Kanarie ’n uitdagende grensverskuiwing: ’n filmresensie

  • 6

 

Die nuwe rolprent Kanarie doen vir Suid-Afrikaanse weermagrolprente wat Brokeback Mountain vir Amerikaanse cowboy-rolprente gedoen het: dit breek deur die gevestigde geslagspatrone van ’n gewilde genre en daag die gehoor uit om die ervarings van ’n kwesbare minderheid te aanvaar.

Dis ’n uitstekende en gewaagde rolprent wat beslis baie omstrede sal wees by enigeen wat, soos die hoofkarakter Johan se suster (vertolk deur Tinarie van Wyk-Loots), dit nie kan hanteer om direk gekonfronteer te word met die werklikheid dat gayliefdesverhoudings bestaan nie.

Die rolprent – wat die pryse by die pas afgelope Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad, oorheers het – speel in 1985 af in die Kanaries, die destydse Suid-Afrikaanse Weermag se kerkkoor- en konsertgroep, en is geanker in ware gebeure.

Dit sal min destydse dienspligtiges verras dat gayverhoudings by sommige Kanaries voorgekom het – dis destyds wyd as gegewe aanvaar. In hierdie rolprent word dit nie visueel eksplisiet uitgebeeld nie – die klem val op die geestesreis van ’n welmenende jong man wat stry vir en teen wat ID du Plessis ’n "vreemde liefde" sou noem.

In die hoofrol lewer Schalk Bezuidenhout ’n uitmuntende vertoning. Hy is bekend as komediant, maar toon in Kanarie dat sy onbetwisbare talent ook die dramatiese omvat. Sy strewe en stryd, sy dapperheid en lafhartigheid en sy tye van triomf en mislukking sal strook met die menslikheid van ons almal.

Germandt Geldenhuys is in die rol van Ludolf nogal ’n belewenis, en hy is tereg vir sy spel bekroon met die Silwerskerm se prys as beste byspeler. As daar nou al ooit ’n “square peg in a round hole” was, is dit Ludolf in die weermag. 

Dit spreek nogmaals tot sowel die huidige talent in die Afrikaanse rolprentbedryf as Christiaan Olwagen se vermoëns as regisseur dat dit vir die beoordelaars ’n moeilike keuse mos gewees het, want daar is eenvoudig nie ’n swak plek te vind in die rolverdeling nie.

In hierdie verband is die keuse van en vertolkings deur Jacques Bessenger en Gerard Rudolf as die twee dominees aan die stuur van die Kanaries spesifieke hoogtepunte. Hulle is son en skadu – ’n duo in kontras met mekaar, verpersoonlikte konflik en spanning. Vir my was die toppunt van die rolprent egter die tussenspel tussen Bezuidenhout en Van Wyk-Loots in miskien die pynlikste oomblik van die hele verhaal.

Charl-Johan Lingenfelder se musiek is ’n belewenis. Daar is werklik hart in, en die koormusiek is spesifiek puik.

Wat ook spesiaal is, is die uitbeelding van Suid-Afrika in 1985 – ’n samelewing aan die rand van wat die Italiaanse marxis Antonio Gramsci dalk sou beskryf as "die oue is sterwend, maar die nuwe is nog nie gebore nie". Hoe wonderlik beeld Olwagen, Roelof Storm en hul span dit nie uit nie – en in watter mate word die Kanaries in hul hand nie die kanarie in die steenkoolmyn wat die naderende daeraad – veral betreffende menseregte – aan die niksvermoedendes aankondig nie.

Deur die film se uitbeelding van die wyer wêreld buite die ragfyn kokon van die Kanaries bly mens bewus van die uitsonderlikheid van die karakters se belewing, en die kwesbaarheid van hul posisie.

Ons leef in ’n tyd waar baie verskillend-definieerbare kwesbare minderhede in ons land beleef dat hardvogtiges met die mag van die meerderheid nie hul verhale wil hoor, sien of verstaan nie. Kanarie vertel so ’n verhaal. Rolprentgewys is dit van puik standaard. Dis die verhaal wat konvensie uitdaag. Ons sal sien of die meerderheid in die Afrikaanse leefwêreld daarna wil luister en kyk.  

  • Foto's: https://kyknet.dstv.com/fliek/kanarie

  • Kanarie word in Oktober landwyd in filmteaters uitgereik.
  • 6

Kommentaar

  • Betsie vd Merwe

    Jacques Bessenger, Germandt Geldenhuys, Schalk Bezuidenhout
    Briljante talentvolle mense uit die gewone skool Jeugland, Kempton Park.
    ’n Skool met die hart wat fokus om emosionele volwassenheid in balans met goeie sosiale intelligensie te ontwikkel.
    Almal wil hul kinders in die skool plaas wat die rugbyliga wen die rugbysterre oplewer of die matriekonderskeidings inryg. Hierdie euforie is egter van korte duur in jou volwasse lewe. Gee my sommer die skool aan die annerkant van die spoor, want wie’t in elk geval besluit watter kant is die regte kan van die spoor?
    Geluk Jacques, Germandt en Schalk, baie trots op julle!
    Kapenaar met wortels op die regte plek.

  • Een van die wonderlikste filmresensies wat ek al ooit gelees het. Baie dankie Jan-Jan Joubert, dat jy ons altyd herinner aan die wonderlike taal wat ons praat, en dat dit 'n wonderlike instrument is as 'n deskundige dit gebruik.

  • pieter van der westhuizen

    Dankie Jan-Jan vir die deeglike en insigtelike resensie. Hierdie film is vir my soos die werk van Ingemar Bergman en 'n rolprent soos Babette's Feast, iets waaroor 'n mens ure en ure kan gesels en daarna nog voel alles is nie gesê nie. Dit het my ook aan 'n bekende aanhaling uit Nijhoff se gedig, "Awater" laat dink: "...lees maar, er staat niet wat er staat."

  • Verrassend en deernisvol uitgebeeld. Die fliek het "die ou generasie" met nuwe simpatie laat kyk na mense wat "anders is as wat die samelewing vereis." Mense met oogklappe moet wegbly van die fliek. Ook mense wat one track minded is. Ontstellend eerlik.

  • Uitstekende film! Uit my maag gelag aan begin en oë vol trane geskiet! Ek daag veral die ouer generasie (mense wat diensplig gedoen het en dié van die ou establishment wat nog leef) om Rosebank, Brooklyn of Waterfront (waar die Cinema Nouveau-teaters is) toe te ry en dit te gaan kyk! Ek het "army" met 'n jaar of wat gemis (dank die Vader!) en het graad een in 1986 by Laerskool Kruinsig in Kemptonpark begin (bly Kempton styg uit!) en die fliek wys jou mooi wat mense soos ek en die jongere klomp gemis het! Ek hoop die film word bekroon met vele internasionale pryse!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top