Sonde met die bure
Skrywer: CJ Langenhoven
ISBN: 9781869193232
Uitgewer: Protea
Publikasiejaar: 2009
Bladsye: 96
Klik hier en koop Sonde met die bure nou by kalahari.net!
In my kindertyd, selfs later as tienderjarige, was die vaal sementolifant op ons familieplaas buite Ladismith in die Klein Karoo ’n sentrale karakter in my verbeeldingswêreld. Dié olifant, wat deesdae net ’n bietjie hoër staan as my knieë, het in my ouma Engela se dae soos ’n waghond op die voorstoep gestaan, waar hy uitgekyk het oor die dam en die Otto Hager Kerk in die verte.
Ná my geboorte, toe my ouma reeds die tydelike met die ewige verwissel het, is hy na ’n “veilige hawe” in die “spookkamer” verskuif – die studeerkamer aan die donker kant van die huis waarin Pappie, Langenhoven se grootmaakpa, skynbaar destyds gesterf het. Hier het die olifant hom in ’n spesiale hoekie tuisgemaak – die einste “spookhoek” waarin ons dikwels toe-oë gestaan het om te kyk of ons armhare regop staan. Dit was asof die olifant ’n geheime pakt had met die spoke, omdat verdigsel en werklikheid in elk geval ’n manier het om in die Klein Karoo te vervloei. Veral op ’n plaas wat ná Pappie se dood deur Langenhoven geërf is.
Hy’t nooit self daar gewoon nie, maar dit was asof die karakters, selfs die geeste in sy stories, hulle hier besonder tuis gevoel het. Daar was dus niks snaaks daaraan dat die olifantjie se naam Herrie was nie.
Wat dié verhaaltjie tuisbring, is bloot dat ek vir Herrie ontmoet het lank voordat ek onlangs vir die eerste keer as volwassene my oupagrootjie se boek Sonde met die bure gelees het. Herrie was deel van die familiemitologie, en daar was nooit by my enige twyfel dat hy ’n “regte olifant” was nie. Eintlik twyfel ek steeds nie daaraan nie ...
En dis juis die “kuns” van hierdie boekie – al sou van ons ernstiger literatore dalk neusoptrekkerig wees oor hierdie benaming. Lank voordat dit in die moderne era mode geword het in Afrikaans, was Langenhoven in die vroeë twintigste eeu reeds ’n meester van die spel tussen waarheid en fiksie.
Om ’n groter sin vir werklikheid aan die verhaal te gee, voer hy homself as fiktiewe karakter in, sowel as sy eie gesin – Vroutjie, sy dogter Engela en sy hond Jakhals. Volgens JC Kannemeyer (in Langenhoven ’n Lewe) is allerlei ander figure in die boek klaarblyklik ook in breë trekke op mense in Langenhoven se vriendekring geskoei.
Boonop is die gegewe nou nog vir meeste lesers herkenbaar. Die verhaal speel in Oudtshoorn se weeldedae af, die tyd toe die mark vir volstruisvere sy hoogbloei beleef het. Die Oudtshoorniete het “verkwisterig” geleef en volgens Langenhoven vir hulle een vir een “’n paleis aangeskaf en ’n motorkar en ’n strandhuis”.
In die storie vertel hy op sy geestige manier “’n vrou hou nie daarvan om te sien dat haar buurvrou die mode met meer getrouheid navolg as syself nie”. Vroutjie het naderhand “onweerstaanbaar lastig geword” oor die vakansiehuis en op die ingewing van die oomblik skaf hy toe ’n oudsirkusolifant en ’n trem aan. Siedaar, hulle het ’n vakansiehuis op wiele!
Die bakens waar Neelsie en sy gevolg tydens hul vakansie aandoen, is nóú nog vir baie mense herkenbaar – soseer dat die presiese roete deur Oudtshoorn se strate, Stolsvlakte, Hazenjachtrivier en De Rust tot by Meiringspoort in 1973, die sirkusagtige Langenhoven-eeufeesjaar, gevolg is.
