First Man
Draaiboek: Josh Singer
Regie: Damien Chazelle
Spelers: Ryan Gosling, Claire Foy, Jason Clarke, Corey Stoll en Shea Whigham
Uiteindelik het Hollywood probeer om ’n rolprent oor die Apollo XI maanlanding te maak. Alhoewel Apollo XIII se storie reeds in 1995 vervaardig was en ’n televisie mini-reeks oor die Mercury-, Gemini- en Apollo-projekte gemaak is (dink aan From the Earth to the Moon), was die suksesvolle reis van Apollo XI nog nie vir die silwerdoek verfilm nie. First Man, wat gebaseer is op James R Hensen se biografie oor Neil Alden Armstrong (1930–2012) het die inhoud gelewer vir die vervaardiging van hierdie historiese drama.
Eerstens moet dit genoem word dat die Republiek van Suid-Afrika glad nie ’n toeskouer was in NASA se reis na die maan nie. Alhoewel Suid-Afrikaners nie op televisieskerms die maanlanding op die 20ste Julie 1969 kon aanskou nie (danksy die Nasionale Party en sy ministers van poswese en telekommunikasie uit daardie dae) was Suid-Afrikaners natuurlik bewus van die sukses wat die National Aeronautical and Space Agency (NASA) met die maanlanding bereik het. Om dankbaarheid aan Suid-Afrika te toon, net soos met ander lande wat die Verenigde State van Amerika (VSA) ondersteun het, was Suid-Afrika een van die ontvangers van president Richard M Nixon se “Goodwill moonrocks”. Nie net een keer nie, maar sommer twee keer. Die Apollo XI-maanklippe, dus fragmente van ’n maanklip wat deur Armstrong en Edwin “Buzz” Aldrin van die maan terug na die aarde toe gebring is, word in die Parlement uitgestal. Die maanklip van Apollo XVII (die laaste sending na die maan) word uitgestal in die Geomorfologie-saal by die Ditsong Museum van Natuurwetenskappe (die ou Transvaal Museum) in Pretoria. Dit is wel nie die enigste aandenkings en verbintenis wat die Republiek met die VSA se NASA gehad het gedurende die Mercury-, Gemini- en Apollo-projekte nie. Ek sal in die toekoms sy navorsing oor die einste tema publiseer.
Sodoende kan enige fliekvlooi of geskiedenis-entoesias, gemaklik sit en ’n film geniet met die wete dat die Republiek, net soos ander lande, NASA gehelp het om Armstrong en Aldrin by die maan te kry. Ryan Gosling speel die hoofrol saam met Claire Foy wat sy vrou Janet Armstrong (wat onlangs oorlede is) speel.
Dit is bekend dat Armstrong teruggetrokke en ’n introvert was. Aldrin (gespeel deur Corey Stoll) se persoonlikheid was presies die teenoorgestelde en hy kon maklik sy idees en emosies omskep in behoorlik verwoorde terugvoerings aan sy mede-ruimtevaarders en veral die pers. Aldrin moes weer op Armstrong se kalm benadering teenoor enige krisis steun om enige vernedering te ontwyk. Hierdie werksverhouding tussen Armstrong en Aldrin kom duidelik aan die einde van die rolprent deur.
Die rolprent fokus primêr op Neil Armstrong en sy ervaringe as ’n vlieënier, ruimtevaarder en gesinsman. Na sy loopbaan in die VSA se vloot-lugmag en nadat hy sy grade by Purdue Universiteit voltooi het, het Armstrong hoëspoed vliegtuie vir NASA gedurende amptelike toetse gevlieg. Veral sy werk op die X-15 is noemenswaardig alhoewel hy by die Edwards Lugmagbasis betrokke was in ’n reeks ongelukke met die vliegtuie wat by die basis gehou was. Dit is waar die rolprent ook begin. Armstrong is besig om die X-15 te toets, maar maak ’n berekeningsfout. Gelukkig land hy die tuig weer veilig in die Mojave-woestyn, maar hy is in die moeilikheid. Die argument teen hom is dat sy aandag nie ten volle by sy werk is nie. Sy dogtertjie, Karen, is dodelik siek en dit pla Armstrong geweldig. Hy probeer alles in sy vermoë om Karen se lewe te red, maar hy slaag nie daarin nie.
Toe hy die oproep kry dat hy deel is van die Gemini-groep 2, sien hy en sy vrou dit as ’n kans vir ’n nuwe begin. Onmiddellik begin Armstrong hard te werk met elke Gemini-vlug en word sodoende die bevelvoerder van Gemini 8. Hy maak vriende met Ed White wat gedurende die Gemini 4-vlug die eerste Amerikaner geword het wat ’n “ruimte-loop” uitgevoer het. Die VSA was agter die Sowjet-Unie met betrekking tot die “ruimtereis” totdat die Amerikaners in die Gemini 8-projek dit reggekry het om twee maantuie aan mekaar te laat koppel tydens die ruimtevaart. Armstrong en David Scott was die twee ruimtevaarders vir Gemini 8.
