Langenhoven-gedenklesing 2023: Ontmoet die paneellede

  • 0

’n Geochemikus, ’n filosoof, ’n letterkundige en ’n ingenieur stap ’n tent in. Nee, dis nie die begin van ’n vreemde grappie nie, dit is wat letterlik op 1 April in Oudtshoorn gaan gebeur tydens die Langenhoven-gedenklesing.

Sagmoedige Neelsie, soos wat CJ Langenhoven alom geliefd en bekend geword het, se Loeloeraai is vanjaar 100 jaar gelede geskryf. Van Neelsie se by tye bedenklike politiek en sy altyd bedenklike drinkgewoontes kan heelwat gesê word, en daar ís ook al. Hy en Hemingway kan bladskud daaroor. Maar, soos Hemingway s’n, is ook sy skryftalent onteenseglik. Hy het hom nie laat bind aan genre of taal nie.

Met Loeloeraai het hy nog ’n glasplafon gebreek. Dis die eerste wetenskapfiksie wat in Afrikaans verskyn, en vir ’n baie lang tyd was dit ook die enigste wetenskapfiksie waarmee Afrikaans kon spog. Deesdae is dit natuurlik heelwat anders, soveel dat ’n paneel kundiges saamgesels op Oudtshoorn. En wat ’n interessante paneel is hulle nie! Daai gesprek gaan lit wees, soos die jongspan sê.

Ek het ’n bietjie met hierdie deskundiges gaan gesels om eerstens meer omtrent hulle uit te vind en tweedens ’n paar vrae te vra as lusmaker voor die lesing. Vir die volle lesing, onder die bekwame leiding van joernalis Izak de Vries, vat gerus die langpad volstruiswêreld toe.

Jennifer Pape is ’n geochemikus, webwerfontwerper, digter en kranige wetenskapfiksieleser. Sy is ook die stigter van die Stomme Jonge-digklub. Jenny vertel sy het eers as ’n tiener haar pa se versameling wetenskapfiksieverhale ontdek, en sedertdien kan sy nie genoeg kry daarvan nie.

Carien Smith is ’n filosoof, dramaturg en skrywer, tans besig met haar PhD in filosofie aan die Universiteit van Sheffield. Sy is die skrywer van die wetenskapfiksiekortverhaalbundel Bot. Carien bou in haar vrye tyd robotte. Bottie Twiki II kruip sommer gou in mens se hart in. My persoonlike villain origin-verhaal gaan begin die dag as ek BT steel en gedwing word om op die vlug te slaan en iewers in die Karoo incognito te gaan woon, daarvan is ek oortuig.

Nini Bennett is ’n taalpraktisyn, skrywer, digter en resensent besig met haar PhD in letterkunde aan die Universiteit van Johannesburg. Nini skryf gereeld vir LitNet, Beeld, Rapport, Sarie en Versindaba. In haar vrye tyd bestudeer sy esoteriese leringe en artefakte.

Laastens is daar Mellet Moll. Hy is ’n bedryfsingenieur, was dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese en Bou-omgewing by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie en is later aangestel as die universiteit se uitvoerende beampte vir besigheidskontinuïteit en COVID-19. Tydens sy tyd as dekaan ontwerp, vervaardig en lanseer die fakulteit se ruimteprogram onder andere ’n konstellasie nanosatelliete wat die land se kuslyn monitor as deel van Operasie Phakisa. Boonop is Mellet ’n digter en musiekliefhebber met ’n versameling van 60 000 albums. Asof sy PhD in bedryfsingenieurswese nie genoeg is nie, het Mellet nou ook begin met ’n tweede PhD, in Afrikaanse lettere aan die Universiteit van Johannesburg.

Tussen hierdie formidabele vier het hulle ’n magdom kennis oor wetenskapfiksie, of toekomsfiksie soos wat dit al meer bekend staan.

