Wonderlus: ’n filmresensie

  • 3

Wonderlus

Draaiboek en regie: Johan Cronjé

Spelers: Edwin van der Walt, Beer Adriaanse, Adam Heyns, Mila Guy, Lea Vivier, Ansu Visser, Simoné Nortmann, Stiaan Smith, Lynelle Kenned, Marvin-Lee Beukes, Francois Jacobs

Daar was nog nie so ’n fliek in Afrikaans nie. Nie naastenby nie. Om die waarheid te sê, ek het ook nog nie iets soortgelyks in Engels of vertaalde vorm gesien nie. Dis die millenniërs wat worstel met die liefde – wat iewers tussen die wonder en die lus van die titel lê.

Johan Cronjé, as die draaiboekskrywer én regisseur, hanteer hierdie troustorie soos ’n foto wat close gecrop is: dit zoem in op die karakters se gesprekke en vermy die gewone verloop van ’n troufliek feitlik heeltemal – die trotse ouerpare, die stylvolle venue, die familie-bonhomie, “Kinders by dosyne”, die heerlike kos. Nee, die grootste opwinding hier is die onbeperkte kroegrekening.

Die verhaal speel af oor twee dae: die volgende oggend en die troudag self, met terugflitse tussen die twee. Dit wentel om die bruidegom en sy twee “beste manne” (Edwin van der Walt, Beer Adriaanse en Adam Heyns), jonk en pragtig, wat saam met die res van hul vriende die jongmense van vandag verteenwoordig. Sonder die sekerhede en sekuriteite van kerk, staat en maatskappy van vorige geslagte is hulle op hulleself aangewese en is die liefde – romanties sowel as dié van vriendskap – eintlik hul enigste hoop. Hier is nie die leë fasades van selfiebeheptes nie, nog minder die bestudeerde coolgeit van hipsters. Geen sprake van baie geld, blink motors en yuppie-loopbane nie, niks gewroeg oor identiteit of ras of Afrikaans. Net verwarde jonges wat hulle met trou in een van die groot argetipes begeef ... en o, die liefde is oud en astrant (met erkenning aan Fanie Olivier).

Soos die aand vorder, word dit in vino veritas (en later ook ’n bietjie aaptwak) en word al dieper gekrap aan wat die huwelik en commitment werklik behels. Die twee belangrikste vrouekarakters word interessant genoeg net benoem as bruid (Mila Guy) en kelnerin (Lea Vivier) en beliggaam die twee uiterstes van troumeisie en verleidelike sirene. Die betekenisvolle einde laat die karakters “sadder but wiser” – en met (nóg) minder illusies oor die lewe.

Wonderlus is soos ’n goeie boekomslag moet wees: evokatief (onder meer danksy die besondere kinematografie). Hopelik sal al die millenniërs dit ondersteun, maar dit word ook hoog aanbeveel vir ouer kykers. Mits jy fyn kyk, en sonder vooroordeel.

Sterre: 4

  • 3

Kommentaar

  • Helene van Wyk

    Ek’t dit vreeslik geniet. Uitstekende spel en ’n boeiende storie: tot die einde. Vat vanmiddag ’n vriendin en gaan dit weer sien. Adam Heyns het veral beïndruk.

  • Amper 'n jaar later wys die fliek' Wonderlus' op Kyknet ... nogal baie uitgesien, maar wreed ontnugter ... van my gunsteling akteurs en aktrises Stiaan, Beer, Simone en Lea. Nooit gedink dat sulke vieslike woorde uit julle monde sou kom nie. En nee, ek is nie 'n verkrampte ou tannie nie, ek het net morele waardes. Die fliek is GEEN voorbeeld vir enige jongmens nie. Elke vloekwoord het soos' n dolk regdeur my gesteek. Ek kon eenvoudig nie die fliek deursien nie. Al is dit 'toneelspel' glo ek elkeen van ons het 'n keuse om self te kan besluit of jy al jou morele waardes by die agterdeur sal uitgooi en dit vir niks. Sal die fliek geensins aanbeveel.

  • Sal nie hierdie prent aanbeveel nie. Nie net is die vloekery irriterend nie, maar die bruid en bruidegom het geen respek vir die waardes van 'n huwelik nie . Of hulle millenniërs is of nie. Hierdie is in elk geval nie 'n stereotipe millenniër nie. Jammer dat puik akteurs sulke rolle gespeel het. Die hele tema laat mens ongemaklik en leeg voel. Ek sou beter gevaar het om eerder daardie tyd my hare te gewas het en droog te blaas.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top