Afrikaanse vreugdevure brand hoog

  • 0

Elma Human, Willie Burger en Marie Mostert (foto’s: verskaf)

Terwyl sprekers van Afrikaans landswyd die 100-jarige bestaan van Afrikaans as amptelike taal vier en deelneem aan AfrikaansAmptelik100 se vele projekte, loods talle instansies ook hul eie inisiatiewe.

Op Dinsdag 6 Mei het die Pretoria Afrikaanse Poësiegroep Afrikaans op luisterryke wyse gevier met ’n optrede deur die Silver Sounds-sanggroep en sprekers. Anne-Marie Beukes het Afrikaans se vele dialekte en diverse sprekers vergelyk met ’n kleurvolle laslappieskombers.

Die ontwikkeling van braille in Afrikaans, sowel as die wyse waarop braille die blinde gemeenskap toegang gee tot Afrikaans is deur William Rowland uiteengesit.

Willie Burger het plantwortels as metafoor gebruik om die ontwikkeling van Afrikaans te verduidelik. Aanvanklik lyk ’n taal-in-wording soos ’n risoomwortelstelsel waar worteluitlopers kruis en dwars om mekaar krul. Die sprekers van so ’n kreoolse vermenging van tale en invloede is aanvanklik nie bewus daarvan dat hul meewerk aan die skepping van ’n nuwe taal nie. Wanneer die taal die punt bereik waar dit bewustelik gepropageer word, vorm ’n “taalpenwortel”. Burger het ook ’n oorsig gegee oor die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde en uitgewys dat die literatuurlandskap sedert die jaar 2000 drasties verander het met die ontwikkeling van tegnologie en sosiale media.

Op Saterdag 24 Mei is lede van verskeie leeskringe in en om Pretoria tydens die jaarlikse Gesamentlike Leeskringbyeenkoms vergas met ’n aanbieding deur Marie Mostert. ’n Video van “juffrou” Marie waar sy op pittige wyse taaljuwele besing en wat gemaak is in die personeelkamer van Hoërskool Garsfontein, is op YouTube versprei, waar dit meer as ’n miljoen keer besigtig is en 1 800 opmerkings ontlok het.

Marie het ’n metafoor van hekke wat deur Afrikaans oopgemaak word, gebruik om die gehoor om die beurt te laat skaterlag of met weemoed te vervul. Marie se sterk greep op gewilde Afrikaanse poësie en haar storievertelvermoë, wat afgewissel is met bekoorlike Afrikaanse musiek, het die gehoor in verwondering gelaat oor die krag en skoonheid van Afrikaans.

Verskeie leeskringe wei vanjaar ’n byeenkoms aan ’n Afrikaanse eeufeesviering.

Watter interessante inisiatiewe loods jou leeskring, skool, ateljee of klub om vanjaar Afrikaans se 100-jarige bestaan te vier? Laat weet gerus in die kommentaarspasie.

Kyk hier na die foto’s:

Willie Burger gee ’n oorsig oor die ontstaan van Afrikaans en die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde by die Afrikaanse Poësiegroep-byeenkoms. (Foto: verskaf)

William Rowland praat oor die rol van braille in Afrikaans. (Foto: verskaf)

Anne-Marie Beukes werp ’n blik op Afrikaans as “laslappiekombers”. (Foto: verskaf)

’n Spogkoek vir die eeufeesviering van die Afrikaanse Poësiegroep. (Foto: verskaf)

Karel Prinsloo en Willie Burger in gesellige luim by die Afrikaanse Poësiegroep-byeenkoms.

Marie Mostert in aksie tydens haar formidabele aanbieding by die Pretoriase Gesamentlike Leeskringbyeenkoms. (Foto: verskaf)

Elma Human se skitterbaadjie skitter soos Afrikaans tydens die Pretoriase Gesamentlike Leeskringbyeenkoms. Sy het verduidelik dat die woord baadjie die vele invloede weerspieël wat neerslag gevind het in Afrikaans.

Lede van leeskringe in en om Pretoria in afwagting op ’n pittige aanbieding deur Marie Mostert. (Foto: verskaf)

Gertina van Schalkwyk – die dryfkrag agter die Pretoriase Gesamentlike Leeskringbyeenkoms. (Foto: verskaf)

Gina Malherbe en Connie Luyt by die Pretoriase Gesamentlike Leeskringbyeenkoms. (Foto: verskaf)

Marie Wiebenga en Lona Schoeman. Ou vriendskapsbande word jaarliks opnuut gesmee by die Pretoriase Gesamentlike Leeskringbyeenkoms. (Foto: verskaf)

Lees ook:

Fotobeeld van die 2024-Gesamentlike Byeenkoms van Pretoriase Leeskringe: 83 nie uit nie!

Die stories van Afrikaans op kykNET: ’n onderhoud met Danie Marais

Die veelrassige storie van Afrikaans

Afrikaans, my anker tussen koffiewasems en verkeersligte

Agterstories – Ideesmouse

Wat sê Bettina? Oor Afrikaans

Op weg na die volheid van die Afrikaanse taal

Verandering en toekoms: om 'n kreoolse Afrikaans te bedink

Nederlandse seemanstaal en Afrikaanse uitdrukkings – ’n onderhoud met Annél Otto en Else Boekkooi

Afrikaans: 100 jaar as amptelike taal – ’n erfenis om te vier of om te verwerp?

Afrikaans: ’n Tydlyn vir skole

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top