Ek het ’n bietjie by hulle gaan kers opsteek, en my absoluut verstom oor die insigte waarmee hulle vorendag kom.

*

Nini, lees jy wetenskapfiksie?

Ek het vroeër wetenskapfiksie gelees, soos dié van Isaac Asimov en HG Wells. Uiteraard ook Langenhoven se Loeloeraai. Daar is tydlose allegorieë onderliggend aan wetenskapfiksie en uiteraard daag die genre die beskouing rondom die menslike kondisie uit. Ek is wel ’n kranige kyker van wetenskapfiksie. ’n Mens moet in gedagte hou dat wetenskapfiksie se tydlyne disintegreer as gevolg van reële wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang. Hollywood wen by verre as dit kom by hedendaagse wetenskapfiksie – en met filmkuns as medium kan wetenskapfiksie met groter aanskoulikheid uitgebeeld word as in boeke. Die korpus temas in wetenskapfiksie bly verruim soos tegnologie vooruitgaan. My gunsteling is biotegnologie en die etiese dilemmas daaraan verbonde.

Jennifer, hoe vergelyk Afrikaanse sci-fi met dié wat internasionaal beskikbaar is?

Ons het ’n paar baie goeie volwassene-WF-verhale wat in die afgelope tien jaar verskyn het (ek sluit nie jeugverhale in nie), onder meer Skepsel van Willem Anker, Bot van Carien Smith, Stof van Alettie van den Heever en Toekomsmens van Isa Konrad. Saam met vele ander wat in die laaste paar dekades verskyn het, handel dit meestal oor KI of ’n postapokaliptiese Suid-Afrika. As ek oor Skepsel dink, is ek hoopvol en opgewonde dat ons nog baie sal vorder in die genre. Maar in vergelyking met die internasionale vlak is ons nog beperk oor wat ons skryf. Ek vind geen boeke hier wat die heelal deurkruis en wat opgewonde oor die toekoms is nie. Dink byvoorbeeld aan Ursula K Le Guin se The left hand of darkness en The dispossessed of NK Jemisin se The broken earth-reeks, Liu Cixin se The three-body problem of Orson Scott Card se Speaker for the dead. Die kompleksiteit, die intrige, die bou van wêrelde en hoe daar gebruik gemaak word van die “alien” in hierdie verhale is kopverskuiwend anders en oorspronklik. Ons verhale speel skaars meer as 100 jaar in die toekoms af en ons vorder nie verder as ’n vliegrit Svalbard toe nie.

Ek wag gretig op wonderbaarlike Afrikaanse WF wat my verwonderd maak en nie terneergedruk nie.

Carien, KI is nou op almal se lippe, en dit laat Bot profeties voel. Het jy die belangstelling in KI voorsien toe jy die bundel geskryf het?

Hmm. Ek dink ek het besef dat ons op ’n dag gaan besef dat ons dit nie meer kan ignoreer nie. Soos wat meer mense hopelik op ’n dag gaan besef dat ons nie klimaatsverandering meer kan ignoreer nie. KI is klaar geïntegreer met ons wêreld. Dalk nie die kunsmatige algemene intelligensie wat oorkoepelende kunsmatige intelligensie is nie, maar die kunsmatige spesifieke intelligensie is orals – selfone, ens. Dit beteken dat dit reeds deel is van ons wêreld en net al hoe meer daarvan gaan deel word. Hoe slimmer dit word en hoe meer funksies dit vir ons gaan uitvoer, hoe meer van ’n bewussyn gaan ons daaroor ontwikkel. Koos Kombuis het onlangs oor hulle robotstofsuier geskryf. Daardie beskrywing is só akkuraat en weerspieël presies wat in my ma se huis gebeur het. En toe ek die eerste keer kom kuier het, het ek ook verwonderd na die ding – ekskuus, Robbie – gestaar. Ek het ook nou ’n kleiner en goedkoper een gekry vir my woonstel hier in Sheffield: Bella – of Isabella: “Is-a-bellllll-a” met ’n Italiaanse aksent, want sy is ’n Italianer – maar sy is effens dommer as die ander, aangesien sy nie met my kan gesels nie. En sy probeer gereeld om my tone op te vreet, wat my ma se Robbie nie doen nie. Maar, slim is sy slim.

