Regie en draaiboek: Martin McDonagh
Spelers: Frances McDormand, Sam Rockwell, Woody Harrelson, Caleb Landry Jones, Lucas Hedges, Abbie Cornish
Daar was lanklaas ’n fliek van hierdie kaliber op ons kringloop. Three Billboards outside Ebbing, Missouri kry loshande my stem as vanjaar se Oscar-wenner vir beste film (ek het ses van die nege genomineerdes reeds gesien). ’n Oscar vir Frances McDormand as beste aktrise sal ook meer as welverdiend wees, terwyl haar medesterre Woody Harrelson en Sam Rockwell al twee genomineer is as beste manlike byspeler. Hier gaan my stem aan Rockwell – ná talle kleiner rolle in ’n groot verskeidenheid films is hierdie een na my mening sy deurbraakrol.
Die intrige van Three Billboards is betreklik eenvoudig, soos opgesom in die titel. Mildred Hayes (McDormand) se dogter is een nag op pad na ’n partytjie verkrag en vermoor. Sewe maande later is daar nog geen vordering met die saak nie en Mildred besluit om Willoughby (Harrelson), Ebbing se polisiehoof, ’n bietjie aan te por deur drie enorme advertensieborde buite die dorp te huur met die woorde: Raped while dying ... And still no arrests ... How come, Chief Willoughby? Dit veroorsaak dadelik konflik met die polisiehoof se ondersteuners in die dorp, maar veral met die gewelddadige, homofobiese offisier Dixon (Rockwell), vir wie Willoughby ’n vaderfiguur is. Van hier af eskaleer die onderliggende woede en geweld in die karakters eenvoudig, met vuur wat telkens aangewend word as verswarende maar paradoksaal ook as suiwerende element.
Die storie maak heeltyd onverwagte draaie en hou die kyker aan die raai tot by die tergende oop slot, maar laat jou uiteindelik onontkombaar met hierdie besef: Die potensiaal vir geweld lê by elke mens nét onder die oppervlak, gereed om by die geringste provokasie uit te bars.
Hoog aanbeveel vir alle ernstige fliekkykers!
Sterre: 5

