First Man, ’n filmresensie

  • 0

First Man

Draaiboek: Josh Singer

Regie: Damien Chazelle

Spelers: Ryan Gosling, Claire Foy, Jason Clarke, Kyle Chandler, Olivia Hamilton, Luke Winters, Connor Blodgett, Lucy Stafford

Biografieë oor besonderse mense sorg gewoonlik vir wonderlike leesstof, en in die geval van First Man deur James Hansen was dit ook die bron vir ’n uitstaande draaiboek. Voeg daarby Ryan Gosling as die perfekte akteur vir die rol van Neil Armstrong, die man wat die eerste tree op die maan gegee het.

Verlede jaar se Hidden Figures, oor drie swart vroue wat in die 1960’s by NASA gewerk het, vorm ’n uitstekende voorskou vir hierdie film, wat eindig met die maanlanding in 1969. As naskou is daar ook nog Apollo 13 (1995), oor die derde maanlanding wat sleg skeefgeloop het. Waar laasgenoemde ’n aksiedrama is waar die spanning deurgaans hoog loop, fokus First Man op die intens menslike: Armstrong word in gelyke mate uitgebeeld as briljante vlieënier en wetenskaplike enersyds en kwesbare eggenoot en pa andersyds. Hierdie balans tussen grootse prestasie van wêreldbelang en die alledaagsheid van ’n gesinslewe sorg vir ’n boeiende en uiters kykbare fliek.

Die sterkste indruk wat die film laat, is dit waartoe die mens in staat is danksy vindingrykheid, toewyding, harde werk en – veral – ambisie en wedywering. Die ruimtewedloop tussen Rusland en Amerika het vroeg in die Koue Oorlog ontstaan, met Rusland wat eerste gepresteer het deur in 1957 die Sputnik I in ’n wentelbaan om die aarde te plaas. Vir die Amerikaners was dit ’n bitter pil om te sluk, en dááruit het die feitlik waansinnige idee gegroei om ’n man op die maan te laat loop. Maar hulle het dit reggekry – weliswaar teen ’n astronomiese koste, ook aan menselewens. ’n Mens kan tereg vra: Hoeveel van die tegnologie wat ons almal vandag as ’n alledaagsheid aanvaar en gebruik, sou moontlik gewees het as dit nie was vir die pionierswerk van die ruimte-era nie?  

Hierdie film word hoog aanbeveel, sommer vir alle kykers, en des te beter as jy dit in ’n Imax-teater kan sien.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top