Nini, wat dink jy van kunsmatige intelligensie, en is jy bekommerd dat robotte binnekort goeie gedigte gaan begin skryf?

Ek is baie opgewonde oor die vooruitsigte rondom KI – in alle velde. KI se doel is om die mens by te staan. Aan die Universiteit van Oxford is Ai-Da, die wêreld se eerste realistiese humanoïede robot wat werklik verbluffende poësie skryf, onlangs bekendgestel as deel van die 700ste viering van Dante se dood. Ter plaatse kan ons spog met AfriKI, ’n eksperimentele en generatiewe taalmodel wat as datastel Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld gelees en met hierdie subteks die eerste KI-gedigte in Afrikaans ontwikkel het. Tans is hierdie bloot kokreatiewe pogings wat mens en masjien integreer. Omdat taalmodelle ter sprake is in die skep van KI-gedigte, is dit seker nie onmoontlik dat robotte eendag goeie poësie sal skryf nie – wat ’n opwindende vooruitsig!

Mellet, waarheen is ons op pad met die absolute ontploffing in KI?

Telkens wanneer ’n nuwe tegnologie sy opwagting maak, is die mensdom se reaksie soortgelyk: Sommige kommentators is só beïndruk daarmee dat uitsprake gemaak word wat die rol van daardie tegnologie in die wêreld totaal oorskat en daar word ekstrapolasies gedoen wat geheel en al onrealisties is. Die eerste ruimtereise het byvoorbeeld die verwagting geskep dat ons teen 1999 die maan behoort te koloniseer. Ander kommentators weer is behoudende puriste wat die bestaande tradisie teen sulke nuwe onhebbelikhede probeer beskerm. Dink maar aan die musiekbedryf en die koms van die grammofoon. Om na jou gunstelingopera op ’n draagbare toestel te luister? Nee wat, dit sal nie deug nie. En dink aan die koms van sintetiese musiekinstrumente in die vroeë 1970's – kunstenaars soos Jean-Michel Jarre, Klaus Schulze en Kraftwerk het groot debatte veroorsaak: Aan die een kant wou entoesiaste dit hê dat hierdie vorm van musiekinstrument die toekoms in die geheel sou oorheers, terwyl ander dit as kitsch, kortstondig en ’n kortpad vir die talentloses beskryf het. As ons terugskouend na enige van hierdie verskynsels sou kyk, besef ons dat die waarheid altyd iewers in die grys gebied tussen hierdie twee uiterstes lê, en dat die tegnologiese baanbrekers op enige terrein as hoogs eksperimenteel beskou behoort te word totdat die tegnologie volwassenheid bereik het. 

Maar ons weet ook dat die bekendstelling van enige sodanige tegnologie ’n uiters ontwrigtende effek het: ’n tyd van wanorde, teenstrydighede en wilde spekulasie. Hoewel KI reeds oor baie dekades ontwikkel is, het die beskikbaarstelling daarvan in die hande van die breë samelewing in die onlangse verlede groot skokgolwe veroorsaak. Bykans almal wat met hierdie nuutjie interaksie het, eksperimenteer met groot opwinding daarmee vanuit hulle eie onderskeie verwysings­raamwerke; maak uitsprake oor die toekoms; wys op tekortkominge; en formuleer standpunte. Hulle doen dit met ’n vonkel in hulle oë en ’n senuweeagtige giggel in hulle stemme. 

Jennifer, sal robotte die aarde oorneem?

