2018: Toptienlys van rolprente

  • 0

Toptienlys 2018

(gekies uit ’n totaal van 56 films)

  1. Three billboards outside Ebbing, Missouri
  2. Wonderlus
  3. Kanarie
  4. Ellen Pakkies
  5. Leave no trace
  6. First Man
  7. Bohemian Rhapsody
  8. Isle of Dogs
  9. Ready Player One
  10. Adrift

 

  1. Three billboards outside Ebbing, Missouri: Tans is een van die uitstaande kenmerke van samelewings wêreldwyd woede: witwarm, wraakgierig en vernietigend. Hierdie film verbeeld dit weergaloos, met ’n oop slot wat aandui dat genoemde woede enige kant toe kan gaan. Helaas het vanjaar se Oscar vir beste film gegaan aan daardie . . . wel, waterige film oor die meerman, maar Frances McDormand en Sam Rockwell is ten minste regmatig bekroon as beste aktrise en beste manlike byspeler.

  1. Wonderlus: 2018 het uitstekende Afrikaanse films opgelewer, met dié besonderse en skrynend mooie fliek as een van my gunstelinge. Die millenniërs se worsteling met die liefde, wat iewers tussen die wonder en die lus van die titel lê, verdien volpunte vir draaiboekskrywer en regisseur Johan Cronjé.

  1. Kanarie: Ná verlede jaar se treffende Johnny is nie dood nie bevestig Christiaan Olwagen nogmaals sy reputasie in die plaaslike filmbedryf. Kanarie vat ons pynlik terug na die apartheidsjare, maar almal wat al ooit uit gevoel het in hul gemeenskap, sal hulleself herken in Johan Niemand se worsteling met aanvaarding. Terwyl al die aspekte van film (storie, regie, toneelspel, klank, inkleding) puik hanteer word, verdien Schalk Bezuidenhout in die hoofrol spesiale vermelding.

  1. Ellen Pakkies: Nogmaals ’n uitstaande Afrikaanse film, hierdie keer uit die Kaapse Vlakte met sy hartbrekende bende- en dwelmprobleme. Dis asof die hele span, van draaiboekskrywer en regisseur tot elkeen van die akteurs, saamgewerk het aan ’n atmosfeer van ingetoë onderbeklemtoning, en juis daarin lê die film se besondere trefkrag. Jill Levenberg en Jarrid Geduld as ma en seun staan uit in die hoofrolle.

  1. Leave no trace: Hierdie verhaal oor ’n pa en sy tienerdogter wat “off the grid” in ’n Amerikaanse woud leef, is een van daardie stil, “klein” films wat ’n mens nie maklik vergeet nie juis oor dit so subtiel gedoen is, en sonder grootnaam-akteurs. ’n Kenmerk van ’n goeie roman is dat die oplossing vir die intrige uit die situasie self moet groei ˗ iets wat dié film uitstekend regkry.

  1. First Man: In hierdie biofilm oor die eerste maanlanding word Neil Armstrong in gelyke mate uitgebeeld as briljante vlieënier en wetenskaplike én kwesbare eggenoot en pa, ’n balans wat sorg vir ’n boeiende en uiters kykbare fliek. In ’n tyd waarin alles wat wit, westers en manlik is dit hotagter kry, wys dit die ander kant van die saak, naamlik: Hoeveel van die tegnologie wat die hele wêreld vandag gebruik, sou moontlik gewees het sonder die waagmoed en pionierswerk van die Amerikaanse ruimte-era? #ScienceMustNotFall

  1. Bohemian Rhapsody: Ná ’n groot gesukkel met regte, regisseur en hoofakteur is hierdie biofilm oor die supergroep Queen uiteindelik uitgereik - en dit rock! Freddie Mercury, die hart van Queen, word puik vertolk deur Rami Malek, met lyftaal wat die ikoniese sanger voor jou oë oproep terwyl die musiek jou kop oopblaas. Heerlik.

  1. Isle of Dogs: Dis verreweg nie Wes Anderson se beste fliek nie, maar ten spyte van sy foute het hierdie animasiefilm ’n onteenseglike sjarme. Visueel leen dit by Japannese kunsstyle, sodat selfs die lelikste omgewing sierlik verbeeld word. Hoewel die ekologiese tema nie sentraal staan nie, lewer die film uiters belangrike kommentaar oor ons verbruikerskultuur wat dreig om die aarde onder plastiek te begrawe.

  1. Ready Player One: Hierdie futuristiese verhaal was seker my filmverrassing van die jaar, maar van ’n veteraan soos Steven Spielberg behoort ’n mens niks minder te verwag nie. Met die vierde nywerheidsrewolusie en AI wat op die horison wink, sorg dié uitbeelding vir konkrete prentjies by al die (kommerwekkende) toekomsvoorspellings.

  1. Adrift: As dit van my moes afhang, sou die Kaap nooit Hollands geword het nie, daarvoor is ek te bang vir die onstuimige oseaan. Dus het hierdie ware verhaal van ’n paartjie wat met hul seiljag in Hurricane Raymond beland het my behoorlik vasgevang met sy naatlose vermenging van avontuur, spanning en drama. Shailene Woodley skitter in ’n moeilike filmprojek waarvoor sy duidelik alles ingesit het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top