Bohemian Rhapsody, ’n filmresensie

  • 1

Bohemian Rhapsody

Regie: Bryan Singer

Draaiboek: Anthony McCarten & Peter Morgan

Spelers: Rami Malek, Gwilym Lee, Ben Hardy, Lucy Boynton, Joe Mazzello

Soos Kanarie ons gewys het, was die 1980’s ’n terrible tyd om ’n tiener te wees. Maar een goeie ding van daardie dekade was die musiek, onder meer dié van Queen, en “Bohemian Rhapsody” was die temalied (Queen Greatest Hits is in 1981 uitgereik).

Die fokus van hierdie biografiese film is Freddie Mercury (knap gespeel deur Rami Malek), altyd deur Huisgenoot beskryf as “die flambojante hoofsanger van Queen”. Mercury had een van die mees besonderse stemme in popmusiek en kon feitlik vier oktawe sing - om werklik ’n idee van sy reikwydte te kry, luister gerus na die a cappella-weergawe van “Under Pressure” saam met David Bowie. Die film beklemtoon dit egter dat Mercury nie alleen Queen was nie, hoewel hy die meerderheid van hul treffers geskryf het - die werk van Brian May (Gwilym Lee), Roger Taylor (Ben Hardy) en John Deacon (Joe Mazzello) was net so belangrik vir die supergroep se sukses.

’n Bietjie opleeswerk maak dit duidelik dat ’n film van twee uur en veertien minute skaars reg kan laat geskied aan die fenomeen wat Queen was in die bestek van twintig jaar - die groep het in 1970 gevorm en Mercury is in 1991 oorlede. Die draaiboekskrywers het soms verander aan die chronologie, karakters saamgegooi en sekere aspekte onderbeklemtoon terwyl ander weer oorbeklemtoon is. Tog vorm dit ’n boeiende uitbeelding van die soort uitsonderlike talent wat mense boaan die gewildheidsleer plaas, terwyl die gepaardgaande roem en rykdom hulle net so seker tot ’n val kan bring.

Hoe ook al, dis die musiek wat bly staan. Queen-aanhangers kan hulle summier na die teater haas, nog beter as dit die Imax is (en as jy nie ’n Queen-aanhanger is nie, het ek nie raad vir jou nie).

Sterre: 4

  • 1

Kommentaar

  • Andre Badenhorst
    Andre Badenhorst

    Dankie vir die resensie.

    Ek is 'n "tiener van die tagtigs". Dit weerklink amper soos "boy van die suburbs", maar darem nie so "terrible" nie en ook nie soos Kanarie ons wil laat glo nie. Alle geslagte - verskoon die woordspeling - het maar hul oomblikke gehad.

    As 'n groot bewonderaar van Queen het ek uit die fliek gekom as 'n verwonderaar ... van goeie toneelspel, die harmonieuse klanke en verál die menslikheid wat so treffend uitgelug is. Ook verwonderd dat ek vir 'n slag hoendervleis gekry het - iets wat deesdae min in 'n fliek gebeur.

    Ek sou graag 'n bietjie meer diepte agter die menings in die resensie wou hê. Hoe lyk dit met 'n opdatering met 'n kortlikse beskrywing van die genoemde punte? 'n Paar voorbeelde om die kritiek tov historisiteit te staaf, sal ook baie waardevol wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top