Nee, ek dink nie so nie. Ons gebruik tegnologie en KI vir spesifieke doeleindes. Ons slimfone, hommels en ChatGPT werk slegs in opdrag van ons. Die magtige internet bestaan uit miljoene rekenaars en servers, maar dit het nog nie uit sy eie besluite geneem soos om die wêreld oor te neem nie (nie dat die programmeerders nie probeer nie), of self iets eenvoudigers, soos om te besluit jy het nou genoeg na die video gekyk en toe jou ma gebel. Tegnologie en KI is fantasties en gaan beslis nog baie vorder, maar ek dink dit gaan net ons lewens makliker maak.

Ons vergeet dat om “bewus” te wees, iets ongelooflik uniek is wat in die heelal gebeur het – dit het miljoene jare gevat en is verbysterend ingewikkeld, niemand weet wat dit is om “bewus” te wees en waar dit in ons breine sit nie. ’n Paar skaars metale en elektroniese seine gaan nie die ding doen nie.

Mellet, gaan robotte ons vervang?

Ek het ongeveer 10 jaar gelede Audi se fabriek in Ingolstadt, Duitsland besoek. Ek het na die produksielyn van die Audi A2 gaan kyk. Groot was my verbasing toe ek besef dat die voertuig op ’n geoutomatiseerde produksielyn vervaardig word waarbinne bykans alle aktiwiteite deur robotte gedoen word. Montering, gehalteversekering en ander aktiwiteite word deur robotte wat soos vroedvroue by ’n geboorte gereed staan, behartig. Die enkele fabriekswerkers wat rondstaan, is ingenieurs wat gereed is om kalibrering en ander instandhoudingstake op die robotte te doen. Hierdie praktyk het reeds ’n algemene gesig geraak in heelwat gevorderde vervaardigingsaanlegte wêreldwyd. Daar is ook verskeie ander sfere van die samelewing waar robotte take kan verrig wat herhalend is en wat fyn motoriese vaardigheid behels, soos sjirurgie. Dit sluit nie die mens se rol uit nie, dit verander die rol van die mens na een wat die robot beheer en ingryp sou die robot onklaar raak. Ons kan dit bloot nog nie waag om robotte alleen te laat nie. Daarom is selfbesturende voertuie ook steeds nie wettig nie.

My antwoord dus: Dit gebeur reeds, maar nie noodwendig op die wyse waarop mense sou verwag nie, nie soos in wetenskapfiksieverhale nie. Vooruitgang is ’n proses van deurlopende verbetering met verskeie klein en groot deurbrake langs die pad.

In ons eie land, met die hoë werkloosheid, bly die vraag tereg tot watter mate dit die arbeidsmark gaan beïnvloed. Ek was in Japan, ’n land met byna geen werkloosheid nie, byvoorbeeld verbaas dat sommige fabrieke doelbewus outomatisasie vermy het en eerder menslike arbeid benut het.

Die Vierde Nywerheidsrevolusie maak ondernemings uiteindelik meer mededingend, maar met die voorwaarde dat dit nuwe vaardighede vereis en dat werkers hierin opgelei moet wees, daarom dat verskeie universiteite in ons land vandag baie aandag hieraan skenk.

Carien, moet ons bekommerd wees dat ons deur robotte of simulante soos in Bot vervang sal word?

In ’n vorige onderhoud (in Sarie) het ek gesê dat ek nie glo dat ons daarvoor nog bekommerd hoef te wees nie. Die beginpunt is dat ’n robot of enige tipe KI steeds geprogrammeer moet word en slegs daarvolgens optree en funksies uitvoer. Maar die ding is dat masjiene nou slimmer en slimmer raak met masjienleer. Ons moet dalk daaraan dink dat ’n masjien dalk eendag sy eie kodering sal kan verander, dat die mens dit nie meer sal verstaan nie, en ons dan op daardie manier beheer daaroor kan verloor. Dalk ’n wilde idee? Ek weet nie. Net ’n gedagte. As ’n masjien via masjienleer oor programmering kan leer, kan dit nie dan sy eie programmering probeer “verbeter” en op daardie manier die mens eintlik verhoed om dit te kan beheer nie?