Vir dié geleentheid, byna net so burlesk soos die roman waarop dit gebaseer is, is ’n lewensgroot olifant op balke vasgesweis vooraan ’n trem wat op ’n vragmotor opgebou is. Die trem was kompleet met makoue in hokke wat onderaan vasgemaak is, en vir die rit is liedjies soos “Herrie moenie slinger nie” en die getrompetter van ’n olifant opgeneem. Langenhoven se jare lange vriendin en “Sub”, Sarah Goldblatt, wat die Langenhoven-industrie tot maniese hoogtes gevoer het, het op ’n verhogie aan die agterkant van die trem gesit. Sy’t die rol van Vroutjie vertolk en het telkens “Wunderbar!” uitgeroep. Ook: “Om te dink dis die eerste keer dat die trem werklik loop!”
Want volgens Kannemeyer was die werklikheidsillusie só oortuigend vir baie van Langenhoven se lesers dat hulle godsdienstig in die bestaan van die olifant en die trem geglo het. Selfs lank ná Neelsie se dood het hulle bly navraag doen na die olifant by Arbeidsgenot.
In Februarie 1932 verskyn daar in Die Huisgenoot ’n foto van “Oom Neelsie se olifantboerdery” – in die middel ’n groot swart olifantbeeldjie wat vandag steeds op Arbeidsgenot te sien is en daarrondom ’n hele aantal van die kleiner olifantjies wat hy deur die jare persent gekry het. Die werklikheid en die absurde het dus in so ’n mate vervleg dat dit moeilik geraak het om die grense tussen dié twee af te baken.
Dis dus ironies dat hierdie eerste “schnipe” (die woord wat Langenhoven teenoor Sarah Goldblatt gebruik het vir die geestige romans wat hom in die twintigerjare die Nasionale Pers en die Afrikaanse letterkunde se gewildste skrywer gemaak het) aan sy vriend Stephen le Roux en sy bruid opgedra is.
Want dis juis Stephen se seun en Langenhoven se peetkind, Etienne Leroux, wat hierdie huiwerige surrealisme wat jy in ’n vroeë vorm in Sonde met die Bure aantref, tot iets nuuts sou omskep in romans soos Sewe dae by die Silbersteins.
En dis waar die trefkrag van Sonde met die Bure lê: dat Langenhoven bekende bakens, mense en gegewens vervleg met ’n aweregse sin vir humor en absurdisme wat eintlik sy tyd ver vooruit was. Hy’t dit reggekry om die verbeelding van die man op straat aan te gryp en die onmoontlike in Afrikaanse lesers se wêreld in te voer, en dit terwyl hy hulle wysgemaak het dat die gegewe tot die sfeer van die moontlike behoort.
Al is sy nalatenskap helaas destyds deur vrome nasionaliste gekaap, het hy die Afrikaner ook vroeg reeds geleer om met homself die spot te dryf.
Dis verblydend dat die outentisiteit van hierdie teks in dié jongste uitgawe deur Protea Boekhuis bewaar is. Soos wat in die redaksionele nota voor in die boek staan, is pejoratiewe onveranderd gelaat en spellings en leestekens nie gemoderniseer nie.
Dit is ’n verbetering op sommige vorige uitgawes waarin die taal en styl verskraal is volgens moderne joernalistieke en redaksionele beginsels. Die aankondigings deur Langenhoven by onderskeidelik die eerste, tweede en derde druk voorin gee ook vir lesers ’n interessante blik op Langenhoven se unieke manier van “inmeng” by sy tekste. By die tweede druk (gespel twede) skryf hy onder meer: “Ek het ’n hele paar van die eerste druk se lesers vermoor wat ’n moraal in hierdie boekie gesoek het. Ek hoop die voorbeeld sal voldoende wees.” En by die eerste druk: “Lesers en krietisie wat al so baie van hulle eie en ander mense se kamele ingesluk het, moet tog asseblief nie in verband met my boekie aan muggies gaan suig nie. Strakkies kry die muggies slaapsiekte.”
Dus, sonder om aan muggies te suig: Sonde met die Bure is selfs 88 jaar nadat die roman die eerste keer gepubliseer is ’n plesier om te lees. Mag daar nog vele herdrukke wees.
Lank leef Herrie!
Bykomende bron: Langenhoven ’n Lewe, deur JC Kannemeyer (Tafelberg, 1995)