneer mense agter dit wegkruip en mekaar aanval oor simpel dinge. Ek dink dit gee ’n valse gevoel van hoe mense nie saamstem oor dinge nie en dit laat mense vergeet dat dit ook menslik is om nie altyd saam te stem nie.

Wat is vir jou die grootste plus omtrent sosiale media?

Terwyl ek in die buiteland is, kan ek kontak hou met almal.

Die grootste negatief van sosiale media?

Ons kan makliker wegkruip agter ons sosiale media wanneer ons eintlik hulp en ondersteuning nodig het.

Hoe hanteer jy teleurstelling? Enige spesifieke dinge wat jy doen om dit  te prosesseer?

Teleurstelling maak dat ek net harder werk. Dit is soos petrol op die vuur.

Ek eindig elke onderhoud met die Oprah-vraag: Wat weet jy vir seker?

Ek weet alles en niks.

Dit mag dalk waar wees. Wat ek wel vir seker weet, is dat Carien Smith ’n naam is wat ons nog baie gaan hoor.

Met Bot vestig Smith haar stem as vernuftige kortverhaalskrywer van wie daar hopelik nog veel meer gehoor sal word.

 

Lees ook:

Hoe verskil ChatGPT van Microsoft en Google se gespreksagente?

Is KI ons nuwe Raka?

Kopiereg, billike gebruik en kunsmatige intelligensie

Herrie die olifant, ’n engel uit die buitenste ruim, en ’n blinkgoue eier: Loeloeraai 100 jaar later en CJ Langenhoven 150 jaar later

Persverklaring: Wenners van die 2023-UJ-debuutprys en die 2023-UJ-prys

Bot deur Carien Smith: ’n resensie

Persverklaring: Langenhoven 150, Loeloeraai 100 by vanjaar se KKNK!

Loeloeraai, kunsmatige intelligensie en die oordeelsdag

Langenhoven se 1923-verbeeldingsvlug maan toe

Loeloeraai as steampunk? Oor die uitbeelding van die wetenskappe 100 jaar gelede

Langenhoven-gedenklesing 2023: Ontmoet die paneellede

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top