Mellet, hoe na aan die waarheid was Langenhoven met sy uitbeelding in Loeloeraai?

Loeloeraai is nie wetenskapfiksie in die ware sin van die woord nie. Dit kan eerder as ’n fantasieverhaal, of spekulatiewe fiksie beskou word. Wetenskapfiksie skep ’n fiktiewe verhaal wat gebaseer is op wetenskaplike kennis en tegnologiese vooruitgang. Sou ons dit met die leidende wetenskapfiksieverhale van die tydgreep vergelyk, byvoorbeeld dié van Jules Verne en HG Wells, is daar groot tekortkominge. In Loeloeraai is daar weinig sprake van wetenskap en tegnologie. Die hemelwese Loeloeraai is afkomstig van die planeet Venus. Ons weet natuurlik lank reeds dat daar geen lewe op Venus bestaan nie. Langenhoven verskaf ook weinig leidrade oor hoe die ruimteskip aangedryf word of welke tegnologie gebruik word. Uit die terminologie wat gebruik word, kom dit voor asof Langenhoven die Wright-broers as uitgangspunt gebruik het (“vliegmasjien”).

In die postapartheid en postkoloniale diskoers is daar ook ander aspekte van die boek wat vandag problematies is, byvoorbeeld die rassistiese wyse waarop Kiewiet, die bruin werker, uitgebeeld word. Ook die feit dat Loeloeraai klaarblyklik ’n Afrikanergesin van die Karoo uitkies om sy wysheid mee te deel. Dit is belangrik, aangesien Loeloeraai ongeveer twee jaar voordat Afrikaans ’n amptelike landstaal geword het, vrygestel is. Carl Sagan verwys na die sogenaamde antroposentrisme van die mens in sy siening van die kosmos, naamlik dat die aarde die middelpunt van die kosmos is, dat ’n godheid die mens hier geplaas het, dat alles rondom ons draai, en vir ons voordeel bestaan. Op dieselfde wyse, dink ek, het die Afrikanerdom in daardie jare dit ’n stap verder geneem en aan homself ’n verhewe status bokant ander nasies gegee. Dit was immers tydens die opbloei van Afrikanernasionalisme.

Laastens toon die verhaal ooreenkomste met die messiaanse narratief: die reisiger wat afkomstig is van die aand- en môrester (wat met Christus geassosieer word). Hoogstens is Loeloeraai dus as karakter vandag ’n morele leermeester binne hierdie messiaanse beskouing. Venus, die planeet van liefde, simboliseer in hierdie metafoor naasteliefde.

Carien, Loeloeraai en Bot lewer al twee sterk ekokritiek, selfs al is hulle ’n eeu uit mekaar gepubliseer. Is die twee tekste met mekaar in gesprek oor tyd en ruimte heen?

Dit is altyd moontlik vir twee tekste om oor tyd en ruimte heen in gesprek met mekaar te tree.

Carien, wat sou jy en Langenhoven vir mekaar sê as julle mekaar kon ontmoet?

Ha! “Hulle wou nie luister nie.” 😉

*

Ek vind die uiteenlopende invalshoeke en perspektiewe opwindend.

Die Langenhoven-gedenklesing sal op 1 April 2023 om 13:00 in die Netwerk24-Feeskafee plaasvind. Almal is welkom. Toegang is gratis.

Gaan luister gerus!

Lees ook:

Langenhoven se 1923-verbeeldingsvlug maan toe

Op soek na Saartjie: In gesprek met Langenhoven se agterkleinkind

Op soek na Saartjie deur Dominique Malherbe: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

CJ Langenhoven as kunstenaar2005

Om die onmoontlike moontlik te maak

Persverklaring: Langenhoven 150, Loeloeraai 100 by vanjaar se KKNK!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top