
Midde-in die Suid-Afrikaanse debat oor aanlyn resensies het daar in die VSA iets gebeur wat ’n mens verbyster laat. ’n Beginnerskrywer het nie bloot haar eie boek probeer bemark nie, sy het na bewering ook slegte resensies op Goodreads geplaas om ander skrywers se boeke te saboteer.
Verskeie koerante en nuusmedia in die VSA, waaronder NBC, Washington Post, Los Angeles Times en AP News, het berig dat Cait Corrain, van wie ’n wetenskapfiksieboek in 2024 sou verskyn, na bewering resensies gebruik het om ander skrywers in die genre se boeke af te kraak.
Haar werkswyse was, na bewering, om onder talle vals name slegte resensies oor ander skrywers se boeke op Goodreads te plaas. Die bewering is ook gemaak dat Corrain veral jonger skrywers geteiken het wat in dieselfde genre skryf as die roman Crown of starlight, wat in Mei 2024 onder haar eie naam by Del Rey sou verskyn.
Del Rey is ’n druknaam van Penguin Random House wat in wetenskapfiksie en fantasie spesialiseer. Corrain se roman is intussen van hulle publikasielys onttrek. Ten tye van hierdie skrywe (13 Desember 2023) is Corrain egter steeds as ’n skrywer op Penguin Random House se VSA-tuisblad gelys.
Crown of starlight word op Goodreads soos volg beskryf:
Greek mythology takes to the stars in this steamy, sci-fi reimagining of the tale of Ariadne and Dionysus – the first book in a snarky, queer, lushly romantic duology set in a galaxy of monstrous mortals, bloodthirsty gods, and love fierce enough to shatter the cosmos.
Cait and I will not be continuing our partnership moving forward. I deeply appreciate the patience of those directly impacted by last week's events as I worked through a difficult situation.
— Becca Podos (is mostly not here) (@RebeccaPodos) December 11, 2023
Corrain se agent, Rebecca Podos, het op X aangekondig dat sy ook bande met Corrain verbreek het.
A sincere apology. I know this is long, but that's because I'm trying to own and openly address every aspect of what I did. pic.twitter.com/MEtyDLCkDw
— Cait (@CaitCorrain) December 12, 2023
Corrain het intussen op X ’n apologie geplaas. Daarin verduidelik sy dat sy betrokke was in ’n “losing battle” teen depressie, alkohol en “substance abuse”, maar dat sy ten spyte hiervan verantwoordelikheid vir haar dade aanvaar.
Voorafbemarking werk anders in die VSA
Crown of starlight sou, soos reeds gemeld, eers in Mei 2024 by Del Rey verskyn, maar ten tye van hierdie skrywe is dit reeds 152 keer op Goodreads beoordeel, en het daar reeds meer as 118 resensies verskyn.
In Suid-Afrika mag dit vir ons vreemd voorkom, want ons tradisionele uitgewerye verskaf betreklik min bemarkingskopieë voor ’n werk verskyn. In die VSA word honderde bemarkingskopieë egter reeds ses maande voor die verskyningsdatum weggegee.
Die reaksie wat ’n teks in dié tyd uitlok, bepaal die finale oplaag.
Die aantal negatiewe (of positiewe) resensies sal dus die oplaag en die aantal boeke wat deur winkels opgeneem word, beïnvloed.
Lees ook:
Bekgeveg oor resensies: Aardbewing in ’n miershoop of tydige waarskuwing?
Op hol met Nini Bennett-Moll se heerlike artikel op Versindaba


Kommentaar
Dit sal my nie verbaas as sulke dinge ook in Afrikaans gebeur nie. Ambisie en eersug is 'n lelike ding.