Bekende ruimtevaarders soos Virgil “Gus” Grissom, Robert Chafee, Michael Collins, Deke Slayton en Elliot See word in die storielyn ingewerk. Met die dood van Grissom, Chafee, White en See, beeld die regisseur Damian Chazelle (bekend vir sy rolprent, La la Land) uit hoe moeilik Armstrong die verlies aan lewens ervaar het. In die verloop van die rolprent is daar drie gebeurtenisse, waar mense vir wie Armstrong omgegee het, sterf. Eers sy dogter Karen, toe See se vliegongeluk tydens ’n NASA-opleidingsvliegtuig in St Louis en laastens met die binne kajuit-ontploffing wat die lewens van Grissom, Chafee en White geëis het. Grissom (Shea Whigham), White (wat deur Jason Clarke gespeel word, ’n akteur wat klaarblyklik homself deesdae net op historiese dramas toespits) en Chaffee se laaste oomblikke word skokkend akkuraat uitgebeeld. Tydens die Apollo 13-openingstonele (1995) word die Apollo I-brand skrams en kortliks uitgebeeld, maar in hierdie geval word dit so noukeurig gedoen, dit voel asof ’n mens ’n ooggetuie binne-in die kajuit of selfs net buite die deurtjie, wat die kajuit oopmaak, is.
Historiese dramas geskoei op eietydse temas, waar daar ’n magdom van bronne beskikbaar is, maak die draaiboekskrywer se werk baie makliker. Bekende en histories korrekte frases wat die ruimtevaarders gesê het, word deur die akteurs herhaal. In die toneel waar die Apollo I-ruimtevaarders sterf, herhaal die akteur Whigham die volgende tartende woorde van die ruimtevaarder Grissom aan Chafee net voordat hulle agterkom daar is ’n brand in die kajuit:
How will we reach the moon if we cannot speak between two or three buildings?
Dieselfde geld wanneer Armstrong en Aldrin op die maan land en aan die beheerkamer terug in Houston, Texas, sê:
Houston, Tranquility base here, the Eagle has landed.
Dan natuurlik Armstrong se bekende frase toe hy sy eerste tree op die maan se oppervlakte gegee het:
It is one small step for man, one giant leap for mankind
Woorde wat Walter Cronkite tot trane gedryf het.
Hierdie rolprent wys hoe wonderlik dit kan wees wanneer die rolprentvervaardigingsindustrie behoorlik hande met historici vat. Die feit dat eersgenoemde die kapasiteit het om beelde te beplan en te verfilm wat ’n historiese ervaring in die teenswoordige tyd kan gee, maak hulle die towenaars van die tegnologiese eeu. Deur middel van die historici wat die geskiedenis van NASA en hul ruimtetuie ken, is daar opeenvolgende tonele wat die lanseringsproses, die landingsproses en die binne-omstandighede van die X-15, Gemini 8 en die Columbia en Eagle van Apollo XI akkuraat vertoon. Veral die oomblik toe die Gemini 8 klaar met die AGENA gekoppel het en woes begin ronddraai het, kry ’n mens regtig ’n ware openbaring oor hoe Armstrong en Scott amper dood was. Die soek na ’n nuwe en gladder landingsplek vir die Eagle toe Armstrong en Aldrin besef het dat die oorspronklike landingsplek te klipperig was, wys presies hoe die twee ruimtevaarders amper in ’n donker krater neergestort het. ’n Mens deel in elk van hierdie tonele die spanning wat die ruimtevaarders moes ervaar het.
Hierdie rolprent is natuurlik net ’n verwerking van Hansen se biografie oor Armstrong. Hansen was persoonlik deur Armstrong gekies toe hy Hansen se vorige werk oor NASA gelees het. Ander historici soos Stephen Ambrose, wat ’n biografie oor president Dwight “Ike” Eisenhower geskryf het, maar beter bekend is vir sy werk Band of Brothers, het nie eens die geleentheid gekry nie. Dit gesê, is ek oortuig dat ’n mens veel meer sal beleef, in die ruimtes van ’n mens se verbeelding, wanneer Hansen se boek gelees word as die twee en ’n half ure van die rolprent. Hierdie rolprent moet gesien word as ’n lokmiddel na Hansen se boek, wat ’n resensie opsig self verdien.
Die Amerikaanse publiek is wel suur oor die feit dat Chazelle nie ’n toneel uitgebeeld het waarin die VSA se vlag geplant word nie. Dit pla my glad nie – seker omdat die VSA se vlag nie die enigste vlag was wat na die maan gedurende Apollo XI geneem is nie. Selfs ’n klein Unievlaggie was saam geneem en terug gebring. Die tonele van die maan is so merkwaardig en realisties geskep sodat ’n mens nie regtig omgee waar die vlag gestaan het nie. In elk geval, indien die vlag-kritiek op die film regtig so snydend is, kan ’n mens seker ook daaroor kla dat daar nie ook ’n toneel is waar die amptelike bronsplaat, met ’n boodskap van die aarde, ingesluit was nie. Of durf ek argumenteer, waarom Chazelle nie wys hoe die silikoon-band met toesprake van al die wêreldleiers van daardie tyd (insluitend Staatspresident Jim Fouchè s’n) gespeel word, liewers uitgebeeld word nie. Bly daar nog iets oor vir Hollywood wanneer dit kom by rolprente oor die ruimte? Alhoewel Pale Blue Dot oor die Lucy Cola-skandaal binnekort gaan wys, is ’n film oor John H Glen byvoorbeeld nie ’n slegte idee nie.
Lees ook:


Kommentaar
Hierdie film het nie net in die VSA nie, maar wêreldwyd, geflop.
Dit sal "Hollyweird" hopelik voortaan twee keer laat dink voordat hulle hul manipulerende boodskap contra nasionalisme en die idee van nasiestate; en die naiewe, onnatuurlike en walglike boodskap van egalitarisme en/of humanisme "gone awry", aan wêreldgehore probeer afsmeer.